Kyk, dis vir my nogal komies...hier is ek, 'n doodgewone ou, en so baie mense volg hierdie blog soos 'n sepie. Meeste van julle ken my waarskynlik nie eens nie, daar is niks spesiaals of uitsonderlik aan my, ek is nie ryk nie, hoofsaaklik onbekend, het nog nooit in 'n fliek gespeel nie, maar ek ek skryf sommer oor ditjies en datjies uit my alledaagse lewe. En daarby is ek nie eens 'n skrywer nie.
My hoofdoel met hierdie blog is egter: om my eie lappie aarde te kan hê waar ek met woorde en gedagtes en prentjies kan boer. Om my liefde vir my taal Afrikaans te kan beoefen, sodat dit nie durf gebeur dat ek die taal van my hart en my gedagtes verloor nie. Om luisteraars te kan hê is natuulik 'n bonus...en dan voel ek nie so "stupid" om opstelle vir myself te sit en skryf nie. Dankie natuulik ook vir Mnr. de Klerk wat by my so 'n liefde vir skryf laat posvat het.
My ander liefdes is natuulik die natuur, en soos julle seker al agtergekom het...om fotos te neem. Kyk, my vrou lag altyd vir my as ek selfs soms my kos afneem...hehe. Ja nee, soos my geliefde skoonma sê: daar is net een soos ek. Hulle moes die gietvorm weggooi nadat ek gemaak is, want al die haakplekke het die gietvorm laat breek.
Nog 'n groot liefde is liedjies, of anders gestel, gedigte wat jy kan sing. Ai, was ek maar 'n digter... Of 'n liedjieskrywer... Maar ek is heel tevrede om my te verlustig in die pragtige woorde wat mense in musiek kan voortbring.
'n Baie besondere lied oor ons taal is "Taal van staal", wat hier deur Leon Ferreira gesing word. "Staalsnaar" is die naam van die skrywer... Kan iemand vir my sê wie hierdie Staalsnaar is?
Hier is die liedjie se woorde
Taal van Staal (deur Staalsnaar)
1
Ek weet jou wêreld is 'n merry-go-round
Ek weet jou hart lê by die lost-and-found
Ek weet die spook van gister spook
In die drome wat jy oor more droom
Ek weet nie hoe ons wêreld sonder jou sou wees nie
Ek vrees nie
Jy's die taal van staal
2
Jy is die een wat in my hart kom lê
Dit is met jou wat ek my sê wil sê
'n Vreemdeling in jou eie land
Jy mag nie terugpraat nie, sê wie?
3
Is met jou wat ek wil droom en dink
Dis jy wat die kinders se oë laat blink
My jeans is blou en my bloed is rooi
My T-shirt is vuil, maar my taal is mooi
4
Ek weet die aarde moet regs om draai
Ek weet dis erg om te sê: koebaai
Ek weet riviere moet see toe loop
En die winter die bome se blare stroop
Herhaal 1
Jy gaan sê jy's sommer net groot bek
Jy't saam gestap, oor 'n berg getrek
'n Pik en 'n graaf in die grond kom steek
'n dorp geplant, 'n stad gekweek
My kart skop vas en my oë kyk noord
Dis hoe dit is en dis hoe dit hoort
Die nuwe dag sê ek is vry
So vat aan my taal en jy vat aan my
Herhaal 4
Ek weet jou wêreld is 'n merry-go-round
Ek weet jou hart lê by die lost-and-found
Ek weet die spook van gister spook
In die drome wat jy oor more droom
Jy's soveel meer as 'n klipmuseum wat op 'n koppie staan
Jy is die held van 'n volk en 'n stem en sy moed
Taal van staal, taal van staal
Herhaal 4
Herhaal 1
So 'n bietjie nuus hier van ons kant af is dat ek en my vrou hierdie maand 12 jaar lank getroud is. Ek het haar op 4 April 1996 gevra om met my te "kys", en dis waar alles begin het. Min sou ek geweet het ons sou ons vandag in Australië bevind. Dit was die 12 beste jare van my lewe. Die volgende 54 lê nou voor... Ons het onsself bietjie bederf en "My Fair Lady" by die Theatre Royal in die stad gaan kyk. Die bekende akteur Richard E Grant (wat in Swaziland gebore is), speel daarin. Soos julle in die link sal kan sien, het Richard Grant Esterhuysen al in 'n magdom produksies en films gespeel.
Verder is ons nog fris en gesond. Dit gaan goed by my werk en ek is weer aan die boonste sportjie van my spreekwoordelike leer, nadat ek die leer na 'n ander muur moes verskuif. Dit is nou nie regtig met verwysing na hoeveel geld ek kry nie...eerder hoeveel raad almal my kom vra.
Die somer sluip nader en ons was die naweek vir so 'n kort rukkie by die see, alhoewel dit maar deesdae weer baie hier reën. Ons is baie dankbaar vir die reën, want daar was 'n hele rits baie warm dae gewees hier in Sydney. Hier is so 'n paar fotos van die rose voor in die tuin wat ek geneem het voor en nadat dit gereën het.
Verder het ons verneem dat Brisbane Sondag die ergste storm in 25 jaar gehad het en groot dele is rampgebied. Daar was 100 000 huise sonder elektrisiteit en meer as 3000 huise is onbewoonbaar. Hier is so 'n paar fotos van die verwoestende storm. Daar is ook fotos wat deur mense ingestuur is. Hier by ons in Sydney is dinge darem rustig.
Verder gons dit behoorlik vandag in Sydney. George street in die stad is al heeldag gesluit in afwagting vir die groot Premiëre van die fliek "Australia" waarin Hugh Jackman en Nicole Kidman (beide Aussies van geboorte) in speel. Dit handel oor die lewe in Australië en die gebeure rondom die bomaanval deur Japan op Darwin gedurende die 2e wêreldoorlog. Dit is 'n epiese liefdesverhaal soos dit beskryf word. Daar is 'n rooi tapyt...die werke. Dit was vannaand op Channel 9 uitgesaai. Ons pleps kan dit egter eers volgende Woensdag sien as dit offisieel vrygestel word.
Hier is 'n voorsmakie van die fliek (of flick soos dit ook in Oz gebruik word):
A Clip from Australia – Starring Nicole Kidman and Hugh Jackman - Click here for more home videos
Dis soos die Pearl Harbour van Australië.
Volgens baie die grootste Aussie fliek sedert "The man from Snowy River", wat gebaseer is op die gedig van A. B. (Banjo) Patterson, wat ook die skrywer van Waltzing Matilda is. Ek weet nie of baie van julle geweet het nie, maar daar is 'n foto van Banjo Patterson op die 10 dollar noot:
That the colt from old Regret had got away," sien, wat ook die eerste vers is van die gedig. Interessant ne? Daar is 'n baie goeie bloginskrywing hier met die hele gedig van Banjo Patterson en die boek gebaseer op die gedig.
Hier is 'n uittreksel van tonele uit daardie fliek (waarin die gedig voorgelees word):
"THERE was movement at the station, for the word had passed around
That the colt from old Regret had got away,
And had joined the wild bush horses — he was worth a thousand pound,
So all the cracks had gathered to the fray.
All the tried and noted riders from the stations near and far
Had mustered at the homestead overnight,
For the bushmen love hard riding where the wild bush horses are,
And the stock-horse snuffs the battle with delight."
Ek het die audio boek (wat gebaseer is op die gedig) deur Elyne Mitchell laasjaar op die trein geluister. Ek het die CDs by die biblioteek uitgeneem. Gaan soek vir "The man from snowy river" by die biblioteek.
Verder kan julle al die inskrywings van die "We love Sydney" fotokompetisie gaan besigtig.
Groete tot volgende keer. Dankie dat julle hierdie blog lees.
Hallo Heinrich. Net 'n nota om jou te laat weet hoe trots ek voel om jou blogs te lees en te weet dis 'n stukkie van my bloed. Jou nederigheid is 'n ware riem onder die hart. Ek is baie seker die "hits" op jou blog is wraggies nie net familie nie. Ek het al in verskeie mense vas geloop wat hom gelees het lank voor ek daarvan geweet het. Lekker dag en doet so voort! Liefde Groete René Barnard (ja jou nig uit Gauteng, herdoop tot Gouteng want als gebeur vinnig hier, lol)
ReplyDelete