Volgelaai met alles wat die kamplewe so bietjie gemakliker sou maak. 'n Kamp vrieskassie (wat werk op gas, battery en krag) is natuurlik 'n MOET, asook 'n lekker seil tent wat mens koel kan hou in die somer en droog en warm in die winter. Voeg daarby so 'n paar opblaas matrasse wat enige lappie harde grond in die Drakensberge in 'n Sealy nagrus kan verander en so 'n paar Campmaster seil kampstoele waarop jy vir ure die veld kan sit en gadeslaan na 'n moeisame stap deur die Magoebaskloof bosse terwyl jy aan 'n stukkie Olifantsbiltong sit en suig (wat jy natuurlik die vorige dag naby die Phalaborwa hek vir jou bekom het toe jy jou twee voortande daarvoor verruil het). 'n Gasstofie om te sorg vir 'n lekker koppie koffie uit 'n blikketel in die oggende as die son sy kop vaak-vaak uisteek onder die kameeldoringbome.
Ons het oor die jare al so 'n klein opslagplek bymekaargemaak van kampeergoed, en toe ons hier na Sydney toe gekom het, toe het die meeste van die goed natuurlik saamgekom...alles behalwe ons toe-deksel sleepwa! Snik. Dit het natuulik die gevolg gehad dat meeste van ons kampgoed net so agterweë gelaat is in die Buddulphs bokse. My ou kampbeker het nou al amper 2 jaar in 'n boks vir my gesit en wag, selfs ons tent was tot vandag toe nog net so in die plastiek toegedraai waarin dit in April 2007 toegedraai is...daar het selfs so 'n bietjie Afrika lug ontsnap toe ek die ding vanoggend oopsny!
Wel, om te kan kamp het mens 'n sleepwa nodig wat lank genoeg is vir die tentpale en hoog genoeg is vir ons kamp vrieskassie...want daarsonder gaan ek nêrens nie. Ons het egter met 'n skok agtergekom dat mense hier in Australië nie so 'n gehegtheid aan 'n netjiese vaartbelynde sleepwa met 'n toemaak deksel het nie. Van 'n "nose-cone" het hulle nog nie gehoor nie en meeste van die sleepwaens wat jy hier kan kry is of sulke vlak ysterraam "joppies" wat mens omtrent net kan gebruik om vuilgoed mee weg te ry, of dit is sulke hoë hokke op wiele om 'n tuindienste besigheid mee te begin. As jy vir hulle vra van 'n TOE sleepwa, dan dink hulle dis die soort waarmee mens perde mee rondry. Wel, na ietwat van 'n gesoek het een van ons vriende ons die naam gegee van 'n besigheid wat "Custom" sleepwaens maak. Die besigheid se naam is MARIO TRAILERS. Die' Italianer maak sleepwaens vir elke gier wat mens dalk mag hê. Ek het nou wel nie 'n VENTER nie, maar nou het ek 'n MARIO. En ek moet sê dat ek nie net 'n bietjie ingenome is met my nuwe sleepwa nie, ek voel sommer weer soos 'n man. Want 'n man moet mos 'n sleepwa hê! Dit gee jou daardie selfde gevoel wat 'n ou met 'n bakkie het...so 'n gevoel van vryheid. Want nou kan ek met my eie tent gaan kamp (en nie ten duurste in sjalette gaan bly nie), my eie tweedenhandse meubels langs die straat oplaai, self kaste en goed wat ons gekoop het huis toe bring, my eie gemors wegry en my eie planke by Bunnings gaan koop en huistoe bring!
Omdat ons nou nie 'n V8 ry soos meeste mense nie, het ons 'n "light duty" sleepwa by Mario bestel. Dis een met bietjie dieper kante (om die vrieskas te kan hou), maar sonder 'n staal deksel. Ons het besluit dit vat net ekstra gewig en Mario het gesê hy sal vir ons 'n baie netjiese "canvas" seil maak vir die sleepwa wat met hakies vasgetrek kan word. Maar om te verhoed dat die water kan opdam op die seil, het hy 'n verwyderbare raam onder die seil sodat die water skuins kan afloop van die dakkie. Man...ek is trots op my sleepwa!
Goeie ene! Ek het self so 'n oop ou sleepwa waarin ek al my gemors en gereedskap rondry. Dan het ek 'n 'toe ene' waarin ek perde rondry.
ReplyDeleteHier om ons is 'n paar besighede wat vir 'n mense enige iets kan bou. Van die sleepwa/kampers is nie te sleg nie. Dit het 'n hele tent bo-op wat klein wegpak en blitsvinnig opslaan. Onder het dit laaie en deure waarin 'n hele kombuis weggesteek is.
Baie oulike sleepwa.
ReplyDeleteEk sien uitvoer moontlikhede, mmm....!
Lank laas by jou blog 'n draai gemaak.
ReplyDeleteJa nee, dit lyk 'n netjiese waentjie. In S.A. lyk my is die kwaliteit van alles maar op die afdraende pad, ek het mos voorlaasjaar so 'n groot Engelbrecht-sleepwa gekoop vir die tuinvullis se wegry, wat kastig nie sou roes nie. Ek sal hom self moet begin behandel, hy roes.
Ek hoop nie iemand wil daardie proppe by ons begin inbring nie, alhoewel ek die rondes haat - een standaard is genoeg!