Sunday, October 10, 2010

Die Groot Australiese Koraal rif: Aflewering 3 Korale, Skatte van die see

(Die skakel na hierdie blog inskrywing)

Ek hoop ons sal eendag weer die Groot "Barrier Reef" kan besoek (in Afrikaans sê mens seker: Walrif of skansrif of so iets).  Dit was 'n ongelooflike belewenis wat my altyd sal bybly.  Mens staan in verwondering dat sulke skoonheid, so ver die see in, weggesteek kan lê weg van die oog van die gelate besoeker.  Oral in die natuur is daar sulke plekke, wat "genadiglik" weggesteek lê van die "rusper leërs" van die mens.  Mens vind sulke plekke in grotte, diep ondergronds, baie hoog in die berge of weggebêre in die skatkamers van die see.  Pragtige plekke, met delikate en breekbare skoonheid.  Soms is dit plante, soms is dit eenvoudig klippe (net soos die Stalaktiete en stalagmiete in grotte wat so maklik verweer kan word slegs maar van die koolsuur in ons asems), en dan soms, soos in die geval van korale is dit lewende diertjies wat oor die uitsonderlike talent of gawe beskik om die kalsium minerale in die soutwater as Kalsium-karbonaat of Kalksteen vas te lê in pragtige klipstrukture oor duisende jare. Dit is effektief diere wat klippe kan maak.   Hul lewe se nalatenskap.


Iets wat mens van die natuur leer, is dat dinge van waarde, goeters met die mooiste en fynste strukture en kosbaarhede wat die verstand te bowe, altyd te paard gaan met baie geduld en/of tyd. Net soos die langdurige gedrup-drup in 'n donker grot, of die vorm van 'n pêrel in 'n skulp, die stadige skepping van 'n skulp deur 'n seeslak of die of selfs die formasie van 'n diamant in die hart van die aarde.  Soms gebeur dinge egter vinnig soos die spin van 'n sy-kokon of 'n spinnekop se web, die metamorfose van 'n ruspe in 'n skoenlapper .  Diere in die natuur wat hierdie beginsel goed kan toepas is Koraal-poliepe.  In Engels: "Coral Polyps".  Korale leef uit ons oogpunt in "stadige aksie".  Dit wat voor ons oë so stadig gebeur dat ons dit beswaarlik kan waarneem, is vir die koraaldiertjies normale spoed en alles gebeur stadig maar SEKER.  Korale verdedig hul eie grondgebied met besliste aksie en beplanning en groei letterlik vir hulle 'n plekkie in die son.

Maar wat is 'n koraal?  Van wat is dit familie?  Hoe leef dit?  Wat eet dit?  Hoe oud word dit en hoe groot word dit?  Wat maak dit en waar pas dit in?  Hierdie is alles vrae wat by mens opkom as jy hierdie vreemde lewensvorm beskou.

Om 'n koraal in die regte perspektief te plaas, moet mens besef dat dit deel is van die dier koninkryk (Animalia).  Dit is dus nie plante nie en mens kan dus nie na korale as 'n koraal tuin of "Coral garden" verwys nie, maar eerder 'n koraal kolonie.  Verder is dit in die Phylum/stam met die naam: Cnidaria.  Die naam Knidaria is afkomstig van die woord Cnidae wat 'n brandnetel sel of brand-sel beteken.  Dit staan ook bekend as 'n Nematosist of "lasso sel" (amper soos die "lasso" wat deur "Cowboys" gebruik word om die beeste te vang).  Alle lede van hierdie Knidaria hoofgroep of diereryk stam, besit derduisende nematosiste of cnidae wat hul tentakels oordek.  Hierdie brandselle bestaan uit baie lang opgevoude buisvormige pypies met baie skerp spiespunte met weerhakies wat deur aanraking en chemiese prikkeling ge-sneller word om uit te skiet in die liggame van hul prooi.  Die Knidarian pomp dan 'n gifstof deur hierdie pypies in die liggaam van die prooi in om dit te verlam en dit nader te trek.

Een van die bekendste lede van hierdie dier-stam of phylum wat julle dalk al mee in aanraking gekom het is die bloublasie.  In engels genoem die bluebottle of die Portuguese Man o'War.
Die bloublasie is egter 'n hele kolonie van verskillende gespesialiseerde diertjies wat elk op 'n verskillende manier gevorm is om saam die oorlewing van die hele kolonie te verseker.  Sommige vorm deel van die blasie wat gebruik word om te dryf, ander is deel van die tentakels wat onder die water dryf, wat gebruik word vir voeding en ander vorm deel van die' wat gespesialiseer is vir voorplanting.

Die hoofgroep Cnidaria word verder onderverdeel in klasse, maar al die diere in die onderskeie klass het steeds die kenmerkende brandnetel-selle:
  • Anthozoa:
      Waaronder ons die Koraal poliepe, die see anemone en see penne kry. Hierdie klas van Knidaria word onderskei van die volgende drie omdat hulle hoofsaaklik huis opsit ("settle down"). Koraal poliepe versprei deur sperms en eierselle in die lente vry te stel in die seewater.  Daar vind bevrugting plaas en die planula heg dan vas aan 'n geskikte substraat soos 'n rif of 'n wrak van 'n skip, waar dit volwasse word as 'n koraal poliep.  Daarna groei en vermeerder die poliep kolonie deur derduisende identiese klone van hulself te maak wat nogsteeds soos 'n siamese tweeling (maar in hierdie geval 'n derduisende) aanmekaar verbind bly as 'n groot koraal kolonie.   
  • Scyphozoa:
      Waaronder die gewone see jellies (of soos ons hulle ken as Jellievisse). Die woord "schyph" kom van 'n griekse woord wat drinkbeker beteken omdat hierdie jellie visse soos drink bakke gevorm word wat onderstebo swem.
  • Cubozoa:
      Die kubus agtige "box jellies" waarvan die bekendste lid van hierdie klas seker die uiters giftige boks-jellievis is.
  • Hydrozoa:
     
    Die bekendste van hierdie klas is seker die Hydra wat in varswater leef, maar in hierdie klas vind ons ook die bloublasie (in die sub klas Siphonophores).  Waar die Hydra as induviduele diertjies voorkom, is die bloublasie 'n kolonie van 'n groot hoeveelheid hydra agtige dietjies war saamwerk tot almal se voordeel.  
Die jellies en Hydroids het 'n lewens stadium wat as 'n medusa bekend staan waarin hulle deur die see versprei word deur die seestrome totdat hulle die volwasse stadium bereik en nader aan die land voorkom.  Dit is waarom mens so baie bloublasies langs die strande kry.  Die medusa wat soos 'n skyf met 4 tentakels lyk, stel dan gamete (onbevrugte selle) vry wat as larwes volwasse word om weer ander medusas vorm.

Die boks jellievisse kom op dieselfde manier in riviermondings in Noord Queensland voor en nie soos almal dalk sou dink op die koraalriwwe voor nie.

Maar die diertjies wat ek nou op wil konsentreer is korale, in die klas Anthozoa.  Die klas Anthozoa sluit ook die see anemone in (wat effektief uit 'n enkele poliep diertjie bestaan met talle tentakels wat oortrek is met nematosist brandselle) asook die see-penne, wat weer soos 'n outydse skryf-veer lyk met talle poliepe op die sweepvormige liggaam wat dit dan soos 'n veer laat lyk.  Korale en anemone kan amper beskryf word as jellievis familie wat, instede van om met die tentakels na onder gerig agter hul prooi aan te dryf deur die see, eerder besluit het om met die tentakels na bo op hul rug vasgeanker te lê en te wag dat hul prooi na hulle toe kom.  See anemone vorm nie koraal riwwe nie en sommige korale ook nie.  Hierdie korale word die sagte korale of Octocorals genoem, wat nooit kalksteen vorm nie, en altyd 8 tentakels het (vandaar die naam Octocorals) en dan kry mens die harde korale wat oor die vermoë beskik om selfs eilande te vorm oor baie jare.

Hier is 'n foto van die "Octocoral", met en sy poliepe met hul tentakels.

Hier is die koraal substraat waar 'n groot klomp poliepe afgeval of afgeët is.


Die kaal koraal sagte koraal voue bly agter.


'n Poliep kan beskryf word as 'n diertjie met 'n buisvormige liggaam wat uit drie lae selle bestaan, 'n uitwendige laag wat die buitewand vorm, 'n middellaag wat die mesoglea ('n jel-agtige vloeistof) bevat en 'n binnelaag wat gebruik word om die kos te verteer en te absorbeer.  Al die knidarians het eers as Coelenterata bekend gestaan omdat hulle almal 'n Coelenteron (hol liggaamsholte)  besit, maar die diertjies met en sonder die Cnida/brandselle is later in aparte stamme geplaas.  Aan die onderkant van die buisvormige liggame deel die poliepe gemeenskaplike liggaamselle waardeur voedingstowwe tussen mekaar versprei kan word en wat as 'n fondament of basis dien vir die koraal en ook waardeur die poliepe voedingstowwe tussen mekaar kan uitruil.  Aan die bopunte van die poliepe is daar altyd tentakels in veelvoude van ses of agt wat oortrek is met nematosist brandselle.  Die poliepe gebruik die Cnida of brandselle om hulle prooi met die gif te verlam en te vang en om dit dan met behulp van die tentakels in die mondopening aan die bokant van die poliepe in te trek en binne die liggaamsholte te verteer. Amper net soos wat 'n "cowboy" 'n bees "lasso" en dit nader trek. 

Korale bestaan uit duisende poliep kopieë wat deur 'n kloningsproses duplikate van hulself gemaak het om sodoende hele kolonies van hulself te groei. Dit staan in Engels as "budding" bekend.  Dit is 'n ongeslagtelike manier van voorplanting waar diertjies met identiese DNA gevorm word.  Geen vermenging van DNA vind op hierdie manier plaas nie en presies dieselfde goeie en swak eienskappe word voortgedra in die "kinders".  Die kleinste eenheid wat op sy eie in die see kan voortbestaan is die koraal poliep.  Wanneer 'n stuk koraal of selfs 'n enkele poliep afgebreek sou word deur die golwe, dan sou dit weer 'n nuwe koraal kolonie van daardie soort op die nuwe landingplek kon voortsit.  Mens sou dit amper kon beskryf as 'n soort diereryk-weergawe van die vegetatiewe voortplantingsproses wat by plante voorkom.

Korale versprei ook geslagtelik (die stuimeel en stempel weergawe van plante) deurdat hulle een keer 'n jaar 'n massa vrystelling van sperms en eierselle uitvoer.  Dit gebeur altyd in die nag, en word deur die watertemperatuur en die maan se fases beheer.  Die sperms neem sowat drie tot vier maande om te ontwikkel soos wat die watertemperatuur styg, terwyl eierselle sowat 22 maande neem.  Tydens die eerste ses dae na die eerste volmaan in Oktober, stel elke soort spesie van koraal al sy eierselle en spermselle (gamete) in die water vry. Hierdie proses staan as "spawning" bekend. Die geslagselle van verskillende lede van dieselfde spesie kan dan vermeng en verseker dat die DNA se eienskappe verbeter kan word.  Bevrugting vind in die water plaas en 'n bevrugte koraal eiersel vorm dan 'n planula wat deur seestrome honderde kilometers verder gevoer kan word om te verseker dat die diertjies nie in direkte kompetisie met hul nasate kom vir dieselfde beperkte hulpbronne en voedingstowwe nie. Verskillende spesies korale stel interessant genoeg hul gamete op verskille nagte vry om te voorkom dat tussen spesie vermenging kan plaasvind. Lees hier verder hieroor.

Korale leef hoofsaaklik van 2 hoof bronne van voedsel:
  • In die nag, wanneer die koraal poliepe met hul tentakels uit hul wegkruipplek te voorskyn kom om te voed, word die tentakels gebruik om Zoo-plankton (wat mikroskopies klein seediertjies is) te vang en in die mond van die poliep in te trek en te verteer.  Zoo-plankton wat diertjies is verskil van Phyto-plankton wat weer mikroskopies klein plantjies of alge is.  Korale is dus vleis etende diere of Karnivore en nie Herbivore wat plante eet nie.
  • In die dag wanneer die meeste korale binne in hul klip-agtige kalksteen vesting wegkruip, verkry die meeste klipkorale hul voedingstowwe van simbiotiese alge wat binne in die liggaamsholte en mesoglea slym van die poliepe voorkom.  Hierdie is die hoof rede waarom korale so meeding vir hul plekkie in die sonlig - en dit is omdat hulle gasheer speel vir die derduisende Zooxanthellae (uitgespreek as Zoo-zan-thellie).  Hierdie goudbruin alge plantjies wat ook aan meeste korale hul geel bruin kleur gee, gebruik die afvalstowwe van die koraaldiertjies wat hoofsaaklik koolsuurgas en water is om via die proses van fotosintese die koolstowwe en waterstowwe in die vorm van koolwaterstowwe te verbind soos glukose, met die addisionele byproduk van suurstof. Die korale leef dan in die dag van hierdie glukose en suurstof wat hulle as diere benodig vir oksidasie van die glukose om vir hulle lewens energie te verskaf.  Die korale sorg dus goed vir hierdie lewensnoodsaaklike alge en die alge geniet die beskerming en konstante lewens - habitat wat die korale se liggaamsholtes vir hulle bied.  Hierdie alge beskik ook oor die pigmente (soos chlorophyl in plante) wat benodig word vir fotosintese.  Korale kan slegs by sekere temperature leef.  Wanneer korale onder omgewings stres kom as gevolg van verhoogde temperature of oormatige blootstelling aan sonlig of verlaagde PH (te suur seewater a.g.v verhoogde CO2) , dan veroorsaak dit dat die korale hierdie zooxantellae alge in groot hoeveelhede uitforseer as slym.  Die verskynsel van koraal verbleiking ("coral bleaching") vind dan plaas en die korale kom dan op 'n afwaartse spiraal van agteruitgang omdat hulle nie meer oor die nodige konsentrasie van simbiotiese alge beskik om genoegsame voedsel te verskaf vir oorlewing nie.  Tot 90% van hermatipiese (klipvormende korale) se energie vereistes is afkomstig van hierdie alge.  Korale wat by dieper dieptes in die see voorkom waar daar minder lig is, is nie instaat om riwwe te vorm nie en leef hoofsaaklik van plankton.

Hierdie klein diertjies beroem hulleself op groot dinge deurdat hulle oor die unieke eienskap beskik om die kalsium karbonaat wat in die water opgelos is te absorbeer en as deel van 'n harde kalksteen ekso-skelet neer te lê as harde koraal riwwe. Hierdie koraal eksoskelet neerslae wat deur korale gevorm is, staan as korallite bekend.  (amper soos die kalsium karbonaat stalaktiete en stalagmiete). Elke koraal spesie vorm 'n unieke koraal neerslag en nalatenskap. Dit word gewoonlik bepaal deur die manier waarop die koraal vermeerder deur homself te kloon of te "bud" (seker die analogie van 'n blom wat bot?) As mens die meganisme verstaan waarop elke spesie koraal groei, dan kan mens verstaan hoekom die koraal lyk soos hy lyk.  As mens in die dag die korale besoek sien mens meestal net hierdie koralliete omdat die koraal poliepe met hul tentakels veilig in hul klip skuiling wegkruip, maar wanneer dit aand word, kom hulle uit hul wegkruipplek,  Sommige soorte korale is selfs instaat om onder ultra violet lig te fluoriseer, omdat hulle die onsigbare lig energie absorbeer en dan weer in die sigbare spektrum uitstraal.  Kyk gerus na voorbeelde van sulke pragtige korale  op google.

Kyk bietjie na hierdie foto van die koralliet in die dag. Die groen wat julle in die holtes van hierdie ster koraal kan sien is die vlesige koraal poliep se teruggetrekte ligaam en tentakels.


Soms, koekeloer van hierdie korale selfs in die dag so 'n bietjie na die buitewêreld, soos in die volgende foto.  Dis 'n wonderlike metamorfose van iets wat in die dag na 'n dooie stuk kalksteen lyk, na 'n vlesige bondel van tentakels met snelwerkende effektiewe en dodelike nematosist brandselle.



Die soort koraal wat seker die volopste is, is die vertakkende harde koraal ("branching hard coral") genaamd Acropora. Hierdie soort koraal vorm gewoonlik plate of bome van koraal soos die "Stag horn" koraal of die "table coral" omdat die poliepe of heeltemal los van mekaar uit die gemeenskaplike basis ontwikkel, of as vertakkings bo-op of langsaan die bestaande koraal poliepe.  In die volgende twee fotos wat ek geneem het kan julle die koraal poliepe sien as sulke halfmaanvormige "valletjies" bo op mekaar wat dan saam sulke horingkies vorm.  Die kenmerkende geelbruin kleur word veroorsaak deur die simbiotiese alge en dit is ter wille van hierdie alge wat die korale altyd probeer vertak of uitsprei om derhalwe soveel as moonlik sonlig blootstelling vir hul gaste te kan verkry. Want hoe meer die gaste kan fotosinteer, hoe meer van 'n "sugar fix" kan die korale kry op die geproduseerde glukose.

Soos wat die korale groei vul die alge die koraal poliepe.  In die onderstaande foto is die korale se punte nog wit, omdat die alge nog nie heeltemal versprei het na al die nuutste die jong poliepe nie en dit kom wit voor, want baie korale het nie hul eie pigmente nie en is sonder die alge deurskynend wit en kry hul kleur van die simbiotiese alge.



Soos wat die Acropora dus poog om soveel moontlike son blootstelling te kry, noop dit hulle om uitwaarts te groei om die oppervlakte wat sonlig kan kry te maksimeer en dit veroorsaak die plaat/tafel vormige koraal groei soos julle kan sien in die volgende paar van my fotos.

 

 

 

Net soos in "Survivor" probeer korale dus hulle kompetisie "Outwit, Outplay en Outlast" deur letterlik hulle to probeer "Out grow"!

Presies dieselfde familie harde Acropora koraal vorm ook die "Stag Horn" korale deur soos takbok horings die oppervlakte van die koraal die beste te benut.  Hierdie soort koraal groei tot 30 cm per jaar en kan ook versprei deurdat die see se golwe die vertakkings kan afbreek sodat die poliepe verder kan versprei en weer 'n nuwe koraal kolonie op die plek kan begin waar dit te lande kom.

 
Takbok horing korale soos hierdie kom ook in pragtige blou skakerings voor op die rif. (Hierdie is Acropora nobulus)

 

'n Ander soort koraal familie word heel verstaanbaar die Rots of "Boulder coral" genoem.  Dit staan bekend as die Porites korale wat groot en massiewe rotsvormige strukture vorm wat "rotse" van tot 10 meter in grootte kan vorm soos groot rotse lyk.  Hierdie korale groei teen 'n baie stadige tempo van sowat een to drie millimeters per jaar.  Deur hierdie groeitempo te ekstrapoleer en die grootte van die rots kolonies in ag te neem is bereken dat sulke koraal kolonies reeds honderde jare oud is.  Wanneer hierdie koraal poliepe ontwaak lyk hierdie "rots" letterlik soos 'n klip met 'n tossel kombersie soos julle in my foto by hierdie skakel kan sien.

 
Sommige "boulder coral" soos die volgende een wat ek afgeneem het is pragtige pers en blou kleure.  Die papegaai visse wat spesiaal aangepaste monddele het (gevorm soos 'n snawel) leef van die alge wat hulle met hul monddele van die koral afskraap.

 

 


In ander gevalle soos in die geval van brein koraal vorm hulle sulke doolhof patrone omdat die poliepe se liggaamsholtes en monde nooit regtig heeltemal van mekaar skei nie, maar soos 'n siamese tweeling verbind bly aan die kinder poliepe wat deur die kloningsproses van die ouer poliepe afgebot het.  Die resultaat is 'n pragtige unieke ondersese kunsskat wat tot twee meter in deursnee groot kan word.  Die menigte voue gebruik die oppervlakte van die koraal optimaal om soveel moontlik poliepe in te pas.

 
Hier onder is 'n vergrote weergawe van 'n deel van die foto.  As julle mooi kyk kan julle die verbindingslyn sien tussen die poliepe.

Wat 'n brein koraal verder uniek maak is die feit dat dit net soos die jaarringe van 'n boom afwisselende donkerder en ligter bande tussen aangrensende poliepe het wat as 'n ingeboude kalender dien vir hoe oud die koraal kolonie is.

 
Hier is nog 'n foto van 'n Platygra brein koraal met 'n geler kleur. Hierdie een het selfs wit strepies tussen die poliepe.

 

Hierdie is maar net 'n paar van die koraal skatte wat in die skatkamers van die see te vinde is, elkeen herproduseer homself foutloos, perfek geprogrammeer met die proses van kloning, lank voor die mens nog daarvan te hore gekom het.
  

  

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings