Tuesday, February 19, 2008

Die lewe is 'n reis na 'n spieëlbeeld

Daar was eendag 'n man wat in 'n baie klein dorpie êrens in 'n provinsie in China gewoon het. Soos baie in sy dorpie het hy 'n eenvoudige lewe gelei en sy lewe gemaak deur met rys te boer op sy klein lappie grond. Jaar na jaar het hy daarin gewerk en vir homself en sy vrou gesorg met die geld wat hy by die mark gekry het vir die rys. Daar was egter een tydverdryf waarmee hy baie goed was, en dit was om klein Bonzai boompies te vorm wat presies net soos die ware Jakob gelyk het...net op 'n baie kleiner skaal. Hy het dit gedoen omdat hy lief was vir die natuur en die genot wat hy daaruit geput het om iets so mooi te kan vorm uit iets waaraan hy nie self die lewe gegee het nie, maar wat hy, met baie sorg en liefde kon vorm tot 'n replika van die oorspronklike.

Hy het beheer gehad oor die hele lewensiklus van die klein boompie. Hy het begin deur 'n klein saadjie van 'n groot boom te neem wat hy bewonder het en het daardie klein saadjie dan met groot sorg in 'n potjie geplant in 'n sonkamer agter sy huis wat van bamboes en klei gemaak was. Na 'n paar weke het die saadjie ontkiem en het 'n klein groen stingeltjie met groen blaartjies deur die grondoppervlak gebreek. Vir enigiemand anders het hierdie plantjie maar net na nog 'n doodgewone plantjie gelyk. Maar die geduldige rysboer het die ontsaglike potensiaal van die saadjie geken. Nie omdat hy in die toekoms van die plantjie kon sien nie, maar omdat hy die grasie, skoonheid en grootte van die majestieuse boom geken het waarvan hy hierdie saadjie sien afval het. Hierdie plantjie was afkomstig van saad met buitengewone potensiaal - dit het in dit die plan vir 'n boom gehad!

Dag na dag het hy die saadjie water gegee, kunsmis gestrooi, dit op geskikte plekke in sy sonkamer geplaas om genoeg lewegewende sonlig te kon kry om te kan groei. En die plantjie het gegroei en was gesond omdat die rysboer gesorg het dat daar nie plantluise of siektes op kon kom nie. Hy het groot drome gehad vir hierdie boompie.

Na 'n paar maande, het die rysboer besluit die plantjie is nou oud genoeg vir sy vormingstyd om te begin. Hy het sorgvuldig 'n pragtige pot van die beste Xi'an klei uitgesoek, want dit sou die leefwêreld van hierdie Bonzai weergawe van daardie pragtige boom in die woud uitmaak. Die rysboer het geweet dat net soos by mense, word 'n boom se lewe bepaal deur die grond waaruit jy jou voedingstowwe kry en jy jou wortels in anker. Daarom het hy goeie grond met goeie dreinering en genoeg voedingsstowwe in gebruik om die klein boomplantjie in oor te plant. Hy moes baie sorgvuldig die boompie uit die grond lig en seker maak dat hy nie enige van die klein haarworteltjies beskadig nie, want 'n boom se toekoms word bepaal deur sy wortels. Dit is daardeur wat 'n boom al die minerale en water uit die grond uit opsuig en skade aan die wortels kan maak dat die boompie verdroog.

In sy geestesoog het die rysboer nou alreeds sy boompie begin sien soos dit eendag gaan lyk. Nou het die vormingsproses van die Bonzai begin. Hy het geweet dit gaan baie tyd en geduld verg, maar die resultaat was vir hom genoeg beloning. Dit is 'n proses wat die boom se hele lewensduur sal neem. Deur klein draadjies wat gebruik word om die boompie se takkie in bepaalde rigtings gebuig te hou en met sorgvuldige snoeiwerk het die rysboer jaar in en jaar uit sy meesterstuk gevorm. Daar moes altyd genoeg vog en genoeg voedingstowwe in die pot se grond wees. Die rysboer het altyddeur die groot boom as sy voorbeeld gebruik. Elke dag, wanneer hy oppad mark toe by daai groot boom langs die pad verbygestap het met sy rys en voorrade op sy trekwaentjie, het hy die groot boom bewonder vir sy prag en ook al die honderde jare wat hy al daar staan en reisigers se harte verbly. "Eendag sal mense so lank leef soos die bome", het die rysboer by homself gedink.

Op 'n stadium moes die rysboer vlug uit sy geliefde geboorteland toe die magtige Mongoolse weermag onder leiding van Genghis Khan China binnegeval het. Al wat hy kon saamneem was die klere aan sy lyf en dit wat hy met hom kon saamdra. Hy het gekies om een van sy Bonzai boompies saam met neem - die een waarvoor hy die liefste was. Na baie jare, ver van sy geboorteplek, was die rysboer al baie oud en kon hy nie meer so goed sien soos in sy jong dae nie, maar hy het nog net soveel vreugde geput uit sy Bonzai boompie. Met sy hande kon hy nog die boom se vorm voel, die knoetse in die boom se stammetjie en die reuk van die boompie se blare geniet. Dan, in sy gedagtes, het hy teruggedink aan daardie pragtige Groot Boom langs die pad naby die dorpie waar hy gebore is en as jong man mark toe gestap het met sy ryswaentjie saam met sy vrou. Die boompie het nou al op 'n blaartjie na, net soos daardie Boom gelyk en gevoel.

Soms, tydens die boompie se lewe, moes die rysboer die boompie baie terugsnoei, om seker te maak dat die boompie se groei in die regte rigting oppad is en sy takke nie hand uit ruk nie. Soms moes die stammetjie maar so 'n bietjie harder gebuig word met die draad, maar dit was altyd met een doel voor oë...die boompie sou eendag soos die Boom lyk wat die saadjie gemaak het! 'n Spieëlbeeld van daai Groot Ou Boom langs die pad. En die rysboer het gerus, want sy werk was voltooi : en hy het gesien dat dit baie goed was....

"In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies." (Opb. 22:2)

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings