Saturday, May 31, 2008

Ons vat die seuns om te gaan vuurpyle skiet

Die van julle wat al die fliek "October Sky" gesien het, sal dadelik dink aan vuurpyle/"rockets" en die Amerikaanse ruimteprogram. Dit handel oor 'n 'n arm steenkoolmynwerker se seun, Homer Hickam Jnr., wat bo sy omstandighede uitstyg deur 'n beurs by 'n universiteit te verwerf as gevolg van sy skoolprojek om 'n vuurpyl te bou. Wel, die fliek is op 'n ware persoon gebaseer en hy leef vandag nog. Gaan lees gerus bietjie Homer Hickam se storie op sy webtuiste.

So 'n wyle gelede het ek saam met 'n vriend en ons 3 seuns so bietjie "Rockets" van ons eie gebou. Hy het in Suid Afrika alreeds met die stokperdjie begin en het uitgevind waar dit hier beoefen word. Die vuurpule word van karton pypies gebou en die afmetings word volgens 'n rekenaarprogram bereken sodat die vuurpyle gebalanseerd en stabiel in die lug is tydens 'n vuurpyl lansering. Daar word 'n ware vuurpyl motortjie soos die een hieronder in gebruik.

Dit word in die agterkant van die vuurpyl geplaas. Daar word ook 'n vuurbestande valskermpie met brandbestande toutjies aan die binnekant van die vuurpyl verbind. Die oomblik wat al die brandstof van die vuurpylmotortjie uitgebrand is, word die valskermpie dan deur die lading uitgeblaas en val die vuurpyl rustig soos 'n ware ruimtetuig terug aarde toe.

Hier word die motortjie gemonteer.



En die vuurpyle word op die lanseer "pad" gemonteer.

Daar was heelparty "fensie" vuurpyle, soos hierdie een:


Die vuurpyl motortjie word deur 'n elektriese gloeidraadjie ontsteek na aftelling 5..4..3..2..1.. en vir die vuurpylgeesdriftiges is dit natuurlik 'n grootse gebeurtenis.

Ons het vandag toe na die klub byeenkoms toe gegaan wat by Arndell Park in Doonside gehou word een keer per maand. Dit is 'n groot oop stuk veld in Sydney. Vuurpyl vlugte word tot 2000 voet beperk in die stad, maar een ou het 'n 6 voet vuurpyl wat hy laas naweek tot oor die 3000 voet opgeskiet het naby Tamworth...300 km van hier af. Hoekom hulle nog in voet werk sal mens nie weet nie.

Julle kan hier na die foto skuifievertoning gaan kyk.

Meeste vuurpyle werk met hierdie vuurpyl motortjies, maar daar was ook een wat met water en saamgepersde lug werk.

Die vuurpyl wat met water en saamgepersde lug werk was natuurlik vir my die indrukwekkendste. Hier onder is 'n video wat ek geneem het van die vuurpyl se lansering. Wat die vuurpyl natuurlik so besonders maak is die feit dat dit geheel en al uit 2 liter plastiek koeldrankbottels gemaak is soos julle sal sien. Dit het elektronika in die neus wat die verskillende stadiums van ontbranding meet en beheer. Tydens die vlug ontkoppel die stadiums (wat natuurlik leë Coke bottels was) en val dan ewe findingryk terug aarde toe met hul eie valskerms.




Die vuurpyl bereik 'n aansienlike hoogte - en dit met lugdruk aangedryf !

Dit is NIE Red Bull wat jou Wiings gee nie....hier is die bewys...Coke en Fanta! Kyk bietjie hoe spuit die saamgepersde lug by daai bottelproppe uit!! Selfs nie eens 'n sjampanjeprop kan dit doen nie. Kyk bietjie na die stroom "Fanta" aan die onderkant van hierdie foto.

Dan, as dit 'n sekere hoogte bereik skiet die eerste Cokebottels (ek bedoel brandstof stadiums) af...

En sak netjies af aarde toe met valskerms.


Die ander vuurpyle bereik natuulik 'n nog hoër spoed en hoogte omdat dit deur die klein vuurpyl motortjies aangedryf word. Hier is 'n video.






Die "seuns" het dit sommer baie geniet.

Tuesday, May 27, 2008

So ietsie oor belastingkoerse in Australië

Tydens Australiese die begrotingsrede van 14 Mei 2008 in die parlement is daar hierdie jaar so bietjie belastingverligting aangekondig wat in totaal $31.5 duisend miljoen dollar beloop wat oor 'n tydperk van 2 jaar ingevoer gaan word.

Vir hierdie komende jaar gaan dit beteken dat 'n familie met 'n jaarlikse belasbare inkomste van $70000 'n bedrag van sowat $50 per maand meer in hul sak gaan hê, van $90000 per jaar $91.65 en diegene met 'n jaarlikse inkomste van $160000 sowat $370 per maand.

Gaan lees meer oor die Tersourie Wayne Swan se media konferensie oor die Aussie begroting by :
www.treasurer.gov.au

Gaan lees ook oor die volledige opsomming by die Australiese Parlement se webtuiste.

Volgens die Sydney Morning Herald koerant gaan die belasting-tabelle dus die volgende wees:
Sien ook hierdie site.

Vir 1 Julie 2008 tot 30 Junie 2009
0 - 6000 per jaar => 0 % belasting
6001 - 34000 per jaar => 15 %
34001 - 80000 per jaar => 30 %
80001 - 180000 per jaar => 40 %
180001+ per jaar => 45 %
Die "Low Income Tax Offset" (LITO) waarde is : $1200 (effektief belastingvrye drumpel tot $14000 pj)

Vir 1 Julie 2009 tot 30 Junie 2010
0 - 6000 per jaar => 0 % belasting
6001 - 35000 per jaar => 15 %
35001 - 80000 per jaar => 30 %
80001 - 180000 per jaar => 38 %
180001+ per jaar => 45 %

LITO : $1350 (effektief belastingvrye drumpel tot $15000 pj)


Vir 1 Julie 2010 tot 30 Junie 2011
0 - 6000 per jaar => 0 % belasting
6001 - 37000 per jaar => 15 %
37001 - 80000 per jaar => 30 %
80001 - 180000 per jaar => 37 %
180001+ per jaar => 45 %

LITO : $1500(effektief belastingvrye drumpel tot $16000 pj)


Die
"Low Income Tax Offset" is waarop mense met permanente verblyfreg in Australië kan aanspraak maak. Dit skuif effektief die belastingvrye inkomste op na $14000 per jaar vir mense ten minste $43360 verdien as 'n familie (om op die volle bedrag aanspraak te maak). Help my reg as ek verkeerd is. Plaas ook gerus 'n "Comment" as iemand dit vir ons beter kan verduidelik.

Loukie gaan op Walkabout


Julle ken mos daai Netstar TV advertensie waar die mense van die voertuig opsporings maatskappy die ou in die restaurant bel om hom in kennis te stel dat sy kar gesteel was....wel iets soortgelyks het vandag met ons gebeur....maar nie omdat iets van ons gesteel was nie - NEE.

Julle sien: klein Karnallie (oftewel ons soft-toy shih-tsu hondjie genaamd Loukie) besluit toe mos - vandag is die dag wat hy bietjie die wêreld daarbuite gaan verken. Hy het mooitjies gewag dat my vrou na die kinders se skool toe is, en toe het hy 'n gat onderdeur die houtheining opgespoor vir die begin van sy avonture. Hy het sommer aleen die pad gevat om die blok op sy eentjie, net soos ons dit gereeld saam met hom gaan stap. Hy het ewe parmantig op honde Walkabout gegaan soos die Aborigines.

Ons het nie eens geweet hy is weg nie! Vanoggend, sommer uit die bloute kry ek toe ek die oproep by my werk van 'n veearts in ons omgewing. Iemand het ons soft-toy in die straat sien afstap en hom daarnatoe geneem voordat hy dalk onder die karre se wiele beland. Glo my - een van die besigste strate loop direk by ons huis verby.

Te danke aan die wonder van moderne tegnologie, kon die veearts eenvoudig die ingeplante mikroskyfie onder Loukie se vel lees en ons kontakbesonderhede vanaf die sentrale Australiese honde databasis verkry. Sonder dat Loukie dus enige uiterlike vorm van identifikasie by hom gehad het kon hy asit ware "huistoe bel" en het my vrou hom sommer gougou gaan oplaai. Wat 'n verligting! Hy is al soos deel van ons familie.

Sonder dat ons eens geweet het dat hy weg was, is ons gebel om te sê waar hy hom bevind.

Sunday, May 25, 2008

Fasiliteite vir jongmense

As daar nou goed is waarvan Australië baie van het, dan is dit allerhande sportsfasiliteite vir jongmense. Daar is oorgenoeg dinge waarop die tieners hulle oortollige energie kan verkwis sodat hulle nie verveeld hoef rond te lê nie.

Ek het al in vorige posts verwys na die Hills Sports Stadium wat basketbal aanbied. Dan is daar ook nog 'n sagtebal baan ("baseball/softball"), genoeg sokkerbane en krieketbane. Daar is spesiaal by die Fred Caterson Reserve 'n BMX baan gebou vir die jongmense.

Ek en die kinders was vanmiddag weer by die Cherrybrook Sportvelde. Die kinders het te heerlik daar met hul skopfietsies op die paadjies rondgery. Daar is 'n hele 1.2 km sementpaadjies. Mense kom stap ook daar met hul honde. Daar is onder andere: sokkerbane, basketbal bane, 'n baie netjiese sagtebal/"baseball" baan, "Footie" bane - dis nou Aussie rules rugby en daar is atletiekbane waar die jongmense spiesgooi en verspring kan oefen. My kinders het ook elke Saterdag swem by die Carlile Swem klub. Iets wat ek nogal dink baie goed is, is dat daar 'n groot "skateboard baan" spesiaal vir die jongmense gebou is. Troppe jongmense van die omgewing drom daar saam met hul skopfietse, skateboards en BMX fietse om toetjies te doen en te sosialiseer - sonder dat hulle by klubs hoef te gaan rondhang ind ie stad. Die basketbal bane trek ook baie aanhangers. Terwyl ons vandag daar was het ander sokker geoefen en sommige met rugbyballe pale toe geskop. Daar is selfs 'n muur waar die wat hulleself as "URBAN" kunstenaars sien kan Graffiti doen.

Hier is 'n video van die skateboard baan.



Ek het ok 'n paar fotos geneem:

Saturday, May 24, 2008

Ek dink ons wa is nou deur die drif

Vandag, presies een jaar gelede, op die 24 ste Mei 2007, op 'n Donderdag middag, het ons ons eerste tree op die Australiese vasteland gegee. Wildvreemd, onseker en met boordenstevol tasse het ons hier aangekom. Omtrent alles was vreemd en nuut. Die lug het anders geruik met 'n swetterjoel nuwe reuke. Die son het met 'n anderste hoek geskyn op ons. Nou kon ons vir die heel eerste keer voel hoe dit voel om permanent naby die see te bly. As alles vir my te veel gevoel het om te glo het ek net altyd vir myself gesê: Ons trek net see toe.

Nou ja, hier is ons nou 'n jaar al besig met die tweede bedryf in die toneelstuk van ons lewe. Ons speel nou ietwat ander rolle in die' bedryf.
Steeds leer ons die woorde. Ons speel ons karakter uit in vele nuwe oorde.
Vergete lê die eerste bedryf se struwelings en kwellinge, vervang met nuwe uitdagings en struikelblokke. Maar ons visier is gerig op die toekoms, verby die verlede, want om aan dit wat was te probeer vashou is kompleet soos om 'n dooie liggaam te balsem. Dit mag dalk nog so bietjie herrinner aan die persoon wat was, maar hy sal nooit weer deel van jou lewe wees nie. Net so vertolk ons nou ons nuuste karakter met volle oorgawe.

Laat my nogal dink aan die volgende woorde van William Shakespeare:

All the world's a stage,
And all the men and women merely players:
They have their exits and their entrances;
And one man in his time plays many parts,
His acts being seven ages.
At first the infant
,
Mewling and puking in the nurse's arms.
And then the whining school-boy, with his satchel
And shining morning face, creeping like snail
Unwillingly to school.
And then the lover,
Sighing like furnace, with a woeful ballad
Made to his mistress' eyebrow.
Then a soldier,
Full of strange oaths and bearded like the pard,
Jealous in honour, sudden and quick in quarrel,
Seeking the bubble reputation
Even in the cannon's mouth.
And then the justice,
In fair round belly with good capon lined,
With eyes severe and beard of formal cut,
Full of wise saws and modern instances;
And so he plays his part.
The sixth age shifts
Into the lean and slipper'd pantaloon,
With spectacles on nose and pouch on side,
His youthful hose, well saved, a world too wide
For his shrunk shank; and his big manly voice,
Turning again toward childish treble, pipes
And whistles in his sound.
Last scene of all,
That ends this strange eventful history,
Is second childishness
and mere oblivion,
Sans teeth, sans eyes, sans taste, sans everything.

Soos ook Koos Dup ons leer in sy liedjie "Onthou jy nog..."

Onthou jy nog die dae van wens ons was al groot
Al ons wysheid en ons vrae na die lewe en die dood
Die dag was veertig volle ure die nag was net een oogknip kort
En 'n vesting was die mure om ons heen wat later sel sou word

Onthou jy nog die tye van liefhê droom en bou,
En die later dae sy swye om iets van als te behou.
Tog vreemd die tyd se laaie die lewe is so bitter kort
Dat ons na al ons paaie iedereen weer kind maar wees moet word
Dat ons na al ons paaie iedereen weer kind maar wees moet word.

(Koos du Plessis)

Hierdie ossewa van ons kom nou al 'n lang pad en daar was baie hartseer en afskeid langs die pad. Maar die oop vrye wêreld lê nou voor ons...en ons weet nie wat dit alles vir ons inhou nie. Baie mense, is ek seker, het ons nou al vergeet. Jou vriende en kennisse word soos meel gesif en net die fynmeel sonder klonte eindig op in die baksel van jou lewe. Pioniers, miskien. Lafhartiges, is die mening van sommiges. Dromers, dalk, wat anders kon ons doen? Ons dra ons Afrikaanse taal en kultuur in 'n klein flessie ingelegde appelkose in 'n "canned fruit bottle" saam met ons. Ons kleinkinders gaan dalk net so min van ons taal verstaan soos wat oorle oumagrootjie, wat nog uit die Hollandse Bybel gelees het, nou deel is van onse eie lewe. Mens kan seker ook die vraag vra of die verstrooiing van al die duisende Jode oor die hele wêreld hulle hul taal en kultuur laat verloor het? Of het dit dalk die teenoorgestelde uitwerking gehad - om hul kultuur soos suurdeeg in bykans elke nasie in die wêreld in te werk tot dit deeglik ingesuur was...Russiese Jode, Poolse Jode, Aussie Jode, Amerkaanse Jode, Engelse Jode, Suid Afrikaanse Jode. Net so - so word ons nou deel van dieselfde bodemlose volk...die Afrikaanses: Britse Afrikaanses, Amerikaanse Afrikaanses, Aussie Afrikaanses, Kanadese Afrikaanses, Midde Oosterse Afrikaanses, Taiwanese Afrikaanses, Japannese Afrikaanses, en die storie gaan so aan. Want sien....ons is op ons beskeie manier besig om die suurdeeg van ons vriendelike gasvrye lief-vir-die-lewe hardwerkende Afrikaansspekende mense met hul oop harte in te knie in elke vlak van die Australiese samelewing.

Soos wat windsade vasklou aan hul stingel was ons eers, maar toe die wind van verandering sterk teen ons geblaas het, het ons losgeskeur van daai stingeltjie en in duisende windrigtings ingesweef - elkeen met die potensiaal om weet 'n stingeltjie met net soveel sade voort te bring.

Man....ek weet nie of al hierdie gefilisofeer verseker waar is nie, maar die parallel is wel daar. Elkeen vertel maar vir hom sy eie storie en maak homself wys dat dit wat hy doen reg is. Solank jy net gelukkig is met die omstandighede waar jy jou bevind as gevolg van jou eie keuses. Ek dink ons is nou reeds goed gevestig, die osse is uitgespan, die kamp is opgeslaan en die koffie is al klaar.

En so voltrek ek dan my ossewa storie vir vandag.






Thursday, May 22, 2008

CEBIT Australië

Siende dat ek nou mos in die IT sektor is wat rekenaar gebaseerde kaarte gebruik om die presiese posisie van alles van 'n kettingsaag tot 'n afleweringsvoertuig en 'n massiewe treintrok moet kan aandui op rekenaarsagteware, het ek gister vir die maatskappy waarvoor ek werk saam met NAVTEQ Australië 'n stalletjie (nogal ek wat 'n programmeerder en nie 'n verkoopsman is nie) beman vir 'n halwe dag by een van die grootste IT bedryfskoue ter wêreld, genaamd CEBIT. Dit is by Darling Hawe gehou. Julle kan gerus na die hoogtepunte van die skou op hul webtuiste gaan kyk. CEBIT is die Duitse afkorting vir : "Centre of Office and Information technology" Dit het onstaan in Hannover, Duitsland, en word nou ook op ander plekke in die wêreld aangebied. Om so 'n skou by te woon help mens nogal om jou vinger op die polsslag van 'n industrie te kan hou.

Ons maatskappy gebruik NAVTEQ kaarte in al ons sagteware omdat dit so akkuraat is. Hierdie ouens gaan RY werklikwaar elke liewe straat in die wêreld en stoor dan die presiese 3D GPS posisie in 'n rekenaar aanboord van hulle 4x4 voertuie. Gaan kyk na hulle video.
Daar was heelwat interessante aanbiedings en meeste van die sprekers se praatjies is aanlyn beskikbaar en daar is ook "podcasts" waarna julle kan luister.

Wat nogal interessant was van die skou, was dat Suid Afrika 'n stalletjie by die skou gehad het... Ek kon geen ander LANDE sien wat daar uitgestal het nie. Funny. Met die leuse: South Africa...land of opportunity.

Verder het ek lekker met 'n vrou van Peru gesels wat al 14 jaar hier in Sydney is asook 'n Fransman wat in Singapoer gestasioneer is en hier kom uitstal het. Ek het ook by die uitstalling van die Westelike Australiese SKA (Square Kilometre Array) Teleskoop 'n draai gaan maak. Dit word deur Oz se weergawe van die WNNR geloods - daar is ok 'n paar poste beskikbaar op hul webblad. Hulle tender om die grootste radioteleskoop in die wêreld te bou is in direkte opposisie met die KAT (Karoo Array Telescope) wat naby Carnarvon in die Karoo gebou word as konsepvoorstel vir die bod om die finale tender te kry. Die Australiese teleskoop gaan in Murchison so 680 km vanaf Perth gebou word. Blykbaar is die tenderdokumente so week gelede ingegee en nou wag hulle vir die uitslag...Australië of Suid Afrika...wie gaan dit wees?

Groete hier uit die verte

Sunday, May 04, 2008

Nog iets om na die pampoen-oes te betaal

Dit is weer tyd vir die keiser om aan my deur te klop vir die jaarlikse lisensiehernuwing. Dis nou amper 'n jaar nadat ek vir my 'n nuwe perd uit die stal gelei het en nou kom mens weer agter dat dit nie altyd betalend is om vir jou hier baie karre aan te skaf nie. Ek sien gereeld heel skaflike tweedenhandse motors wat hier te koop is vir enigiets van $600 to $3000. Maar voor mens dink jy kry 'n bargain moet mens besef dat dit hier nagenoeg $600 per jaar kos om jou kar op die pad te hou. Vir privaatgebruik kos my lisensiehernuwing $268 ($22.33 per maand), en tel nou daarby die VERPLIGTE DERDEPARTY versekering van $332 per jaar ($27.67 per maand) , dan is dit op die kop $600. Daarby kos dit sowat $80 vir motorversekering op jou kar per maand (ek is by Auto & General) en as jy jou kar so 2 keer per jaar laat diens teen sowat $200 per keer werk dit jou ook sowat $33.33 per maand uit. Tel nou alles bymekaar en die perd kos jou $163.33 per maand, en dan is petrol nog nie ingereken nie. Kom ons sê die brandstof kos so $60 per maand as jy so 300 km sou ry, dan is die totale koste sowat : $223 per maand om 'n kar op die pad te hou (en dis nou as jy NIKS op die kar skuld nie). Dit neem ook nie tolgelde in ag nie, wat sowat $40 per maand uitwerk as jy nie werk toe ry met jou kar nie)

Vergelyk dit nou met trein en bus. $25 per week vir treinkaartjie = $100 per maand
$6 per dag vir bus = $132 per maand
Totaal vir bus en trein = $232 per maand as jy bus en trein ry soos ek
(Onthou ek werk ook nie in die stad nie)

Die RTA (Roads and Traffic Authority) is hier direk gekoppel aan die versekeringsmaatskappy wat jou GREEN SLIP (of verpligte derdeparty versekering doen). Sonder hierdie GREEN SLIP mag jy nie op die paaie ry nie.

Hier is 'n voorbeeld:


Ons het dit sommer oor die internet by Allianz se website gedoen.

Daarna het ons die lisensieskyfie via BPAY oor die internet betaal met 'n verwysingsnommer, wat mens by myRTA kan kry deur die verwysingsnommer op jou registrasie brief in te tik. Die lisensieskyfie wat op die kar geplak word word sommer vir jou gepos (en kan in die onderstaande dokument se regterkanste boonste hoek gesien word). Jy mag dit egter eers op jou kar se venster plak NADAT jy eers die GREEN SLIP asook die onderstaande lisensiegelde betaal het. Jy hoef nie in te gaan na ENIGE lisensiekantore om jou lisensieskyfie te kry nie, behalwe natuurlik as jou motor vir 'n inspeksie moet gaan.

Toe ons by myRTA se website kom, nadat ons die Green Slip by Allianz betaal het met kredietkaart, toe het die RTA REEDS GEWEET dat ons klaar die GREEN SLIP hernu het!! Hulle is met mekaar gekoppel. Dus, binne 'n kwessie van 20 minute was ons kar se lisensie hernu. Darem wonderlik die tegnologie!

Nou ja...dis hoe dit werk hier in Oz.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings