Monday, September 29, 2008

Die karavaanparke hier is besig om in voorstede te verander

Het gedink om julle op hierdie artikel te wys om die krisisafmetings van die behuisingtekort in New South Wales te benadruk. Dit mag dalk nou bietjie negatief klink, maar ek wil net hê julle moet bewus wees hiervan...

Karavaanparke in NSW is besig om oorlaai te word deur mense wat geen ander heenkome kan kry behalwe om in karavane in te trek nie.

"whenever there was an open house for a rental home the queues stretched down the block."

Ek wil dit waag om te sê: Moenie Aus toe kom sonder dat jy verseker is van 'n huis nie. Kyk, 'n werk is belangrik, maar 'n plek om jou kop neer te sit net so belangrik.

Dit is nie die KOSTE van huur juise wat die probleem is nie, want dis steeds ver onder 'n verbandpaaiement om te huur, dis die BESKIKBAARHEID van 'n huis, hoe duur jy ook al bereid is om te betaal, of hoe armsalig jy ook al bereid is om te leef.

Sunday, September 28, 2008

Koninklike Botaniese Tuine


Laas Sondag was ons by die "Royal Botanical Gardens" om bietjie ons kleinneef (susterskind) wat nou hierby ons kuier te wys hoe mooi dit hier lyk in die lente. Ons ruk toe sommer as 'n groep op na die tuine en maak daarvan 'n uitstappie vir die kinders. Hier is so 'n paar fotos.















Hierdie Kaketoe het so ewe kordaat vir my kom sit sodat ek sy foto kon neem.

Hierdie trosse is nie vrugte nie - dis vliegende vlermuise / jakkalse.






Hier speel die kinders vrot-eier.

My klein meisie kry eerste plek in die skool se "Olympics"

Hier volg so 'n paar fotos van die Atletiek Karnaval wat by my kinders se skool gehou is. Soortgelyk aan huissport word hulle almal in atletiek groepe vernoem na Aboriginal stam name ingedeel en dan ding hulle met mekaar mee. My kinders se groep word "Gulli" genoem.



My dogter wil mos net altyd hol... en hol. Die pleisters moet altyd byderhand wees, want sy loop mos nie rustig nie, maar hol orals. Wel, dit wat sy so graag doen het nou gemaak dat sy eerste plek in haar item gekry het. Baie trots op haar prestasie natuurlik.



Hier kom 'n klein atleet. Haar gunsteling in die Beijing Olimpiese spele was natuurlik Stephanie Rice - sy het selfs 'n toesprakie by haar skool oor haar heldin gedoen.

Saturday, September 27, 2008

Vir almal wat in motorsport belang stel

Soos julle weet het Sydney baie gebaat by die Olympiese Spele wat in 2000 hier gehou is. Die nalatenskap daarvan kan gesien word in groot binneshuise swem-arenas en groot stadions, onder andere die een by Sydney Olympic Park of die "Homebush" omgewing soos wat dit ook voorheen bekend was. Wel, daar is nou sprake daarvan dat die V8 Supercars wat reeds in Melbourne aangebied word, nou ook een keer 'n jaar hier in Sydney gehou gaan word. Hulle beplan om die strate by Sydney Olympic Park een keer 'n jaar in 'n resiesbaan te omskep.


Een van die kategorie in die "V8 Supercars" is die V8 Utes - kyk na hul website. Julle kan daar na videos van kragmetings gaan kyk. 'n UTE is natuurlik die afkorting vir 'n Bakkie / "Utility vehicle" hier in Australië - en glo my sommige manne kyk baie mooi na hul UTE's. Hulle behandel dit soms soos hul vrou...en dit word met allerhande "accessories" verbeter en opgegradeer. Dink net - hierdie bakkies het dubbel soveel silinders soos 'n gewone kar en daarby word dit nog op elke denkbare manier woema gegee.

Een van die Australiërs wat sy UTE motorsport baie ernstig opneem is Andrew Fisher. Hy ding mee in die V8 Super UTE kategorie. Hier is hy in aksie in sy V8 Super Ute.



Andrew het besluit om sy geloof deur middel van sy V8 Ute aan skoolkinders dwarsoor Australië uit te dra. Sy hoof-borg is die Bybelgenootskap van NSW en Jesus is sy Banier.
Die, "Jesus, All About life" program, is 2 September in Sydney geloods. Hier is Andrew besig om mense toe te spreek.


Tydens motorwedrenne is sy V8 Ute duidelik herkenbaar. Hier is 'n foto uit die Sydney Morning Herald artikel: "Beaut Ute goes for Jesus" asook in die Brisbane Times.

Julle kan bietjie gaan oplees oor hierdie Aussie op sy "Jesus racing Homepage".
Sy getuienis. Hoekom hy Jesus as sy sponsor gekies het.




Thursday, September 25, 2008

Sukses is nie iets wat ek behaal nie

Soos julle weet dink 'n mens mos maar so oor die ou lewe en alles wat geneig is om so rondom mens te verander dat jy nie altyd weet of dit jy is wat verander of die wêreld rondom jou nie.  Mens wonder oor die sinvolheid van ons daaglikse herhalende bestaan.  Ek dink deesdae so baie oor wat van alles gaan word, wat vir mens voorlê in die lewe en hoekom dit alles so moet gebeur.


Toe ek vanoggend by my gunsteling koffie hoekie sit en White Chocolate Cafe Mocha drink...toe kom ek tot die volgende besef...en ek deel dit maar met julle, want ek dink dis iets wat tydloos is en iets wat ons nie altyd besef of raaksien nie:

Wat is sukses?  Is dit iets wat mens self bereik? Kom 'n mens aan die einde van jou lewe en dan kyk jy terug op al die geld wat jy bymekaar gemaak het? Die naam wat jy vir jouself gemaak het?  Hoe invloedryk jy was?  Of jy dit reggekry het om voor jou dood al jou aardse besittings af te betaal?  Of jy vir jou kinders 'n baie groot erfporsie kon agterlaat?

Hierdie woorde het by my opgekom:

"sodat die beproefdheid van julle geloof, 
wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter (gesuiwer) word, 
bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid 
by die openbaring van Jesus Christus;" 1 Petrus 1:7

Hierdie woorde staan net na die woorde:
"Daarin verheug julle jul, al word julle nou -- as dit nodig is -- 'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge (toetse),"

Ek het besef....ek sal kan sê ek het 'n suksesvolle lewe gehad, wanneer daar eendag GOUD (getoetsde vetroue in God) in my karakter gevind kan word.  Wanneer al die lewe se swaarkry, harde werk, hartseer, liefde, geduld, omgee vir die rondom my, en vertroue te midde van moeilike dinge wat ek moes oorkom - my lewe sodanig gevorm het - dat Jesus se suksesvolle taak in my lewe raakgesien sal kan word en mense sal kan sê: "Kyk wat het God bereik in hierdie feilbare ou", net soos in die woorde: "wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind." (2 Thess 1:10)
"maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?" (Luk 18:8)
"Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders (seuns) van God." (Rom 8:19)

Kyk, vir myself lyk dit steeds soos 'n onbereikbare taak, veral omdat ek nie die een is wat die werk doen nie (ek is maar net die bewerkbare grond), en ek nie dink mense hierdie tipe geloof altyd in my eie lewe raaksien nie, maar ek weet:
"omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;" (Filippense 1:6)
want :
"By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik." (Mattheus 19:26)

Lekker dag vir julle.

Wednesday, September 24, 2008

Huis, Paleis, Pandok...varkhok

Wanneer jy jou vaderland verlaat, jou huis opgee, al jou familie en vriende agterlaat tesame met alles wat jou tot op daardie stadium ge-definieer het as mens, ondervind mens noodwendig 'n soort identiteitskrisis. Nie baie emigrante sal dit vir jou sê nie, maar 'n mens verlang baie terug. Dit waarna mens terug verlang is egter 'n ontwykende ding, want jy kan soms nie self jou vinger daarop sit nie. Voorheen was jy in jou element, tussen jou eie mense, nou voel dit vir jou af en toe of jy op 'n oorsese TV reeks se filmstel ronddwaal.


Ek het egter terwyl ons nog in SA gewag het vir al ons trek voorbereidings om afgehandel te word, soms die' eksperiment gedoen: 
Wanneer ek winkelsentrum toe gegaan het, het ek spesifiek uitgekyk hoeveel van die mense wat my pad kruis in die groot winkels en inkopiesentrums werklikwaar aan my bekend was. En ek het toe een ding besef - omtrent almal was mense wat ek vir die eerste keer in my lewe gesien het, of soms net onthou het omdat ek hulle elke dag met middagete verby my sien loop het. Al was dit my "eie" land, was die meeste mense tog onbekendes.

Een ding wat ek egter in gemeen gehad het met al hierdie onbekende mense oral rondom my op straat en waar ek my ook al bevind, was die feit dat ons in soortgelyke omstandighede grootgeword het, dieselfde lewensindrukke gedeel het, ook waarskynlik elke aand na Riaan Cruywagen op die nuus gekyk het, dieselfde TV advertensies gesien het, meestal almal Afrikaans kon verstaan en soortgelyke bekommernisse en vrese gedeel het. 

Ek het myself dan afgevra: Nou wat is dan nou eintlik anders? Hier in Sydney is die meeste mense wat jy in die winkels sien ook onbekendes. Totdat jy met hulle praat, kon hulle net sowel deurgegaan het as Afrikaanse mense, want hulle lyk maar dieselfde. Die kleurskakerings neig hier net na die ligter kant. Dan wonder mens soms hoekom ondervind mens so 'n vreemdelingsgevoel al is die meeste mense waarmee jy jou paaie kruis steeds onbekend is, selfs in jou vaderland? 

Waar jy vandaan kom leef mense by mekaar verby en hier ok maar - soos skepe wat in die nag in die hawe by mekaar verbyvaar : heeltemal onbewus van wat in mekaar se leefwêreld aan die gang is. Almal van ons is vreemdelinge....totdat jy een van die persone op jou pad van nader leer ken. Skielik word daardie persoon deel van dit wat bekend is in jou leefwêreld. Mens ry elke dag byvoorbeeld saam met vreemdes op die bus en trein. Eendag egter vra iemand vir jou by die bus-stop wanneer die volgende bus opdaag. Jy antwoord vriendelik en begin sommer oor alledaagshede gesels. Jy vra waarheen hulle oppad is? Ja nee, daardie bus kom oor so 5 minute. "Ek ry ook met daardie bus."  Dan hoor jy hulle bly net hier af in die straat en is al 11 jaar hier in Sydney. Die volgende dag is daardie persoon skielik nie meer heeltemal vreemd nie, en groet ons mekaar. Kort voor lank word hulle deel van die mense waarmee mens kort geselsies aanknoop in jou reise tussen huis en werk en huis. Net so hoor mens byvoorbeeld dat die busbestuurder binne 'n paar jaar wil aftree. Hy wil graag vir hom 'n plekkie langs die Suidkus gaan koop, maar tot dan bestuur hy maar bus. So leer ken mens maar "jou naaste" oral waar jy kom. Dit begin stadig maar seker by jou insink dat die mense van jou vaderland jou tog eendag dalk gaan vergeet en dat die mense wat jy nou ontmoet die nuwe bekendes in jou lewe word. 

Nog 'n krapperige klitsgras in jou kous is die feit dat huise so duur is hier in Australië. Dis eintlik nie net 'n klitsgras nie....dis 'n bleddie groot klip on jou skoen. 

Julle kan dit maar weet - mens sukkel baie hier in Sydney om 'n huis te huur te kry. Ons 1 jaar huurkontrak waar ons gebly het het verstryk en ons het gehoor dat die eienaar van plan is om al die huise in die kompleks waar ons bly te verkoop. Daarom het ons seker al so 3 maande lank begin om vir 'n ander huis te soek. Dit het maar moeilik gegaan, want daar is baie groot aanvraag vir huur eiendom. Huispryse is deur die dak. Dit is nou wel bekend dat die gemiddelde huisprys van 'n huis in Sydney 6 keer die jaarlikse gemiddelde inkomste is, in vergelyking met 3 keer die jaarlikse inkomste in Amerika. Ons het ook al gehoor dat dit nou duurder is om in Sydney te bly as in New York. Die stygende rentekoerse maak dat baie mense hulle huise verloor en nou in huur akkommodasie moet intrek, baie beleggers is ook nou sku om huise te koop en uit te huur omdat die huur inkomste 3 keer kleiner is as die paaiement op die huis. Daar daag sommer 'n hele klomp voornemende huurders by 'n huis op wat in die huurmark is en dit is moeilik om 'n geskikte 2'e handse huis in die hande te kry wat jy teen 'n nie-belaglike prys te huur kan kry. Die slotsom: Daar is 'n moewiese huis tekort in Sydney : "The experts have been arguing for some time that Sydney has a housing shortage, exacerbated by high levels of immigration."

Volgens wat ek kon agter kom uit nuusberigte, die nuus op die TV en mense wat mens mee praat, word dit veroorsaak deur faktore soos die huidige wêreldwye kredietkrisis.  Banke is huiwerig om geld te leen vir mense om huise te kan koop en daarby moet mens 'n baie groot deposito bymekaar kan maak voor jy wel kan koop.  Die feit dat huispryse so hemelhoog is maak dat baie minder mense die huismark, selfs vir 'n belegging, en gevolglik is huureiendomme baie skaars.  As gevolg van die stygings in rentekoerse (wat hier is Australië histories baie laag was en dit moontlik gemaak het vir mense om baie meer te leen) het sommige huiseienaars hul huise verloor omdat hulle eenvoudig nie meer die verband-terugbetalings kon bybring nie en genoodsaak was om hul huise deur die bank te laat terugneem.  Die enigste opsie vir baie soos hulle was dus om in huur akkommodasie in te trek.  Daarby is die jaarlikse instroming van immigrante soos ons nou op die hoogste OOIT in die geskiedenis van Australië.  Bykans 350 000 mense kom jaarliks hiernatoe.  Sover ek verstaan word daar of nie genoeg grond beskikbaar gestel deur die regering nie, of daar vind nie genoeg nuwe ontwikkelings plaas as gevolg van toenemende grond en boukoste nie....wat ook al die rede vir die tekort aan huise, die situasie is dat daar nie genoeg huise is om te huur hier in Sydney nie.  'n Groot hoeveelheid mense ding mee om 'n klein klompie beskikbare huise.  Volgens 'n onrusbarende berig vandag in die koerant, is daar nog net 739 huise beskikbaar om te huur in die hele Sydney.

"Rental rage era as vacancies vanish"

Aan die laer koste huur huis omgewings, kom mens plekke teë wat nie altyd in 'n goeie toestand is nie, in die middel ding mens mee met BAIE ander voornemende huurders en aan die hoër koste omgewings moet mens jou dollars rek en 'n groot persentasie van jou inkomste afstaan aan behuising...

Dan ag ek myself gelukkig dat ons onsself nou vasgeteken het in 'n 3 jaar huurkontrak, maar ek dink steeds aan die woorde in Hebreërs 11 : 13:
In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.
Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle 'n vaderland soek.
En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.
Maar nou verlang hulle na 'n beter een, dit is 'n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei.

Wat is "vreemdelinge en bywoners" anders as "immigrante en huurders" in moderne taal?

Tuesday, September 23, 2008

Sokkiejol !

Goeiemore uit 'n reënerige, maar warm Sydney.  Net 'n kort inskrywing om almal wat nog nie daarvan gehoor het nie, in kennis te stel dat daar op 1 November 2008 vanaf 19h00 tot middernag 'n eg Suid Afrikaanse sokkiejol gaan plaasvind by die Ku-ring-gai Stadsaal ("Town Hall"), 1186 Pacific Highway in Pymble.  Dit is deur die NG Kerk in Sydney ("Christian Reformed Church Sydney") gereël.  Dit kos $15 per persoon, wat 'n boerewors rol insluit. Hier is 'n foto van die plek.



Bring die kinders saam, want hulle is ook welkom en dis gratis vir kinders onder 12.

Kaartjies kan by Theresa Grobler (0421 509 635 selfoon of 9144 3208) verkry word en kaartjieverkope sluit 30 Oktober....dus om teleurstelling te voorkom...skrik betyds wakker!

Ons en al ons vriende gaan ook daar wees. (Toemaar Stefan, een van die dae kan julle een hou in Perth!) Bring jul eie drinkgoed. BYO - maar onthou HIER is die verkeerskonstabels BAIE STRENG en jy kan jou kosbare 12 punte sommer maklik verloor - en dan moet vroulief jou oral rondry vir 'n hele 3 maande.

Dan, as 'n bonus, word daar op dieselfde dag 'n "South African Fun Day" gehou om 12h00 by Thornleigh West Public School. Dit word deur Speakersbank Australia aangebied as vondsinsameling.  Mens moet voor 20 Oktober bespreek en dit kos $45 per familie.  



Daar gaan 'n eg Suid Afrikaanse buffet wees, waar jy kan kies uit Bobotie, Boerewors rol, Kaapse Malay Hoender, Melktert, Kaapse Brandewynterte assok KOEKSUSTERS !!  As jy voor 1 Oktober bespreek kry jy 'n gratis glas wyn.

So, lyk my 1 November gaan 'n lekker feestelike dag wees.

Sunday, September 14, 2008

Sonneskyn

Een van die beste maniere om 'n nuwe land jou eie te maak is om dit met jou voete te doen. As 'n mens so langs die stille oseaan (letterlik die Still Oseaan - nie die Atlantiese of die Indiese een nie) in die veld loop, die vars seelug inasem en die soet geur van die lente in jou neus kry, dan besef jy weer wie jy is en waaroor die lewe gaan.

Een ding wat ek hierdie jaar meer wil waardeer, dan is dit die lente en die somer. Die koue het nou net lank genoeg aangehou en is besig om nou finaal voor die felle aanslag van die lente te swig... Die warm weer kruip nader en bring saam met dit lewenslus en 'n begeerte om die pad te vat en koers te kies na die naaste woud, voetslaanpad of "Creek". Net laas Vrydag nog het ek na werk Bunnings (hardeware winkel) toe gejaag om vuurmaakhout te koop om ons kaggel te stook teen die koue, en gisteraand het ons weet ons lugverkoeler aangesit in die huis net om af te koel. Die minimum en maksimum temperatuur was 22 en 25 grade. Baie lekker.

Net daarom besluit ek, so 'n mooi dag kan net nie gemors word nie - en toe kies ons koers na die Royal National Park suid van Cronulla en Botany Baai. Ons het die Grand Pacific Drive roete gevolg wat deur die Nasionale Park loop en langs die suidkus afbeweeg.. Dit is reeds in 1879 as 'n nasional park verklaar, wat dit die oudste nasionale park, naas Yellowstone in Amerika maak (Die Kruger Park in Suid Afrika is in 1903 gestig). Die park is oop vir die publiek en dit kos $11 per kar om daar in te kom. Daar is ook oornagplekke vir stappers in die park en die permitte kan daarvoor by die parkeraad verkry word. Ons het besluit om sommer 'n deel van die "Coast Track" te stap.

Hier is nou 'n voorstel vir 'n lekker opwindende naweek waarin julle ten volle kan ontlaai:
Neem die trein tot by Cronulla, vat dan die veerboot vanaf Cronulla tot by Bundeena en stap vanaf Bundeena die 26 km roete langs die kus oor 2 of meer dae tot by Otford, vanwaar mens weer die trein kan terugneem Sydney toe. Mens kan by Wattamolla of Era oornag.

Dis 'n pragtige roete en julle kan gerus na al my fotos gaan kyk wat ek die naweek daarvan geneem het.



Hier is 'n paar van die mooistes...



Langs die pad is die lekkerste watergat, amper soos die wat ons altyd in die Waterberge teegekom het - die water drup hoeka nogal so uit die rotse hier oral langs die voetpad.




Mens kom na 'n stap van so 4 km vanaf Wattamolla by ongerepte weggesteekte strande uit. Jy voel kompleet asof jy dit nuut ontdek het soos wat jy deur die heldergroen fynbos afdaal na die blou-blou water van die klein baai.





Langs die pad kom jy allerlei insekte teë...onder andere 'n kokkerot agtige insek wat 'n muis die skrik op die lyf sal jaag.



Die roete loop op plekke langs hoë kranse wat skerp afdaal na die blou branders doer onder. Die kinders geniet die avontuur - want dis nie eentonige paadjies nie, maar hulle kan klim en klouter - ons het 8.8 km afgelê - en toe ons terug was by die huis het hulle nogsteeds rondgehol.



Ons het die heerlikste weer gehad op Saterdag. Mens waardeer die son, want dit maak mens sommer lus vir die lewe en die natuur. Fynbos sien mens oral langs die pad, met die mooiste pers vygies.





Hierdie sonnige dag het my laat dink aan die' liedjie van een van my gunsteling sangeresse - Helene Bester.

Sonneskyn

Voel jy die son op die velde
Die lente is weer in my huis
En ek stap deur somerstrate
Ruik die vars van blommeplate
Jy is hier by my
Gelukkigheid

Sien jy die fynbos se glimlag?
Die groen van 'n blaar wat nie wag
Jy kyk weer in my oë
Alles voel weer soos vroeër
Jy is hier by my
Gelukkigheid

Refrein:
Ek nooi jou sonneskyn
Maak 'n draai
Kom woon in my
Ek nooi jou sonneskyn
Bly net hier,
moet nooit verdwyn
Ek nooi jou sonneskyn
Hou my vas, ja vou om my
O liewe sonneskyn
Die lewe is soos goeie wyn

Saam sal ons hande mekaar vat
So stap ons deur elke dag
En ek weet jy sal my mond soen
Op my voorkop en dit weer doen
Jy is hier by my
Gelukkigheid











Na die tyd het van die braafste kinders en een van die pa's (nie hierdie een nie!) in die ysige water van die watergat ingegaan-en-vinnig-weer-uitgegaan.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings