Sunday, August 29, 2010

Die Groot Australiese Koraal rif: Aflewering 1

(Skakel na hierdie blog inskrywing)

Op Saterdagoggend 25 Februarie 2006 om 9h24 in die oggend, was ek en my vrou op die bodem van die see naby Sodwana, besig om die koraalrif aan die oostekant van Suid Afrika te bewonder. (Dit was ook die presiese tyd wat die volgende goto geneem is.) Dit was die eerste keer wat ek so diep onder die water was, besig om 'n wonderwêreld te verken wat ek toe nog nooit geken het nie.  Ek het my Open Water SCUBA kursus deur NAUI gedoen en dit was my eerste duik-naweek.  My vrou het haar duik sertifisering toe al reeds lankal gehad.

 
Talryke soorte visse van vele skakerings het om my gewemel. Daar was 'n prag en skoonheid aan die die koraal wat ek nie met woorde kon beskryf nie. Dit het 'n tekstuur gehad wat ek nog nooit voorheen op 'n ander plek raakgeloop het nie.  Dit het geblink asof dit oorgetrek was met 'n fluweel stof en so ver as wat die oog kon sien het dit uitgestrek gelê rondom. Plate en plate so ver as wat mens kan sien.  Dit was 'n weggesteekte wêreld, amper ses verdiepings onder die see en dit het gevoel of ons die eerste mense was wat dit ontdek het.  Die kleure van die visse hier was soveel helderder, soveel meer uitspattig as was mens gewoond aan was, so rojaal voorsien van mooiheid.  Tog, en dis 'n jammerte, sien so baie mense nooit hierdie wonderwêreld van naby nie.  Die volgende foto is van 'n Engel vis op die Koraalrif by Sodwana (deur die duikinstruktrise geneem).

As jy eers SCUBA geduik (of gesnorkel) het, dink ek verander die manier wat jy na visse en seediere kyk. Dit is nie meer net nog 'n kossoort in 'n Seekos restaurant nie, maar 'n kosbare plek wat ten alle koste beware moet bly en jy dink met respek van hierdie ondersese skatte.  Elke moontlike geleentheid word dan aangegryp om weer by hierdie verborge wêreld te gaan kuier.

Dit bring my dan nou by die punt waarby ek eintlik wil uitkom.  Om die "Great Barrier Reef" / Groot Walrif / Groot Australiese Koraalrif te kon sien was tot nog toe net 'n onmoontlike droom.  Aan die begin het 'n besoek aan Australië nie eens in my gedagtes opgekom nie...hoekom sou ek tog ooit daarheen wou gaan? Wat nog te sê om daar te gaan bly? Mens het koraalriwwe soos in Australië en die Karibiese eilande mos maar net in flieks gesien!  Hoe het alles tog nie verander nie.  Nou bevind ek my op daardie juiste Australiese eiland en die see is net 'n halfuur se ry van ons af en om na die Groot Koraalrif te vlieg is minder as 'n drie uur vlug van hier af.  Skielik was hierdie droom moontlik, maar ek het dit eers later regtig besef.  Sommige van die ouens wat saam met my werk het al by Vanuatu en Fiji gaan scuba en snorkel en 'n ander een was onlangs vir vakansie na Hawaii toe.  Die Stille Oseaan is mos net op ons voorstoep en ek verstaan nou hoekom dit die Stille/ "Pacific Ocean" genoem word...die see is party dae regtig baie kalm en dan is snorkel net so maklik soos om in die see in te loop en op jou maag te gaan lê.

Ons het toe besluit om op 'n Donderdag oggend net na 6h00 'n Jetstar vlug te neem van Sydney na Cairns in Queensland, amper by die noordelike punt van Australië (Cape York is sowat 960 km vanaf Port Douglas). En om dan weer die Sondag terug te vlieg. Die soortgelyke afstand in Suid Afrika sou ongeveer so ver wees soos om van Port Elizabeth tot bokant Zimbabwe te vlieg.  Dit het natuurlik beteken dat ons reeds sowat 03h20 sou moes opstaan, sodat iemand ons net na 4 kon lughawe toe neem om te verseker dat ons ten minste 5h00 reeds by die Sydney Binnelandse lughawe kon wees om in te boek.)  Dit was net ek en my vrou en ons was baie opgewonde, want hierdie was 'n eens in 'n leeftyd ervaring. Iets wat ons nie gedink het gou sou gebeur nie.  Daar sit ons toe op die vlug, gestewel en gespoor.  Die kaptein wens almal welkom op die vlug en kort voor lank word ons teen die sitplekke vasgedruk soos die Airbus 320 die oggendhemel in-klief. Dit was nog baie koud in Sydney en ons het baie uitgesien na die vooruitsig om na die somer toe te kon vlieg.  Die wolke het soos 'n wattekombers tot in die verte gestrek en toe die ou sonnetjie sy ogies agter die kombers uitsteek was ons al baie vêr van Sydney af.


Vanaf Cairns (uitgespreek as "Cans") sou ons 'n Hertz motor by die lughawe huur om tot by Port Douglas te ry waar ons bespreek het by die Sabaya oord.

Die pad vanaf Cairns na Port Douglas is omring met palmbome en suikerriet plantasies.  Die warm vogtige lug herinner mens nogal aan die Natalse suidkus en die berge strek naby aan die kus voor mens uit aan jou linkerkant.


Oppad het ons by Palm Cove aangedoen.  Dit is 'n soort toeriste dorp wat direk op die strand ontwikkel is met plaveisel strate, baie palmbome, voetpaadjies langs die see en baie restaurante.


Die bordjies langs die see waarsku dat hierdie 'n geskikte plek is om krokodille te kom afneem.  Verder is die boks jellivis hier dodelik, maar hulle raai mens aan om net tussen die rooi en geel vlae te swem, want sien, die krokodille en jellievis weet dat dit is waar die mense mag swem.
Verder langs die roete, wat omtent so 'n uur neem om te ry tot in Port Douglas, het om afgekom op 'n plek waar die mense hangvlugte ("hang gliding") doen langs die see omdat daar sulke sterk opwaartse winde is teen die berge op langs die see.






Die water langs die kus is baie troebel as gevolg van die rivierwater wat hier in die see inloop.  Dit word baie bruin gekleur as gevolg van die grond afvoei vanaf die suikerriet boerderye in die riviere in. Dit is 'n groot kopseer vir mense wat die rif wil bewaar omdat die modder op die korale kan gaan lê en fotosintese van alge, wat as voedsel vir die korale dien, kan belemmer.


Die plantegroei in Port Douglas is baie ryg want hier by die 16 de breedtegraad is die klimaat heeltemal tropies.


Toe ons by die oord aangekom het, het ons gou-gou ingeboek in die self-sorg eenheid van die Rydges hotel


...en daarna na die Port Douglas Marina gery om ons snorkel vir die volgende dag te gaan bevestig.

 



Ons sou die Vrydagoggend vroeg saam met Wavelength se boot en die Saterdag oggend saam met HABA se dubbelromp katamaran na die Koraalrif geneem word wat sowat 46 km in die see in is. Julle kan die fotos by die fotogalery se Google kaart skakel gaan bekyk om te sien hoe ver dit van Port Douglas af in die see in is.

Friday, August 27, 2010

Ons droom om die "Great Barrier" Koraalrif te besoek word bewaarheid

(Direkte skakel na hierdie blog inskrywing)

Hello aan al die Internet vriende

Daar kom nog baie Koraalrif stories en beskrywings wat ek vir julle gaan skryf, maar om vir julle die geleentheid te gee om hierdie naweek al saam met ons die Koraalrif te ervaar, het ek die fotos vir julle opgelaai op die Internet.

Ek werk nou al 'n week of wat onverpoost om gepaste beskrywings by al my fotos te kry sodat dit 'n volle storie vertel.


Om na die volle foto/skyfievertoning van ons besoek aan die "Great Barrier" Koraalrif te kyk, kliek op die volgende skakel:

Great Barrier Reef Snorkel 2010

en druk dan dadelik die F-11 knoppie op die sleutelbord om dit vol skerm te maak. Julle sal ook dalk aan die onderkant die spoed van die vertoning bietjie stadiger moet maak.

Alternatiewelik kan julle na die volle gallery van fotos kyk deur op hierdie FOTO GALERY skakel te kliek.  Daar is 'n "SlideShow" knoppie op daardie bladsy se boonste linkerkanste hoek waarop julle dan ook kan kliek, of julle kan die "FullScreen" knoppie kliek nadat julle op enige van die fotos gekliek het.  Die links en regs knoppies op die sleutelbord sal jou dan toelaat om tussen die fotos te spring.

Ek plaas ook 'n permanente skakel na my Australiese Koraalrif bladsy aan die sykant van hierdie blog.

Geniet dit.  Daar kom nog baie leersame artikels oor hierdie onderwerp aan die hand van my fotos.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings