Saturday, February 03, 2007

Hoe ek op die oomblik voel...

As ek moet beskryf hoe ek op die oomblik voel oor my lewe, kan ek dit definitief nie in een woord opsom nie, want mens voel letterlik soos 'n verkleurmannetjie op 'n Smartie boks. Dit is nou al ses maande sedert ons ook die besluit geneem het om soos Ferreira ons goed te vat en te trek. Mens sukkel om vir iemand te verduidelik waardeur mens gaan as jy besef daar kom 'n dag wanneer ons onsself letterlik gaan ontwortel en soos plante oorgeplant gaan word in 'n ander tuin omdat die tuin waar ons huidiglik groei besig is om deur slakke en ruspes opgevreet te word.

Hulle sê 'n boom gooi sy blare af as dit oorgeplant word op 'n ander plek....en dit het ek ook al self gesien. Daar was 'n Witstinkhout boom wat skielik in ons tuin opgeskiet het, en toe ek eendag besluit om dit met so bietjie grond om die wortels oor te plant op 'n ander plek, het die boom homself vir my gewip en al sy blare afgegooi. Eers die volgende seisoen het dit weer mooi groen blare gedra. 'n Boom pas hom aan by sy omgewing deur net die regte diepte wortel te skiet om die nodige water uit die grond uit te kan haal sowel as om sy blare sodanig te draai dat dit die regte hoeveelheid broodnodige sonlig kan absorbeer. Wanneer dit egter oorgeplant word, kan die haarwortels nie die nodige hoeveelheid water absorbeer nie en moet die blare waai totdat dit weer 'n gevestigde vloei van water na al die takke en vertakkings van die boom kan verseker.

Ek dink ons mense is ook so. Vir 'n baie lang tyd het ek gehoop, gebid en gewens dat dinge in ons land gaan verbeter. Uiteindelik kon ek net geen hoop meer vir my kinders in hierdie land sien nie...dis toe dat ons besluit om te trek... Ek gaan nou nie in diepte ingaan in die redes waarom ons Australië gekies het nie, maar dit is waarheen ons op pad is. Wat ek wel wil beskryf is die emosies waardeur mens gaan nadat jy die besluit geneem het. Ek dink nie een van ons kan regtig voor die tyd weet wat regtig vir ons voorlê nie, maar na deeglike navorsing vat dit nie 'n "Rocket Scientist" om te besef dat die kans goed is dat dit met ons baie beter gaan gaan daar nie. Ons praat nou van 'n plek waar daar werklikwaar vooruitgang is en nie agteruitgang nie.

Die misdaadsituasie in Suid Afrika het nou al sodanig versleg dat meeste mense (na my mening) die werklike gevaar aan hulle lyf begin voel. Ek lê BAIE aande en bekommer my oor die veiligheid van my liefling vrou en twee kinders. Dit is vir my baie erg om te besef dat hulle elke dag blootgestel is aan misdadigers in wie se oë 'n mens se lewe NIKS werd is nie. Ons leef soos skape in die kamp wat vol is met moorddadige, gierige, vrot-slegte DIERE wat die gereg nie vrees nie en doen net wat hulle wil. Ek bid net dat ons die dag sal haal wat ons op arensvlerke uit hierdie land kan vlieg. Na my mening ly die meeste wetsgehoorsame mense hier deesdae aan (post/pre) traumatiese stres vir jou lewe. Op 'n stadium het mens langtermyn drome gehad vir ons lewe hier in Suid Afrika, maar die opgewondenheid oor die toekoms het stadig maar seker, soos wat termiete 'n boom van binne af opeet, plek gemaak vir 'n maand tot maand bestaan waarin mens net lewe om by die huis (lees vesting/fort) te kom en om die maandelikse uitgawes te kan dek. Ek is nie 'n mens wat haat in my hart wil ronddra nie....dit is vir my ondenkbaar wat ek sal doen as my familie sou seerkry...alhoewel ek weet al uitweg sal wees om te vergewe. Ek probeer altyd om realisties te wees oor wat om my aan die gang is en om nie volstruis-volstruis te speel deur te maak asof ek nie sien wat aan die gebeur is rondom ons nie. Dit vang my geweldig. Ek wil nie meer so leef nie....ek wil vry kan asemhaal.

Ja, en so het ons toe met die proses begin. Ek het BAIE keer al gewonder of dit die regte besluit was. Maar hierdie is nou nie juis 'n besluit wat mens van dag tot dag kan "chop en change" nie, as mens dit wil laat werk moet jy gedetermineerd wees. Jy moet deursettingsvermoë aan die dag lê, want emmigrasie is VERSEKER nie vir sussies nie. Jou emosies word in 'n tuimeldroër gegooi. Aanvanklik is die hele gesin baie opgewonde oor die nuwe lewe wat vir hulle voorlê, maar soos dinge bietjie vir bietjie 'n werklikheid begin word begin die realiteit van die besluit met angswekkende en dawerende buie op jou brose gemoedstoestand neerdaal. Kan dit regtig wees? Gaan ons regtig almal hier agterlaat? Ons was tot nog toe 'n baie hegte familie. My skoonfamilie (skoonsussie, en skoonma en die hele kaboedel) het vir my soos my bloedfamilie geword. Hulle is vir my nou al soos 'n "moskombersie" wat op my kom groei het of soos mossels wat moontlik kan breek en doodgaan as ek hulle van my af moet losskeur.

Ek weet dit gaan baie hart-SEER wees wanneer die dag aanbreek...net die gedagte is vir my bykans te moeilik om aan te dink sonder om trane in my oë te kry. Hoekom moes ons voor hierdie besluit te staan kom?

Aanvanklik was dinge maklik: "Kom ons kyk of ons die VISA kry en dan besluit ons verder...". Die eerste stap was om die ACS (Computer Society) goedkeuring vir my Universiteits grade en vaardighede te kry. Dit het my amper 'n maand se konstante werk in die aan gekos om dit klaar te kry...dit is ingedien en begin Desember 2006 het ek die goedkeuring gekry. Nou was die grootste struikelblok uit die weg geruim. Ek en my vrou was baie opgewonde...'n opgewondenheid wat ons nie regtig met haar familie kon deel nie, omdat dit sou wees soos om sout in hul wonde te vryf. Meeste van die familie en vriende het regtig gedink ons besluit is net iets wat sal oorwaai - dalk half in hul mou vir ons "gelag" - soos 'n lawwe gedagte wat ons binnekort met 'n harde slag aarde toe sou terugbring. Om mens se land vir 'n ander te verruil is per slot van rekening in dieselfde liga as om 'n lewensmaat te verloor of om afgelê te word by die werk...

Sommige dae voel jy soos die vark in die feëverhaal wat die kleinkinders vêr van hulle oupas en oumas en nefies en niggies gaan wegneem. In jou kop draai jy oor en oor die gedagte van die besluit wat jy nou maak vir jou kinders se toekoms. Jy sien geen ander uitweg nie. Ek wil nie oor 10 jaar, as ek te oud is om te kan emigreer, myself verwyt vir 'n besluit om te bly omdat dit my sak gepas het of omdat ek nie die ongemak van verandering wou verduur nie. Ek gee per slot van rekening al die volgende materialistiese dinge prys: 'n baie goed betalende werk wat ek geniet, 'n baie goeie krediet rekord by my bank, die pensioen wat ek tot nog toe opgebou het wat ek dalk nie uit die land sal kan kry nie, 'n baie lekker huis met 'n wonderlike groot tuin, lekker swembad, lekker 4x4 waarmee ons die Drakensberge en land al platgery het en nog 'n ander kar wat lankal klaar afbetaal is. Ek bly naby aan my werk en aan die kinders se skool. My vrou het 'n lekker halfdag werk en 2 dae van die week werk sy van die huis af. Die besluit om te gaan het ons gedwing om ons prioriteite weereens in oënskou te neem. Wat baat al hierdie aardse dinge as al jou kinders nie meer daar is om dit saam mee te geniet nie? Wat sou die duur goed werd wees as jou lewensmaat waarin jy jou alles in belê het skielik eendag voortydig van jou af weggeskeur word? Nee wat, mens moet besimpeld wees om nie hierdie besluit te neem nie!!!

Die besluit het ons van die staanspoor af met ons families bespreek...hulle verstaan hoekom ons dit doen en voel ook dit is vir ons kinders die regte besluit. Wat dinge vir my bietjie makliker maak is die feit dat my ouers reeds 'n paar jaar gelede die stadsgewoel verlaat het om op die platteland te gaan bly...wat my kans gegee het om reeds al die skeiding te moes verwerk. My ouers, suster en swaer bly dus al 'n paar jaar 900 km van my af. Steeds 'n telefoonoproep ver, maar 9 ure se ry as ek hulle wil sien....nou nie juis 'n naweekuitstappie nie. My eie ouers bekommer hulle baie oor ons hier in "Gangsters Paradise", en hulle het ons hulle volle steun gegee. My skoonfamilie ook...alhoewel dit vir hulle soos dood in die familie gaan wees...my kinders is per slot van rekening van geboorte af gewoond aan hul ouma naby hulle. Hulle is soos my skoonma se eie kinders...en nou vat ons hulle weg van haar....mens voel soooo jammer daaroor. Waar gaan ek ooit weer so 'n skoonma kry om by te gaan sit en gesels? Wie gaan haar plek in my hart kan vul?

Op ander tye is mens weer ongelooflik opgewonde oor die wonderlike Avontuur wat vir ons voorlê. Ites wat min mense in hulle lewe die kans kry om te beleef: Om 'n hele nuwe kultuur te beleef, wonderlike nuwe plekke te sien en wonderlike nuwe mense te ontmoet. Daar is soooo baie mense in dieselfde bootjie as ons, en ons ervaring van hulle is dat ons mekaar sommer dadelik verstaan omdat hulle weet waardeur mens gaan. Verder is daar al die Aussies wat ons gaan ontmoet. In my hart is ek reeds heeltemal oorgehaal om 'n Aussie te word!!! Ek gee iets prys, maar ek wen soveel meer....

Wel, ons VISA aansoek papiere en al die gepaardgaande dokumente is nou al in Adelaide en ek het die Engelse toets uitslae...al wat nog kort is die polisie klaring sertifikaat en die mediese toetse....so as ons nie nou iets dwaas aanvang of onsself verongeluk nie is ons op alle goeie aanduidings binnekort nie meer hier nie. In ons hart het ons dus finaal die besluit gemaak en dit is ook waarom ons besluit het om die huis te verkoop - hoekom sou 'n mens dan nog belê in 'n plek waaruit jy een van die dae in elk geval gaan trek. Ons trek die 1ste April tydelik in 'n sekuriteits "Estate" in. My skoonma het vir die afgelope 6 jaar agter in ons erf by ons gebly en ons trek saam uit. Beide van ons gaan nou op 'n ander plek huur. Dit sal ons help om die mossel-losskeur-proses makliker te verwerk omdat dit ons gaan tyd gee om eers aan die skeiding gewoond te raak voor ons finaal die naelstring knip.

Mens gaan deur so baie verskillende emosies...soos byvoorbeeld: Ek het oor die jare al so baie selfvertroue in my vermoë om my werk te kan doen opgebou, dat veranderings en nuwe uitdagings my nie voorheen gepla het nie. Ek het eenvoudig net geweet ek sal dit kan baasraak. Maar die skuif en werksoek in 'n vreemde land het die wind so bietjie uit my seile uit geneem - skielik begin mens weer twyfel of jy dit gaan maak. Ek gaan die enigste broodwinner wees : Gaan ek die pas kan volhou? Wat as ek siek sou word? Wat as daar iets fout gaan met my hande of my oë? Vêr in 'n vreemde land tussen vreemde mense vir wie ek net nog 'n immigrant is...weer myself moet bewys. Skielik tref dit my nou dat ek my net weer van die begin af sal moet bewys...alles van voor af opbou...al die jare se respek van my kollegas en werkgewer. Alles van voor af begin, selfs weer 'n kar bestuurderslisensie kry soos 'n negentienjarige. Weer by 'n landlord gaan huur, weer moet aansoek doen vir 'n huislening. Ek sweer hierdie proses verhaas my middeljare krisis...ek gaan dit nou al deur in my dertigerjare - skielik voel ek so onvoorbereid op die lewe: so oorweldig deur die onbekende hier voor my, skielik so baie bewus van die feit dat ek nie meer die 20jarige is met sy vinnige brein en klokhelder geheue nie. Nee wat...om oor te begin is nie kinderspeletjies nie! Dit sit definitief nie in almal se broek nie...ook nie myne nie, maar ten spyte van die feit dat ek so voel gaan ek voort...want ek doen dit vir my familie vir my kinders, omdat ek hulle baie lief het en alles in my vermoë sal doen om hulle smart te spaar.

Ek dink aan daai versies:
Romeine 5
"En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. "

1 Petrus 1
"Daarin verheug julle jul, al word julle nou--as dit nodig is--'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;"

Net die tyd sal ons leer of hierdie besluit die regte een was...en ek glo ons sal beter mense aan die ander kant uitkom. Dit is waarom dat ek nou hierdie hartseer, deurmekaar, gelyktydig bang en opgewonde emosies in my hart verdra.

Daar is 'n liedjie (Underneath the Door) van Michael Card wat sê:
"But our wounds are part of who we are, and there is nothing left to chance
And pain's the pen that writes this songs, and it calls us forth to dance. "

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings