Tuesday, July 24, 2007

Die veerboot vaar so kwart voor agt...en die see is wyd...

'n Veerboot rit in die aand...al het ons dit al 'n hele ruk terug gedoen en beleef, kry ek nou eers die geleentheid om dit neer te pen. Op Vrydag 6 Julie verras ek toe mos my vrou met 'n lekker Veerboot/"Ferry" rit vanaf Darling hawe in die aand!! Ons het werklikwaar daardie aand bykans elke liewe vervoermiddel uitgeprobeer. Het met ons vriende gereël om na die bloedjies om te sien en toe bel ek haar om my in die middag op die trein te kry Sydney toe... Sy moes eers 'n bus neem Pennant Hills stasie toe en van daar af trein na West Ryde waar ek werk. Sy het nie geweet wat ons gaan doen nie...was heeltemal 'n verrassing. So wag ek toe vir haar op die stasie en toe die 17h30 trein daar stop spring sy gou uit en gryp my aan die hand en ons is terug op die trein. En daar sit ons toe lekker op 'n Vrydagaand langs mekaar oppad in Stad toe op die trein. Oral om ons op die trein is skoolkinders ook oppad êrens heen met die trein en dis vir jou omtrent 'n rumoerigheid en opgewondenheid op die trein. Ons is tot by Central Station...glad nie haastig nie, want ons het mos die hele aand vir onsself.

Glo my, Sydney in die aand het 'n lewe van sy eie. Nog nooit het ek so iets beleef nie. Oral na sononder is daar mense wat by straatkafees en "pubs" kuier. Dis asof al die jongmense die strate invaar as dit donker word en jy hoor hoe mense oraloor luidrugtig kuier. Ons stap toe sommer die ongeveer 1.5 kilometers na Darling Hawe en verwonder ons aan die stad se pragtige liggies. Dis asof die stad homself in lig drapeer met die mooiste kleure en klanke. By die hawe kom ek toe met die sak patats vorendag....ons gaan vir 'n Veerbootrit. Ek het die Veerboot rit by www.tourstogo.com.au bespreek. Ons het die Latin American Salsa Cruise wat 'n buffet ete, gratis dansles en Latin dancing show insluit. Dit was op die Rythymboat Ferry en dit het vertrek vanaf die Pyrmont Bay Wharf daar waar die outydse skepe staan waarmee Captain Cook hier in Australie aangekom het 2 eeue gelede (die endeavour of so iets). Daardie aand het ons $31 per persoon gekos en ons het seker vir ten minste 2 ure geduur want ons is een keer in die see se rigting en toe weer met die Parramatta rivier terug binneland toe met die asembenewende uitsigte oral om ons.

Hier is 'n foto geneem deur Steve Unsworth wat uitbeeld wat ons daardie aand gesien het. Gaan besoek gerus sy pragtige website oor Australië: (Ek het NIE hierdie foto geneem NIE ! I did not take this PHOTO: Go and VISIT his website with photos from Australia)




Die aand is begin met 'n lekker groot maaltyd en raai net wie kry ons toe daar (onder ander Vee wat so 'n rukkie gelede ook hierheen gekom het...van SAAustralia faam en nog SA vriende...ag ek speel - ons het dit eintlik saam gereël). Om die waarheid te sê: ons het daardie aand 24 ex-Suid Afrikaners op daai Ferry getel. So 20 van hulle is al jare hier...van die tagtigerjare af. Hulle het met hul hele familie en klomp vriende van die Kaap af hierheen geëmigreer en nog nooit teruggekyk nie, hul kinders is nou al groot en meeste het in Australië getrou en het al families van hul eie.)

So het ons toe na die ete in rye gaan staan en is deur 'n professionele Salsa "deskundige" geleer hoe om die passies van dans uit te voer. Kyk...om 'n Ingenieur te leer dans...ek het al lankal opgegee en nou beweeg ek maar net op die ritme...wat 'n petalje.
Dit was baie lekker...en almal neem deel! Gelukkig word ek nou nie meer seesiek nie! Die Sodwana scuba trips laasjaar het daardie probleem lykmy getem. Want soos wat die lywe op die dansbaan in die rindte getol het, het die Veerboot ook heen en weer en in die ronde, kruis en dwars oor Sydney hawe sy eie passies uitgevoer. Uitgeput van die dansery het ons toe die uitsig oor die stad in die aand gaan bewonder op die dek van die veerboot. Kyk...eintlik kan mens dit vir niemand beskryf nie...en ek kon ook nie fotos neem nie...want die boot wou nie vir ten minste 16 sekondes vir my stilstaan nie..hehe...

Toe ons weer in die kajuit kom was daar 'n Salsa en Tango dans show deur 'n baie bekende Latyns Amerikaanse danspaar. Die boot het eenkeer weer aangedoen by die vasmeerplek voor dit vir 'n tweede keer sy draaie gaan gooi het oor die donkerswart malende massa van soutwater wat ons omring het. Dit was 'n wonderlike reënlose aand in Sydney, alhoewel koud.
Nadat die aand se belewenis op 'n einde gekom het, het ons toe daarvandaan teruggestap gereed vir ons volgende avontuur...want dit was reeds halftwaalf in die aand. Soos julle sal kan sien op hierdie kaart, loop daar baie naby aan die Pyrmont Bay Wharf die spore van 'n trem. Hier noem hulle dit die "Light Rail Link". Dit is so luuks soos 'n luukse toerbus, maar loop op spore in die teerpad. Kyk bietjie hier na Paddy's Metrorail service.

Hierdie Trems loop 24 uur per dag elke 15 minute!!! Jy klim net op en betaal wanneer die kondukteur by jou kom. So is ons toe terug tot BY Central Station. So net voor 12 die nag toe kry ons die trein terug Pennant Hills toe. En glo my...daar was nog BAIE mense wakker.
Toe ons so rukkie na 12 by ons stasie in Pennant Hills kom...oeps...toe kom ek agter ek het mos soos Liewe Heksie...so bietjie vergeet.. Die busse loop mos net tot 21h30 hier. Vroulief was nou nie baie ingenome daarmee nie!! So...daar loop ons toe maar die 4.5 kilometer terug huistoe...half een in die oggend op Saterdag 7 Julie. Ek kon nou nie juis in die dogbox wees nie...want sien...daarvoor het mens ten minste 'n Volla (met 'n dogbox nodig)!! En ons het toe maar weer met die Aposteldonkie gery en so is ons te voet terug huistoe. Ek het maar so die Suiderkruis geloop en bewonder...en soos Rageltjie de Beer my warm baadjie vir my vrou gegee om die ergste koue uit te hou. Houtgerus stap ons toe so ...met die angs en vrees van die Nuwe Suid Afrika reeds vergete in my gedagtes...want hier sien mens jong meisies stap alleen in die stad stasie toe sonder om bang te wees in die middel van die nag.

Dit was 'n aand van 'n leeftyd.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings