Wednesday, July 11, 2007

Sydney is stadig maar seker besig om soos ons huis te voel

Na 'n noodgedwonge afwesigheid as gevolg van nodige tegniese verbeterings aan die manier waarmee ons aan die Internet verbind, is ons weer op die lug en Radio Pikos gaan nou sonder versuim sy diens aan die Afrikaanse vlugteling gemeenskap hervat.

Elke nuwe dag wat ek hier in ons nuwe tuiste in die vreemde my oë oopmaak is ek diep in my hart dankbaar vir die voorreg om elke dag te kan leef en deel te wees van die wonderlike wêreld rondom my. Om oë te hê wat kan sien, om hande te kan hê om mee te kan werk en vir my familie te voorsien en om nog met 'n "relatief" helder verstand (alhoewel soms lekker deur die blare en uitermatiglik verstrooid) my ou beskeie bydra te lewer aan die kosmos. Ek ag dit ook as 'n baie groot voorreg dat ek die kans kan hê om die nuutsheid van hierdie avontuur so saam met my gesinnetjie te kan ervaar - 'n voorreg wat baie mense graag sou wou doen, maar nie kan nie. Ek dink aan julle....om in slegte omstandighede vasgevang te wees en te weet daar is nie veel wat jy daaraan kan doen nie is nie maklik nie. Sterkte.

Ek glo as mens iets BAIE graag wil hê, as jy hoop het vir beter omstandighede, en jy al jou kragte inspan en geen klip ongestoord laat in jou soektog na 'n uitkoms nie, as jy droom vir 'n veiliger toekoms, 'n nuwe avontuur en jou geloof behou dat dit enigsins moontlik is, dan sal jy dit uiteindelik regkry. Hou net moed.

Sedert ek laas pen op "papier" gesit het, het daar al heelwat water in die see geloop. Met elke nuwe lewensdag wat die son hier oor die see opkom, voel dit meer en meer asof hierdie my nuwe tuiste gaan wees. Nou ja, dit is nie 'n baie glansryke lewe nie...staan maar op, net soos die res...werk toe en huis toe...maar stelselmatig begin my werk meer soos my werk voel, die plekkie waar ons huur soos ons huis, en spoedig sal ons van Sydney kan sê: oos wes tuis bes.

Sondag 1 Julie het ons uit ons gemeubileerde akkommodasie in North Ryde getrek na ons huur huis in Cherrybrook Kersiefontein. En nee...ons het nie regtig hiernatoe getrek omdat daar blykbaar so baie Suid Afrikaners hier is nie...nee, eenvoudig omdat hierdie voorstad net so mooi is. Dit is in die "Sydney Hills" geleë. Dit natuurlik baie heuwelagtig hier. Dit is baie boomryk, en mens hoor die voels elke oggend sing as jy opstaan. Jy voel nie of jy regtig in so 'n groot wêreldstad leef nie, inteendeel: as jy soos ek nie in Sydney middestad werk nie (maar so 12 km hiervandaan aan die rand van die voorstede), dan is hier alles wat jy nodig het...van natuurskoon, goeie skole, lekker "cozy" winkelsentrums en waar ek bly 'n wonderlike uitsig oor al die stadsliggies in die verte.

Hier is 'n foto van die uitsig by ons agterdeur:

Om bus en trein te ry voel nou al vir my so natuurlik asof ek dit al lank doen, alhoewel ek so paar dae laat was by die werk omdat ek nog nie die bustye hier so lekker kon uit-figure nie. Maar nou kry ek elke dag so 8h13 die bus so entjie van ons huis se oprit af, en binne 10 minute is ek by Pennant Hills stasie. Vandaar kry ek die 8h30 trein tot in West Ryde en 8h45 stap ek gou die 500 meter tot by my werk. Die gestappery hou my fiks en maak dat ek darem nie heeltemal fisies agteruitgaan nie. Die werk is baie interessant...met baie wiskunde, net soos ek daarvan hou...alles om die brein se ratte aan die gang te hou en die werk interessant. In die "aande" kry ek 17h10 die trein, en voor 17h50 is ek by die huis.

Hier is 'n Google Earth foto van die omgewing waar ons bly:


In my dagdrome in Suid Afrika oor Australië het ek dikwels gehoop dat ons ook soos die mense vertel het, naby 'n woud kon bly...een waar ons sommer gou 'n draai by kan gaan stap, wel ons huis is so 300 meter se stap in die straat af van die Cumberland State Forest! En ons huis is so 1 km van die plek af waarvandaan ek dikwels in Desember en Januarie op Google Earth die pad werk toe "gery" het toe ek nog nie geweet het of ek die werk gaan kry nie. Vanaf die omgewing in die Hills waar ons bly (sowat 170 meter bo seespieël) is dit al die pad afdraande na die stad toe en mens kry 'n wonderlike uitsig van die liggies in die Suide van Sydney van hier af in die aande...sal een aand nog 'n foto gaan neem.

So 'n kilometer af in ons straat is die Sydney Koala Park dieretuin...ons moet dit nog besoek.

Sedert die 1 ste Julie het ons mos gekamp in ons huis. Ons moes wel dinge soos 'n yskas, tuimeldroër, gas verwarmer, lessenaar, matrasse en rekenaarskerm koop. Hierso is ek en die kinders besig om ons rekenaar werkstasie goed aanmekaar te sit...


Nogmaals baie dankie aan almal wat ons uitgehelp het met goed om te leen...dankie vir die leen van die ketel, die televisie, die plastiek kampstoele,die dubbelbed matras en die lekker snoesige dons duvet ! Dit was die afgelope ruk nogal koud en ek kan julle waarborg...ons het nie koud geslaap nie. Ons klere het ons gaan was by ons vriende en vir messe, vurke en borde het ons die piekniek stelletjie gebruik wat ons in Suid Afrika by Outdoor Warehouse gekoop en op die vliegtuig saamgebring het.

Hierdie Maandag 9 Julie is ons vraghouer met "al ons oorblywende stoflike aardse besittings mos hier afgelaai deur Chess Henley's Removals (hulle hanteer Buddulphs se Australiese vervoer).
Dit is 18 Mei by ons tydelike huis in Rooihuiskraal Centurion opgelaai deur Buddulphs.
Dit is dus, op 9 dae na, amper 2 maande! Maar dit is tog te lekker om weer al ons bekende goeters rondom ons te hê...die wag werd. En hier word dit afgelaai...

Hier in Australië is elektrisiteit nie die enigste krag na die huise nie. Ons het natural gas wat in gaspype tot by ons huis kom en ons geiser, stoof en gasverwarmer laat werk. Ons het 'n lekker "potent" gasverwarmer by "The Good Guys" gekoop en dit werk wonderlik. Binne 'n japtrap is ons hele huis lekker snoesig.

Hier is die gas meters buite die huis:
En die gas-socket binne in die huis...
Soos julle dan seker agtergekom het is ons ADSL Internet nou ook verbind, en die spoed is nogal lekker vinnig.

Buite die huis is 3 munisipale asblikke wat hulle Maandagaande 23h00 kom leegmaak as almal slaap. 'n Groen deksel asblik net vir plant-afval, 'n geel een net vir "recycalable"/herwinbare vullis soos karton, plastiekbottels, blikkies ens., en 'n derde rooi een vir algemene gemors.
Ons is in Hornsby Shire munisipaliteit se gebied.

Dit is WONDERLIK stil hier waar ons bly, jy hoor nie 'n enkele hond blaf in die nag nie!!! Ook nie ambulanse en polisiesirenes nie!! En glo my...hier is honde. Bykans al die mense hier om ons het honde. Ons buurman het 'n groot hond wat soos 'n siberiese husky lyk. 'n Baie liefdevolle hond waarvan jy nie eers weet nie, want hy is tjoepstil. Hier in Aus moet almal wat hul honde vir 'n stappie vat 'n honde-poep sakkie saamdra, want hulle kan 'n boete kry as die honde die plek bemors...en dit is dus glad nie snaaks dat iemand rustig wag totdat hul honde klaar besigheid gedoen het en dit dan in die brakkie-sakkie ingegooi word en saamgeneem word.
Hier is 'n foto van 2 hondjies in klere met kruisbande aan:
Terloops...die hond se baas is ook van Suid Afrika...baie jare gelede.


Die kinders het voor die vakansie darem ook goed ingeskakel in die Oakhill Drive skool. My dogtertjie begin al hoe meer Engelse woordjies gebruik. Hier is 'n foto van die kindergarten (soortgelyk aan Graad R) klaskamer:




Iets wat die kinders baie help om aan te pas is natuurlik as hulle dadelik ander maatjies het om mee te speel. Die skool maak dit baie interessant vir die kinders deur gereeld spesiale dae te hou soos: "Crazy Hair day". Hier is 'n foto van ons jare lange vriende se kinders saam met ons s'n. Hulle het ook met alles wat vir hulle kosbaar is (in besonder hul kinders) hier in die vreemde land kom vestig. Kyk...hulle speel 'n hond uit 'n bos uit. Almal is in dieselfde laerskool.


Nog iets wat ons onlangs gedoen het, was om by die San Pablo Spur in Victoria Road Rydalmere te gaan uiteet. Dit word deur 'n oud Suid Afrikaner besit en daar is 'n T-Shirt teen een van die mure wat lees: "Praat Afrikaans of hou jou bek". Die kos was baie lekker...veral die T-bone steak (lekker medium gaar). Vir 'n familie van 4 wat nie die heel duurste op die menu bestel het nie, was die ete sowat $74. So terloops...hier word Cream Soda "Creaming Soda" genoem en dit is rooi soos Sparletta.

Wel dis al vir vandag....daar is nog baie om te vertel...in die volgende uitgawes vertel ek vir julle van die staproetes in ons Cumberland woud met sy lekker koffiewinkel en rustige kitaarmusiek, ons besoek aan Manly strand, ons Buffet Ferry/Bootrit vanaf Darling hawe in die aand, ons middernagtelike rit op die trein en die stap terug huis toe in die middel van die nag. Dan is daar ook nog die Drie-nasies eindstryd by die Sydney stadium... Maar dis nou eers genoeg maats, want volgende keer vertel ek vir julle meer van die "wonderlike" avonture van Swerwer in Australië....maar nou moet ek eers gaan lekker slaap IN MY EIE BED en op my EIE KUSSING !!!!!!!

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings