Sunday, July 22, 2007

'n Mens kan mos nie van brood alleen lewe nie

Een ding wat mens nooit uit die oog moet verloor as jy (vir jou liggaamlike veiligheid, beter toekoms en beter werksgeleenthede) die lang pad vat en oorsee kom bly nie:

jy is nie net 'n liggaam nie: jy is 'n lewende siel met behoefte daaraan om êrens te behoort...en om jou geestelike innerlike met die hemelse spyse gevul te kan kry. 'n Mens het 'n familie nodig waar jy kan voel jy behoort. 'n Plek van rus waar jy maar jouself kan wees en die mense om jou die vryheid te kan gee om ook hulself te kan wees. 'n Plek waar jy (ten minste amper) verstaan word en waar die' waarmee jy jou omring jou die vryheid gee om soms "Op dae" en soms "Af dae" te beleef...en natuurlik waar jy ook nie verwag dat hulle perfek moet wees nie.

Hierdie "familie" begin natuurlik by jou eie gesin (die' wat die vreemde wêreld saam met jou aangedurf het), maar dan is daar ook daardie spesiale mense wat mens as ware vriende beskou, wat met die tyd soos toffieappels aan jou hart se trui kom vasplak het en jou lewe (alhoewel soms bietjie morsig) nou met die lewensplesiere van kuiers en geselsies kom vul. Hulle gee jou die geleentheid om jou opgehoopte woorde te kan praat en dien as 'n maatstaf wat jou help om te weet of jy nog "sane" is as sekere dinge jou in jou lewe opdraande gee.

Maar mens kort MEER as net 'n vriendekring...jy kort 'n geestelike familie. Mense wat saam met jou kan glo en vir jou al die bewyse kan gee dat God mense oral op aarde nogsteeds liefhet ten spyte van hoe ver jou wedervaringe jou ook al neem. Dit beteken dat mens natuurlik uit jou gemaksone moet klim en bietjie inisiatief van jou kan af moet neem om êrens in te skakel by 'n Christelike gemeente van feilbare mense...mense soos jy. Want iemand het eenmaal gesê:"As jy 'n perfekte kerk vind...moet nie deel word daarvan nie, want dan is dit nie meer perfek nie!"

Dit is wat ons vandag gedoen het...ons het die eerste tree van ons kant af gegee en in Dural na die Dural Baptist Church se oggenddiens om 9h30 gegaan. Hulle hou kerk in 'n sportsentrum met gas verwarmers wat oraloor staan. As jy al ooit by Lewende Woord Brummeria (toe dit nog in 'n tent was) of Lewende Woord Centurion, of selfs Doxa Deo Centurion was, dan sal jy sommer gou tuis voel daar. As ek na so 'n kortstondige besoek moet opsom sou ek sê dit stem so 80% ooreen daarmee. Die lofprysing en aanbidding is bykans presies dieselfde (met baie van dieselfde liedere) en die mense het ons dadelik laat welkom voel. As mens net altyd dit ingedagte hou dat die prediker ook maar net 'n mens soos jy is en nie meer van hul verwag as wat van jouself kan verwag nie, dan sal mens nie meerderwaardig van plek tot plek dobber omdat hulle nie aan jou standaarde voldoen nie. Dit gaan ook nie oor wat mens kan kry nie, maar oor wat jy kan gee...en dan word jy self so langs die pad versadig...amper soos 'n kelner wat self aan al die kos wat hy aangee kan proe. So...spoedig het ons dalk hier weer 'n nuwe geestelike tuiste...want 'n mens se hart word maar bitter bitter droog vir geestelike voedsel as mens wegtrek oorsee. 'n Mens maak mos nie nuwe vriende of skakel nie in as jy weet jy gaan hulle een van die dae nooit weer sien nie. Maar een ding kan ek sê: die Australiese mense hier is baie baie vriendelik.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings