Sunday, March 25, 2007

Dinge voel maar baie deurmekaar hier...

Dis maklik om te droom oor iets. Drome is goedkoop, dit gee jou uitkomkans vanaf die daaglikse sleur, dit laat jou hoop kry vir die toekoms. In 'n droom kan jy jouself vêr wegvoer na verre en vreemde lande sonder dat jy werklikwaar iets daaromtrent hoef te doen.

Maar wee jou as jy die dag besluit om jou drome na te volg. As jy die kans vat om daardie drome te bewaarheid. Dis duur op jou emosies en duur op jou beursie. Jy moet jou losskeur van alles wat vir jou bekend is. Diep onder 'n laag stof het jy ongestoord aangegaan in 'n wêreld waaraan jy gewoond is. En skielik word jy uitgeskud soos 'n mat. Jy voel hoe die jare se opgaar van jou afval. Meteens kom jy tot die besef dat die tyd aangebreek het om die bekende vir die onbekende te verruil, om daad by die woord te sit.

In my studeerkamer staan die bokse opgestapel, want ons is oppad uit ons huis uit. Einde van die maand trek ons na huur akkommodasie. My kar is ook vandag na sy nuwe eienaar toe. Wortels word een vir een uitgetrek uit die grond uit en binnekort sal ons voel soos potplante...




Ons is besig met die 457 VISA aansoek. As alles goed gaan is ons dalk al in Mei maand in Sydney. Dis 'n raaiskoot, wie weet, dalk is ek reg.

Al wat ek weet...ons is swanger met ons lewe in Australië, nou al 7 maande sedert die saadjie bevrug is. Nou sien ons nog niks van hierdie "nuwe lewe" nie. Dis alles nog binne in ons. Ons voed dit daagliks, dink daaroor in die dag, praat daaroor in die oggend, beplan daaraan, raak opgewonde daaroor en kry soms paniekaanvalle daaroor in die nag. Ons kan nie terugdraai nie, wil nie terugdraai nie... Ons moet hierdie "baba" laat gebore word. Mens se "liggaam" ondergaan veranderings, want in jou kop maak jy jou reg op jou lewe daar. Beplan watter kar jy gaan koop, watter skool jou kinders na toe sal gaan, watter pad jy werk toe gaan ry, hoe jy jou geld gaan oorplaas en in watter woonbuurt jy gaan soek na 'n nuwe huis. Dis nie maklik om jou mense almal hier te los nie, maar ons weet ons het hierdie besluit nie met ons emosies geneem nie, maar met ons verstand. Baie daaroor gedink en gepraat en uiteindelik begin dinge alles in plek val. Soms dink ek dinge gaan te maklik.
Hier is 'n paar voorbeelde:

  • Ons het wonder bo wonder al ons paspoorte en geboortesertifikate gekry na net 1 maand se wag....daarvoor is ek innig dankbaar aan Binnelandse Sake, want ek weet baie mense was nie so gelukkig nie.
  • My ACS Skills Assessment is binne 40 dae goedgekeur en daarby is my "Skill" op die MODL (On demand) lys
  • Toe ek 'n afspraak maak om die IELTS (Engelse) toetse te gaan skryf, het ek by die eerste beskikbare datum 'n plek gekry en 18 dae nadat ek dit geskryf het, het ek die uitslae gehad.
  • Ek het einde November 2006 'n kans gevat en my CV vir al die maatskappye gestuur wat in my lyn van werk is. Een maatskappy het presies op die tyd wat ek aansoek gedoen het juis gesoek vir iemand met my kwalifikasies. Die pos was reeds op SEEK geadverteer, maar ek het dit nie geweet nie, want ek het met 'n Google soektog op hulle afgekom. Hulle het sommer gou 'n telefoniese onderhoud met my gereël. Ek het die advertensie teen my kamermuur opgeplak en solank begin beplan hoe ek werk toe gaan ry op Google Earth. Ek het net geweet die werk is myne en op 8 Maart het hulle aansoek gedoen om my op 'n 457 VISA te sponsor.
  • Voordat ons nog ons huis in die mark kon sit, het my buurman se seun aangebied om die huis te koop en daardie selfde week aansoek gedoen vir finansiering. Daardie selfde dag nog het ons vir huur verblyf gaan kyk en 'n plek gekry waar ons nou einde van hierdie maand in intrek.
  • Binne die eerste week wat ek my 4x4 in die AutoTrader gesit het, was daar 'n kontant koper vir die kar. Ek het so gestres dat ek nie van die skuld sou kon ontslae raak nie omdat ek nog 'n sak vol geld daarop geskuld het. Hy het binne 'n uur vandat ek die kontrak deurgefaks het sommer die geld elektronies oorgeplaas.
So alles loop vlot. "She'll be apples!!!" / "It'll be all right"

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings