Tuesday, June 26, 2007

Die oorplanting is steeds aan die gang

Julle het seker al begin wonder wat het van ons geword. Waarom die radio stilte? Waarom niks nuwe sêgoed? Wel, om 'n swaar stoomlokomotoef weer aan die gang te kry op 'n ander spoor en in 'n ander rigting is nie kinderspeletjies nie. Ons lewenspotplant was netjies met afgebreekte wortels en al in plastiek toegedraai sodat die grond vog kon behou en ons het dit nou reeds 'n maand in die nuwe grond. Haarwortels moet nog vorm, maar ons het darem al 'n paar sywortels in die grond geanker.

Ons kon nog nie aansoek doen vir Medicare nie want ons wag nog vir 'n brief van die immigrasie departement wat aandui wie almal ingesluit is op ons 136 VISA aansoek. So intussen het ons solank 'n privaat mediese fonds gekry wat spesifiek gerig is op mense wat op die tydelike 457 VISA in Australë is. Dit is die IMAN Australian Health Insurance Cover. Ons het die 120 opsie gekies en dit kos sowat $153 per maand vir 'n familie. Die plan stem baie ooreen met die Discovery Core plan in Suid Afrika. (maar ek praat onder korreksie).

Wel, sover gaan dit baie goed by my werk. Ek voel sommer al weer gemaklik in die saal. Ons werk nou aan 'n groot tender en dis baie opwindend. Ek geniet die stresvrye vervoer met die trein en bus. Iets wat my verbaas is die pligsgetrouheid van die mense wat die verkeer by die kruisings reël (noem hulle maar die padpatrollie). In gietende reën en onplesierige wind, in ysige koue tot laat in die aand staan hulle by die stasie en reël die verkeer. In hulle oranje mondering skrik hulle nie vir koue pampoene nie. Ek is beindruk.

Hier in Oz het ek nog nie by 'n gym aangesluit nie. Ek kry my daaglikse oefening deur vanaf die stasie werk toe stap en in die middae weer terug stasie toe verby 'n verskeidenheid winkeltjies. Daar is talle bakkerye, 'n groentewinkel, 'n klein hardeware winkel, 'n moewiese groot internet kafee, 'n dag-spa waar hulle mens se voete kan masseer, 'n "pub", 'n groot biblioteek, oogkundiges, 'n scuba winkel, 'n bergklim winkel, 'n "news agency" (byna soos CNA), Chinese kafees, Japanese kafees, 'n "adult" shop, 'n gym en gesondheidsklub, 'n droogskoonmakery, "'n Flight Centre", 'n hele paar banke, en dan ook heelwat eetplekke. Een in besonder wat ek kan aanbeveel is "The Anatolian". Wat 'n lekker eetplek. Hulle kos is uit die boonste rakke en die kos word verseker met liefde voorberei. 'n Grieks/Turkse vrou en haar dogter bedryf die plek en hulle laat mens sommer baie tuis voel. Ek het my voorgeneem dat ek ten minste een middagete per week by daardie plekkie gaan inloer. Amper soos in "Cheers" vanmelewe se dae op TV.

Die son sak nogal vroeg hier in Sydney op die oomblik. Ek het vannaand lank na donker by die huis aangekom. So teen 16h00 is dit al skemer. Met Laurika Rauch op my iPod Nano (sterk aan te beveel om treinritte interessant te maak), wonder mens tog nog of die prys vir vryheid nie te hoog is nie. Mens laat so baie agter. Maar in dieselfde gedagtegang kom jy tot die slotsom dat dit alles op die ou end die moeite werd sal wees. Die tyd sal leer. Dis nou maar 'n maand in ons nuwe land...en dit voel vir my alreeds moeilik om te glo dat ons, nie lank gelede nog nie, infrarooi beams moes deaktiveer as ons net na die sitkamer toe wou stap in die nag. Wat 'n mens met angs in jou bed gelê en wag het vir die soveelste SWERNOOT om weer oor die 7 voet mure te spring so 02h00 in die oggend...

Ons trek komende naweek in ons ongemeubileerde behuising in....en, wel, die "container" gaan dan nog ten minste 2 weke by doane wees. So ons gaan bietjie uitkamp. Kan nie eens Weg lees nie, want al daardie tydskrifte is ook nog op die "container" (omtrent 20 of meer). Ons het ten minste darem al 'n Yskas, 'n tuimeldroër, 'n gasverwarmer (beslis 'n goeie kopie, want die ding werk soos 'n bom...oftewel 'n kaggel). Daar is 'n ingeboude mikrogolf, skottelgoedwasser, gasstoof en gas-oond. So ek dink ons is uitgesorteer. Laas naweek het ek 'n lessenaar, stoel en laaikassie aanmekaargesit wat ons als vir onder $400 by iKEA gekoop het. Die winkel is GROOT...amper soos 'n Marko++gekruis met 'n builders warehouse en 'n Mr. Price Home, maar net vir huisware. Jy kan spotgoedkoop splinternuwe Sweedse meubels vir jou huis koop en dit dan self aanmekaar sit. Ons was die naweek by die Rhodes winkelsentrum (net oor die Parramatta rivier). Ek beveel dit sterk aan vir mense wat meubels hier koop. Jy sal waarskynlik nie kwaliteit huis ware elders goedkoper kry nie. Hulle het 'n moerawiese pakhuis....jy kies jou meubels in hul vertoonlokale uit, skryf die ry en rak nommer neer en gaan laai dit dan self op. Tuis sit mens dit self aanmekaar...amper soos om 'n 3D puzzle te koop...al verskil - jy kan dan op die puzzle sit, lê of goed daarin bêre.

Ons het nou ook vir ons 'n permanente posbus gekry in Cherrybrook...want byna alle korrespondense word mos hier per brief gedoen...ernstig, ek het selfs al 'n R52000 ($9000) tjek deur die pos gestuur - en dit het veilig by die bestemming aangekom!!!

Die weer is maar reënerig en koud hier...nie juis die beste seisoen om hier aan te kom vir pasgebore Aussies nie.

Ons is ook alreeds besig om ons eie voor- en afkeure te kry wat die TV stasies in Australië betref. Om te begin het ons Foxtel satelliet TV by die tydelike gemeubileerde verblyf, maar ek kan eerlikwaar sê: op satelliet is dit dieselfde ou storie hier...hoe meer kanale...hoe swakker kwaliteit programme. Alhoewel die 2 of so movie kanale darem so af en toe 'n goeie fliek het, maar ons kyk dit nie juis nie. Daar is selfs 'n hele kanaal vir "Friends". Die gratis TV kanale (soos Channel 7,9,10, ABC en SBS) het egter na my mening baie beter programme op. Hier is bekendes soos CSI, NCIS, Crossing Jordan, Gilmore Girls, maar ook welkome nuwelinge soos McLeod's Daughters. Sandag aande kan mens die nuwe SURVIVOR FUJI kyk en ook die nuwe realiteitsreeks op Dinsdagaande deur Mark Burnett wat Pirate Master genoem word.

Dan het ons ook op 'n baie nice christelike radiostasie afgekom wat baie soos Radio Rippel is omdat dit nie NET christelike musiek speel nie, maar gewone mooi musiek ook. Dit word "The Heart Of Sydney" genoem en julle kan dit kry by: FM103.2
Julle kan lewendig oor die internet ook daarna luister.

Die Ozzie verkenner...Swerwer

Tuesday, June 19, 2007

Om werk te soek voor jy jou VISA het, of om eerder te wag vir die Permanent Residence VISA

Ek plaas hierdie post (wat ek reeds op 28 Februarie 2007 by 'n ander plek geplaas het) weer hier op my eie blog, sodat dit maklik bereikbaar is:

Wat is die beste?, Soek eers werk of doen eers die papierwerk en kry eers die permanente VISA.

Die vraag is seker eerder: Hoe desperaat is julle? Of hoe haastig is julle?
Soos wat dit nou vir my lyk neem dit sowat 7 maande om 'n case officer (CO) te kry vir jou 136 VISA nadat dit gelodge is!! Daarby moet jy nou nog voeg die tyd wat dit neem vir 'n "skills assessment", wat nog ten minste 2 maande by die wagtyd voeg. Dis al klaar 9 maande. Nadat mens 'n CO het moet daar nog mediese toetse ingedien word en polisie clearance gekry word. Meeste mense wat ek mee gepraat het wat op hul eie (of met hulp) deur die proses is het gesê mens kan jou regmaak vir ten minste 'n jaar. Dit lyk nie, volgens my eie opinie, of die MODL lys veel verskil maak aan die processing tyd nie. Hulle is blykbaar so oorlaai met aansoeke dat hulle huidiglik 6 weke neem om net 'n acknowledgement te gee.

Ons aansoek is klaar gelodge en aanvaar begin Februarie, maar ek het reeds laasjaar November 'come hell or high water' begin om rond te soek vir moontlike werkgewers. Hierdie wagproses is vir my baie erg. Daarby nog die feit dat mens nie eers 'n werk het as jy nou uiteindelik klaar gewag het nie. Ek het met 'n baie spesifieke soektog na maatskappye gesoek wat in dieselfde lyn is as wat ek kwalifikasies het. Dit maak dat jy uit die staanspoor baie meer aandag trek as jy jou CV vir hulle stuur. Ek het op hierdie manier 'n hele klomp kandidaat maatskappye opgespoor en my hele situasie verduidelik. Gewoonlik eindig die proses ook hier as hulle uitvind hoe lank hulle sal moet wag vir jou om die VISA te kry. Ek het dit egter duidelik gestel dat hulle die proses baie kan bespoedig indien hulle bereid sou wees om as 'n sponsor op te tree. Een maatskappy wat my graag wou hê om vir hulle te werk het op hierdie stadium kop uitgetrek. 'n Ander een het egter gesê ek moet hulle op datum hou van my VISA tydlyn. Ek het in kontak gebly met hulle en die "lead" warm gehou. Tot hulle uiteindelik besluit het om vir my 'n werksaanbod te gee en nou is hulle besig met die sponsor proses.

My ervaring (en ek is in die IT bedryf) is dat dit wel baie skaars is vir 'n maatskappy om jou te sponsor. Dis 'n groot "stretch" vir 'n maatskappy om dit te doen...en dit hang natuurlik af hoe moeilik of maklik hulle iemand in die hande kan kry met jou skills. Maar ek glo as jy met jou soektog genoeg op die beste "match" kan afkom met jou skills (beide op die SEEK websites) asook deur direk email te stuur vir maatskappye waarvan ek die besonderhede op "trade show", of IT listing websites gekry het, dan staan mens 'n goeie kans. In hierdie opsig het onderwysers ens. dit sekerlik makliker omdat hulle makliker sponsors kry na my mening.

Gebruik Google en voeg site:com.au aan die einde : dit sal jou soektog beperk tot maatskappye van Australie.
Maak 'n lys van al die moontlike maatskappye wat in dieselfde bedryf is. As jy byvoorbeeld in die motorbedryf is en jy weet Toyota is een maatskappy wat in die motorbedryf is in Oz, en dat hulle website www.toyota.com.au is, dan is dit maklik om die ander websites te kry wat in dieselfde bedryf is, soek dan na related:www.toyota.com.au wat vir jou al die ander websites sal gee van motor maatskappye in dieselfde bedryf.

Sê maar jy werk vir 'n maatskappy wat "accounting software" skryf. Soek dan vir:
"accounting software" site:com.au
Dit gee vir jou 'n lys van moontlike maatskappye.
Daar is gewoonlik 'n "Contacts" link op elke site of selfs "Employment". Probeer die email van die human resources afdeling in die hande kry, of vra of hulle dit nie asb. sal aanstuur nie.

Sê maar jy kom nou af op www.financeplus.com.au in die soekresultate, kry dan al die ander maatskappye in dieselfde bedryf deur: related:www.financeplus.com.au

Gaan deur elke website en kyk wat hulle doen en stel 'n kortlys op van maatskappye wat lyk of hulle doen wat jy in belang stel... Op hierdie manier is jy jou eie recruitment agent en 'n potensiele werkgewer sal jou dan oorweeg omdat hulle al die agente komissie spaar wat hulle per maand bo en behalwe jou salaris aan die agente moet betaal.

Ek sal baie eerder alreeds in Oz wil werk terwyl ek wag vir my 136 VISA om klaar te kry as om hier in Suid Afrika te sit in onsekerheid en limbo. Waar daar 'n wil is is daar 'n weg, soek en jy sal vind, hou aan klop en iemand moet die deur oopmaak. Leer by die vriend wat in die nag aanhou om op sy vriend se deur te hamer om 'n brood te kry of by die weduwee wat die onregverdige regter moedeloos gehad het met haar "persistence". Iewers moet 'n aansoek suksesvol wees. Selfs op SEEK.com.au het ek aanhou om navraag te doen waar ek kon sien dat dit maatskappye was wat self geadverteer het. Vra ook die werkgewers of hulle jou CV kan hou vir moontlike toekomstige werk vir as jy uiteindelik jou PR kry.

Sterkte

Sunday, June 17, 2007

Mens ontmoet Suid Afrikaners op vreemde plekke

Ons het vandag gaan "shop" vir 'n yskas by die Harvey Norman Superstore in Castle Hill. En kan jy glo wie is ons verkoopsman. 'n Besonder vriendelike en baie hulpvaardige flink swart verkoopman. Hy het ons sommer gou ge-eien as Suid Afrikaners en ons met tipiese Suid Afrikaanse vriendelikheid gehelp. En kan jy glo vanwaar hy afkomstig is...Uptington. Sy naam is Frank. Met groot entoesiasme vertel hy ons toe hoe hy eers in die UK gewerk het en toe 9 jaar gelede Australië toe gekom het. Al sy familie is nog in SA, maar hy wil vir geen oomblik terugkeer nie sê hy. Hy skerts en vertel ons hoe hy steeds in "die townships" bly. Ek vra waar, en hy antwoord: In Blacktown natuurlik, en hy lag uit sy maag uit. "Special discount" sê hy, en ons gesels verder oor Suid Afrika en vanwaar ons kom. Hy staan soos 'n paal bo die ander verkoopsmanne uit...want hy glimlag permanent en loop oor van charisma.

Glo my...as julle weer Harvey Norman besoek - vra vir Frank. Hy help met 'n glimlag.

Saturday, June 16, 2007

Raai net waar gaan ons wees op Saterdag 7 Julie?

By die Sydney Telstra Stadium van die Sydney Olimpiese Park natuurlik....en om die kragmeting tussen die Australiese Wallabies en die Suid Afrika Springbokke in lewende lywe te kan ervaar !!! Die hele familie gaan saam die koue trotseer. Ons gaan saam met vriende...dus gaan ons 10 mense daar wees (4 volwassenes en 6 kinders)...'n klein nasie Suid Afrikaners.

Hier is ons kaartjies....



Dis hoe dit lyk uit die pawiljoen...dit foto het ek elders gekry.



Die hele Sydney Olympic Park vanuit die lug, die Telstra stadium is 2e van links onder.


As julle op Google Maps wil gaan kyk waar die Stadium is, gaan na hierdie link...
Om presies te wees: Lat:-33.846218, Long: 151.063364

As mens van Cherrybrook af met die trein:

Met die North Shore Line
Vertrek: 5:49pm Pennant Hills Stasie Platform 1
Arriveer: 6:20pm Strathfield Stasie Platform 5

Met die Western Line trein
Vertrek: 6:35pm Strathfield Stasie Platform 6
Arriveer: 6:40pm Lidcombe Stasie Platform 4

Met die Olympic Line trein
Vertrek: 6:50pm Lidcombe Stasie Platform 0
Arriveer: 6:56pm Olympic Park Stasie Platform 4

Luk dus of mens ten minste 3 treine sal moet neem en dis moeilik met kinders, so ons sal maar die verkeer aandurf met die karre.

Aanwysings met die kar van cherrybrook af is hier...

Thursday, June 14, 2007

Hoe om 'n motor per e-pos te koop

Julle was seker al nuuskierig oor hoe ek dit kon regkry om 4 dae nadat ek in Australië aangekom het dit kon regkry om reeds 'n kar te kon koop...

Wel, die saak staan so:
Omdat ons op 'n tydelike 457 VISA oorgekom het was daar ewe skielik baie meer uitgawes (soos onder andere skool en medies) wat ons nou baie duurder uitkom. Verder is dit blykbaar moeilik om in 'n nuwe land kredietwaardigheid te hê as hulle jou nie van 'n kant af ken nie. Dit het beteken dat ons eenvoudig 'n kar kontant sou moes koop omdat ons nie die maandelikse paaiement sou kon bybring nie - want ons beraamde Aussie begroting het dit vir ons gewys. Ons sou ook eenvoudig nie Australië toe kon kom as ons nie ons huis verkoop het om al ons onkostes te dek nie.

Omdat ek reeds in die verlede "traps" afgetrap het met tweedenhandse karre, het ek hierdie keer besluit om 'n nuwe kar te koop. Kon nie die kans vat om dalk 'n krok te koop en dan met meganiese probleme hier in die vreemde te sukkel nie. Dit het daartoe gelei dat ek reeds 'n geruime tyd voordat ons hiernatoe gevlieg het reeds begin het om al die moontlike kar opsies teen mekaar op te weeg.

Hier is 'n paar voorbeelde:
www.honda.com.au - Suid Afrika se "Car of the year"
www.hyundai.com.au
www.toyota.com.au
www.mitsubishi-motors.com.au
www.mazda.com.au
www.ford.com.au
www.holden.com.au (Soortgelyk aan Chev en Opel) - en Australië se Car of the year
www.volkswagen.com.au (Na my mening is Volkswagen nie juis groot in Australië nie)

daar is sekerlik nog, maar ek was baie beindruk met die nuwe Honda Civic Sedan wat met 'n 1.8 Liter enjin bykans dieselfde krag lewer as 'n 2 liter Toyota Camry of Hyundai Elantra, maar steeds die petrolverbruik het (6.9 liter/100 km) wat baie 1.6 liter karre op hul neus sal laat kyk. Met algehele "drive by wire" tegnologie, "Cruise control", ABS, lugsakke ens. ens., en daarby in dieselfde prysklas as 'n Toyota Corolla 1.8, het ek toe op die' karretjie besluit. Die nuwe Honda Civic het anders as die vorige modelle 'n heel groter kattebak spasie en is baie meer bekostigbaar as die Camry byvoorbeeld.

Nou ja, dit daar gelaat. Ek het toe besluit om vir my die karretjie aan te skaf en het dadelik gesoek na 'n Honda handelaar wat vir my solank die kar in gereedheid kon bring. Met verdere navraag het ek agtergekom dat die wagtyd vir 'n nuwe Honda Civic sowat 1-2 maande in New South Wales is. Dit sou nie deug nie... Ek sou eenvoudig die kar moes bestel VOORDAT ons vlieg, sodat dit reg kon wees teen die tyd dat ons hier aankom. Die diens wat ek by Honda Parramatta (Trivett Classic Honda) gekry het by Peter Zhang was uitmuntend. Ek het die $2000 dollar deposito met my Suid Afrikaanse kredietkaart gemaak nadat hulle vir my die "Offer to Purchase" ingescan en deurgefaks het. Ek het dit geteken en teruggefaks saam met my paspoort as identifikasie. Ek het selfs 'n spesiale prys beding en 'n model met metallic verf en 'n reeds gemonteerde "towbar" gekry ingesluit by die normale prys. Hulle het vir my 'n volledig uiteengesette kontrak gegee met al die ekstra kostes:
Die motorregistrasie fooi (vir privaatgebruik) is: $261
Verpligte Derdeparty ("Green slip"): $346
2 x Swart en wit nommerplate: $68
Dealer Delivery fee: $2114
"Stamp duty" (amper soos oordragkoste vir karre) : $711 (3% van kar+"dealer delivery" fooi)

Dit beteken mens kan verwag om sowat $3500 aan ekstra kostes te betaal. Let ook op dat die jaarlikse motorregistrasie vir privaatgebruik hier $261 is...dit is soos om R1566 per jaar aan jou voertuigregistrasie te betaal!!! Kla nou net weer oor Suid Afrika se lisensiefooie.

Maar, alles in ag geneem kos hierdie spliternuwe Honda Civic my sowat die helfte as wat ek in Suid Afrika daarvoor sou betaal. Gaan kyk gerus by www.honda.co.za na die nuwe Civic VTi.
Die basiese 1.8 handrat (1.8 i-VTEC LXi) kos R 173400.
Hier kos die basiese 1.8 handrat (1.8 VTi) $ 21500.

As mens nou appels met appels vergelyk is die Suid Afrikaanse prys sowat 46% van die jaarlikse salaris van 'n senior IT persoon. In Australië is die prys net 22% van 'n soortgelyke posvlak se jaarlikse salaris. Wys jou hoe DUUR is karre in Suid Afrika.

Wel, hier gekom moes ek mos net die RTA Customer nommer gaan kry by die lisensie kantoor (wat my so 2 minute geneem het) en die Maandag het ek na Trivett gegaan om die oorblywende bedrag per tjek te betaal. Ek het sommer oor die foon by Auto & General (Budget Direct) in Australië versekering gekry vir sowat $88 per maand. (Onthou om by jul versekering 'n brief te kry wat aandui hoe lank julle geen-eis tydperk was sodat julle 'n beter rating kan kry, anders gaan julle in die orde van $120 per maand betaal). Toe ek daar aankom was die "towbar" reeds gemonteer en die kar reg. Ek het laas Vrydag reeds die gratis 1000km diens laat doen en daarby is die groot dienste op die Honda Civic slegs elke 40000km. Die kar het ook nie 'n "Cambelt" wat vervang hoef te word nie. Hulle vervang amper net die olie met die ander dienste.

Die kar ry regtig baie lekker. Veral die cruise control met die baie spoedbeperkings hier.

Hier is 'n paar fotos...


Wednesday, June 13, 2007

Nou kry ek elke oggend die trein en sit nie gefrustreerd in die verkeer vas nie

Nou ja. Die tyd in luilekkerland was lekker, maar dis nou verby. Dinsdag het ek by my nuwe werk begin en sover gaan dit baie goed. Ek is baie vetroud met die tipe werk wat hulle doen en behoort glad nie te sukkel om daar aan te pas nie, want die mense is vriendelik en hulpvaardig en die kantooropset ongelooflik baie soos aan wat ek gewoond was.

Een bonus is natuurlik die werksure hier...van 9 uur die oggend tot 5 uur in die middag met 'n halfuur etenstyd: 37.5 ure per week
Vir my beteken dit natuurlik ek hoef nie so vroeg uit die vere te spring soos wat ek gewoond is nie. Ek loop rustig so 8h20 by die huis tot by die busstop. Dit kos my $1.70 tot by die stasie met die bus, 'n rit wat so ongeveer 3 minute duur. Dan vat ek die Northern Line trein waarvoor ek 'n so $2.70 per dag betaal retoer. (Ek hoef net 'n paar stasies ver te reis op die trein, want my werk is in die Suburbs.) Dit beteken dit kos my so $6.10 per dag vir reiskoste. En daar is geen geld nodig vir parkering nie!! Ek is dan so 8h45 by die werk. Die publieke vervoer is baie goed hier...alhoewel die mense my hier vertel dat dit baie afsteek by ander ontwikkelde lande syne. Daar is so elke 14 minute 'n trein wat stiptelik op tyd is en die treine en busse is nogal verbasend goed gesinkroniseer. As ek byvoorbeeld by die trein afklim en by die stasie uitstap, wag ek net so 2 minute vir die volgende bus wat my huistoe neem. My werkgewer het vandag gesê hy is ook baie daarvoor dat die mense elke jaar hul volle 20 dae verlof neem en dat hulle genoeg rus kry en tyd met hul families spandeer, want dis mos waarvoor mens per slot van rekening werk...net so sê hy.

Maar nou ja...die tyd sal leer. Seker nog te vroeg om te sê.

Al wat ek weet...ons begin nou nogal bietjie verlang na die familie. Mens besef hoe vêr hierdie besluit ons maak van die mense wat ons liefhet. Ons is nou amper 9 keer die afstand tussen Pretoria en Kaapstad van ons mense af!!! Baie vêr.

Die mense op die busse en treine is natuurlik ook nie die mees spraaksaamste kalante wat mens kan kry nie. Hulle vaar soos skepe in die nag by mekaar verby...bang om oogkontak te maak. Maar ek het so vermoede hulle is nie regtig onvriendelik nie. As mens vreemdelinge so naby in jou spasie moet toelaat plaas dit mens nogal in 'n vreemde posisie, so ek vermoed dis 'n manier om die gedwonge nabyheid te hanteer.

Ek dink die volgende liedjie beskryf my lewe op die oomblik goed. Sê maar dis wat my vrou elke dag sing, want ons het op die oomblik maar net mekaar hier, saam met die kinders.

My Baby Takes The Morning Train
deur Sheena Easton

Wake up every mornin', I stumble out of bed
Stretchin' and yawnin', another day ahead
It seems to last forever, and time goes slowly by
Till babe and me's together, then it starts to fly

...

Chorus:
My baby takes the morning train, he works from nine till five and then
He takes another home again to find me waitin' for him

Chorus:
My baby takes the morning train, he works from nine till five and then
He takes another home again to find me waitin' for him

He takes me to a movie, or to a restaurant, to go
Slow dancing, anything I want
Only when he's with me, I catch light
Only when he gives me, makes me feel alright

Chorus:
My baby takes the morning train, he works from nine till five and then
He takes another home again to find me waitin' for him

All day I think of him, dreamin' of him constantly
I'm crazy mad for him, and he's crazy mad for me
When he steps off that train, I'm makin' a fool, a fight
Work all day to earn his pay, so we can play all night

Chorus:
My baby takes the morning train, he works from nine till five and then
He takes another home again to find me waitin' for him

(chorus repeats out)

He's always on that morning train
He works so hard
To find me waiting for him...

Gaan luister gerus na nog liedjies by ETPlanet.com

Monday, June 11, 2007

Al lê die berge nog so blou

Toe dit vir ons Maandag lyk of die reën bietjie opgeklaar het, het ons laat waai na die Blue Mountains, spesifiek na 'n dorpie met die naam Katoomba wat so 100 km Wes van Sydney af lê. Lees daaroor by Wikipedia.

Die "Blou Berge"/"Blue Mountains" kry hul naam van die blou mis-skynsel wat baiemaal oor die berge hang as gevolg van die verdamping van die Eucalyptus Olie vanaf die ontelbare "Blue Gum" bome. Die berge is op hul hoogste punt sowat 1100 meter hoog en word gekenmerk deur sandsteen formasies wat troon oor die ryg "Blue Gum" woude en watervalle in die valeie. Die rit het ons sowat 'n uur geneem tot bo in die "Blue Mountains" van waar ons nou bly in Ryde.
"
The name derives from the blueish tinge the range takes on when viewed at a distance, which is caused by the release of volatile oils from eucalyptus forests."

By Katoomba se Scenic World betaal mens $70 vir 'n familie en kan dan die "Scenic Skyway" tussen die hoë kranse, die "Scenic Cableway" tot onder in die vallei asook die "Scenic Railway" (wat blykbaar die steilste "trein rit" in die Suidelike Halfrond of iets is) meemaak.

Die woude is baie digbegroeid, en die uitsigte is asemrowend.

Hier is 'n foto van die SkyWay kabelkarretjie:


Daar is 'n onsaglik hoë waterval in die vallei waar mens afkyk uit die SkyWay uit...





Nadat mens met die Skyway oor die valley beweeg het kan mens aan die ander kantste krans afstap na die mooiste waterval wat my baie laat dink aan die hooftooisel van 'n bruid...

Die woude is ongelooflik ryg. Sover as wat die oog kan sien strek die Eucalyptus bome uit in die verte.

Ons het ook met die CableWay afgery tot in die vallei, waar mens deur die woud kan stap op 'n mensgemaakte "walkway" voordat jy weer met die baie steil "Railway" amper soos uit 'n mynskag weer teruggeneem word boontoe.

Hier volg 'n kort video wat ek in die woud geneem het:



Gaan lees gerus oor die Blue Mountains stadsraad hier, en daar is baie inligting omtrent die Blue Mountains by hierdie Wikipedia site. Daar is ook 'n klomp fotos. Daar is blykbaar rafyne wat tot 760 meter diep is.

En natuurlik het Australië sy eie "Drie Susters", maar net nie in die Karoo nie.


Oral rondom Katoomba is daar lykmy uitkykpunte en staproetes deur die blou berge.
So....as mense julle weer vra waar ons ons bevind, sê dan maar net vir hulle "...daar anderkant die blou berge...".

Luister sommer na die melodie van die volgende liedjie deur na hierdie site te gaan.

My Hartjie, My Liefie
Die son sak weg
Die son sak weg
Die son sak weg
My Hartjie, My Liefie
Die son sak weg
daar anderkant die blou berge

Chorus:
En ek wil, ek wil, ek wil
by my nooientjie gaan vry
Sy is so mooi en so liefies vir my
Ja, ek wil, ek wil, ek wil
by my nooientjie gaan vry
Daar anderkant die blou berge

My Hartjie, My Liefie
Die maan kom op
Die maan kom op
Die maan kom op
My Hartjie, My Liefie
Die maan kom op
daar anderkant die blou berge


En die son het inderdaad gou gesak, want voor ons ons kon kry toe was dit donker en het ons die pad terug aangepak op die Great Western Highway, wat allermins dieselfde is as 'n snelweg soos ons dit in Suid Afrika geken het. Die raad wat ek mense kan gee...moet dit nie na 4 uur die middag terug aanpak na 'n lang naweek nie...dit was maar 'n slakkepas.

Nog 'n liedjie wat met Blou Berge uit te waai het is natuurlik die immer bekende:

Al lê die berge nog so blou
al lê die berge nog so blou
Al lê die berge nog so blou
Haar woorde sal ek steeds onthou!

Nou gaan sy weg met ‘n lekker hart
Nou gaan sy weg met ‘n lekker hart
Nou gaan sy weg met ‘n lekker hart
Hier sit ek nou in pyn en smart!

Al woon my bokkie nog so vêr
Al woon my bokkie nog so vêr
Al woon my bokkie nog so vêr
Dan troos ek my aan die môrester.




Ons hou nog kop bo water...

Vir almal wat so bekommerd was of ons nie dalk al hier in Sydney weggespoel is deur die ergste reën in die (Sydney, Newcastle, Gold Coast) omgewing in 32 jaar nie...ek wil net julle gerusstel deur te sê: Ons is OK. Wat die vloede, oorstromings en skipbreuke betref...ons sien dit ook maar net op die TV. As dit nie daarvoor was nie sou ons dit nie eers geweet het nie.

Die feit van die saak is dat daar baie goeie reën hier geval het in die afgelope week en almal is baie dankbaar daarvoor. Maar dit is wel so dat ten minste 1000 mense in die Newcastle en Maitland omgewing hul huise moes verlaat as gevolg van die vloede. Lees hierdie koerantberig. Daar het ook 'n moewiese steenkool vragskip op die strand by Newcastle gestrand en julle kan na 'n slideshow daarvan kyk by die Sydney Morning Herald se site.

Ek het nou vir julle 'n Google Soek funksie bygevoeg sodat julle maklik deur die inskrywings op hierdie blog kan soek om sake makliker te maak.

More begin ek werk. Eers bus stasie toe, dan met die trein en dan stap ek van die stasie na my werk...hoop ek kom betyds by die werk uit...

Friday, June 08, 2007

Ons kinders is nou gestewel en gespoor vir die nuwe skool

Ons was vandag by die Oakhill Drive skool om skool uniforms te koop. Die twee lyk soos wafferse Aussie met hul geruite klere, dasse en hoede. Hoede is mos verpligtend as hulle in die son op die speelgrond wil speel...asook skoene - alles om hulle te beskerm teen die gat in die osoonlaag en die ander goggas. Hehe.



Al die mense van die nuwe skool lyk ongelooflik vriendelik...wel, ten minste met ons. Daar is sover ons kan agterkom baie Suid Afrikaners (asook ander imigrante van Nieu Zealand en Brittanje) in die skool.

Vir al die vrouens wat belang stel om te weet hoeveel dit kos vir 2 stelle klere vir 2 kinders in hierdie publieke skool, hier is ons "Tax Invoice" van die klere:



Hoop dit sal vir julle handig te pas kom in julle beplanning, want skoolklere is oral maar duur.

'n Tikkie van Suid Afrika in Sydney

Ons het vandag bietjie een van die Suid Afrikaanse winkels in die Castle Hill omgewing gaan opsoek. Die een is by Round Corner en kan hier gevind word. Ons het sommer vir die snaaksigheid bietjie daar gaan inloer. Ons het 'n bottel van Mevrou Balls se blatjan gekoop, boerewors en pap. So julle kan seker raai wat ons vannaand eet....

Hier is die winkeltjie..



Ek het die volgende "prentjie" in een CD rak in die winkel raakgeloop wat vir my nogal toepaslik was op al ons "uitgewekenes" in Sydney...


Daar is allerhande snuisterye wat mens daar te vinde kry...ProNutro, Jungle Oats, Ina Paarman se souse, Robertsons Steak en Chops speserye en nog vele meer.

'n Ander Suid Afrikaanse winkel in die omgewing is blykbaar Springbok Delights in Mowbray Road, Lane Cove. Die plek is hier op die kaart. Ons sal wel nog daar gaan inloer. Toe ons laas week met ons woonstelle se opsigter, Sam, nogal 'n Italianer, gesels, kon hy nie uitgepraat raak oor die biltong en droëwors wat hy daar by hulle koop nie.

So skrop ons Boertjies maar nes oral op die ou aarde.

Was gister middag laat by 'n restaurant met 'n baie unieke atmosfeer

Ons besluit toe sommer om Palm Beach se rigting te ry...in die deurdringende reën. Wat anders kan mens tog doen as om te verken? Ons kom toe af op 'n baie interessante kus restaurant...Beach Road.


Die plek is hier op die kaart. Hulle het 'n lekker kaggel en daar is 'n baie warm atmosfeer daarbinne.



Lekker vis en slap chips met sout en asyn geëet en daarna het ons na sononder huistoe gery met die baie straatliggies wat weerkaats op die nat strate. Dit is sowat 40 km van waar ons op die oomblik bly. Nogal 'n lekker gevoel om so naby aan die see te bly.

Die strate verkleur soos herfs sy sluier gooi oor Sydney

Die strate van Sydney se voorstede is getooi in die veelkleurige sluier van herfs soos die winter met sy snerpende koue nader kruip. Dit reën nou al heeldag en ons kry ons eerste voorsmakie van ons nuwe land se klimaat as dit winter word. Dit herinner my baie aan die Kaap, behalwe dat die ergste byt van die koue dalk hier bietjie minder is.

Ons het gister sommer net die pad gevat en gery soos wat ons neus (en die GPS antie) ons gelei het. Toe ons in Pymble kom het ons die mooiste herfskleure in die strate gesien. Dit is 'n pragtige woonbuurt. Maar ek moet sê: oral waar mens rondry hier in die Sydney voorstede is daar parke en woude net waar jy ry. In Cherrybrook is daar oral sulke mini-woude en in sommige gevalle is daar klimrame vir die kinders so tussen die bome.



Met die reën wat die afgelope ruk geval het kan mens die weerkaatsings van die helder kleure in die strate sien. Geel, rooi, oranje, heldergroen, donkergroen en bruin...die' plek is mooi in die herfs.



Ek het 'n hele paar fotos van Pymble geneem met die herfskleure.



Thursday, June 07, 2007

Die misreën kiesa nog rustig daarbuite


'n Foto van buite ons tydelike verblyf.

Dis nou reeds 2 weke wat ons in Sydney is. Dit het sedert laasnag lekker gereën hier en dit voel nogal koud buite. Ons is darem nog in die bevoorregde posisie om nog op "vakansie" te wees en 'n langnaweek lê voor die deur. Elke 2e Maandag in Junie is dit die Koningin (Elisabeth II) se verjaarsdag hier. Ons kan nog lekker laat slaap en mens voel teen hierdie tyd redelik uitgerus en reg vir om die nuwe werk aan te pak. Ons het vanoggend gehoor dat ons toestemming gekry het om die kinders in die Oakhill Drive Public skool te sit. Hulle is baie opgewonde.



Iets wat ek agtergekom het hier is dat mens nie tussen so 5 en 7 in die middae petrol met gaan ingooi nie, want dan is daar ellelange toue soos die mense wag om brandstof in te gooi. Die paaie is buitengewoon besig teen daardie tyd. Maar as mens by Coles of Woolworths so tussen 7 en 8 gaan inkopies doen is dit rustiger. Mens kry dieselfde soort kosse hier...dis net ietwat duurder - sal beter gaan as ons eers Aussie dollars verdien.

Die mense van my nuwe werk is baie vriendelik en baie geinteresseerd om te weet of ons nou al goed "ingesettle" is. Die kantooropset lyk ook baie informeel soos waaraan ek gewoond is en ek en die' tegniese ouens het sommer gougou baie gehad om met mekaar oor te gesels. Ons het sommer af in die straat by 'n baie oulike straatkafee ingestap en saam geroosterde toebroodjies gaan eet. Met 'n lekker botteltjie Bundaberg Ginger beer het ons land en sand gesels oor die bedryf waarin ek gaan werk en wie wat doen. Ek werk lekker in die voorstede, sowat 10 km vanaf Cherrybrook van waar ons gaan bly. Bus en trein is natuurlik my voorland so vroeg opstaan hier kom ons...

Wednesday, June 06, 2007

Die son skyn nog helder in die land van Kokanje


Vir almal wat nou nie weet wat die land van Kokanje beteken nie, dis daardie denkbeeldige luilekkerland waar niemand werk nie en almal lekker leef. Die spreekwoordelike land van melk en heuning. Wel, dis mos soort van die uitkyk wat sommige mense het oor Australië. Ek dink maar al die hoopvolles in die emigrasie resies (net soos ons) moet maar in 'n mindere of meerdere mate die doel voor oë hou om te kan moedhou en aanhou....want kopuittrekgeleenthede is daar baie. Die foto hierbo van "speak no evil, see no evil en hear no evil" het ek afgeneem in Sydney se strate oppad na Central station. Hopelik het ons nie met toe oë die Australië besluit geneem nie...ons het probeer om deurentyd realisties en eerlik met onsself te wees. Die besluit kon darem oor 'n tyd van 9 maande goed vorm aanneem. Dit help baie as mens so af en toe in jou gedagtes besef daar lê 'n moewiese bult reeds agter jou en dat dit nou nie meer so maklik is om terug te keer Suid Afrika toe nie. Maar wees in jou hart net baie eerlik met jouself en weeg al die voor en nadele op, want as jy teen jou sin of impulsief hierdie besluit geneem het gaan dit vir jou baie erg wees as jy besef jy is nou in 'n verre land en jy moet dinge LAAT WERK vir jou hier. Jy gaan verseker 'n metamorfose in jou lewe deurgaan...om hopelik sterker en beter aan die anderkant uit te kom.

Ons raak nou al hoe meer ingeburger in ons nuwe land. Gister het ek 'n 12 maande huurkontrak gaan teken, wat beteken dat ons nou uiteindelik 'n meer permanente blyplekkie hier in die vreemde het. Ons het ook gister die pynlik groot bedrag van $9000 betaal vir die skoolgelde in New South Wales omdat ons nog net op 'n tydelike VISA hier is. (Dit is vir 'n jaar se skoolgelde...maar ons sal ten minste die helfte terugkry wanner ons "Permanent Residence" deurkom aan die einde van die jaar. 'n Sak vol geld!! Het dit gepos aan die "NSW Department of Education and Training" en hulle sal dan aan die "Oakhill Drive" laerskool in Castle Hill bevestig dat ons goedkeuring het om ons kinders in die skool te sit. Die skoolhoof daar (sy naam is David) is 'n besonder vriendelike man (ons het sommer dadelik van hom gehou).

Vandag ontmoet ek die mense by my werk. Sien nogal uit, maar is ook bietjie bang. Hulle het oor die telefoon baie vriendelik geklink. Ek begin van die 12de Junie af daar werk. Ek gaan bus ry tot op die stasie en dan met die "Northern Line" trein tot naby my werk. Van die stasie tot by die werk gaan ek stap. Mens kan die 131500 website gebruik om te bepaal watter busse en treine mens moet vang werk toe en hoe lank dit sal neem.

Hier is 'n foto van die voorstedelike treine op die stasie. Die rit is ongelooflik sag...dit voel kompleet of die trein op 'n lugkussing sweef.




Posted by Picasa

Dit is nou wel nie die "Soetste paradys" waaroor Jim Reeves in sy liedjie "Tahiti Verre Land" sing nie, maar ons gaan hier ons lewe maak:

Tahiti verre land! O soetste paradys!
Daar waar die palmbome saggies suis...
My hart verlang terug - geluk wag op my daar:
aan haar wil ek my liefde openbaar.

Die ure saam kan ons twee nooit vergeet,
want ons behoort vir ewig aan mekaar.
Tahiti verre land! O soetste paradys!
Daar waar die palmbome saggies suis...


Monday, June 04, 2007

Die tyd stap aan, maar ons 136 VISA is nog in die pyplyn

Posted by Picasa

Hierdie horlosie het ek naby die Darling hawe afgeneem. Dit dui die sterrekaart aan van hoe die sterrehemel daaruit sien gedurende verskillende maande van die jaar.

Noudat ons in Australië is moet ons 'n paar vorms invul en aanstuur na die Immigrasiedepartement om hulle te verwittig dat ons nou alreeds op 'n 457 in Australië is.
Dit is die "Change of Address and/or passport details" (929) vorm asook die "Notification of changes in circumstances" (1022) vorm.

Hoe om jou belasting nommer te kry

Posted by Picasa

Bo kan julle een van die mooi geboue in Sydney sien wat naby die Darling hawe is.

Ons het vandag via die Internet aansoek gedoen vir ons Australiese belastingnommer.
Dit word geheel en al vanaf die "Australian Taxation Office" se webtuise gedoen.

Gaan na die afdeling vir "Individuals". Jy kan daar vir jou TFN (Tax File Number) aansoek doen by hierdie bladsy.

Jy vul net die vraelys in met inligting soos onder andere jou Paspoort nommer en posadres in en jy kry uiteindelik 'n verwysing nommer. Indien jy na 28 dae nog nie die nommer in die pos gekry het nie, bel dan 132861 met jou verwysingsnommer.

Jy het 'n TFN nodig by jou bank om rente te kan verdien en ook by jou werkgewer om salaris te kan verdien (andersins word jy belas op die heel hoogste skaal).

Om die tolpaaie aan te durf

Glo my, beide die strate in die stad as die snelweë in Sydney is baie besig. Die eerste ding wat ek opgemerk het toe ek hier aangekom het is dat die verkeer ongelooflik vinnig op relatief smal bane beweeg. Mens raak nogal gespanne as moewiese groot trokke teen die maksimum spoed van 100 km/h centimeters van jou af op die meeste paaie by jou verbyskiet. Op sommige hoofweë mag mens 110 km/h ry. Nogtans vloei die verkeer baie glad. Die motoriste is baie toegeeflik teenoor mekaar en sal geredelik vir jou plek maak as jy met jou flikkerlig aandui jy van baan wil verwissel.

Hier is ook tolpaaie. Die Hills Motorway (M2) kos sowat $4.50 elke keer as jy dit gebruik.
Gelukkig werk ek nie in die middestad nie, maar in die voorstede so 10km van ons toekomstige huis af en hoef nie tolpad te ry daarnatoe nie.

Dit is nogal goed as mens maar eerder gou vir die elektroniese e-Tag tol betalingstelsel aansoek doen, want sommige dele van die snelweë het fasiliteite om kontant tol te kan betaal nie en dan word jou nommerplaat afgeneem indien jy nie e-tag het nie. 'n "Toll violation" word dan teen jou naam geskryf en jy het 'n sekere tyd om te betaal.

Jy kan met kredietkaart of direk met debietorder uit jou Australiese bankrekening betaal. Die nommer om te bel is 137626. Die fooie kan op die ExpressTag webtuise gesien word.


Posted by Picasa

Ek het nou al met 2 verskillende mense wat al baie lank in Sydney bly gesels en beide van hulle het vir my gesê dat die verkeer op die hoofroetes in Sydney in oor die afgelope paar jaar baie besig geword het sodat die verkeer ook maar soos op die N1 buffer-teen-buffer beweeg op spitstye. Maar gelukkig is die publieke vervoer hier darem baie goed.

Ek het my idees oor die oorsaak van die toename in die verkeer...dalk is dit al die Suid Afrikaners wat nou Sydney toe trek?

Ons huissoek eskapades is op 'n einde

Posted by Picasa

Hierbo kan julle 'n foto sien van 'n tipiese straat in die Hills omgewing van Sydney. Dit is dan nou ook hier waar ons die afgelope week so verwoed gesoek het na 'n geskikte huis om te huur voordat ons "Container" hier in Sydney met die skip aankom. Al ons aardse besittingkies is nou seker al ter see oppad na die groot Australiese kontinent toe. Al die verhurings agente sê vir ons dat daar 'n groot tekort aan huise is om te huur en die kompetisie is straf.

Ons moes die volgende dokumente saam met ons aansoek om verhuring aanheg:
  • Bestuurders lisensie / Internasionale bestuurspermit (soos wat ons by die AA gekry het) asook Australiese bestuurderslisensienommer (indien jy dit het)
  • Australiese bankstaat
  • Motorregistrasie papiere (indien jy 'n motor besit) asook "Customer" nommer van die RTA (Roads and Traffic Authority)
  • Paspoort + geboortesertifikaat
  • Werkskontrak wat jou jaarlikse salaris aandui
  • Verwysings van ons laaste 2 verhuringsagentskappe (Ons kon ons huidige gemeubileerde akkommodasie syne aanheg), sowel as die' van Suid Afrika
  • Werksgeskiedenis se verwysings ingevul op vorm
Kan jy dit glo? Dis amper soos om aansoek te doen vir 'n VISA. Maar gelukkig het ons dit gekry. Nou moet ons een week se huur as deposito betaal sodat hulle die huis van die huur mark af kan neem. Dan moet ons ook dadelik die "bond" betaal wat gelykstaande is aan 4 keer die weeklikse huur...dit is ekwivalent aan die deposito wat ons in Suid Afrika aan gewoond is....mens kry dit weer terug as jy uittrek. Bo en behalwe dit moet ons dan nog die eerste maand se huur vooruit betaal. Daar is ook 'n $15 "lease fee". Die aanvanklike week deposito word afgetrek van die totaal.

Die totaal kan dus as volg uitgewerk word indien X die weeklikse huur is:
4 keer X = "Bond"
(365.X/7/12) = Eerste maand se huur
$15
Totaal = 4(X) + 30(X/7) + 15

Dus as jou huur sê maar $450 per week is, dan moet jy aanvanklik:
4(450) + (365.450/7/12) + 15 = $3770

Maak jou dus gereed om so R22622 om en by te betaal om 'n huis te begin huur.

Die goeie nuus kom toe vanoggend dat ons goedgekeur is om 'n huis in Castel Hill Road (Cherrybrook) te huur. Ons gaan more die huurkontrak teken vir 'n jaar. Dit is 'n lekker 3 slaapkamer huis in 'n baie boomryke omgewing direk oorkant 'n "forest" en naby die bushalte.
So nou kan ons maar ontspan omdat ons "Container" 'n plek het om heen te gaan.

Friday, June 01, 2007

Sydney is pragtig

Ons het vandmiddag op die ingewing van die oomblik besluit om die pad te vat Sydney middestad toe. Ek tog ry te lekker rond met my Navman N40i GPS. Die tannie binne in die' toestelletjie kan maar net nie ge-rattle word nie. Probeer haar maar "confuse" deur allerhande rigtings in te slaan...sy bring jou spoedig weer op die regte pad. Ons is byvoorbeeld vandag lughawe toe om ons eerste besoeker welkom te heet...my skoonsus se dogter het vir ons kom kuier. Sy het vandag 14h00 hier aangekom om te gaan "backpack" saam met haar vriendinne. Nadat ons haar op die trein afgesien het kies ons toe koers Sydney CBD toe....ek kies net Sydney Tower op die GPS en daar gaat ons...

Dinge waarvan ek hou in Sydney...die mense is ongelooflik "polite". Almal hou mooi in hul bane en bykans elke keer nog wanneer ek wou van baan verwissel deur my flikkerlig aan te sit...dan gee hulle vir mens kans. Nou ja, hier ry ek mos nounou soos 'n wafferse Crocodile Dundee in die groot stad wat ek van g'n kant af ken nie...tot in die hart van hierdie massiewe lewendige stad. Ons stop toe sommer in 'n ondergrondse parkade direk onder die Sydney Tower...kos ons 46 dollar vir die tydjie wat ons daar was. By die Sydney Tower gaan mens tot op die Podium (4) level en koop dan 'n kaartjie vir 'n familie van 4 vir $46. 'n Virtuele simulasie van Australie is ingesluit by die prys en dit staan bekend as OzTrek. Die hysbakke neem mens in 'n ommesientjie tot bo by die observation deck wat sowat 260 meter hoog is (76 vloere).

Die son was net besig om te sak en dit was een van die wonderlikste uitsigte van my lewe. Rondom ons lê 'n lewendige stad uitgestrek so ver as wat mens kan sien.

Kyk gerus na my fotos van die plek by my album.

Die Sydney Tower...


Die Queen Victoria gebou in York straat...


Ek dink die volgende is die Anzac brug...


Oppad Anzac brug toe...


Market street...


'n Pragtige kerk net langs Hyde park...(ja 'n park met gras)


'n Foto oor die see na die ooste...ja en dit is die maan wat julle sien, nie die son nie.


...en natuurlik...die Sydney Harbour bridge...pragtig in die verte met die veelkleurige weerkaatsings in die water.


en Darling Hawe...met die maritieme museum in die prentjie.



Ja nee...hierdie plek is PRAGTIG. Dit is nie 'n dooie stad nie...die strate word gevul met 'n lewenslus wat ek nog nooit teëgekom het nie. Na die son al lank gesak het was die strate en wandelgange gevul met mense...ek het nogal hartseer gevoel vir stede soos Johannesburg...ek kan onthou hoe ons lank gelede in Hillbrow en Sunnyside lank na twaalf houtgerus kon rondslenter...maar daardie stede se hart is dood en siek. Dis jammer.

My vrou is ook mal oor die plek...ek kan sien dat ons nog ons hart gaan verloor oor die' plek. Dis asof ons oë oopgegaan het vir 'n hele nuwe wêreld waarvan ons nog nooit voorheen bewus was van nie!!!

Na die tyd het Antie GPS ons weer veilig veilig na ons woonbuurt in Marsfield teruggelei. Ons het lekker KFC gaan koop. Vir onder $23 kry mens 'n family feast met 10 stukke "original recipe chicken", 4 mash & gravy, chips, 'n hele liter coke en 'n moewiese koolslaai. Baie meer as wat ons gewoond was aan vir 'n family feast in SA. Dit was baie smaakvol... Ons het by die Macquary sentrum in North Ryde gaan eet en sommer na die tyd vir $4.50 ses donuts vir nagereg geëet. Daar is ook 'n ysskaatsbaan in die sentum...ek is mos mal oor ysskaats...het op skool tot 300 keer per jaar by Sterland gaan ysskaats.

My gunsteling op die oomblik is "Raisin Toast". Dit is baie lekker. En natuurlik kry mens hier sommer baie Mountain Dew koeldrank...ek het op Universiteit soms tot 2 liter in 'n aand gepolish. Die 2 liter koeldrank bottels is ook baie vetter - gevorm soos 'n 12 liter scuba silinder.

Nog iets wat anders is hier...die winkeltrollies se voor en agterwiele kan draai - dit is dus maklik om met een hand die trollie seepglad op die winkelvloere in die rondte te laat tol met net een hand...self uitgetoets. Maar dit is baie meer beweeglik.

Die mense is inderdaad vir my baie vriendelik...ek chat natuurlik met al die mense by die "tills" en coffee shops...want alles voel vir my nuut en EK BESKOU DIT AS 'n ONTSAGLIKE VOORREG DAT EK HIERDIE LEWE IN OZ SAAM MET MY FAMILIE KAN BELEEF. Ek kyk nou met nuwe oë na "uitlanders" soos oosterlinge omdat ek besef dat ek net soos hulle ook HOOPVOL na 'n nuwe lewe in 'n nuwe land uitsien.

Groete aan almal daar in Suid Afrika...

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings