Wanneer mens partymaal gaan stilstaan en baie mooi van naderby kyk, sien jy die natuur weer uit 'n nuwe oogpunt. Soms gaan die fynste detail van die lewe ons verby omdat ons eenvoudig te haastig is. Ons lewe is maar 'n spikkeltjie in tyd in vergelyking met die onmeetlikheid van die aarde se bestaan. Sien ons ooit die detail van die spiraal-patrone op die kleinste skulpe raak? Soms moet mens dit bietjie doen. Elkeen van hierdie skulpe was eens op 'n tyd 'n slakkie of seediertjie se huis.
En hoe fyner mens kyk, en hoe groter die sandkorreltjies word, hoe meer sien jy dat die sandkorretjies nie net maar klein klippies is nie, maar oorblyfself van derduisende jare se gemaal deur die see.
Ek kan 'n mooi blom net nie verbystap sonder om 'n foto te neem nie. Wanneer ons op 'n staptog is by een van die magdom roetes hier rondom Sydney, is ek altyd die agter-os wat vashaak langs die pad om van naderby fotos te neem van blomme of insekte.
Die volgende klompie fotos het ek by Tea Gardens strand in NSW geneem. Sommige van die blommetjies (soos in die volgende foto) is letterlik 1 cm in grootte.
Toe ons by Tea Gardens naby Hawks Nest was het ek so 'n paar fotos geneem van insekte. Nou nie juis fotos van hoogere wetenskaplike waarde nie, maar tog vir my mooi.
Ek het die volgende twee Ladybirds afgeneem terwyl hulle baie besig was om klein ladybirds te maak.
In die volgende fotos kan julle onder andere die algemene Australiese Golden Orb Silkweaver (Nephila macalata) Spinnekop sien. Hulle is baie volop en spin indrukwekkende webbe sommer oornag. Hulle word nogal redelik groot en daar is gevalle waar hulle selfs al 'n slang verorber het. Hul gif is ook 'n senuwee-gif soos die van die knopiespinnekop, maar nie so kragtig nie.
(Skakel na hierdie inskrying) As die son vroegoggend sy groue strale so sleep-sleep oor die sand tot teen die duine laat vaar, dan weet ek hulle was reg toe hulle gesê het: die môrestond het goud in die mond. Dit verf vroegoggend die natuur met 'n warm geel skakering van skoonheid. Die nuwe dag vee vir mens 'n skoon slyt waarop jy daardie dag weer kan lewe. Mens kan die lewe sommer net makliker in die oë kyk as jy eers 'n lekker nagrus agter jou het. Want wie weet wat vandag vir jou inhou. Ons was so 'n rukkie gelede by die NSW noordkus dorpie: Tea Gardens, waar ek heelwat mooi fotos geneem het wat ek die volgende paar inskrywings met julle gaan deel. Soms, as mens regtig naby aan die grond kan kom met jou kamera, verkry jy 'n ongewone oogpunt wat vir mens indrukwekkende fotos kan oplewer. Neem nou maar die volgende paar fotos wat ek met sons-opkoms en geneem het op Jimmys beach.
Net so het 'n sonsondergang 'n enerse bekoring. Daar is 'n gesegde: die son trek al water. Wel, as 'n mens die son so by die see sien sak oor die water, dan lyk dit soms kompleet asof die son na sy rusplek onder die water terugkeer. Die dag se moeite is verby en more is nog 'n dag. Ek het seker al letterlik honderde kere sonsondergange afgeneem - en steeds bly dit 'n vredevolle ervaring.
(Skakel na hierdie inskrywing) Jy kan dit skaars glo, maar meeste Saterdae wanneer 'n mens so voor half-nege (of self nege uur) die oggend op 'n Saterdag by die Kasteeltorings Winkelsentrum hier in Castle Hill aankom is daar nog bykans geen motors in die parkeerterrein nie. Maar, langsamerhand, kom die winkelassistente en handelaars en sluit een vir een die winkeldeure oop. Mense begin dan van oraloor die winkel binnestroom en voor jy jou kan kry is die plek vol van 'n geroesemoes van aktiwiteit. Wat vir my veral lekker is, is om 'n ou koffietjie by een van die baie koffie kafees en winkeltjies te kry. Meestal vermy ons maar die groot winkels, maar soms as ek my hare by Eric's gaan sny, dan maak ek vroegdag al 'n afspraak. Dit kos so $29 vir 'n haarsny. Maar as ek so luister wat die vrouens vir hulle hare betaal, dan is dit 'n aansienlike winskopie. Ek ken vir Lee Anne al baie goed, en sy sny al vir meer as 5 jaar my hare. Ons gesels oor alles en nog wat, want jy weet : haarkappers gesels lekker. Ek hou veral daarvan om in die boekwinkels 'n draai te maak asook die "Newsagency". Dit is mos nou wat ons winkels soos CNA hier noem. Mens kan alles van treinkaartjies tot tydskrifte daar koop.
Teen ententyd drom mense saam in die "Food Courts". Dit is is nou nie geregshowe waar mense stry oor wie se kos dit is nie, nee, dit is eerder soos 'n nuwerwetse kos lapa of gesamentlike eetsaal. Dit was nou iets wat vir my nogal opvallend verskillend was van hoe ek gewoond was dinge in Suid Afrika gewerk het. Waar elke restaurant of wegneemete winkel daar so half en half sy eie "grondgebied" met 'n passie beskerm, is die gesamentlike eetsaal hier die in-ding. Wanneer die familie hier kos bestel, dan kan die Pa, Ma en elkeen van die kinders letterlik elkeen kos gaan bestel by verskillende eetplekke en dan sit almal saam en eet en kuier in die middel by tafels en stoele wat nie die uitsluitlike eiendom van enige spesifieke eetplek is nie. Dit is bykans altyd 'n raserige affêre soos julle sal sien in die een video wat ek vir julle opgelaai het. Veral in 'n stad soos Sydney met meer as 200 verskillende nasionaliteite wat hierdie stad hul woning gemaak het, sal jy kossoorte van baie lande kry. Ek wys hier vir julle twee videos. In die eerste video sal julle begin sien hoe lyk 'n groot "mall" in hierdie geweste. Ek gaan maak 'n draai by 'n rekenaarwinkel, drie klerewinkels en loop verby die magdom tydelike verkoopspunte wat hierdie tyd van die jaar begin opskiet. Ek maak ook 'n draai by die oop groete en vrugte mark op die onderste vloer. Verder gaan ek op en af met roltrappe en probeer vir julle 'n goeie isee gee van hoe die plek hier daarna uitsien.
In die volgende video maak ek verder 'n draai deur die "Food Court" met sy baie wegneem ete plekke. Julle sal sien hoe die mense vergader tydens etenstye (en daarbuite). Ek besoek 'n CD Musiekwinkel en op 'n stadium loop ek verby Eric se haarsalon waar ek my hare sny. Daarna gaan bring ek 'n kort besoek aan die Appel rekenaar winkel.
Die eerste ruk wat ek hier aangekom het, het ek bykans heeltyd verdwaal in hierdie winkelsentrum, maar nou ken mens die plek al so goed jy kan dit amper toe oë verken. Hoop hierdie videos gee vir julle so 'n kykie in ons wêreld. Groete
Ek weet, ek weet, hierdie inskrywing is seker heel agter die tyd, maar ek het tot op hede nog nie die fotos op my blog gesit van toe ons hierdie jaar in Augustus die 2012 City To Surf stap vir liefdadigheid meegemaak het nie. Ek was daarna te besig om voor te berei vir die besoek aan Suid Afrika. Maar eerder laat as nooit. Elke jaar so om en by 12 Augustus (of in daardie omgewing) is daar 'n stap/draf in die stad wat deur derduisende mense meegemaak word. Dit is die jaarlikse City to Surf wat vanaf Queens Park in die stad tot by Bondi Beach. Julle kan die roete wat gevolg is hier en ook hier kry. Ons het vir Compassion Australia gestap. Hier is die fotos op Google Plus.
Julle kan die album hier op Picasa gaan bekyk. En die volgrootte slideshow hier. Hierdie jaar was daar meer as 85000 inskrywings. Die toe die dag aanbreek was dit so effens reënerig, maar ondanks daarvan get 68127 mense die roete volttoi tot by Bondi strand.
Hier volg 'n paar videos wat ek langs die pad geneem het:
Met sommige paaie vanaf die middestad tot by Bondi vroeg reeds gesluit vir die resies, is daar sommige mense wat van hierdie gulde geleentheid gebruik maak om te Rollerblade op rol-lem-skaatse. Die volgende videos is NIE deur my geneem nie... Hier is een ou (Lew Keilar) se video voor hierdie jaar se City To Surf
Wat doen 'n mens as jy vir so 'n uur of wat op 'n Sondag iets aktiefs wil gaan doen in Castle Hill? Wel, een opsie is om te gaan fietsry. Hier in die "Hills" gaan jy heelwat oefening kan kry. Jy kan natuurlik die publieke paaie aandurf, 'of jy kan in een van die baie parke gaan ry. Sondagmiddag soek ek toe op Google vir 'n fietsroete hier in ons omgewing. Ons gaan ry mos soms fiets by Parramatta Park, Centennial Park of Sydney Olympic Park, maar dit is heelwat uit ons pad uit. Ek dink toe daar moet 'n lekker fietsroete hier in ons omgewing wees. Dis mos waar Google Earth handig te pas kom. Spoedig sien ek toe daar is fietspaaie in die Fred Caterson Reservaat in Castle Hill hier naby ons en dit is net so 9 minute se ry (5.6 km) van ons af in Dural.
Hier is die kaart van die Reservaat. Julle kan ook die fietsryroetes vanaf die Satellietfotos eien.
Ek het die roetepunte met 'n Garmin ForeTrex 101 opgeneem wat ek al van toentertyd af in die Drakensberge gebruik het om my pad te vind. Dit kan tot 10000 punte stoor asook 500 "waypoints".
Ons het sommer die roetes gaan verken en ek het die hele verkenningstog van so 8.3 kilometer vir julle op die kaart geplot. Vandat ons begin het totdat ons weer terug was by die kar het ons 'n uur geneem.
Kyk, ek is mos nie wêreld se fiksste ou nie, maar wie gee om, mens doen dit mos vir die plesier daarvan. As mens dit elke keer 'n oefensessie maak sien jy later net op daarteen. Derhalwe vat ons dit toe redelik rustig.
Ek het vir julle 'n video animasie gemaak van ons roete op die fietse. Ek het die kaart se orientasie so bietjie gewysig met Gilbert Road aan die bokant sodat die hele roete beter inpas. (Noord is dus nie bo nie, maar die bokant is die Suid-Ooste). Gilbert Rd sluit later by Showground Road in Castle Hill aan.
Hier is 'n foto van die hoogte profiel van die roete soos uitgebeeld in die vorige Google Earth Animasie:
Wanneer mens so op 'n fiets ry, is dit nogal moeilik om heeltyd 'n kamera vas te hou, want jykan jou nogal self te pletter val as jy die kamera in een hand probeer vashou en met die ander hand probeer bestuur. Maar, gelukkig het ek onlangs so 'n vernuftige Sonbril HD videokamera gekry. Dit kan tot 3 ure se 25 raampies per sekonde Hoë Definisie Video neem en dit lyk opsluit nes 'n gewone sonbril. Daar is net een probleem...'n mens se kop is nou nie juis die ideale driepoot nie, en 'n mens draai ook nie jou kop so egalig in die rondte soos RoboCop nie, daarom kan die videos die gehoor partymaal so 'n bietjie "Rollercoaster" laat ry. Julle kan die volume maar so bietjie afdraai, veral waar die wind so raas op die mikrofoon van die kamera wanneer mens vinnig ry.
Ek gee julle hiermee so 'n bietjie van 'n kykie hoe die wêreld vanuit my oë lyk - so asof julle in my KOP is....die spesiale harde asemhaling wat julle hoor terwyl ek uitasem raak op my fiets is vir spesiale effekte.
Ek het nogtans besluit om 'n paar videos van die roete te maak en dit vir julle op te laai om julle sodoende so 'n bietjie van 'n idee te gee hoe dit langs die roete lyk.
'n Mens kan op 'n paar plekke in die Fred Caterson Reserve parkeer. Ons het besluit om naby die BMX bane in die middel van die Reservaat te gaan stop en dan die paadjies daarvandaan te gaan verken.
Ons het die fietsry roete afgeskop in die sentrale parkeerterrein naby die BMX baan. Die roete gaan dan om die sokkerbane, verby die bofbalbaan en dan deur die bome tot waar dit uiteindelik by die groter paadjie aansluit. Hier en daar moet mens jou fiets so bietjie oor die rotse help, maar meeste van die pad kan mens gemaklik op jou fiets aanhou ry tussen die bome deur. Indien jy nie wil boendoe bashing doen nie, kan jy eerder agter die BMX baan by die breër paadjie aansluit en dit dan na regs volg tot waar dit Gilbert Road kruis.
Nadat ons met die rowwe deel klaar was, was daar 'n lekker breë fietspaadjie met op plekke sementpad was. As jy met die paadjie aanhou kruis dit later Gilbert Road. Daar is 'n tonnel onder die pad deur en mens kan die paadjie verder volg totdat dit by Tuckwell Rd uitkom - dit is die pad wat by Castle Towers winkelsentrum uitkom (en daar is sulke rooi strepe op die pad). Ons het tot daar gery en toe weer die paadjie terug geneem tot naby die BMX baan.
Ons het so 'n effense ruskansie gevat om water te drink en toe het ons die suidelike paadjie geneem vanaf die BMX baan, deur die bome verby sportvelde to by die Basketbal stadium. Hier en daar kan 'n mens oor 'n bruggie ry om by die omliggende woongebied uit te kom. Mens kan ook aan die suid westelike kant by Cedar Grove en Brooke avenue aansluit. Hier is ook 'n plek waar jy jou kar sou kon parkeer om met die fietse te ry. Ons het verder verby die Hills Basketbal stadium gery en so 'n effense draai verby die tennisbane gemaak waarna ons terug is tot waar ek die kar geparkeer het.
Op 15 September was ons een dag by die Mount Tomah botaniese tuin waaroor ek al voorheen ge-blog het. Ek neem altyd die pragtigste blommefotos daar. Dit staan as die winter plante vleuel bekend van die Royal Botaniese Tuine wat in Sydney stad is. Julle sal heelwat plante vanuit Suid Afrika ook hier herken.
Mount Tomah vind jy as jy die Kurrajong pad neem na Richmond in 'n Noord Westelike rigting deur die appelboorde op die "Bells Line of Road" (...ek weet, dis 'n eienaardige naam vir 'n pad) in die rigting van Bilpin.
Elke werksdag hier in Sydney neem ek twee treine werk toe en terug. Dit is 'n daaglikse roetine.
Hier is 'n video van vanoggend se treinrit. Die eerste trein stop by 2 stasies voordat ek diep ondergronds afklim en dan seker so 7 verdiepings of meer met die roltrappe moet op en af ry.
Dit neem my so om en by 21 minute se treinrit vanaf my werk tot by die stasie waar ek afklim.
Sommige treine is minder luuks as ander. Die nuutste Waratah treine het so 'n rooi Waratah blom op die buitekant omdat die Waratah New South Wales se embleem is.
Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.