Monday, August 06, 2007

Wanneer drome binne jou bereik kom

Dit gaan goed met ons hier in Oos-straalië. Aan al ons familie en vriende wil ek net sê: Wens julle was hier!! Ons mis julle maar baie, maar hierdie is ons droom wat waar word, en ek is nie vir een oomblik spyt dat ons hier is nie. As ek terugdink hoe ek baie dae, nagte en maande die argumente teen en vir die besluit vir myself oor-en-oor terugespeel het in my kop - om uiteindelik maar net weer by dieselfde slotsom te kom:
ek moet gaan waar ek HOOP sien vir ons toekoms...

Vir my was die blote gedagte om die bekende plekke en mense, wat ek 34 jaar lank geken het, net so agter te laat en 11000 kilometer weg te gaan bly in 'n land wat ek van kleins af net met "Waltzing Matilda" geassosieer het - net so vêr as om die Maan in die naghemel te aanskou - 'n ondenkbare droom.

Soos wat die tye verander het in Suid Afrika kan ek eerlikwaar en met volle oortuiging sê dat ek reeds van lankal af soos 'n buitestaander en emigrant in my eie land begin voel het. Ek het nooit gevoel dat ek regtig deel van die ou-Suid-Afrika was nie. Oor meeste van die konsepte soos "Apartheid" het ek maar op die TV, radio en koerante geleer en soos baie mense van my ouderdom het ek nasionale diensplig net-net gemis. As kind het jy op skool geleer om "Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra, ons sal lewe ons sal sterwe, ons vir Jou Suid Afrika" in die oggende met vlaghuising op te sê. Jy het geleer dat swartmense "some-how" nie uit dieselfde koppies en borde as jy kan eet nie en dat wit kinders en swart kinders op verskillende busse en na verskillende skole toe moet gaan...dit het my eintlik min getraak...want ek was nog 'n kind. Op skool was al waarvoor ek gemik het om 'n goeie beurs te kry sodat ek kon gaan "swot". Ek het van kleins af groot drome gehad...net "somehow" gevoel dat as ek baie hard leer en baie hard "swot", ek my drome sal kan bereik - alhoewel ek nie juis regtig geweet het wat dit is nie (weet mens ooit?). Maar ek het wel geweet dat ek dinge wil doen waarvan ek hou, in belang stel en dat ek "sal doodgaan" as ek eendag 'n werk moes doen wat ek nie in belang stel nie, net om te kan sê dat ek 'n werk het of om kop bo water te kan hou. Interessant hoe die tyd 'n mens leer...

Van al die mense wat saam met my matriek geskryf het weet ek nou maar min. Ek weet ons het almal groot drome gehad vir die toekoms...baie opgewonde oor wat vir ons sou wag oor die volgende built, al het ons nie 'n "clue" gehad wat dit sou wees nie. So slaan ek toe mos met my punte 'n lekker groot beurs los by 'n baie bekende regeringsinstansie (wat nou geprivatiseer is) en (so hoor ek) ook nou lekker in die skuld is... Nou sal hulle dit as "Wit" bevoorregting beskou, maar laat ek jou iets vertel...mens moes vrek hard daarvoor werk op skool...ek het dit verseker nie gekry omdat my vel wit was nie...dit het ure en ure se harde "swot" en pligsgetroue werk gekos. As ander naweke lekker gekattemaai het, moes ek leer. So het mens geleer dat alles nie sommer IN JOU SKOOT VAL NIE!!! (of uit die lug val, "for that matter"). Vol "drome gepak vir die reis"...is ek toe mos Tukkies toe. Is volgens beursvoorwaardes ingeskryf as 'n Elektroniese Ingenieurs student. Ek moes halfjaarliks terugrapporteer oor my vordering en binne 5 jaar my graad voltooi - dit was die voorwaardes wat ek aan moes voldoen - anders moes ek DIE HELE SPUL GELD TERUGBETAAL. En glo my, dit was vrek baie. Daar was net GEEN MANIER wat ek die kans sou waag om nie te slaag nie. Met harde sweet het ons klomp aspirant ingenieurs van 7h30 tot 17h30 (elke dag) klasgedraf. Dan weer tot laat in die aand gewerk aan take en natuurlik ook so tussendeur ge-"swot". Ons was daardie "wit outjies" op die kampus wat op die gras gesit en gesels het oor integrale en differensiale, oor hoe Prof. Strauss daardie oggend weer iemand met fiets en al die deur gewys het en hoe die Seine prof nou weer die handboek op die bord oorgeskryf het. Ek was (genadiglik) 'n "daily". Dus moes ek self my 1979 golf (wat ek 2e,3e of selfs 4e hands vir spotgoedkoop in die hande gekry het) padwaardig probeer hou uit my beursgeld. En glo my, dit was geen klein prestasie om elke dag net die Universiteit te haal nie!! Seker so 7 "clutch kabels", 3 petrolkabels, 2 keer se ratkas uitmekaarhaal, vergasser vervangings, etlike remskoene, petrolpompe wat oppad na Elektromagnetisme eksamens die gees gee, ringe wat gaan sodat die karre agter jou in die rook verdwyn, driveshafts, elektriese kortsluitings en talryke kere sonder petrol - verder, het ek toe uiteindelik graad gevang....

En toe kom en vertel hulle vir my: Ek was "previously advantaged" en deel van die ou-Suid Afrika. Sonder harde werk (of 'n slim idee) kom niks in die lewe vanself nie. Dit is ook iets wat ek nou my eie kinders sal wil leer. Om vir hulle die kanse te gee sodat hulle ook hul drome kan najaag...al is dit net om te voel hoe dit voel om iets te bereik nadat jy hard daarvoor gewerk het - en nie omdat jy "previously disadvantaged" is nie! Ek wil graag hê hulle moet ook trots kan voel op hulself as hulle self iets bereik het - en nie die Afrika houding aanneem van : "Die wêreld skuld ons iets, en tot hul eendag daadgaan die "bedelaars mentaliteit" en "kry ons jammer" en "dit kom ons toe, want..." houding gebruik om visse van die wêreld te bedel nie... Ek wil hê hulle moet self visse kan vang! (julle ken mos die gesegde)

So, in plaas daarvan om in diepe depressie te verval oor die "donker afrika" wat besig is om op ons toe te sak, het ek besluit om my energie eerder daarop toe te spits om iets aan die saak te probeer doen...om na 'n fraksie hoop van 'n beter toekoms uit te ryk. Vir my was so 'n droom amper net so vêr soos die maan. Geklassifiseer as deel van die "historically priviledged" deel van die bevolking, het ek gewonder hoe my seun ooit 'n gelyke kans in die lewe gaan kry in die nuwe Suid Afrika. Ek kon net nie die kans vat dat hy ook (dalk na herhaalde onsuksesvolle probeerslae) dalk eendag langs die straat moet staan en bedel omdat hy moet boet vir iets waarvan hy niks geweet het nie. Ek kon myself ook nie indink hoe ek eendag my dogter alleen sal kan Universiteit toe laat ry in strate waar ek "lank na middernag" "straat op en af geslenter het" sonder om bang te wees nie. Suid Afrika het 'n baie vreemde plek geword... Bitter bitter binnekort gaan ons bitter bitter min van die plekname wat deel van ons was op die Mzanzi Afrika kaart herken. Emigrasie is maklik as jou land reeds soos 'n mat van onder jou uitgeruk is... As daar niks meer bekends oorbly van die "Land aan suiderkant" wat jy as kind onthou nie... As jy soos 'n verstoteling vir jou politieke oorlewing moet soebat... As jy bakhand moet staan om jou taal Afrikaans tog net in jou skool te kan leer... As jy "jouself gelukkig ag" as jy en jou familie nog leef terwyl baie rondom jou selektief soos in "Schindler's list" uitgeroei word sonder dat jy mag kla oor die ONNATUURLIKE manier van lewe waarin jy jouself bevind...

Hier in Aussie land is daardie drome binne my kinders se bereik...

Carike Keuzenkamp - Dis 'n Land

Daar's 'n land aan suiderkant
Kom deel in sy verhale
Uit die ooste, weste, noorde
Suide toegebring
Dis 'n land met wilde hand
Wat uitreik telkemale
Om die hoop van môre te besing


REFREIN:

Dis 'n land van kleure en klank
Dis 'n land van oorvloed en dank
Dis 'n land waar almal na strewe
Dis 'n land sonder horison en
Dis 'n land wat weet hy kan
Ook 'n blyplek neerlê vir my

Watter man wat sy kind verstaan
Sal hom verlaat om alleen op sy weg te gaan
Hierdie land bied almal 'n lewe
Watter vrou sal haar kind vermaan
As daar vir hom ook 'n plek in die son bestaan


2de Vers:

Daar's 'n land wat nooit verpand
Sy kosbaarste besitting
Vele mense, volke
Wat sy lewensdraad sal bly

Dis 'n land wat koers kan hou,
Gee jy maar net die rigting
Van die môre ook vir jou en my

REFREIN + herhaal "hierdie land bied almal sy deel"

Gaan lees bietjie hierdie artikel oor die Drome van 'n ander land wat deure vir jou drome oopmaak...

1 comment:

  1. Julle het die regte besluit geneem! Ek kan baie met jou gevoelens identifiseer.

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings