Ek werk lekker, maar hard. Daar is genoeg werk by die firma waar ek is om my nog maklik 2 jaar besig te hou, want hulle kry meer werk in as wat ons kan doen. Oor die algemeen kom ek so 17h30 by die huis, maar so nou en dan, dan werk ek vrywilliglik so 2 ure later as ons mikpunte het om te bereik by die werk. Dan stap ek rustig stasie toe in die vars aandlug. Hier en daar stap mense nog met hul kind in die stootwaentjie na 'n straatkafee, daar stap twee jongmense in die straat en af en toe sien jy 'n ou Sjinese tannie of oom aansukkel na 'n restaurant. Dan kry ek stiptelik die trein so 19h22 soos wat dit op die rooster aangedui is en ek klim stiptelik 19h38 af by my stasie. Dit raak net te lekker hier in die aande.
Vrydag het ons gaan Ten-pin bowling speel in Castle Hill (die plek is hier) saam met mense wat saam met hule 4 tiener kinders nou hier in Sydney bly. Alhoewel bietjie duur (ongeveer $20 per persoon), was dit baie lekker. Daar na het ons tot so 2 ure na twaalf in die nag voor ons "Firepit" gesit langs die "kampvuur". Te lekker gekuier. Ons probeer om ook saam met Aussies te kuier, maar hier aan die begin bou ons maar aan die ex-SA gemeenskap se welstand - die magdom Chinese kan dit doen, hoekom nie ons ook nie.
Vandag was ons na Watson's Bay en het lekker vis en tjips by die Doyles Fisherman's Wharf gekoop en op die gras van Robertson Park gesit en eet en gespeel met die kinders.
As mens so 'n entjie met 'n paadjie aanstap boontoe kan mens die "poort" wat die see volg verby die "North Head"tot by die Sydney Hawebrug duidelik sien.
Na die tyd is ons weer na 'n ander strand: Shark Bay. Dit is langs die mooiste park gelee en het 'n wonderlike strand waar die kinders rustig kan swem want daar is nette gespan vir veiligheid.
Groot skepe vaar in hierdie "poort" verby en mens kan te lekker lê en ontspan op hierdie strand. Daar is ook 'n klein restaurant. Al die strande is silwerskoon en daar is toiletgeriewe. Dit is sowat 37km van ons huis af in Cherrybrook en na my mening ry die pad daarnatoe (alhoewel deur die stad) vinniger as die pad van Manly strand af.
Groete uit Aussie land