Thursday, May 28, 2009

Keith Urban

Hierdie is sommer net 'n grepie om julle bekend te stel aan die Country musiek van 'n musikant wat ek nou maar onlangs van begin hou het. Ek hou al 'n geruime tyd van Country musiek en het selfs voordat ek Sydney toe verhuis het oor die internet na hierdie tipe musiek geluister.

Sy naam is Keith Lionel Urban, gebore 26 Oktober 1968, dus is hy presies 4 jaar en 'n dag ouer as ek. Hy is gebore in New Zealand, en sy ouers het na Caboolture net noord van Brisbane verhuis toe hy nog baie jonk was en dis ook waar hy grootgeword het. In 1992 het hy na die VSA verhuis en hy is huidiglik met Nicole Kidman getroud (wat ook afkomstig is van Australië). Hulle het terloops onlangs vir hulle 'n plaas naby Bowral in die Suidelike Hooglande aangeskaf. Dit is een van die dorpies wat ons ook op 'n vorige keer deurgery het oppad Jervis Bay toe.

Luister bietjie na hierdie liedjie van hom:

God's Been Good To Me (Keith Urban)

Well I can't believe I'm sittin' here today
Picking on my banjo with a big smile on my face
Writin' new words to an old school melody
Hey there ain't no doubt that God's been good to me

Oh the sun is shinin' on down in Tennessee
And right now where I'm right where I wanna be
I've never felt so loved, so peaceful and so free
Hey there ain't no doubt that God's been good to me

(Chorus:)
'Cause he put me smack dab in the middle of Paradise
In the heart of the city where my dreams have come alive
And everything I have, and everything I see
Is just another reminder that God's been good to me

This golden road's been long
And sometimes I've lost my way
I've been down some darkened detours
Leanin' heavy on my faith
But where the devil had me chained
Lord your love done set me free
Hallelujah! God's been good to me

(Chorus 2x)




Nog 'n baie bekende liedjie ook hier deur hom gesing...

Wie van julle kan die Marmite/Vegemite in die volgende foto uitken...

Posted by Picasa

Tuesday, May 26, 2009

Ek wonder wie van julle het gisteraand op "One HD", Australië se gratis 24 uur sport kanaal na die Netbal kragmeting tussen die New South Wales Swifts en die Melbourne Vixens gekyk. Wat 'n titaniese stryd? Na 'n uur het beide spanne gelykop met 54-54 gestaan. Nogal baie indien jy in ag neem elke doel tel slegs 1 punt! Hulle moes dus binne 14 oortyd minute uitspeel en die finale telling was 65-63 in die Vixens se guns. Hulle was so kop aan kop dis ongelooflik.

Ons het mos so 'n paar weke terug by die Sydney Olympic Park Sports Stadium ook na die NSW Swifts (dis mos nou ons provinsie se span!) gaan kyk. Siende dat my vrou ook nou netbal speel, piekel ek soms saam as hulle speel. Dit is nogal 'n baie lekker sport om te kyk...
Ons is nogal bederf om hier in Oz se digitale TV volledige dekking van die ANZ Netbal kampioenskappe te kan sien. Netbal is hier nie 'n sport wat deur die media afgeskeep word nie!

Op 'n ander noot. Ek het so 'n rukkie gelede 'n epos gestuur aan die Hillsbus mense om te kla dat hulle nou my busstop in die oggende so 940 meter weggeskuif het van my huis, wel, vandag gee my vrou my die goeie nuus.... (weet nie of dit in reaksie was op die epos nie?) hulle het besluit om van Maandag af die 7h10 632 bus steeds naby ons huis te laat stop (maar slegs vir daardie tyd). Ek kla natuurlik nie - ek het mos net een bus nodig om by die stasie te kom - nou is ek weet happy soos 'n chappy.

Hier in Australie is die impak van die GFK (Globale Finansiele Krisis) nou besig om baie duidelik te word, met baie mense so onlangs as 'n paar maande gelede nog gewone middelkas families was, wat nou afhanklik is van die regering of familie en vriende vir verblyf en 'n dak oor hul koppe:

Die mense wat by organisasies soos die Salvation Army gaan aanklop vir hulp het 6 keer meer geword,,,

Persoonlik ken ons self mense waarvan die man sy werk (projekbestuurder in die IT bedryf) verloor het en amper 'n halwe jaar gesukkel het om weer werk te kry.  Selfs voor die resessie was dit moeilik om behuising te kry, nou is dit amper onmoontlik (veral in die $200-300 per week huur). 

Friday, May 22, 2009

...en 'n ou koerant

Als het toe goed gegaan met die "lansering" en die produk is nou in die kuberruim.  Ek het die kans gehad om met van ons kliente te gesels.  Daar was selfs twee mense van Suid Afrika aan my tafel wat al meer as agt jaar hier is. 

Hier reën dit nog gedurig.  Ons word nooit juis ge-affekteer deur vloede en goed nie...een voordeel daarvan om in die "Sydney Hewels" te bly. 

Iets wat ek julle al van wou vertel het is die MX koerant.  Dis 'n gratis koerant, dit word nie deur nuusverkopers of winkels versprei nie. Nee, dit word op Sydney en Melbourne se treine versprei word deur al die mense wat treinry.  Seker amper soos wat 'n verkoue of griep van mens tot mens sou versprei, net so vind hierdie koerant sy weg vanaf Wynyard stasie om 3 uur die middag, wanneer hierdie koerantjie die drukpers van News Limited verlaat, selfs tot so ver as Newcastle.

Dit het al amper by die meeste mense wat elke dag treinry soos 'n ritueel geword...wel seker dan maar net by my.  Wanneer ek in die middae net voor 5 op die trein klim, dan soek my geoefende oog alreeds vir een van hierdie koerantjies wat erens langs die treinsitplekke ingedruk of op die sitplekke agtergelaat is deur 'n vorige medereisiger.  Mens voel amper afgehaal wanneer jy by die laaste ry sitplekke kom sonder om so 'n kopie op te kon raap.  Dan gaan sit jy maar so half bek-af en wonder hoe jy die koerant van die half aan die slaap ou in die ry voor jou kan afneem terwyl hy nie kyk nie, of jy loop ewe nonchalant verby die eerste asblik en raap die koerant op wat etlike millisekondes tevore deur iemand wat die trein verlaat het in die "BIN" gegooi is, en jy tree op asof dit die natuurlikste aksie in die wêreld is!  (Hier is Australië noem hulle mos asblikke 'n BEEN, (uitgespreek as BIEN).   Dan sit jy maar die brokkies absoluut onbelangrike informasie soos 'n boekwurm en verorber op die bus oppad huis toe....

Ek het al baie gewonder....hoe vêr (en deur hoeveel hande) kan elk van hierdie meer as 50000 eksemplare REIS van 3 uur die middag totdat dit lank na middernag dalk êrens deur iemand oppad Newcastle of blue mountains of selfs Richmond toe gesit en verorber word.  Die bybel sê hoeka: "Skinderstories is soos lekkernye....glip af na die kamers van die binneste".  Gestel een of ander Yuppie tel sy kopie by Wynyard op en sit vlugtig en blaai daardeur totdat hy dit vir die volgende leser agterlaat op sy sitplek wanneer hy by Noord Sydney (net oorkant die hawebrug) afklim om sy aandjie te sluit in sy duur "apartment" in Wollstonecraft.  Dan klim 'n uitgeputte padwerker in sy helder veiligheidsklere op die trein en vind die MX koerantjie tot sy verbasing.  Hy kyk vlugtug watse TV programme vannaand op is.  By Hornsby stasie klim hy af en gooi die koerant in die BIEN.  Net daar by Hornsby klim 'n skolier op wat die middag na skool in die klas moes bly om agterstallige werk in te haal.  Sy sien die koerantjie en red dit uit die kloue van die half-klaar-geëetde toebroodjie net langs dit in die asblik.  Op die trein terug na Pennant Hills sit sy en lek haar lippe af vir die nuutste "celebrity" skinderstories.  Daar gekom sit sy vir haar ma en wag op die bankie en los die koerant net daar op die platvorm.  'n Geselskap Duitse backpackers klim ook daar op die trein oppad na die Internasionale lughawe.  Een van hulle sien die koerant en tel dit op om te sien watse nuus hier in Sydney is.  'n hele ruk later op die Northern Line trein kom hulle by Central Stasie aan waar hulle oorklim op die trein na Botany Bay se kant toe.  Dink net hoe vêr kan hierdie koerant trek indien hulle dit onnadenkend in hulle rugsakke druk oppad terug Duitsland toe.  Maar nee, gelukkig bly dit op die trein agter om opgeraap te word deur iemand wat in die middestad werk en oppad na die Sirkelvormige Kaai (Circular Quay) is.  Hierdie ou neem elke dag die Ferry na Meadowbank vanaf die operahuis se omgewing.  Hy stel veral belang in die artikel oor die ruimtewandeling om die Hubble Space Teleskoop te herstel.  Na 'n rustige rit op die Parramatta rivier terug tot by Meadowbank, los hy die MX koerantjie net daar in die veerboot.  Oppad uit die Ferry word die koerant jou wragtig waar WEER OPGERAAP deur 'n boekhouer wat, nadat hy van die Ferry afgeklim het, die koerant sit en lees op 'n park bankie totdat sy vrou hom met die kar kom oplaai.  Hy los die koerant net daar wanneer hy loop.  Iemand wat nou net 'n koffie by die kafee gekoop het, gaan sit op dieselfde bankie en drink en ruik met diepe genot aan die suiwer Irish Nut Creme koffie totdat sy trein kom.  Hy neem die Sydney na Newcastle trein, want hy bly naby die Central coast.  Ja...hier kom sy trein...gaan hy die koerant saamvat? Jip.  Op die lekker gemaklike groen sitplekke van die Intercity trein sit hy heerlik en sif deur die nou al amper vervrommelde blaaie van hierdie klein koerantjie.  Hy lees oor die impak van die finansiële krisis op die werkloosheidsyfer in Sydney en wanneer die eerste minister se beloofde $900 pasella tjek nou weer in die belastingbetalers se posbusse gaan beland.  By Gosford stasie klim hy af, vanwaar dit nog 'n hele halfuur se ry tot by sy huis is.  Hy druk die koerantjie sommer langs sy sitplek in.  Teen hierdie tyd wys die "wear-and-tear" van die dag se lesers al op die koerantjie.  'n Ander leser grawe die half verfrommelde stukkie intelektuele stimulasie weer uit en sit en bestudeer dit weer tot in Newcastle, hierdie keer gooi sy weereens in die BIEN, maar hierdie keer is die koerantjie nie weer so gelukkig nie, want 'n ander een land bo-op hom en hy mis soos arme weggooibrak by die SPCA uit op 'n nuwe baas. 

Thursday, May 21, 2009

Vandag was weer soos gewoonlik 'n baie besige dag.  Tania het my darem by die busstop kom oplaai.  Die busroetes het mos so verander dat ek nou amper 1 km ekstra huisstoe stap. Ek het vannaand vir ons pannekoek gebak met suiker en "Dutch cinnamon" soos dit hier bekend staan. Ons het die kaggeltjie gestook en voor die vuur gesit.  Nou is die kinders al in die bed, pa lees mos eers elke aand vir hulle,

More oggend het ons maatskappy 'n groot produkvrystelling in Parramatta.  Ons werk nou al baie lank daaraan om alles in orde te kry en ek maak daagliks nog foute reg in die stelsel.  More moet ek dus ekstra vroeg opstaan.  Hoop nie dit reën te hard nie.  Brisbane spoel mos amper weg, met die ergste vloede in 30 jaar.   Ons gaan 'n ontbyt hê, 50 kliente vir gaste en die nuwe website "lanseer", die toetie. 

Wednesday, May 20, 2009

Die laaste paar skoene wat ek in Centurion, RSA vir my gekoop het, wat 'n paar Hi-Tec Tekkies.  Hulle het my handig te pas gekom en loop steeds gemaklik, want saam saam het ons nou al die afgelope 2 jaar al amper die retoer afstand tussen Sydney en Brisbane te voet afgelê, 'n hele 1716 km ( amper 1826 km) .  Brisbane toe en terug!  2 jaar x 52 weke x 3.3 km = 1716 km.  Ek het dus nog so 110 km om te gaan en dus sal ek my doel oor sowat 33 werksdae bereik!

Ons werk hoeka so hard aan die projek vir Brisbane Stadsraad.

Kan jy glo, gisteraand klop iemand aand ons voordeur.  Dis jou werklikwaar 'n busbestuurder.  Hy het 'n bestuurderslisensiekaart op die bus opgetel (die huisadres is mos daarop) en gesien ons adres is daar op (alhoewel dit die vorige mense was wat in ons huis gebly het).  Hy het net gedink hy kom gee dit sommer by ons huis af...waar kry jy nog sulke mense?

Vanoggend reën dit al weer.  Kaapse reën.   En nog 'n ingewikkelde dag lê voor, met baie probleme wat ek nog moet uitpluis.  Mens moet maar net glo jy gaan dit tog regkry.

Tuesday, May 19, 2009

Besluite besluite

Seker al gewonder wat van ons geword het. Wel die lewe gaan voort en soos in enige doodgewone ou se lewe het ek maar min om te sê na 'n dag by die werk. Miskien moet ek iets nuuts met hierdie blog probeer. Dink ek gaan dit in die vervolg kort hou, dan sal ek meer gereëld iets te sê hê - amper soos hulle nou op Twitter doen.

Vir almal wat gewonder het - alles gaan goed. Ons is Sondag al 'n hele twee jaar hier. Die kinders groei soos boontjieranke en die dag toe ons met net ons tasse hier op die lughawe aangekom het lê vêr in die verskiet. Alles voel nou bekend. Ons is ander mense. Anders as die mense wat 2 jaar gelede hier geland het. Ek is seker ons sal daardie eerste baie benoude maand of so ook eendag heeltemal vergeet. Ek dink nie daar was 'n moeiliker tyd in my hele lewe nie. Ek onthou nog hoe vreemd dit gevoel het om in die aande die donker trappe by Marsden Gardens woonstelle met 'n paar pakkies kruideniersware op te piekel. Die leë koskaste wat ons heeltemal van voor af moes vul. Die mistroostige reën wat buite geval het as ek in die aande van die bus in Epping Road afgeklim het, met my ou gesinnetjie my hele wêreld. Alles so vreemd, alles so bangmaak onbekend. Die knaende gevoel van verlies in jou hart wat wil breek. Alles op die TV is vreemd, al die produkte in die winkels is anders. Ek ry in die aand op soek na 'n winkel wat oop is na-ure, maar het nie 'n "clue" in watter rigting om te ry nie. My werkgewer my enigste lewenslyn om hier te wees. Ek onthou nog hoe dit gevoel het toe ons aan die begin nie eens internet gehad het of goedkoop kon Afrika toe bel nie - net 'n selfoon. En oral soek mense net rekeninge met jou adres en naam op vir bewys van identiteit - en daar bly ons toe nog in tydelike akkommodasie. Ek onthou nog hoe ons vir lank op 'n matras op die grond geslaap het, uit 'n tas geleef het, ons eetgerei saam met ons op die vliegtuig gebring het in 'n piekniek mandjie. Ons saam gehuil het oor die vreeslike verlies van ons familie terwyl ons mekaar op ons bed sit en vashou...

Nou voel daardie tyd weer soos 'n ewigheid, soos 'n vorige lewe. Nou het ons weer vriende en braai gereëld saam, geniet mekaar se samesyn. En as ons weer Suid Afrika toe kom, dan gaan kuier ons net bietjie oorsee...


Hoe hou julle van my Barbie/BBQ T-Shirt?

Posted by Picasa

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings