Friday, March 14, 2008

Jy bekyk jou wêreld nou uit ander oë en lewe jou lewe nou tot op die droesem van jou bottel

Dis moeilik om aan iemand anders te verduidelik wat in jou binnekant gebeur en hoe mens verander as jy eendag 'n nuwe skoon bladsy oorslaan en aan 'n nuwe hoofstuk van jou en jou gesin se lewe begin skryf. Die ink wat jy gebruik is daaglikse toewyding, vroeg opstaan, die sleur van roetine en geduld om al die nuwe hoekies en lyntjies van jou nuwe verhaal neer te pen. Jy dip jou pen in die pot van moed en jou bladsye vul jy met liefde en harde werk.

Maar hoe anders kan jy dan nou vir iemand anders laat weet hoe dit voel hier in die vreemde as jy nie probeer nie. Een ding is seker, 'n feit soos 'n koei: dit is dat jy nie meer dieselfde mens is wat jy was nie. Jou familie en vriende, waarvan jy jou sagkuns en onwillig moes losskeur, sal jou ook nie meer heeltemal as dieselfde mens herken nie. Bietjie vir bietjie, druppel vir druppel is mens besig om in 'n ander mens te verander. Om daarteen te skop sal jou net frustrasie meebring, en dus is dit beter om jou aan hierdie veranderingsproses oor te gee.

Die veranderings steek hul kop uit in klein alledaagse dingetjies soos hoe jy teen mense optree. Waar mens byvoorbeeld gewoond was om sommer met almal wat jy op 'n bus of trein teëkom te wil gesels of te groet en jy dit aanvanklik nie kan verstaan hoe die mense dit regkry om elke dag soos skepe in die nag by mekaar verby te kan loop of direk langs mekaar te kan sit op die trein sonder om enige kommunikasie uit te ruil, menslike interaksie te hê of selfs oogkontak te maak nie, begin jy nou stadig maar seker toegee aan 'n ongeskrewe reël om nie ander se persoonlike spasie te betree nie. Na meer as 9 maande luister jy jou iPod, lees die treinkoerantjie of staar by die venster uit. As daar 'n tannie voor jou van die trein afklim met 'n moerawiese reis-tas, help jy beleefd. Jy leer ook van geduldig wag dat 'n stroom mense eers van die trein moet afklim voor jy indruk en 'n plek gaan soek om te sit. Jy leer dat mense nie sommer 'n "president" skep en jouself "gentleman" hou om vir elke meisie op te staan op die trein of bus nie. Nee, lykmy hier sit mens en die staande mense neem outomaties die oopgaande sitplekke in. Vir 'n ouer mens staan jy wel op, maar dis asof die mense hier dit nie as 'n reg toeëien dat mens dit vir hulle moet doen nie - amper asof hulle dit hier belangriker beskou om mekaar as hul gelykes te behandel. Maar, enige daad van onverwagse opoffering word met groot waardering aanvaar. Dis amper....so asof die mense hier baie meer skugter en skaam is. Ek verstaan nou ook hoe publieke vervoer 'n gevoel van vereenselwiging met die lot van die man op die straat, die "common man" in 'n mens se lewe wakker maak. Voor 'n mens jouself kan kry, begin jy jouself sien as 'n "doodgewone Aussie". Reeds vergete is die tyd in 'n mens se lewe wat jy deel was van 'n "hoër" klas van die samelewing wat met duur "huurkoop" motors in die oggende en middae verby die rye en rye swart mense gery het wat vir hul taxis staan en wag. Hier is dit nie so nie. Ooglopend hoogsbetaalde professionele mense wat werk by banke en IT maatskappye, met ID tags, skootrekenaars met allerhande aandelegrafieke en uitgevat in snyerspakke staan ewe gemaklik in die middae tussen konstruksiewerkers in vuil stowwerige klere en wag vir die trein of die bus. Skoolkinders wemel by die stasie, gesels luidrugtig. Selfs mense wat normaalweg uitgeskuif word na die rant van die samelewing, gestremdes, gebreklikes, vele down sindroom mense ry gereeld saam met my bus oppad na hul werke om iewers hul plekkie in die son vol te staan. 'n Mens se oë verander. Jy hou sommer gougou op om mense "op te som". Jy sien almal as gelyk... Tog vreemd, want hier in Sydney, waar huispryse ongelooflik duur is bestaan daar verseker 'n baie groot gaping tussen die' wat 'n huis kan bekostig en die' wat maar net daarvan kan droom.

Gister toe ons met die hond gaan stap kom ons 'n baie vriendelike vrou en haar ma teë in die park saam met haar seuntjie wat nuuskierig ons hond wil streel. Hier kan immigrante mekaar op 'n afstand eien. Almal van ons het boekdele in gemeen. Jy herken daardie warm, verwelkomende uitreik. Die gemeenskaplike heimwee ervaring, die verlange na familie wat jy wil vul met 'n hart wat altyd tog te gewillig is om nuwe mense te leer ken. Sy vra ewe vriendelik van waar is ons. Hulle is van Iran af. Sou dit nooit kon sê nie. Kon net sowel 'n Griekse of Turkse vrou gewees het. En ons ken mense uit elkeen van daardie kategorieë. Ons is van Suid Afrika. Ons gesels sommer gougou oor allerhande gemeenskaplike ervarings. Ons stem saam dat hier in Sydney sommer baie verskillende kulture saam is. Soms voel dit regtig asof "standaard" Aussies besig is om in die minderheid te word hier, want oral waar jy kom ontmoet mens net mense van ander nasies. Iets dring ongelooflik helder tot mens deur...hoe dieselfde ons is.

My blik op die lewe was gans te versper. Ek het voorheen "OORSEE" gesien as 'n totaal onbekende wêreld waar mense van gans verskillende en uiteenlopende nasies woel en dit tog nooit sou kon regkry om in vrede saam te leef nie. Ek het myself gesien as 'n Afrikaner, as deel van 'n klein groepie Afrikaanse mense....nou sien ek myself net as 'n mens, maar wel een wat ook Afrikaans kan praat. Voorheen was ek 'n inwoner van Suid Afrika, nou is ek 'n inwoner van 'n groter plek...die aarde. Mens se blik op die wêreld verbreed. Wanneer jy vasgevang voel in omstandighede buite jou beheer en jou ou wêreldjie so klein word dat dit later net uit 4 mure bestaan, vergeet mens nogal dat jy steeds 'n keuse het oor jou eie toekoms. Wel...jy het. Dit is nie dat jy nie 'n keuse het nie....die vraag is, is jy bereid om met die gevolge van jou keuses saam te leef? Die goeie en minder goeie implikasies van die keuse. Keuses het nie altyd net aangename uitkomstes nie - mens pluk per slot van sake nie rose sonder dat 'n paar dorings jou hier en daar haak nie. Een so 'n doring is die hoë lewenskoste hier in Sydney, asook die bykans onbekostigbaarheid van huise. Kos is duur, behuising is duur, en mens leer om vrede te maak daarmee. Mens werk hard hier. Aussies is alles behalwe lui. Jy sal moet uithaal om by te kan hou, want hulle ken van hard werk. En hier is mens natuurlik maar net nog een van BAIE hoopvolle aankomelinge. Ek werk byvoorbeeld saam met 'n Chinees. Sy naam is Bing Wong. 'n Skaam ou, baie vriendelik, hardwerkend. Met 'n baie gebroke engels, maar met 'n hele paar jare meer programmerings ondervinding as ek en met 'n baie skerp verstand. Jy hoef iets net so effens te verduidelik en hy verstaan wat hy bedoel. Hy is nou al 3 jaar hier en sy vrou het een en 'n halwe jaar voor hom na Oz toe gekom om werk te kom soek. Hy het behalwe sy gesin ook nie ander familie hier nie. Dus deel ons 'n gemeenskaplike ervaring in daardie opsig.

Teen so 10 maande hier, en weg van die persoon wie ek was, begin baie van die dinge wat ek uit Afrika onthou soos deur troebel water te vervaag in my geheue. Lank vergete is die vrees en onveiligheid wat ek ervaar het. Ek kan eerlikwaar sê ek slaap hier soos 'n baba - word bitter min wakker in die nag. Mens kyk nie meer oor jou skouer nie, jy voel veilig, al moet jy ook in pikdonkerte stap om jou asblikke uit te vat. Hier geniet jy net die aandluggie, die geluid van die voëls en die gesuis van die wind. Die pyn van verlange word minder - dink ek - omdat jy al hoe meer van jou ou lewe begin vergeet. Soms is dit soos om terug te dink aan karakters in 'n fliek wat jy gesien het - wat was nou weer daai persoon se naam? Stadig maar seker, net soos mens jou klasmaats op skool vergeet begin mense se name en gesigte in jou kop "opgemix" raak. Ons het nou seker al die dinge wat ons in Suid Afrika gehad het en 'n paar ander : 'n kredietkaart, water & ligte, telefone, selfone, mediese fonds kaarte, aktiwiteite by die kerk, skool, werk, kinders wat swemlesse neem, balletklasse vir Popsie en oplaai en aflaai van Seuna by sy maatjies. Ek het al selfs hierdie week my eerste verhoging gekry van 11.1 %. My vrou het een en 'n halwe dag per week begin werk by 'n dokterspreekkamer en die kinders ry nou selfs sommige dae self met die bus skool toe (sluit die huis en loop alleen busstop toe - en hulle is nou so 7 en 9 jaar oud). Sondag gaan ek en my seun na 'n Pa en seun dag by die brandweer. My vrou het reeds lankal haar gunsteling Aussie sepie: "Home & Away" en ek verkies weer Border Security. Ons het 'n hond wat al deel is van ons gesin en reeds laankal ge-"house train" is. Ons het 'n Posbus by die poskantoor en 'n Biblioteekkaart. Ek ken nou al die plekke van die verskillende kruideniersware by die Woolies en het reeds my gereëlde "Newsagent" waar ek my Prepaid selfoon lugtyd koop, by die haarkapster gesels ons alreeds dik stukke en by my werk lag ek al ewe lekker saam met die manne se sêgoed en deel ook my eie. Ek is al 'n hele rukkie nie meer die "foreigner" nie, want daar is alreeds nuwe ouens (een van China en een van Brazilië) wat daardie posisie vol. Ek moet nou weer die ander leer hoe ons produkte werk en hulle kom vra selfs vir my as hulle hulp nodig het. Ek is nou al regtig gewoond aan hoe dinge hier werk. As ek nou aan 'n TV advertensie dink, kan ek alreeds nie meer onthou of ek dit nog in Suid Afrika gesien het, en of dit 'n Aussie TV advertensie is nie. ...ek hoef selfs nie meer te sê waarheen ek oppad is as ek op die bus klim nie, want die ouens ken my al.

Die volgende liedjie wat in 1972 deur Johnny Nash geskryf is beskryf nogal hoe mens voel:

I can see clearly now the rain has gone
I can see all obstacles in my way
Gone are the dark clouds that had me blind
It's going to be a bright, bright sunshiny day

I think I can make it now the pain has gone
And all of the bad feelings have disappeared
Here is the rainbow I've been praying for
It's gonna be a bright, bright sunshiny day

Look all around there's nothing but blue skies
Look straight ahead nothing but blue skies

I think I can make it now the pain has gone
And all of the bad feelings have disappeared
I can see clearly now the rain has gone
It's gonna be a bright, bright
Sunshiny day


...moenie na Oz toe kom en dink jy gaan nie verander nie. As jy hier is, is jy deel van 'n heel ander land se waardes, se ekonomie, se ongeskrewe reëls en manier van dinge doen, se manier van praat en se manier van dink.

Dit voel vir my nou al glad nie meer vreemd om die busbestuurder te groet met "G'day mate" en "Thanx mate" nie. So af en toe is dit selfs "No worries"...

'n Mens se verstand raak meer OOP vir ander mense en ons verskille, maar soos wat jou oë oopgaan sien jy ons is almal maar dieselfde. Dit mag miskien kras klink...maar Oz laat my weer my geloof in mense herwin.

Dis verbasend hoeveel meer jy jou gesin waardeer. Hier is mens se gesondheid vir jou goud werd, want jy besef dat dit net jou "elke-dag-se-opstaan-en-gaan-werk" wat hierdie lewe moontlik maak. En sonder gesondheid is dit onmoontlik. Daarby het ek nou al oor die afgelope 10 maande (teen 2 km per dag) al 600 km per voet afgelê...van die huis na die busstop, van die bus na die trein, van die trein na die werk. Dan waardeer mens ook kniee wat gesond is om trappe te kan klim, oë om te kan programmeer en hande om te kan werk. 'n Programmeerder tik gemiddeld so 'n miljoen sleutels in 'n jaar - glo my maar (het dit al self gemeet). Ons gesin en vriende geniet die vryheid om te kan gaan stap in woude, klowe en langs riviere ook baie en gryp elke geleentheid aan om 'n kuiertjie en 'n "outing" in te kry.

Op 'n heel ander noot...ons het vannaand bietjie by "The Outback Steakhouse" gaan uit-eet en gekuier. Die kos was uitstaande lekker. Hier is die rekening vir 'n familie van 2 volwassenes en 2 kinders:

Mens moet jou nuwe lewe LEEF, die bottels leeg drink en nie bietjies bietjie Suid Afrika oesjaar 2006 laat oorstaan in jou bottels nie.

1 comment:

  1. Haai jong, ek bewonder al lankal jou skryfstyl en en hierdie aflewering is baie spesiaal. Ek word so terugevoer na ons eerste jaar hier, en "voel" dit weer.
    Welgedaan aan julle familietjie. Julle verdien hierdie rus en vrede.
    Baie geluk en hou aan skryf. Ek is n "fan"!

    Groete van Barbara (aka Queensland Girl)

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings