Tuesday, February 06, 2007

Scuba-duik

Een van die wonderlikste ervarings wat ek nog ooit in my lewe gehad het was laasjaar toe ek en my vrou by die koraalriwwe van Sodwana aan die noordkus van Natal begin SCUBA duik het. Sedertdien het ons al 'n tweede keer gegaan sodat ek nou al 9 duike in die oop see agter die rug het. Dis miskien nie baie nie, maar dis 9 keer meer as wat enige iemand vir langer as 'n halfuur onder water kon asemhaal in al die eeue voor hierdie wonderlike tegnologie ontwikkel is. Die geheimenisse van die see het vir duisende jare vir baie mense verborge gebly. Geen wonder daar word gesê dat 'n goeie naam kosbaarder is as korale nie!

Vir die wat nie weet nie, SCUBA is 'n afkorting vir "Self Contained Under-water Breathing Apparatus". In die tyd voor SCUBA moes mense met 'n koper kopstuk onder water duik. Hierdie kopstuk is dan met 'n baie lang pyp aan die suurstoftoevoer op die boot verbind. Dit het nou nie juis vir baie beweeglikheid onder water gesorg nie.

As daar nou een aktiwiteit is wat ek BESLIS in Australië gaan voortsit, dan is dit Scuba-duik. Ons duik-maskers, wetsuits en weight-belts lê al klaar reg en gaan saam Oz toe. Om in die oop see te duik is 'n enorme ervaring wat mens nooit sal vergeet nie. Op die strand reeds besef mens dat daardie lug-silinders, "regulator" en "valves" al is waarin jy jou lewe gaan plaas as jy 5 kilometer in die oop see in en 6 verdiepings diep onder die water gaan rondswem sonder om verbind te wees aan die atmosfeer waarvan jy sedert jou geboorte so afhanklik was vir elke asemteug. Op so 20 meter diep onder die see is die druk van die water op jou liggaam 3 keer soveel as as een atmosfeer lug se gewig. Die digtheid van die lug is dus 3 keer soveel as bo die water, wat beteken dat jou longe tot 3 keer hul volume sal moet kan uitsit as jy dit nie sou uitblaas op jou pad na die oppervlak nie - 'n toertjie wat natuurlik fataal sou wees.... "Haal eenvoudig NORMAAL asem!" was ons instrukteur se woorde, "Moenie jou asem ophou nie!"
Dit het vir my heel maklik geklink...ek het dit per slot van rekening al redelik goed baasgeraak sedert my geboorte, ek kan dit nou al met toe oë doen.

Die Scuba-ervaring begin as jy saam met jou "Dive Buddies" jou "scuba-gear" op die boot laai. Ek dink hulle noem jou Buddies seker "Dive Mates" in Australië. Jy en jou buddy moet sorg dat julle altyd binne kort afstand van mekaar onder water bly, want jy sien: jou buddy swem rond met jou spaar silinder. As jy doer onder in die diepte in die moeilikheid kom wil jy nie blaasoppie-blaasoppie gaan staan en speel nie, nee, jy wil jou spaar silinder byderhand hê!!

Die boot skeur met so 'n spoed oor die water dit voel of dit net hier en daar water-vat. Die wind klief deur jou hare en waai dat jou oë traan. Met die golwe rondom die boot kry jy 'n gevoel van vryheid wat mens vir niemand kan beskryf nie. Jy besef dat daar baie verdiepings water lê onder die blou golwe rondom die boot - en dit strek duisende kilometers vêr uit tot in Australië.
Soos 'n wafferse 007 sit jy op die rand van die boot en tuur in die verte oor die oop see. En dis nou nie om "cool" te lyk nie! Nee, dis omdat jy nie die visse wil voer nie!! Dit doen mens met "cage-diving", en hierdie is "open water diving". Hoe minder haaie hoe beter.


Sodra ons by die GPS koordinate van 'n koraalrif uitkom, word die boot se enjins gesny en al die "mates" maak hulle gereed op 'n ervaring van 'n leeftyd. Dan kom die telling en jy ervaar wat dit beteken om jou geloof in iets anders as jouself te plaas soos wat jy agteroor tuimel in die diep blou in.... 'n Vredige gevoel van verwondering oorweldig jou soos wat jy sien hoe die buigbare spieël al verder bo jou uit beweeg. Meteens betree jy 'n wêreld wat jy net sou glo elders in sprokies kon bestaan. Jou siel kom tot ruste, want al wat jy hoor is die reëlmatige opeenvolging van jou eie asemhaling en die kielie van borrels rondom jou nek en deur jou hare. Die wonderlikste van alles is dat jy onder water kan asem haal, net soos "Bobby Ewing" in "Man of Atlantis". Ewe ongelooflik is die gevoel van algehele gewigloosheid. Jy beheer jou "boyancy" deur jou BC (boyancy control device) bietjie af te blaas of op te blaas totdat dit voel of jy die kuns van levitasie al jare bemeester het. Jou liggaam voel so in perfekte balans met jou gewig dat jy deur byvoorbeeld net jou asem vlakker in te asem kan jy voel hoe jy stadig begin afdaal. Deur die silinder se gewig effens vooroor te verplaas kan jy soos in "Peter Pan" oor hierdie sprokieswêreld sweef...net so gemaklik soos 'n arend oor die valleie en klowe van die koraal rif. Jy kan met jou gesig letterlik 10 centimeter bo die leeragtige koraalbedekking sweef en as jy effens wil opstyg die lug net effens dieper inasem. Dit voel kompleet of jy finaal verlos is van die las van swaartekrag - 'n bykans buite-liggaamlike belewenis!!

Ek het so 'n paar fotos wat deur Nicolene Olckers geneem is toe ons saam met haar onder die water was. Gaan kyk gerus na ons Februarie 2006 belewenis op TwoBar Scuba se website.
Hier is nog 'n foto deur Nicky


Let net op hoe hierdie "clown fish" tussen die see-anemoon se tentakels skuiling soek. Mens kom teksture teë onder die water wat jy nog nooit voorheen in jou lewe gesien het nie.

Soos wat die onsigbare seestroom deur die water beweeg, laat dit die rif soos een groot lewende wese beweeg en soos wat 'n veld vol blomme deur die wind beweeg word. In hierdie opsig is water en wind presies dieselfde...jy sien die effek wat dit het, maar binne in dit kan jy dit net voel.

Laat my nogal dink aan die verse: "En die Gees van God het gesweef oor die waters..." en "Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is."

Terwyl jy vir tot 50 minute daar onder is omring met van die mooiste, helderkleurigste visse en seediere wat jy al ooit in jou lewe gesien het, met see-skulpaaie wat nuuskierig by jou verbyswem, is die gejaagdheid in die stad vêr in die verskiet...dit kom nie eers een maal in jou gedagtes op nie.


Let bietjie op na die tekstuur van die koraal onder die vis, dit laat mens nogal aan 'n swam op 'n boom langs 'n staproete in die woud dink.

Hier is ek en my vrou:


Wanneer jou lug amper op is en jy begin stadig na die oppervlak beweeg, neem jy met weemoed afskeid van die wêreld daaronder soos wat jy sien hoe dit al hoe dowwer en dowwer in die sluier van die see vervaag en jy probeer die beelde in jou geheue vasvang vir die honderde dae wat jy in 'n heel ander wêreld agter jou lessenaar daaraan sal terugdink.

Dit was 'n onvergeetlike 9 duike wat ek nou al agter die rug het... Wag maar, een van die dae doen ons dit nog by die "Great Barrier Reef"!!!

1 comment:

  1. Hallo jong

    Great Barrier Reef duike en scuba is hemels, dis so MOOI!! Beste tyd om te gaan is so Jun-Sep/Oct, dan is die water lekker helder.

    Laat weet as julle in ons geweste eendag is, dan vat ons julle op 'n lekker toer hier deur ons reenwoud en reef dinge.

    Groete

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings