Saturday, August 11, 2007

'n Mens mis jou ouers, maar tog is hulle altyd saam met jou

As 'n mens so op die busse en treine ry, werk toe en terug elke dag, dan het jy baie tyd om te dink. Jy hoef mos nie op die pad te konsentreer nie... Dan luister jy musiek op jou MP3 speler of jy dink oor die lewe.

Ek is bevoorreg dat beide my Pa en Ma nog leef en ek bel hulle so af en toe in Suid Afrika. 'n Hele ruk gelede het hulle al uit die stad weggetrek om op die platteland te gaan aftree. Ek het hulle laas Desember laas gesien. En 'n mens mis jou ouers, want jy kan nie sommer net vir 'n lekker Sondagmiddagete by hulle gaan inloer nie. Beide my kinders het baie by hul oupa hulle gekom. Ons het die twee in die skoolvakansies daar by hulle laat kuier en die kinders het ons soms gesmeek dat hulle maar net bietjie langer daar by hulle kon kuier as die skool weer begin.

'n Mens mis hulle hier in die vreemde. Jy voel soos 'n gedwonge weeskind, maar ek weet my ouers respekteer ons besluit om 'n vryer en veiliger toekoms vir ons kinders te kies. Maar dis nie waaroor ek nou wil skryf nie.

Gister toe ek op die bus sit en dink, toe besef ek hoe naby my Pa en my Ma eintlik aan my is. Ek leef 'n geruime tyd nou al sonder om hulle gereëld te sien, maar ek herken my Pa baiemaal in my eie optrede en ook hoe ek lyk. Hulle sê mos mens begin al hoe meer soos jou Pa lyk soos jy ouer word. As jy in die oggend in die spieël kyk om te skeer, sien jy 'n tikkie van jou Pa in die spieël, as jy praat herken jy dat jy so effens na jou Pa klink, as jy besorgd met jou eie kinders raas wanneer hulle stout is, dan dink jy vir 'n oomblik hoe jou eie Pa en Ma jou altyd reggehelp het in die lewe en hoe hulle nou asit ware deur jou doen. Die feit dat ek elke dag moet opstaan, bus en trein ry werk toe, weer terugkom en as jy moeg is van 'n dag se werk, in die aand opgewonde deur jou familie verwelkom word - herinner jou aan al die jare en jare wat jou eie Pa al vroeg in die oggend die bus in die koue voor ons huis gekry het....en dan eers weer na 5 in die middag ook moeg van die bus afgeklim het...en hoe ons as kinders hek toe gehol het om hom te verwelkom. Jy onthou hoe jy lank gelede saam met jou Ma by Menlyn se hyperama maandeliks die trollie vol kruideniersware help stoot het - en hoe jy dit self nou ook moet doen wanneer jy gaan kos vir die huis koop. Jy VERSTAAN nou regtig eers wat dit vat om 'n huishouding se budget te laat klop...en dat die kos nie sommer net vanself in die kaste verskyn nie, maar dat daar iemand moet wees wat werk, planne maak en mooi moet werk met geld om dit moontlik te maak. As mens jou eie kinders se klere en handdoeke van die vloer af loop en optel...dan voel jy asof jy jou eie Ma is wat dit doen . Al baie jare doen jy nou al hierdie dinge self, maar jy dink dat dit net sowel jou eie ouers kon gewees het. Jy sien dit in die tipe dinge waarvan jy hou om te doen...soos om te gaan vakansie hou by die see, om baie fotos te wil neem van al die plekke wat jy besoek en enige kuiertjie in 'n hele fotosessie te omskep. Ek deel in my Pa se liefde vir mooi plekke en mooi fotos, die begeerte om my hele geskiedenis te boekstaaf en iets van plekke vas te vang op foto. Ook die knaende begeerte om alles te wil opgaar... Van my Ma herken ek altyd in my haar humorsin en speelse persoonlikheid, maar ook haar deursettingsvermoë en vasberadenheid. Ek weet ook ek het my Ma se vinnige metabolisme, want ek is van nature atleties en sukkel nie juis met my gewig nie. My ouers se kreatiwiteit, om mooi te kan teken en skeppend te wees, die liefde vir die natuur, om lekker braaivleis te gaan hou, om te wil reis en plekke te gaan sien en die kosse waarvan ek hou. My skewe tande, 'n bril om te kompenseer vir dieselfde tipe swakheid in my oë, maar ook my Pa se krag en lengte en dieselfde sagte hart van my Pa en die liefde van My Ma.

Hier waar ek nou "in die verre lande bly", herken ek hulle in my daaglikse lewe. Hulle is vêr, maar tog so naby. En ek weet al die dinge, wat hulle my geleer en met hul optrede gewys het, oor die paar jaar wat ek by hulle was, nou onlosmaaklik deel is van my - soos wat 'n groot boom soms vasgegroei het aan die houtstok wat geplant is (om dit regop te hou) toe die boompie nog klein was.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings