Sunday, July 29, 2007

Ek hou daarvan hier...dit laat my terugdink aan die ou dae

Vergun my tog maar die plesiertjie om hier in my ou hoekie van die kuberkosmos my hart op die skerm vas te pen. Alles wat ek sê is maar net hoe ek die lewe ervaar...my eie beskeie subjektiewe ervaring van alles. Dit verskil waarskynlik van joune. Maar 'n mens se geluk is jou eie verantwoordelikheid...jy kan nie verwag van ander om jou gelukkig te maak nie. Jy maak die keuses...soms moeilike keuses met verreikende gevolge.

Maar wat Australië betref het ons die regte besluit gemaak. Soos wat die dae aanstap raak ons net meer en meer verknog aan die lewe hier. Die mense hier is "nice"! Die plek herinner my soooo baie aan die ou dae. Die persoonlike vryheid wat mens hier ervaar is heerlik. Kyk, ek weet daar bestaan nie 'n Utopia op aarde nie...maar om sonder vrees te gaan BYKANS net waar jy wil is baie lekker. Ons is besig om weer MENS te word hier. Jy weet eers hoe kosbaar iets is as jy dit nie meer het nie, en om dit dan weer terug te kry is soos om 'n tweede kans in die lewe te kry.

Onthou julle nog vir Sias Reynecke en Gert van Tonder se liedjie: Die lewe is mooi

Die lirieke is:

Die lewe is mooi
Het jy self al gekyk
Na elke faset en na dit wat jy het
Ja die lewe is mooi

Die lewe is mooi
En wat jy daaruit neem
Wat jy soek sal jy vind
Wat jy vra sal jy kry
Ja die lewe is mooi


En waar jy ook al gaan
Lê geluk op jou pad
Steek jou hand uit en vat
Wat die lewe jou gee

Die lewe is mooi
Die lewe het hoop
En hoop bring geloof
En geloof bring sukses
Ja die lewe is mooi

Die lewe is mooi
Laat jou oë daarna kyk
En volg dan die pad wat loop deur jou hart
Ja die lewe is mooi

En waar jy ook al gaan
Lê geluk op jou pad
Steek jou hand uit en vat
Wat die lewe jou gee

Kyk net om jou dan sien jy die skone natuur
Vir die diere en plante word daar altyd voorsien

Die lewe is mooi
Het jy self al gekyk
Kyk na elke faset en na dit wat jy het
Ja die lewe is mooi

En waar jy ook al gaan
Lê geluk op jou pad
Steek jou hand uit en vat
Wat die lewe jou gee

Luister maar en dink terug aan daai dae van onskuld...







Kyk, ek besef baie van hierdie "vryheid" wat ons nou beleef is natuurlik te danke aan die oormaat reëls en regulasies wat hulle hier in Aussie land het... Maar ek kan saamleef met AL hierdie reëls. Ek hou van reëls...dit beskerm die goeie mense! Dit maak dit moeiliker vir die "gespuis" om te floreer...

...

Op 'n ander noot...ek sit nou hier lekker voor ons gasverwarmer en pen 'n paar gedagtes neer na die naweek se besige kuierprogram. Boeta, en het ons gekuier en die naweek geniet! Die spreekwoord lui mos: "'n Vriend wat naby is is beter as familie wat vêr is." En glo my...ons familie is nou hartbrekens vêr. Nou vorm ons maar 'n nuwe "clan" hier waar ons is en ons kuier slapende honde uit 'n bos uit.

Ons raak nou goed ingeburger hier...so goed dat ons nou reeds uit "vacation" mode is en gewoond begin raak aan ons nuwe werklikhede. Een daarvan is om 'n nuwe vriendekring op te bou en ook om by nuwe buitemuurse aktiwiteite te begin inskakel. As mens mos op spoed is dink jy nie aan daardie normale dinge soos sport wat jou liggaam kan voed nie. As jy weer na 'n laer rat oorskakel, begin jy weer om die landskap rondom jou raak te sien. Naweke is dus onaantasbaar en gekonsekreer aan my familie. Ons doen weer dinge saam, soos om Saterdag oggende met 'n bal en die fietse na die park op die hoek toe te stap. Oral hier in die Hills is parke, en mense gebruik dit. Die een naby ons is Saterdae vol kinders wat teen mekaar sokker speel. Die ouers staan en gesels langs die veld en die kinders oefen. Daar word orals balle rondgeskop en daar heers 'n uitbundige atmosfeer. Ons kinders geniet dit BAIE, want hulle is nie gewoond hieraan nie. Daar is klimrame en swaaie en so tussen die sokker oefeninge deur maak die kinders so 'n paar draaie op die swaaie. Mens kan sien die Aussies is baie betrokke by hul kinders. Ons seun wat in Suid Afrika soms in die aande gesukkel het om te slaap en 'n baie vreesagtige seuntjie was, is hier 'n katjie van die baan. Hy ry tot na sononder nog met sy fiets voor ons huis rond. Ons het weer vir albei van hulle fietse hier gekoop. My dogtertjie gebruik weer vir 'n rukkie haar "training wheels", maar sy kry ook al hoe meer selfvertroue.

Na die parkie is ons toe terug huistoe omdat ons bietjie by die Hills Sport Stadium wou gaan inloer om uit te vis watter buitemuurse aktiwiteite daar vir ons en ons kinders is noudat die somer so stadig maar seker sy kop wil begin uitsteek. Die hele kompleks is geleë in 'n tipe van 'n woud waar daar oral klein oefenpaadjies is waar die mense kan gaan stap vir fiksheid. Die Fred Caterson Recreation Reserve huisves 'n hele klomp sokker/voetbal velde, 'n bofbalbaan, 'n BMX resies baan, radio beheerde karretjie baan, tennisbane, en binnemuurse basketbal bane. Op 'n Saterdag wemel die plek van mense...want dit is iets wat ek agtergekom het: Die Aussies is buitelug mense NET SOOS ONS. Oral sien jy mense aan allerlei sporte deelneem of kyk hoe hul kinders dit doen. Mense draf of stap langs die straat of in die paadjies.

Ons was natuurlik daar omdat ons wou gaan uitvind oor basketbal en my seun het sommer dadelik gesê: dit is wat hy wil doen. Nou ja, hy is nou ingeskryf vir die kwartaal en Saterdag gaan ek saam met hom. Hierso moet 'n mens by aktiwiteite inskakel as mens regtig wil deel word en vriende maak. Hulle het ook Dinsdae en Donderdag aande basketbal vir volwassenes en die Hills Hornets basketbalspanne oefen ook daar.

Hier in Sydney is daar BAIE van ons volksgenote, want oral waar ons gaan is daar Afrikaanse mense. In die skole, kerke, sport stadiums, werke en winkels... As jy in 'n winkelsentrum loop lyk ons maar presies soos die Aussies, en hulle soos ons...mens wil amper met hul Afrikaans begin praat, want hul manier van optree en die dinge wat hulle in belang stel stem so baie ooreen. Maar glo nou vir my...die oomblik as jy jou mond oopmaak en jy die Engelse taal begin praat (hoe vlot ook al)...dan is jou Suid Afrikaanse aksent 'n "dead givaway". En hulle weet ook meestal dadelik vanwaar jy kom...met: "Oh, you are from South Africa!" En ek is trots daarop...ek wil graag die mooi van my kultuur hier tot my nuwe land se voordeel kom inspan. Sommer Saterdag weer snuffel 'n mede Afrikaner ons so tussen die mense uit toe sy hoor ons praat die mooi taal Afrikaans. Hulle is ook al 10 jaar hier en hul kinders is nou al amper deur die Australiese skoolloopbaan.

Saterdagaand was weer tyd vir 'n lekker biefstuk op die gasbraaier..ons raak dit nou gewoond: met die regte speserye ("Steak en Tjops" natuurlik) proe dit maar presies soos ons gewoond is daaraan. Saam met lekker mengelslaai en 'n lekker koffie na ete sit ons so en kuier tot laat die aand.

Vandag (Sondag) het ons weer in die park gaan hamburgers braai op die Tiekie-braai soos ek dit noem. Want sien: dit werk soos 'n tiekiebox telefoon, maar jy braai jou vleis daarop nadat jy 'n $1 ingegooi het. Ons het lekker saam met ons nuwe Aussie vriende daar bymekaar gekom: hier kuier die mense mos hoofsaaklik in die parke en die kinders geniet hulself gate uit. My bene en arms is vannaand omtrent seer, want met 'n span van 9 kinders en 3 pa's tussen ons 3 families het ons die hele dag basketbal, sokker en touch rugby gespeel. Heelparty ander Aussie families het ook daar kom kuier en braai en die kinders speel sommer almal saam op die klimrame en klein en groot kinders (en pa's) speel deurmekaar op die grasperke. Daar is ook fietsry paadjies sodat die kinders al in die rondte kan ry. Ek dink ek het nog laas op Universiteit saam met vriende gaan basketbal speel. Ek moet sê: Ek het met tye kinderlik gelukkig gevoel en gedink: Wat 'n voorreg om die dag so saam met jou familie deur te bring...het amper weer soos 'n kind gevoel - as dit nie was vir my stywe spiere nie. Kan nie onthou wanner laas ek so gelag het nie!

Maar...more is dit weer terug werk toe: die roetine is maar dieselfde as in Suid Afrika - werk toe huis toe - met een verskil : ek waardeer elke dag nou baie meer, want ek weet watter voorreg alles is.

3 comments:

  1. Sjoe mater, dit klink stunning!

    ReplyDelete
  2. Julle het die regte besluit geneem en ek is baie bly vir julle onthalwe. Mens het net een toekoms!

    ReplyDelete
  3. Julle het die regte besluit geneem en ek is baie bly vir julle onthalwe. Mens het immers net een toekoms!

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings