Tuesday, March 27, 2007

Die kalf is in die put

Nou ja...die kalf is in die put, die koeël is deur die kerk, die atlete is in die wegsprinkblokke en kopuittrek kanse raak al minder omdat ons onsself nou vrywilliglik al hoe meer in 'n hoek vas verf.

Ek het nou net die elektroniese 457 VISA aansoek voltooi en ons gaan hierdie week probeer om te gaan vir die mediese ondersoeke.

Wie nie waag nie...sal nie wen nie !

Sunday, March 25, 2007

Dinge voel maar baie deurmekaar hier...

Dis maklik om te droom oor iets. Drome is goedkoop, dit gee jou uitkomkans vanaf die daaglikse sleur, dit laat jou hoop kry vir die toekoms. In 'n droom kan jy jouself vêr wegvoer na verre en vreemde lande sonder dat jy werklikwaar iets daaromtrent hoef te doen.

Maar wee jou as jy die dag besluit om jou drome na te volg. As jy die kans vat om daardie drome te bewaarheid. Dis duur op jou emosies en duur op jou beursie. Jy moet jou losskeur van alles wat vir jou bekend is. Diep onder 'n laag stof het jy ongestoord aangegaan in 'n wêreld waaraan jy gewoond is. En skielik word jy uitgeskud soos 'n mat. Jy voel hoe die jare se opgaar van jou afval. Meteens kom jy tot die besef dat die tyd aangebreek het om die bekende vir die onbekende te verruil, om daad by die woord te sit.

In my studeerkamer staan die bokse opgestapel, want ons is oppad uit ons huis uit. Einde van die maand trek ons na huur akkommodasie. My kar is ook vandag na sy nuwe eienaar toe. Wortels word een vir een uitgetrek uit die grond uit en binnekort sal ons voel soos potplante...




Ons is besig met die 457 VISA aansoek. As alles goed gaan is ons dalk al in Mei maand in Sydney. Dis 'n raaiskoot, wie weet, dalk is ek reg.

Al wat ek weet...ons is swanger met ons lewe in Australië, nou al 7 maande sedert die saadjie bevrug is. Nou sien ons nog niks van hierdie "nuwe lewe" nie. Dis alles nog binne in ons. Ons voed dit daagliks, dink daaroor in die dag, praat daaroor in die oggend, beplan daaraan, raak opgewonde daaroor en kry soms paniekaanvalle daaroor in die nag. Ons kan nie terugdraai nie, wil nie terugdraai nie... Ons moet hierdie "baba" laat gebore word. Mens se "liggaam" ondergaan veranderings, want in jou kop maak jy jou reg op jou lewe daar. Beplan watter kar jy gaan koop, watter skool jou kinders na toe sal gaan, watter pad jy werk toe gaan ry, hoe jy jou geld gaan oorplaas en in watter woonbuurt jy gaan soek na 'n nuwe huis. Dis nie maklik om jou mense almal hier te los nie, maar ons weet ons het hierdie besluit nie met ons emosies geneem nie, maar met ons verstand. Baie daaroor gedink en gepraat en uiteindelik begin dinge alles in plek val. Soms dink ek dinge gaan te maklik.
Hier is 'n paar voorbeelde:

  • Ons het wonder bo wonder al ons paspoorte en geboortesertifikate gekry na net 1 maand se wag....daarvoor is ek innig dankbaar aan Binnelandse Sake, want ek weet baie mense was nie so gelukkig nie.
  • My ACS Skills Assessment is binne 40 dae goedgekeur en daarby is my "Skill" op die MODL (On demand) lys
  • Toe ek 'n afspraak maak om die IELTS (Engelse) toetse te gaan skryf, het ek by die eerste beskikbare datum 'n plek gekry en 18 dae nadat ek dit geskryf het, het ek die uitslae gehad.
  • Ek het einde November 2006 'n kans gevat en my CV vir al die maatskappye gestuur wat in my lyn van werk is. Een maatskappy het presies op die tyd wat ek aansoek gedoen het juis gesoek vir iemand met my kwalifikasies. Die pos was reeds op SEEK geadverteer, maar ek het dit nie geweet nie, want ek het met 'n Google soektog op hulle afgekom. Hulle het sommer gou 'n telefoniese onderhoud met my gereël. Ek het die advertensie teen my kamermuur opgeplak en solank begin beplan hoe ek werk toe gaan ry op Google Earth. Ek het net geweet die werk is myne en op 8 Maart het hulle aansoek gedoen om my op 'n 457 VISA te sponsor.
  • Voordat ons nog ons huis in die mark kon sit, het my buurman se seun aangebied om die huis te koop en daardie selfde week aansoek gedoen vir finansiering. Daardie selfde dag nog het ons vir huur verblyf gaan kyk en 'n plek gekry waar ons nou einde van hierdie maand in intrek.
  • Binne die eerste week wat ek my 4x4 in die AutoTrader gesit het, was daar 'n kontant koper vir die kar. Ek het so gestres dat ek nie van die skuld sou kon ontslae raak nie omdat ek nog 'n sak vol geld daarop geskuld het. Hy het binne 'n uur vandat ek die kontrak deurgefaks het sommer die geld elektronies oorgeplaas.
So alles loop vlot. "She'll be apples!!!" / "It'll be all right"

Monday, March 19, 2007

Nou ja, my 4x4 is nou verkoop...

Noem my maar braaf of noem my maar dwaas, maar ek wou nie langer die kans vat om met hope skuld op 'n motor te sit as ek uiteindelik moet vlieg nie. Ek het hierdie afgelope week besluit om my lekker rondrits 4x4 in die Autotrader te sit en dit te verkoop. En kan jy nou glo...daar kry ek toe sommer 'n kontant koper. Nog 'n merkie wat ek op my "checklist" kan aftiek.

Hier is 'n foto van die 4x4 wat ons al by Mike's Pass in die Drakensberge uit en ook deur die sandduine van Sodwana geneem het...




In die groter "scheme of things" begin al die waarde wat ons heg aan al hierdie aardse luukshede vir my nou al hoe minder belangrik lyk. Wys jou net....mens se lewenskwaliteit kan nie deur duur motors en huise bepaal word nie.

Dit herinner my aan hierdie liedjie van Hugo:

Suburban bliss (Luister uittreksel hier)

en teen die mure 'n Mexikaan met 'n hoed, by die voordeur 'n bordjie wat jou groet
Suburban, Suburban Bliss, Suburban Bliss, dis hoe dit is

en in die voortuin speel die kinders, maar ook maar net tot dit donker is
want in die strate skuil gevare,
daar's 'n prys op jou huis se waarde

en in die driveway 'n nuwe BMW, 'n welkom matjie om jou voete af te vee
Suburban, Suburban Bliss, Suburban Bliss, dis hoe dit is

en teen die mure 'n Mexikaan met 'n hoed, by die voordeur 'n bordjie wat jou groet
Suburban, Suburban Bliss, Suburban Bliss, dis hoe dit is

en in die voortuin speel geen kinders, ook'ie in die dag as dit lig is
want uit die strate kom gevare,
daar's 'n prys op jou kar se waarde

en in die driveway is daar nie meer 'n BMW, net die tuinjong wat die bloed opvee
Suburban, Suburban Bliss, Suburban Bliss, dis hoe dit is

en in die voortuin speel die kinders, nogsteeds maar net tot dit donker is
want in die strate skuil gevare,
daar's 'n prys op jou huis se waarde

en in die Huisgenoot 'n storie oor sy dood, hy los twee kinders, 'n vrou in nood
Suburban, Suburban Bliss, Suburban Bliss, dis hoe dit is
Suburban, Suburban Bliss, Suburban Bliss, dis hoe dit is

Thursday, March 15, 2007

Lyk my ons kan nou solank aansoek doen vir die 457 VISA

Goeie nuus wat ek vandag gekry het is dat die maatskappy wat ons gaan "sponsor" klaar die "sponsor" aansoek en die "nomination" ingedien het. Alhoewel die sponsor nog nie finaal goedgekeur is nie kan mens alreeds aansoek doen vir die VISA omdat daar reerds 'n TRN (Transaction Reference Number) toegeken is. On wil nou spoedig kyk of ons solank daarmee kan begin. Vanmiddag wil ons by die Wierda Brug polisie stasie die PCC (Police Clearance Certificate) proses gaan begin.

Monday, March 12, 2007

Ons huis word van ons naam af gehaal

Vandag neem ons die eerste stap geneem wat werklik verreikende gevolge gaan hê in ons besluite om na Australië toe te gaan. Al die vorige besluite was omkeerbaar en het min finansiële implikasies gehad...maar vandag teken ons ons huis af by die prokureurs. Die huis wat ons die afgelope 6 jaar as ons tuiste gesien het in Centurion.

Ons neem nou daardie eerste treetjie uit die boot om op die water te loop. Van ou af is daar geen omdraai nie. Alhoewel daar nog heelparty reëlings gefinaliseer moet word en die tydelike (ek ook die permanente VISA goedgekeur moet word), tree ons solank op asof dit gaan gebeur, ons optrede en geloof dat dit gaan gebeur is nou die bewys van dinge wat ons nog nie sien nie. Ons maak solank soos die Israeliete gemaak het die nag voordat hulle Egipteland verlaat het:
"...aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand." (Eksodus 12:11)

Ons het al gewonder of dit nie bietjie dom is om reeds alles so af te sluit voordat ons finaal weet nie. Die saak is egter: IN ONS HARTE het ons klaar besluit om te gaan en dat Suid Afrika nie die land vir ons kinders is nie. So dit beteken...."come hell or high water"...ons gaan hier wegtrek, al beteken dit ook ons moet 'n ander land as Australië kies as ons nie daar sou regkom nie.

My geloof dat ek die werk in Sydney sou kry het egter sover suksesvol uitgedraai toe ek einde Februarie die werkskontrak kon teken. Maar ek het vandat ek hulle begin Januarie begin email het geglo dat dit die werk is vir my en solank op Google Earth begin uitwerk hoe ek na my "toekomstige werk" toe gaan ry met die kar. Mens kan mos presies sien hoe dit lyk waar die maatskappy is op die satelliet fotos. Nou tref ons dus voorbereidings asof ons GOU gaan vlieg. Vrydag reeds het ons al vir 'n familielid tekenregte op my bankrekening gereël en ek gaan vandag ook aansoek doen vir 'n "International driving permit" by die AA in Menlyn Park.
Einde van hierdie maand trek ons reeds in huur akkommodasie in.

Hier is 'n (aanmekaar gelapte) foto van die huis in Centurion waaraan ons nou totsiens sê...

Thursday, March 08, 2007

Die maatskappy het aansoek gedoen vir die sponsor goedkeuring.

Ek het vanoggend 'n e-mail gekry van die MD van die maatskappy wat my temporary VISA gaan sponsor. Hulle het alreeds elektronies vir die sponsor aansoek gedoen en hy wag net vir die verwysings nommer om die "nomination" in te gee. As dit goedgekeur word kan ons die VISA aansoek ook elektronies doen.

Thursday, March 01, 2007

My bankrekening aansoek is gepos

Op 1 Maart 2007 het ek die aansoek om 'n bankrekening oop te maak by ANZ bank in Australië afgelaai en die "online application" vorm ingevul en gepos. Ons kan wanneer die rekening oop is geld daarin inbetaal en dit net laat aktiveer as ons daar aankom deur onsself te gaan identifiseer.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings