En so het ek toe die toeriste kaart gefynkam op soek na Murray's Beach. Die Murrays is mos familie van my jy weet. Ons loop 'n lang pad. Ek dog toe so by myself....dalk is daar weggesteekte skatte by hierdie verlate strand... Dalk is daar oesters met pêrels in? Aha! Daar is hy op die kaart. Ek fluister toe vir my vrou...more vroeg staan ons op, kry ons snorkels en duikbrille...en dan gaan duik ons net daar waar die X op die kaart is. Dalk vind ons nog die skat van Kaptein Murray?!
Hierso is die presiese GPS posisie van die plek....en onthou...jy het dit nie by my gekry nie!
Dalk onthou julle nog my post van in Februarie 2007, waar ek al die scuba plekke rondom Sydney gelys het....wel, noudat ons hier is word daardie droom so stukkie vir stukkie waar. Ek is besig om stelselmatig nou al die plekke te ontdek waar ons kan snorkel om mooi seelewe te sien.
En eendag...wie weet...die Groot Koraalrif naby Cairns!!!
Ons was vroeg die oggend daar by die strand. Mens stap so 'n entjie met 'n voetpad om die see te bereik. Die see was kalm en die water blou.
Oral op die rotse groei sulke rubberagtige geel-groen seegras.
Ek het hierdie vir julle afgeneem....
Wat mens rondom hierdie strand se rotse sien is...
'n magdom "sea urchins" met honderde swart stekelrige penne...honderde sê ek vir jou
As jy ooit deur een van hierdie gesteek word...hier is die behandeling.
Ek het die volgende "Sea Urchin" skulp opgetel onder die water.
Dan was daar ook nog baie Kelp asook groen seegras wat amper soos 'n onderwater grasperk lyk wat lanklaas gesny is.
Daar was baie koraaldiertjies wat toemaak wanneer jy met iets daaraan raak. En ook visse...baie baie visse, sommer so 25 of meer wat op een slag hier rondom en onder jou swem. En nie sommer klein visse nie, sulke 30-40 cm visse. Daar was sulke helder oranje visse en rooi visse (kyk verskoon my beskrywings, maar op die oomblik het ek nog nie wetenskaplike name vir oranje of rooi visse nie).
Ek het so af en toe afgeduik om nog 'n nader beskouing te kry van sommige van die dieper goeters. Dis nogal soos 'n droomwêreld - kyk ek weet hoe lyk die riwwe by Sodwana, sover het ek nog nie weer iets so mooi gesien soos daar nie, maar vir my was hierdie belewenis heeltemal goed genoeg...en gratis.
Die "cherry" op die koek was natuurlik toe ek so aan die Westekant van de rotse kom, nadat ek al vir baie lank net so op die oppervlak gelê het, met net my eie asemhaling as geselskap....het daar reg voor my, so 2 meter weg, 'n meter lang (give and take 'n paar centimeters ;-) onbekende haaisoort geswem. Ek het tot dusver nog nie so 'n haai gesien nie, maar ek het geweet dis 'n haai as ek na die vinne gekyk het. Maar dit het 'n heel ander soort kop gehad, met 'n kleinerige bek. Ek kon vir jou die kop presies uitken, maar wat dit was het ek nie geweet nie.
Ek wou eers agterna swem, wens ek het, maar die volgende gedagte wat by my opgekom het, was dat daar moontlik meer van hulle kon wees, en ek nie geweet het watter soort seediere hierdie tipe haai se dieet uitgemaak het nie, want as robbe, of seeleeus, of selfs pikkewyne daaronder geklassifiseer het, dan wou ek (wat met my kaal voete en pikswart wetsuit aan, nogal baie soos 'n rob kon lyk) nie daardie dag aan die onderkant van die voedselketting beland nie.
Daarom het ek toe maar ge-retereer, omgedraai en in die teenoorgestelde rigting gespartel. Met so baie "sea urchins" met vlymskerp penne, was ek ook maar baie versigtig om net by die naaste rotse uit die water te klim. Dus het ek maar kalm-erig teruggedryf rondom die rotse tot by die anderkant. Tog was dit 'n baie groot belewenis.
Nadat ek terug was in Sydney, het ek vir die ouens by die werk vertel van die' haai met sy eienaardige kop. Hulle het eers gedink dit kon dalk 'n Wobbygong haai wees, maar na verdere ondersoek was ek oortuig dat ek my eerste PJ gesien het. Dis nou wat die duikers hier in Oz 'n Port Jackson Haai noem. Sydney hawe is mos Port Jackson. Dus was dit 'n baie algemene en skadelose haai wat ek gesien het. Hierdie foto van 'n ander website is PRESIES wat ek gesien het...maar ek het nie hierdie foto geneem nie.
Gelukkig vir my leef hulle hoofsaaklik van krappe...
Hulle wetenskaplike naam is Heterodontus portusjacksoni.
Gaan lees ook oor ander haaisoorte hier in Australië.
Hier is 'n skulp wat ek gekry het...
Die strand is reg aan die onderpunt van die Booderee Nasionale Park, naby die ingang van Jervis Baai. Ingangskoste is $10 vir 48 uur.
Na verdere ondersoek het ek uitgevind, dat die Aussie regering amperties hierdie klein stukkie paradys omskep het in 'n Kernkragreaktor voor 1971, maar genadiglik is die planne laat vaar...en al wat nou daar is, is 'n parkeerterrein en toilette - gelukkig is daai planne laat vaar.
Net om julle 'n idee te gee van hoe dit voel om so agter een van hierdie Port Jackson haaie in Jervis Bay te swem, hier is 2 videos wat ek op die internet opgespoor het van hulle by Jervis Baai. Hierdie is presies hoe dit lyk daar.
Ek gaan aan die regterkant van hierdie blog 'n lys opbou van al die plekke waar ek al gesnorkel het en wat ek gesien het. Ai....nou kort ek net 'n onderwater kamera!
Sjoe, jy het 'n pragtige blog! Jou fotos is fantasites. Ek het op die stadium 'n vriendin in Aus wat so sukkel om werkspermit of 'n borg te kry. Jy het nie dalk raad nie?
ReplyDeleteDit is regtig stunning! Ek sal nie omgee om daar te kan snorkel nie.... As jy 'n Koreaan daar moet vrylaat sal jy net doppe en seegras sien waai soos hulle eet ;-)
ReplyDeleteDit is stunning! Ek sal glad nie omgee om daar te snorkel nie. As jy 'n Koreaan daar sou loslaat sal jy net doppe en seegrasse sien trek soos hy eet :-)
ReplyDeleteWens dit wil nou warm word hier...