Tuesday, June 19, 2007

Om werk te soek voor jy jou VISA het, of om eerder te wag vir die Permanent Residence VISA

Ek plaas hierdie post (wat ek reeds op 28 Februarie 2007 by 'n ander plek geplaas het) weer hier op my eie blog, sodat dit maklik bereikbaar is:

Wat is die beste?, Soek eers werk of doen eers die papierwerk en kry eers die permanente VISA.

Die vraag is seker eerder: Hoe desperaat is julle? Of hoe haastig is julle?
Soos wat dit nou vir my lyk neem dit sowat 7 maande om 'n case officer (CO) te kry vir jou 136 VISA nadat dit gelodge is!! Daarby moet jy nou nog voeg die tyd wat dit neem vir 'n "skills assessment", wat nog ten minste 2 maande by die wagtyd voeg. Dis al klaar 9 maande. Nadat mens 'n CO het moet daar nog mediese toetse ingedien word en polisie clearance gekry word. Meeste mense wat ek mee gepraat het wat op hul eie (of met hulp) deur die proses is het gesê mens kan jou regmaak vir ten minste 'n jaar. Dit lyk nie, volgens my eie opinie, of die MODL lys veel verskil maak aan die processing tyd nie. Hulle is blykbaar so oorlaai met aansoeke dat hulle huidiglik 6 weke neem om net 'n acknowledgement te gee.

Ons aansoek is klaar gelodge en aanvaar begin Februarie, maar ek het reeds laasjaar November 'come hell or high water' begin om rond te soek vir moontlike werkgewers. Hierdie wagproses is vir my baie erg. Daarby nog die feit dat mens nie eers 'n werk het as jy nou uiteindelik klaar gewag het nie. Ek het met 'n baie spesifieke soektog na maatskappye gesoek wat in dieselfde lyn is as wat ek kwalifikasies het. Dit maak dat jy uit die staanspoor baie meer aandag trek as jy jou CV vir hulle stuur. Ek het op hierdie manier 'n hele klomp kandidaat maatskappye opgespoor en my hele situasie verduidelik. Gewoonlik eindig die proses ook hier as hulle uitvind hoe lank hulle sal moet wag vir jou om die VISA te kry. Ek het dit egter duidelik gestel dat hulle die proses baie kan bespoedig indien hulle bereid sou wees om as 'n sponsor op te tree. Een maatskappy wat my graag wou hê om vir hulle te werk het op hierdie stadium kop uitgetrek. 'n Ander een het egter gesê ek moet hulle op datum hou van my VISA tydlyn. Ek het in kontak gebly met hulle en die "lead" warm gehou. Tot hulle uiteindelik besluit het om vir my 'n werksaanbod te gee en nou is hulle besig met die sponsor proses.

My ervaring (en ek is in die IT bedryf) is dat dit wel baie skaars is vir 'n maatskappy om jou te sponsor. Dis 'n groot "stretch" vir 'n maatskappy om dit te doen...en dit hang natuurlik af hoe moeilik of maklik hulle iemand in die hande kan kry met jou skills. Maar ek glo as jy met jou soektog genoeg op die beste "match" kan afkom met jou skills (beide op die SEEK websites) asook deur direk email te stuur vir maatskappye waarvan ek die besonderhede op "trade show", of IT listing websites gekry het, dan staan mens 'n goeie kans. In hierdie opsig het onderwysers ens. dit sekerlik makliker omdat hulle makliker sponsors kry na my mening.

Gebruik Google en voeg site:com.au aan die einde : dit sal jou soektog beperk tot maatskappye van Australie.
Maak 'n lys van al die moontlike maatskappye wat in dieselfde bedryf is. As jy byvoorbeeld in die motorbedryf is en jy weet Toyota is een maatskappy wat in die motorbedryf is in Oz, en dat hulle website www.toyota.com.au is, dan is dit maklik om die ander websites te kry wat in dieselfde bedryf is, soek dan na related:www.toyota.com.au wat vir jou al die ander websites sal gee van motor maatskappye in dieselfde bedryf.

Sê maar jy werk vir 'n maatskappy wat "accounting software" skryf. Soek dan vir:
"accounting software" site:com.au
Dit gee vir jou 'n lys van moontlike maatskappye.
Daar is gewoonlik 'n "Contacts" link op elke site of selfs "Employment". Probeer die email van die human resources afdeling in die hande kry, of vra of hulle dit nie asb. sal aanstuur nie.

Sê maar jy kom nou af op www.financeplus.com.au in die soekresultate, kry dan al die ander maatskappye in dieselfde bedryf deur: related:www.financeplus.com.au

Gaan deur elke website en kyk wat hulle doen en stel 'n kortlys op van maatskappye wat lyk of hulle doen wat jy in belang stel... Op hierdie manier is jy jou eie recruitment agent en 'n potensiele werkgewer sal jou dan oorweeg omdat hulle al die agente komissie spaar wat hulle per maand bo en behalwe jou salaris aan die agente moet betaal.

Ek sal baie eerder alreeds in Oz wil werk terwyl ek wag vir my 136 VISA om klaar te kry as om hier in Suid Afrika te sit in onsekerheid en limbo. Waar daar 'n wil is is daar 'n weg, soek en jy sal vind, hou aan klop en iemand moet die deur oopmaak. Leer by die vriend wat in die nag aanhou om op sy vriend se deur te hamer om 'n brood te kry of by die weduwee wat die onregverdige regter moedeloos gehad het met haar "persistence". Iewers moet 'n aansoek suksesvol wees. Selfs op SEEK.com.au het ek aanhou om navraag te doen waar ek kon sien dat dit maatskappye was wat self geadverteer het. Vra ook die werkgewers of hulle jou CV kan hou vir moontlike toekomstige werk vir as jy uiteindelik jou PR kry.

Sterkte

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings