Ons het die naweek die wonderlikste sonskyn dae gehad. Mens wil net uitkom en die mooi plekke gaan besoek. Gister was ons bietjie na Curl-Curl strand, net noord van Manly en het weer heerlik saam met die kinders baljaar op die strand.
Vandag het ons sommer net met ons kar na Cheltenham stasie gery, die kar daar gelos en die trein in stad toe geneem tot by Wynyard stasie, vanwaar ons sommer te voet gestap het tot by die "Royal" Botaniese Tuine aan die ooste van die stad. Omtrent laasjaar hierdie tyd het ons nog gedroom hoe ons Sondae daar saam met die kinders gaan piekniek hou nadat ek vir ons uit die Australië boeke van die tuine gelees het. Toe was dit nog net 'n amper onmoontlike droom...nou is dit ons werklikheid! Daar is talle mense wat sommer net daar op die gras saam met hul kinders, saam met hul bemindes, of alleen met 'n boek op die gras lê en ontspan. Alles gratis natuurlik... Die plek is natuurlik 'n fees vir die fotograaf. Die lenteblomme maak van die plek 'n lushof. Die plek wemel natuurlik van vrugtevlermuise en voëls en die geklank van die geveerde vriende kan oral gehoor word in die tuine. Daar is groot damme met fonteine en beeldhouwerke.
Ek het die afgelope ruk oral waar ek tekens van lente gesien het my kamera uitgehaal en vir julle 'n skuifievertoning van sowat 92 fotos met die allerpragtigste lentefotos bymekaar gesit. Oral waar jy kyk hier in Cherrybrook en ook in die Botaniese tuine is net blomme! Ongelooflik.
Julle kan die versameling lentefotos gaan kyk by die Web Album, die Skuifievertoning gaan kyk op vol resulosie, of sommer net op die volgende Shockwave objek kliek. Ek het al die fotos op die maksimum resolusie van 4 megapixel opgelaai vir julle genot...
Die geure en kleure is net so rojaal en mildelik tentoongestel in die natuur dat ek nie anders as om te dink aan die deel wat sê:
"En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?" Matt 6:28-30
1 KONINGS 10:14
Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop
1 KONINGS 10:16
Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram goud gebruik.
1 KONINGS 10:21
Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie.
1 KONINGS 10:23
Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid.
Werklikwaar pragtig! :)
ReplyDeletehttp://boerinballingskap.wordpress.com
Werklikwaar pragtig! :)
ReplyDelete