Vandag het ons die pad terug gevat na Queenstown se omgewing. Ons het die 'Crown' pas geneem net na Queenstown en het 'n wonderlike uitsig van die omgewing daarvandaan gekry.
Dit was egter nogal 'n ervaring op sy eie om met 'n amper 4 ton kampeer-van teen die' styl pas uit te ry en vroulief het 'n paar keer lekker ge-stress as ek so soek vir die regte rat. Die 'lorrie' het gelukkig ook brieke soos 'n regte 'lorrie' en dus kon ons maklik teen die afdraandes afry met die enjin 'brieke' (kompressie brieke) wat kompleet soos 'n groot vragmotor syne 'grrrr...grrrrr' teen die berge af gemaak het. Maar ons het verder gery tot by Wanaka (wat in Maori 'Verkwikking van die siel' beteken) en by Wanaka meer se karavaanpark gaan inboek vir die aand. Die meer lyk voorwaar soos 'n spieel met rimpelings op en dit weerkaats die berge in die agtergrond.
Die dorpie se aktiwiteite draai hoofsaaklik om die meer en wateraktiwiteite, so ons het toe maar so 'n draai op die trapbootjies gaan gooi saam met die kinders. Wat egter baie interessant was, was die 'Puzzling World' museum wat 32 jaar gelede deur Stuart Landsborough hier begin is. Daar is 'n tamaai ware-grootte doolhof met 1.5 km se gange, wat 'n gemiddelde persoon (as hy nie moed opgee en die 'emergency exit' gebruik nie) sowat 1-2 ure neem om te voltooi nadat hy gemiddeld 3-5 km geloop het voor hy dit baasgeraak het. Daar is ook hologram fotos, allerhande optiese illusies teen die mure, asook 'n kamer waar jy in 'n optisie illusie kamer kan rondloop waar die hele vloer skeef is...water opdraande loop en jy op 'n stoel kan gaan sit waar jy self 'opdraande' beweeg. In 'n ander kamer kan jy en jou kinders in teenoorgestelde kante van die kamer gaan staan en tog presies ewe groot lyk. Wanneer jy dan agterom loop en by die ander deur inkom lyk dit of daar 'n reus by die kamer inkom. Daar is ook heelwat speel legkaarte en driedimensionele 'speelgoed' soos onder andere die Rubik's Cube waarmee die kinders kan sit en speel.
Gaan kyk na die kaart met vandag se fotos, of kyk na die skyfievertoning.
No comments:
Post a Comment
Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.
Note: Only a member of this blog may post a comment.