Thursday, December 25, 2008

Uitspan op Batemans Baai

So op die einde van nog 'n jaar besluit ons toe nou mos om bietjie te gaan uitspan by die suidkus. Ons is mos nou weer gerat om sulke ekspedisies te kan uitvoer...soos om in 'n karavaan- of kampterrein te kan gaan bly as ons met vakansie gaan. Op hierdie manier kan mens altyd baie nader aan die see of die natuur kom, omdat meeste karavaanparke hier mos sommer binne in natuurreservate geleë is.

Ons wou al lankal gaan kamp het, want dis hoe ons dit daar doer in die Bosveld of in die Drakensberge gedoen het, maar ons kon tot nog toe nie die tentpenne en kanpvrieskas ingepas kry nie. Ons het besluit om eerder die Suidkus as die noorkus aan te durf: omdat ek dink dat die noordus oppad Brisbane toe meer onvoorspelbare weer en reën het hierdie tyd van die jaar...ek wil ok nou nie met die eerste keer se kamp in Aus sommer in 'n haelstorm of 'n vloed beland nie! En daarby wou ons my skoonma bietjie die plekke soos Jervis Baai gaan wys het waar ons voorheen was. Batemans Baai is net 'n ent verder suid. Oppad soontoe het ons by so 'n paar padstalletjies naby Kangaroe vallei gestop en van die tuisnywerheid se handewerk gekoop.

Om in 'n karavaanpark te kan bly is ook heelwat goedkoper per nag as om in 'n "sjalet" te bly. So het vroulief toe vir ons vir 7 dae bespreek by die Suid Durras Big4 Karavaanpark naby Batemans Baai. Mens word 'n lid van Big4 se klub, en dan kry mens ook nog 10% spaar op die kampfooie.

Ons het letterlik tussen die kangaroos gekamp. Hulle wei dwarsdeur die nag in die kamp. Dan is daar ook Possums wat soos die bobbejane in die bosveld jou kos wil kom steel in die nag, so mens hou maar alles binne in die tent. Voëls is daar volop: kookaburras, swart kaketoes, rosellas, reënboog lorikeets, magpies (hulle kan vir jou nou bedel en "moun" hoor) en poue wat oral rondstap in die kamp en hulle eienaardige geluide maak.

Hier is 'n foto van die "locals": Die kennisgewingbord laat die situasie nogal komies lyk.

In die oggende vroeg word mens deur die kookaburras se aapgeluide begroet en dwarsdeur die dag kan mens die geluid van Magpies hoor. Die gedruis van die see is klokhelder omdat die kamp net agter 'n duin lê met die heerlikste boogey-board strand!

Hier is 'n video van 'n klein kangaroetjie wat uit sy ma se buidel lê en gras vreet...


Ons het daarby ook nog by Depot Beach en North Head Beach gaan snorkel. Veral by North Head was daar uitstekende rotspoele vir snorkel. Nadat ek die effense skrikkerigheid vir haaie afgeskud het, het ek heerlik op die oppervlak van die see die mooi wêreld so tussen 2 meter en 8 meter onder my gelê en betrag. Daar was skole van so 20 visse wat sommer hier digby jou verbyswem. Ook "puffer" vissies en dan weer heelwat groterige visse van so 40cm groot. Hierdie keer het ek nie weer 'n PJ (Port Jackson Haai) gesien nie. Die omgewing is in die Murramarang natuurreservaat en 'n mariene park en dus is daar heelwat vis en seediertjies. Ek het minder "sea urchins" gesien en meer diertjies wat soos koraaldiertjies lyk. Hier is die presiese posisie by North Head waar ek gesnorkel het en ook by Depot Beach. Daar is heelwat kelp en 'n magdom skulpe onder die water by North Head strand.

Een aspek van kampeer by 'n karavaanpark wat die kinders baie geniet is al die maats wat hulle ontmoet. Elke aand wys die park vir die kinders fliek op 'n grootskerm TV naby die klimrame. Dan vergader al die kinders bymekaar en mens weet omtrent nie van hulle nie - kom eers tent toe as hulle begin honger word. So ontmoet mens dan ook weer nuwe mense, want die ander kinders kom vra of ons spruite saam met hulle kan "beach" toe gaan. Daar was mense van Wollongong, Sydney en selfs ander oud-Durbaniete wat nou in Albury bly. Oral waar ons kom ontmoet mens Suid Afrikaners, want ons het baiemaal dieselfde belangstellings en dan kuier ons te lekker...soos ou vriende. Daar is omtrent 'n klomp nasies...regs van ons was 'n hele familie Duitsers (seker op vakansie van oorsee af, want self die kinders praat net Duits met mekaar), 'n familie rou Franse links van ons, ander Suid Afrikaners en Aussies van Sydney.

Ons het die week by die see werklikwaar baie geniet. Ek en my seun het saam die branders gery, want ek het vir hom ook 'n klein wetsuit gekoop. Hy kry nou al die boogey-boarding goed reg.

Ek het vir julle die fotos opgelaai wat ek geneem het van die week. Julle kan ook met die link na die fotoalbum gaan. Geniet.



Nou ja, dis nou eers genoeg. Ek kry nou al die reuke van ons kersfees ete in my neus. Lekker kersfees vir julle.

Saturday, December 06, 2008

Ek het vandag vir my 'n "Mario" gekry

Hoe algemeen is dit nie op Suid Afrikaanse paaie om motors met "Venter" sleepwaens agter hulle te sien nie. Dis so volop soos swaeltjies in die somer. En hoeveel kampeerplekke het ons nie met ons ou sleepwa in Suid Afrika besoek nie! Die kenmerkende toe-deksel sleepwa met sy vaartbelynde "nose-cone" het so getrou soos 'n troetel brakkie altyd oral waar ons heen geswerf het agterna gekom.

Volgelaai met alles wat die kamplewe so bietjie gemakliker sou maak. 'n Kamp vrieskassie (wat werk op gas, battery en krag) is natuurlik 'n MOET, asook 'n lekker seil tent wat mens koel kan hou in die somer en droog en warm in die winter. Voeg daarby so 'n paar opblaas matrasse wat enige lappie harde grond in die Drakensberge in 'n Sealy nagrus kan verander en so 'n paar Campmaster seil kampstoele waarop jy vir ure die veld kan sit en gadeslaan na 'n moeisame stap deur die Magoebaskloof bosse terwyl jy aan 'n stukkie Olifantsbiltong sit en suig (wat jy natuurlik die vorige dag naby die Phalaborwa hek vir jou bekom het toe jy jou twee voortande daarvoor verruil het). 'n Gasstofie om te sorg vir 'n lekker koppie koffie uit 'n blikketel in die oggende as die son sy kop vaak-vaak uisteek onder die kameeldoringbome.

Ons het oor die jare al so 'n klein opslagplek bymekaargemaak van kampeergoed, en toe ons hier na Sydney toe gekom het, toe het die meeste van die goed natuurlik saamgekom...alles behalwe ons toe-deksel sleepwa! Snik. Dit het natuulik die gevolg gehad dat meeste van ons kampgoed net so agterweë gelaat is in die Buddulphs bokse. My ou kampbeker het nou al amper 2 jaar in 'n boks vir my gesit en wag, selfs ons tent was tot vandag toe nog net so in die plastiek toegedraai waarin dit in April 2007 toegedraai is...daar het selfs so 'n bietjie Afrika lug ontsnap toe ek die ding vanoggend oopsny!

Wel, om te kan kamp het mens 'n sleepwa nodig wat lank genoeg is vir die tentpale en hoog genoeg is vir ons kamp vrieskassie...want daarsonder gaan ek nêrens nie. Ons het egter met 'n skok agtergekom dat mense hier in Australië nie so 'n gehegtheid aan 'n netjiese vaartbelynde sleepwa met 'n toemaak deksel het nie. Van 'n "nose-cone" het hulle nog nie gehoor nie en meeste van die sleepwaens wat jy hier kan kry is of sulke vlak ysterraam "joppies" wat mens omtrent net kan gebruik om vuilgoed mee weg te ry, of dit is sulke hoë hokke op wiele om 'n tuindienste besigheid mee te begin. As jy vir hulle vra van 'n TOE sleepwa, dan dink hulle dis die soort waarmee mens perde mee rondry. Wel, na ietwat van 'n gesoek het een van ons vriende ons die naam gegee van 'n besigheid wat "Custom" sleepwaens maak. Die besigheid se naam is MARIO TRAILERS. Die' Italianer maak sleepwaens vir elke gier wat mens dalk mag hê. Ek het nou wel nie 'n VENTER nie, maar nou het ek 'n MARIO. En ek moet sê dat ek nie net 'n bietjie ingenome is met my nuwe sleepwa nie, ek voel sommer weer soos 'n man. Want 'n man moet mos 'n sleepwa hê! Dit gee jou daardie selfde gevoel wat 'n ou met 'n bakkie het...so 'n gevoel van vryheid. Want nou kan ek met my eie tent gaan kamp (en nie ten duurste in sjalette gaan bly nie), my eie tweedenhandse meubels langs die straat oplaai, self kaste en goed wat ons gekoop het huis toe bring, my eie gemors wegry en my eie planke by Bunnings gaan koop en huistoe bring!

Omdat ons nou nie 'n V8 ry soos meeste mense nie, het ons 'n "light duty" sleepwa by Mario bestel. Dis een met bietjie dieper kante (om die vrieskas te kan hou), maar sonder 'n staal deksel. Ons het besluit dit vat net ekstra gewig en Mario het gesê hy sal vir ons 'n baie netjiese "canvas" seil maak vir die sleepwa wat met hakies vasgetrek kan word. Maar om te verhoed dat die water kan opdam op die seil, het hy 'n verwyderbare raam onder die seil sodat die water skuins kan afloop van die dakkie. Man...ek is trots op my sleepwa!

Dit het selfs 'n plek vir ons 20 Liter "Jerry" waterkan.

Die seil word netjies met hakies en 'n ritssluiter vasgemaak sodat dit knus oor die sleepwa pas om te verhoed dat daar enige water kan inkom.


Daarby het die sleepwa ook nog LED liggies, want ek onthou nog goed hoe 'n swak aardverbinding die sleepwa se liggies kan laat verdof as jou hoofligte aan is.

Oral rondom die sleepwa is sulke relings wat mens kan gebruik om die sleepwa mee te hanteer en ook om toue om vas te bind. Soos julle kan sien is Mario se mense se vakmanskap baie goed en netjies.

Aan die binnekant is ons sleepwa 52 cm diep, 1.21 meter breed en 1.75 meter lank. Net groot genoeg vir ons behoeftes. Dit het meer volume omdat die goed wat ons saamneem hoofsaaklik ligte goed is, maar wat meer spasie benodig...soos byvoorbeel "boogey boards".


Hier is die verwyderbare raamwerk wat die water van die seil laat afloop.

Die hele sleepwa is binne en buite mooi geverf.

Die agterste kap swaai na onder oop.

Nou kan ek vir die eerste keer my sleepstang gebruik wat ek van die begin af aan die Honda laat aanbring het. Maar ons het intussen darem al die fietsrak se passtuk onder die knop vasgemaak.

Dit is 'n plesier om die sleepwa te haak omdat dit 'n vegvoubare wiel het wat hierdie ou ligte sleepwaentjie soos niks op en af kan draai.

Hier kan julle die 7 punt kragpunt sien. Mens kry die ronde prop ook hier, maar ek hou nogal van hierdie een.

Kry vir julle ook 'n Mario. Die ou is al 20 jaar in die besigheid en hy klink kompleet soos daai gasvrye Italianers in die flieks. Ek vra vir hom hoe ek die sleepwa deur die toets moet kry...nee sê hy vir my "Your job isa justa to pay, and my jopa isa justa to do all the papers. You justa enjoya your holidaya! I will take care of the rest!"

Thursday, December 04, 2008

"Silly season" in Kasteelheuwel

Die jaar lê op sy rug en die tyd van kers kaperjolle kom nader. Dis nou die tyd van die jaar wanneer elke Jan-rap-en-sy-maat die winkelsentrums in vaar vir "shop"-therapy, op soek na daardie adrenalie-"rush" wat verkry kan word deur daardie kredietkaarte tot in die rooi in te "rev" met die vertroosting dat dit mos maar die in-ding is om te doen, dis darem vir 'n goeie doel. Wel, Castle Hill (Kasteelheuwel) is geen uitsondering nie. Net soos wat daar mos altyd sulke vinnige musiek in die restaurante speel wanneer die eienaar die mense vinniger wil laat eet, of soos wat die polsende musiek in die Gym die mense by die "spinning"-klasse aanmoedig, net so por die Jingle-Bells mense aan om hulle sente te laat klingel hierdie tyd van die jaar.

Ek het vir julle so 'n paar fotos in die Castle Hill Winkelsentrum geneem, wat alreeds opgemaak is vir die voorspel tot die verkope.

Hierdie is by die groete en vrugte afdeling op die onderste vloer.



Ek was bietjie daar vir my haarsny. Soos julle kan sien is daar 'n miernes van bedrywighede, baie soortgelyk aan Menlyn winkelsentrum, maar sonder die gewapende rowers by die juwelierswinkels.



Onse Antie Plaas sal hierdie glaswerk interessant vind. Sy maak mos hoeka soortgelyke glaswerk.

Hieronder is die travelators...amper soos by die lughawe. Jy stoot jou trolle daarop, dan sak dit so in die groefies in en dan kan dit nie afgly by die afdraande nie.

Ons buurman het natuurlik 'n ander manier van om in die kersfees gevoel in te kom. Hy het sy huis sommer al vroeg opgedollie met liggies net soos in Brink straat in Wierda Park.


Daar is selfs 'n kersfeesvader wat aan 'n pilaar vasgeknoop is.

Wat ons betref...ons wag nou net vir ons sleepwa, want binnekort gaan ons met ons "Canvas" tent wat al die pad van Suid Afrika af saamgebring is vir die eerste keer kampeer by die suidkus van Nuwe Suid Wallis....

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings