Wednesday, April 18, 2007

Hoekom herhaal die geskiedenis homself ?

Die Groot Trek is besig om in ons geskiedenis te herhaal....en dit is hierdie keer groter en meer verreikend.

Kyk, ek is nie 'n persoon wat besonder baie in politiek belangstel nie, maar as iemand vir my donkiedrolle aanbied asof dit sjokolade is, dan is ek nogal geneig om die SNUF in die neus te kry as jy weet wat ek bedoel.

In die grondwet van Suid Afrika se handves van menseregte (Hoofstuk 2) kry mens die volgende waarborge:
"Die Staat moet die regte in die Handves van Regte eerbiedig, beskerm, bevorder en
verwesenlik."
"Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of
meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese
of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens,
gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte."
"Nasionale wetgewing moet verorden word om onbillike
diskriminasie te voorkom of te belet."
"Elkeen het die reg op lewe.
Vryheid en sekerheid van die persoon"
"vry te wees van alle vorme van geweld van hetsy openbare hetsy private oorsprong"

Ek het reeds elders op die Internet hieroor geskryf, maar wil dit graag hier op my blog ook plaas.
Ons gevoelens wissel van woede tot wanhoop omdat ons op so 'n manier gemarginaliseer en verstoot word
(deur 'n terugkry mentaliteit om ons te straf vir "Apartheid" wat ons eers regtig verstaan het toe ons omtrent uit die skool gematrikuleer het)
uit die land wat ons op 'n stadium regtig sou wou voor "lewe en sterwe".

Ek self het my nog nooit juis met politieke dinge besig gehou nie...my doel was nog altyd om sover as wat dit van my afhang in vrede met ander te leef en hulle te behandel soos wat ek graag behandel wou word.

Soos baie ander is ek besig om die los drade van my lewe in Suid Afrika stuk-stuk bymekaar te maak....dit sluit die volgende in:
- Om my sielkindig los te maak van die land wat ek nou al vir 34 jaar lank so lief gehad het.
- Om alle fotos van my en my familie wat ek oor die jare in ons mooi land geneem het en alle fotos van my ouers en ons kinderjare bymekaar te maak (sowel as al ons ou familie videos)...al 27000 fotos in totaal.
- Om my Pa uit te vra oor my voorgeslagte en ons geskiedenis sodat ek weet wat om eendag vir my 2 kinders te vertel van hulle afkoms.
- Om al die bekende plekke vir oulaas te gaan totsiens sê.

In hierdie proses kom ek toe mos nou die dag af op 'n stel van 8 langspeelplate "Ons lewende geskiedenis" wat in die tagtigerjare gedramatiseer is deur baie bekende Afrikaanse akteurs. Ons het nog die viniel plate saam met die Afrikana Ensiklopedie gekry. Ek het dit vir my toe sommer op MP3's gesit.

Op Plaat 3 (kant 2) en Plaat 4 (Kant 1) luister ek toe na die redes vir die Groot Trek wat deur die grensboere aan die Kaapkolonie in 1833 in Suid Afrika begin is en ek was verstom oor die ooreenkomste met ons situasie vandag maar slegs 173 jaar later.... (hulle voorbereidings vir die Trek vanuit die Kaapkolonie was daardie tyd owat 4 jaar omdat hulle self die ossewaens moes bou)

Ons en ons voorsate was lykmy maar nog altyd geneig om te trek...of dit nou dwarstrek, wegtrek, of selfs karavaan trek betref...trek gaan ons trek. Baie van ons voorsate het juis Suid Afrika toe getrek van oorsee af vir baie geldige redes...My Ma se familie (van die Britse settelaars se afkoms) asook my Pa se familie (vanaf Portugal) het na SA toe getrek vir beter geleenthede. Daar is daardie tyd deur die Britse regering gratis grond en plase belowe wat hulle moes bewerk en dan kon hulle hul oeste aan die regering verkoop. Baie van hulle het ook sendelinge ingesluit soos Ds. Andrew Murray. Baie Franse het na Suid Afrika gekom toe hulle gevlug het vir hulle protestantse geloof (toe die Edik van Nantes teruggetrek is en hulle effektief moes vlug vir hulle lewens). Dit was 'n moeilike lewe om "bosveld" in landbougrond te omskep en daarby is hulle OOK gedurig geplunder, hulle vee gesteel en hulle families vermoor deur die Xhosas op die grense van die Oos en Wes Kaap tydens 6 grensstrooptogte.
Die oosgrensdistrikte was die distrikte van Graaff-Reinet, Uitenhage, Somerset-Oos, Tarka, Grahamstad, Cradock en Colesberg. Volgens die geskiedenis het 15000 Xhosas in Desember 1834 die grens die Kaapkolonie binnegeval. Die hele kolonie tot by Uitenhage en Somerset Oos is bykans verwoes. Honderde mense se huise is afgebrand, meer as 5700 perde, 115000 beeste en 162000 skape en bokke is gesteel in daardie een plundering. Onthou...perde was maar daardie tyd ekwivalent aan vandag se motors omdat dit hulle vervoermiddel was. Vandag WEER word die "perde" gesteel.

Dit klink vir my so bekend, want die Britse regering het daardie tyd ook weinig aan die strooptogte, plaasmoorde en diefstalle gedoen en basies vir die boere 'n koue skouer gegee. En vandag....wat het die minister van Veiligheid en sekuriteit vir ons te sê:"as ons dit nie pas nie...kan ons maar emigreer".

Ek het sommer bietjie gaan soek toe kom ek af op die geskiedenis van die Groot Trek op die Web:
http://mysite.mweb.co.za/residents/dugeot/groottrek.html
ek sien daar is ook 'n inskrywing oor jou familie Piet Uys (maar hy is nie saam met Piet Retief vermoor soos jy sê nie maar apart by die Bloukrans- en Boesmansrivier deur Zoeloe impi's vermoor).

Nadat die boere aan die Kaap GEEN ANDER UITWEG kon sien nie het hulle besluit om te trek...terloops, hulle is ook daardie tyd "EMMIGRANTE" genoem. Piet Retief is gekies as die emmigrante se leier en op
2 Februarie 1837 laat publiseer hy die redes waarom hulle "emigreer" in die "The Graham's Town Journal" om aan die Britse regering van daardie tyd te verduidelik hoekom hulle wil trek:
http://www.groottrek.za.cx/manifes_01.htm

Terloops, ek weet nie hoekom hulle dit daardie tyd die "GROOT TREK" genoem het nie, omdat daar maar tussen 10000 en 12000 mense was wat getrek het....vergelyk dit met die grootskaalse emmigrasie van amper 1 miljoen wit Suid Afrikaners die afgelope 10 jaar:
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/...27/jan2okt.html

Ek haal aan: "Die Groot Trek word saaklik beskryf as die georganiseerde verhuising van tussen tien- en twaalfduisend Afrikaners in die jare dertig van die 1800’s uit die oosgrensdistrikte van die destydse Kaapkolonie na die binneland. Hulle sou later die Voortrekkers genoem word."

Wat is dan werklik die Groot Trek???

Lees oor Piet Retief hier.
Piet Retief, wat eers 'n veeboer was, het die volgende redes aangevoer vir die Trek:
22 Januarie 1837
Woordelikse aanhaling:
"1. Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlikie gedrag van vaebonde, wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in 'n land wat op dié manier gekwel word deur inwendige beroeringe nie.
3.Ons kla oor die aanhoudende plundering wat ons hier moet verduur van "swartes" en ander kleurlinge, en veral deur die laaste inval in die Kolonie, wat die grensdistrikte verwoes en die meeste inwoners geruïneer het.
6.Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om 'n rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gedoen het. Ons sal geen volk molesteer nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval word, sal ons ons ten volle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom tot die uiterste te verdedig teen enige vyand.
8.Ons stel ons voor om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings en ons begeerte bekend te maak aan die inboorlingstamme, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.
10. Ons vertrek nou uit ons vrugbare geboorteland, waar ons enorme skade gely het en voortdurend blootgestaan het aan ergernis, om ons te gaan vestig in 'n woeste en gevaarlike gebied; maar ons gaan met 'n vaste vertroue op 'n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.
P. RETIEF."

In Engels:
"We despair of saving the colony from those evils which threaten it by the turbulent and dishonest conduct of vagrants, who are allowed to infest the country in every part; nor do we see any prospect of peace or happiness for our children in a country thus distracted by internal commotions.
We complain of the continual system of plunder which we have ever endured from the ...... and other colored classes, and particularly by the last invasion of the colony, which has desolated the frontier districts, and ruined most of the inhabitants.
We solemnly declare that we quit this colony with a desire to lead a more quiet life than we have heretofore done."


Dit was 169 jaar gelede...

Klink dit nie SOOOOOO bekend nie!!

Vandag wil ons tog steeds die volgende hê:
1. Ontslae wees van die misdaad, moord en diefstal.
2. In vrede kan leef met die nasie waarheen ons emmigreer
3. Om 'n rustiger lewe te kan lei en sonder vrees vir ons of ons kinders se lewens kan rondbeweeg
4. Om regverdige geleenthede vir ons en ons kinders te hê
(ONS WIL NIE BILLIK OF ONBILLIK TEEN GEDISKRIMINEER WORD NIE!!!!)
5. Om nie miljoene rande se blasting te betaal vir dienste wat ons nooit sal sien nie
6. Nie vir die res van ons lewens moet boet vir iets wat ons self nie gedoen het nie.
6. Om nie ryk regeringsamptenare (soos Dingaan van ouds) vet en ryk te maak nie.

Moet nou net nie dink ek is verbitterd oor my land nie, net teleurgesteld....
Maar ek weet daar wag 'n spliternuwe toekoms vir ons, een wat ons self help skep en wat ons self gekies het...

Die geskiedenis herhaal homself as mens die geskiedenis ignoreer, dit probeer wegwens, dit herskryf of dit ontneem van ander deur al die bakens wat mens daaraan herinner herdoop totdat niemand meer weet watse plek jy nou meer van praat nie.....

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings