Een van die mees talentvolle digter-musiekante moet seker Koos du Plessis wees. Ek bewonder sy diep insig in die emosies wat mens ervaar asook die wonderlike manier wat hy homself in digterlike woorde kan uitdruk. Daar is een liedjie van hom wat handel oor die roekelose manier wat die mens met die aarde omgaan. Gaan lees gerus oor sy lewe by http://www.koosduplessis.co.za/
en lees bietjie van sy digterlike lirieke by http://www.gypsy.co.za/lyrics/Koosdup/koosdup.htm
Spore op die Maan - Koos du Plessis
elke nuwe plan lê hopeloos verfrommel
want iets sê: "stomme drommel,
die ruimte lê vol rommel"
en ek begin verstaan:
daar is geen nuwe oord om heen te gaan
want kyk, daar lê reeds spore op die maan
want die stad blom elke nag
strooi sy saad en skemerdag
breek staalspruite teen die aardkors waar jy gaan
rommelberge groei omheen
en daar's swaelsuur in die reën
en kyk, daar lê reeds spore op die maan
waarheen sou ek gaan?
ontvlug is onbegonne
selfs droom is onbesonne
want die wêreld is oorwonne
en ek begin verstaan:
daar's geen nuwe paaie om te baan
want kyk, daar lê reeds spore op die maan
elke hektaar is verkoop
elke opstal lê gesloop
en die wêreld wag verwese, in die waan
dat 'n wonder sal gebeur
om sy rusperleers te keer
maar kyk, daar lê reeds spore op die maan
vlug na berg of woud..
meen jy dat daar geeneen is
dat jy eindelik alleen is?
ag, verspieders loer op Venus
en ek begin verstaan:
daar is geen nuwe oord om heen te gaan
want kyk, daar lê reeds spore op die maan
elke woord is retoriek
elke droom is bloot plastiek
en atoom's die idioom van wie verstaan
iewers moet 'n rusplek wees
vir die afgematte gees-
maar kyk, daar lê reeds spore op die maan
duisend donker spore op die maan
kyk, daar lê reeds spore op die maan
No comments:
Post a Comment
Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.
Note: Only a member of this blog may post a comment.