Wednesday, February 14, 2007

Wonderlike nuus...

Ek het Maandag 12 Februarie wonderlike nuus gekry. Ek het 'n werk as 'n Senior C# Programeerder by die maatskappy in West Ryde in Sydney gekry waarvan ek vroeër geskryf het. Hulle het besluit hulle wil baie graag hê dat ek deel van hulle maatskappy moet word en verder het hulle besluit om deur die "temporary/457" visa proses te gaan om my te "sponsor". Dit beteken dat ons nie hoef te wag vir die 136 PR VISA om eers deur te kom nie!!! Ons kan solank op 'n tydelike VISA oorgaan. Dit is soos antwoord op gebed, want ek besef dit is BAIE moelik om 'n maatskappy te kry wat bereid is om dit te doen...gewoontlik is dit vir hulle net TE lank om te wag.

Hulle het reeds oor die telefoon vir my 'n tentatiewe aanbod gegee, maar ons is nog besig om te onderhandel oor die jaarlikse salarispakket. My grootste besorgdheid is dat ons dan vir eers vir die kinders se publieke skoolgelde sal moet betaal, maar dit is 'n kleinigheid.

Met God se hulp om te keer dat ons brose harte breek oor hierdie vreeslike besluit wat ons neem. Ek is net bly sal ons dus baie gouer ons droom kan bewaarheid...soms is ek sommer baie opgewonde, soms nogal skrikkerig. Ek hou egter moed en dink aan die woorde wat in die "Amplified Bible" in Gen 12:1 staan:
"NOW [in Haran] the Lord said to Abram, Go for yourself [for your own advantage] away from your country, from your relatives and your father's house, to the land that I will show you." ...en nou weet ek hoe hy gevoel het!! Vir 'n verandering kan ek 100% met iets vereenselwig.

Mens raak soms ongeduldig omdat dinge so lank neem om te realiseer, maar ek glo mens moet aanhou en aanhou probeer. Ek is bly ek kan te midde van die eentonige stadslewe ten minste een keer in my lewe die kans kry om met alles in my te droom en te hoop vir iets wat amper onmoontlik gelyk het aan die begin...en dit dan stadig maar seker 'n werklikheid sien word voor my oë. Ek beskou dit as 'n voorreg om hierdie groei deur te gaan as mens - dit rek my uit my gemaksone uit en ek kan nooit weer dieselfde wees nie.

Sydney....so dis waar ons heen gaan... Vandat ek in November begin korrespondeer het met die ouens daar by die maatskappy het ek baiemaal gesit en droom hoe ek daar werk, selfs die pad op Google Earth presies uitgewerk hoe ek werk toe gaan ry, plekke gesoek naby die treinstasie waar ons huise kan huur. Sien, die maatskappy is in West Ryde. Dit is baie nader aan die voorstede, wat vir my 'n groot bonus is. Daarby is dit net 400m van die West Ryde Stasie af en daar is gratis parkering.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings