Sunday, July 20, 2008

Die voëls in ons agterplaas

Meeste oggende wat ek opgestaan het hierdie jaar, is ek begroet deur die wonderike melodiese klanke van die Australiese Magpie (kraai) en partykeer weer die koggel-lag van die Laggende Kookaburra (maar uitgespreek as: Koeka-burra). Dit voel amper soos om in 'n reënwoud wakker te word wanneer die knape aan't gesels raak. Geen wonder die Koekaburra het die bynaam: "The Bushman's clock" nie. Net soos 'n hoenderhaan kondig dit elke more die nuwe dag aan. Ek het nog nooit so baie eksotiese voëls in so 'n nabyheid met die mens gesien soos hier in Oz nie: Koekaburras, Magpies, Galahs, Reënboog Parakiete, Kokatiele, Kaketoes, Swart kraaie - almal vlieg vry rond hier in Sydney en dit laat mens soms voel jy is een baie groot voëlhok.


Die Laggende Koekaburra, soos wat dit alombekend is, is die grootste lid van die Koningvisvanger familie. Hulle word tot amper 45 cm lank, 'n halwe kilogram swaar met 'n snawel van tot 10cm lank. Maar die kenmerkendste eienskap van die voël is natuurlik sy koggellag - gaan vergelyk die klank nou met die' van Zebras, of selfs Hyenas. Geen wonder sy wetenskaplike naam is, Dacelo Gigas nie, want dit klink amper of hy "giggel". Gaan lees gerus oor die interessante Australiese voël by National Geographic se webtuiste waar die foto is.

Hulle is nogal skugter voëls, maar ek kon die' foto van hulle geneem kry op 'n ander geleentheid:



Ek het die volgende video so 'n week gelede agter in ons vorige huis se agterplaas geneem van 'n klomp Koekaburras.

video

Aan die einde van hierdie video van die Koekaburras is daar weer die baie kenmerkende geroep van die Australiese Magpie.

video

Hier is nog 'n video wat ek toe van die Magpie se geroep geneem het:

video

Magpies is nie skaam nie, hulle sal sommer kos uit jou hande kom neem as jy hulle kos aanbied. Hier is so 'n paar fotos van die Magpie van nader...dit lyk amper soos 'n witborskraai. Hulle sal vir etlike minute in die bome sit en gesels met mekaar in die mooiste klanke denkbaar. Hulle is Omnivore, en eet dus omtrent enigiets.

Gedurende die Magpies se broeiseisoen tussen Augustus en Oktober moet mens maar liewer wegbly van hulle aangesien dit glad nie ongewoon is om (soos die Kiewiet in Suid Afrika) deur hierdie voëls aangeval te word nie. Dit staan bekend as "Swooping Attacks", en hulle val mens veral van agter die kop aan, want hulle kan baie gevaarlik wees met daardie skerp snawel van hulle.


Gaan lees gerus meer oor die Australiese Magpie by Wikipedia.

As julle na nog van die Magpie se kenmerkende geluide wil luister, gaan luister by FreeSound na al die verskillende geluide wat hulle maak. Magpies is so eie aan Australië as Waltzing Matilda en om "G'Day Mate"te sê - daar is selfs Magpies se klanke in "The Black Balloon", wat 'n Australiese film is oor die lewe van 'n doodgewone Aussie gesin wie se lewe ryker gemaak word deur 'n Outistiese kind. Dis 'n film wat mens se hart warm maak...gaan kyk ook na 'n uittreksel uit die film, wat laasjaar uitgeryk is.

Thursday, July 17, 2008

Vat jou goed en trek Ferreira

Julle het seker al begin wonder wat van die Rustige Swerwer geword het, siende dat ek so skaars geword het soos mieliepap in Australië. Wel, ek sit nou weer hier in 'n ander huis en tik hierdie blog. Na 'n jaar se bly in ons ou "cosy" huisie, het ons uiteindelik in 'n meer permanente huurhuis in Castle Hill ingetrek. Ons soek nou al 'n geruime tyd (ten minste 3 maande) na nuwe akkommodasie, omdat ons 'n voëltjie hoor fluit het dat die eienaar van die huis waarin ons was van plan was om die huis in die mark te sit. Die rentekoerse knyp hom seker te veel. Dis nie maklik om hier in Oz 'n huis te huur te kry nie, want die huurders sak soos vlieë toe op die plekke en dan staan jy maar soos kiepie en wag jou beurt af. Jy moet ook eers gekeur word, en die agentskap omtrent alles van jou salariskontrak, maande se bankstate en amper 'n getuigskrif by jou skoolhoof kry...

Wel, ons was baie gelukkig, ons vriende sien toe mos die ander dag dat hulle bure besig is om uit te trek. Sonder om gras onder hul voete te laat groei gaan vis hulle toe uit of die eienaar die plek weer gaan verhuur - Jip! Hy wil dit weer verhuur. So kom dit toe dat my vrou die dag met die boer (hy is 'n Skot van Bowral se omgewing wat met 'n Chinees getroud is en nou buite die stad op 'n plaas boer) bietjie gaan onderhandel oor die prys oor 'n koppie tee. So kom dit toe nou dat ons die hele kaboedel voornemende huurders 'n rat voor die oë draai en sommer direk gaan pellie-pellie met die eienaar. Hy was juis hard aan die werskaf by die huis om die haelskade van laasjaar te herstel, toe hy uitgenooi word om daardie aand saam met 'n hele klomp van ons Suid Afrikaners 'n lekker egte Afrikaanse braai by te woon met mieliepap, skaaptjops en lekker Rump steak met suurlemoenpeper. En het ons nou vir jou daardie aand gekuier. Oor alles en nog wat gesels. Hy bied toe sommer aan dat ons klomp op groot maat by hom kan vleis bestel, dan sal hy dit vir ons van sy plaas af laat bring - nadat hy dit by die slaghuis laat opsny het. So kom dit toe nou al dat hy my aanspreek op my bynaam as ons oor die telefoon gesels. Saterdag oggend het ons by die agentskap vir 3 jaar 'n kontrak gaan teken het op die huis. Die wonderlikste is dat die huis stapafstand van die skool is asook op die busroete is.

Hier in Oz trek 'n mens deur 'n paar van jou beste "mates" te kry om jou te kom help trek. Ons het 'n 10 ton trok en 2 manne gehuur teen $150 per uur en saam met 3 Suid-Afrikaanse "maters" het ons binne 2 ure 'n 3 slaapkamer huis uitgedra, op 'n trok gelaai, en weer ingedra...my spiere is nou nog moeg. Gelukkig DV is dit nou die laaste trek vir 'n paar jaar - dit is swaar op 'n mens se beursie en op jou lyf. Terwyl ons getrek het was die kinders omtrent uit hul velle uit - want ons trek mos nou REG langs ons jarelange vriende in - ons is nou letterlik BURE, 11000 km weg van waar ons begin het voor enige van ons 4 nog getroud was. Ek dink die Italianers (soos hulle vir my geklink het...of dalk Portugese het hulle seker verwonder aan die lawaaierige spul wat so luidrugtig trek) Na die tyd het ons natuurlik weer 'n ou vleisie op die vuur gegooi - hoe dan anders.

Verwysende na die liedjie "Vat jou goed en trek, Ferreira"...In Anton Prinsloo se boek lees ek vandag wat die herkoms was van die liedjie...dit kom uit "Die Boervrou" van 1926:
"Mev. Annie Molonie was die skryfster van die liedjie 'Vat jou goed en trek Ferreira'. Sy was die moeder van 20 kinders en was die eerste vrou wat saans by feestelikhede in Johannesburg klavier gespeel het. Toe sy in Suid Afrika aangekom het, was sy tuis by 'n ryk boer in die distrik: Somerset-Oos, 'n mnr. Van Aardt.

Langsaan Van Aardt het 'n Ferreira gewoon met die bynaam Hoepelbeen (omdat sy een been korter as die ander was). Van Aardt het Ferreira se plaas vir kontant gekoop, maar kon hom nie beweeg om die plaas te verlaat nie. Dit was later die grap van die buurt en 'n verleentheid vir die nuwe eienaar.

Toe het Annie Molonie en Ada van Aardt (die dogter van die ryk boer) 'n plan gemaak:
Ada het die woorde van 'Vat jou goed en trek, Ferreira' geskryf, en mev. Malonie het dit getoonset. Toe nooi hulle die hele buurt na 'n dans - en Ferreira was ook daar.
Mev. Malonie het die liedjie gesing, en naderhand het almal saamgesing, wel wetende waarop dit sinspeel.

Hoepelbeen Ferreira was woedend en het die dans verlaat. Die volgende dag was daar net stofwolke soos Ferreira besig was om op te pak - gedwing om van die plaas wat hy reeds verkoop het, pad te gee deur die' einste liedjie waarin sy naam verewig is."

Nou ja, soos julle teen hierdie tyd al agtergekom het...is ons Internet ook al gekoppel. Ek het nou "Cable". Dit werk deur 'n antennadraad tot by jou huis.

Verder werk ek steeds hard...ek moet, want huur is nie perdekoop nie. Nou is ek moeg, dis nou 23h21 en ek wil gaan inkruip...

Tuesday, July 01, 2008

Australia's Got Talent Wenner word aangewys

Ons het nou net die Australiese weergawe van "Supersterre" gekyk. Dis soos 'n landswye talent kompetisie waar elke Jan-Rap-en-Sy-Maat aan kon deelneem. Australië is baie lief vir allerhande realiteits televisie programme, en hierdie een was nogal 'n groot gunsteling. Dit was op Kanaal 7 uitgesaai en die "Grand Final 2008" finaal se wenner is nou net aangewys. Ek was nogal verbaas oor hoe gou die wenner se video op YouTube verskyn het.

Sy naam is Smokin' Joe Robinson, hy is 'n 16 jarige knaap van Temagog in die noorde van New South Wales, so 430 kilometer van Sydney af. Hy het homself geleer kitaar speel.

Hier is Joe in die finaal wat nou NET op die TV was:


Asook Smokin Joe se optrede in die Semi-finaal:


Hy speel uitstekend kitaar. Julle kan na van sy musiek gaan luister by sy MySpace bladsy en ook gaan kyk na nog 'n paar musiek videos.

Ek is natuurlik versot op sulke musiek asook musiek soos in die klankbaan van Chocolat. Die musiek is deur Rachel Portman gekomponeer.
Hier is so 'n uittreksel....dan kan julle hoor wat ek bedoel:

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings