Saturday, July 14, 2007

Ek het nog altyd gewonder hoe dit sou voel om in 'n woud te kan gaan stap net wanneer ek wil

Een van ons grootste voorliefdes in Suid Afrika was om op staproetes te gaan. Om sommer net in die natuur te gaan stap waar alles wat jy om jou sien nie deur mense gemaak is nie. Kyk, as jou doel met stap is om so vinnig as moontlik weer by die kamp uit te kom, dan is dit nie regtig vir jou nie. Dit is nie die bestemming wat belangrik is nie, maar die reis.

Om byvoorbeeld deur 'n dennewoud te stap, na die gesuis van die wind deur die bome te luister, die reuk van nat dennenaalde op die woudvloer te ruik en om vroegoggend te sien hoe die sonstrale klein reënbogies maak as dit deur waterdruppels op 'n spinnerak skyn. Dit is wanneer jy rustig in die natuur gaan stap wat jy leer hoe om die klein dingetjies in die natuur raak te sien.

Om by 'n waterval te gaan sit en na die gekabbel van die water oor die klippe te luister, of om by 'n waterkuil in die koel bergwater te kan swem.

Ek hou baie van fotos neem en het oor 'n tydperk van 8 jaar al 15000 fotos geneem. Baie van hierdie fotos is natuurfotos. As ek iets sien wat my asem wegslaan kan ek nie anders as om ietsie daarvan te wil saamneem in die vorm van 'n prentjie nie. Gaan kyk gerus na sommige van my fotos by my ander blog : lightfan.blogspot.com

Wanneer ek weer my fotografie stokperdjie in alle erns hervat gaan ek weer baie meer fotos daar publiseer.

Daar is so baie dinge wat mens net in die natuur kan ervaar as jy jou tyd neem om elke fyn detail daarvan in te neem.

Daar is 'n liedjie van Laurika Rauch (wat deur Johan Wessels geskryf is) waaraan ek altyd dink as ek so in die natuur is, dit is seker een van haar bestes. Ek wil dit graag met julle deel ter bewondering van Laurika Rauch se talent.

DIE LIED VAN DIE NATUUR

LUISTER NA DIE GELUID VAN REËNDRUPPELS OP 'N SINKDAK

DIE LIED VAN PADDAS WAT SAAMSING IN 'N KOOR

LUISTER HOE DIE WIND 'N BOOM LAAT KREUN EN KRAAK

DIS DIE LIED VAN DIE NATUUR WAT JY DAAR HOOR

REFREIN:

DAAR IS MUSIEK ORAL OM ONS HEEN

EN AL WAT JY MOET DOEN IS OM TE LUISTER

SOMTYDS DIE ORE SPITS

WANT BAIEMAAL IS DIE LIEDJIE NET 'N FLUISTER

SOOS 'N BRIES WAT SPEEL OOR 'N KORINGLAND

'N KRIEKEKOOR OP 'N WARM SOMERAAND

LUISTER LAAT DIE GELUIDE JOU BEKOOR

WANT DIS DIE LIED VAN DIE NATUUR WAT JY DAAR HOOR


AAN DIE PUNT VAN DIE VALLEI HOOG IN DIE BERGE

WOON DAAR 'N EGGO ALLEEN IN 'N KLIPSPELONK

ELKE LIEDJIE WAT HY HOOR SAL HY UITKOGGEL

HY DOEN DIT MEESTERLIK VANUIT SY TRONK


Wat as ek vir julle sê daar is 'n WOUD met kort staproetes net so 300 meter van ons huis af waar ons kan gaan stap net soveel keer as wat ons wil. Ja, ek kon dit ook nie glo toe ek dit uitvind net nadat ons hier ingetrek het nie. Wat 'n voorreg. Iets wat ek agtergekom het van Australië se mense, en dan is dit die feit dat hulle baie meer omgewingsbewus is. Jy sien omtrent niks rommel in die strate nie. Daar word van jou verwag om te herwin deurdat jy spesiale asblikke het daarvoor. Water word as 'n kosbare hulpbron beskou en daar is oraloor parke, dieretuine en bewaringsgebiede net waar jy kom.

Een so 'n gebied is die Cumberland State Forest. Dit is 'n staatswoud met reeds 50 jaar se woudgroei op 40 hektaar. Daar is 2 riviertjies wat daardeur loop asook 3 kleinerige damme, 3 staproetes (Palm Gully roete, die Sensory roete wat spesiaal aangepas is vir blinde mense assok die Forestry roete wat 'n totaal van 2 1/2 ure in beslag kan neem), 3 piekniek areas, 'n lekker cosy koffieshop en ook 'n kwekery. Daar is ook 'n gasbraai wat werk met geld.

Daar is 'n brosjure en kaart beskikbaar hier.

Ek gaan stap so elke naweek vroegoggend Sondae deur die woud. Die kinders geniet dit baie en hol sommer sulke ente vooruit. As mens so 200 meter in die woud in 'n kan mens glad nie meer die geraas van die karre in die besige strate hoor nie.

Hier is 'n paar fotos:
Die pad in en uit die woud:


'n digbegroeide woud vol hoofsaaklik Eucalyptus bome

Dis ongelooflik hoe hoog bome in meer as 50 jaar kan groei.

Oraloor sien jy hoe bome hul ou bas afgooi om weer 'n 'n splinternuwe een te kry. Kyk, ek weet nou nie juis veel van bome nie, maar ek moet sê: ek het nogal so kaal soos hierdie boom gevoel toe ek hier in Aus aangekom het. 'n Mens word gestroop van al jou "hangups" as mens iets soos dit moet deurgaan. Jy kom in 'n nuwe land aan met feitlik net jou tasse en moet kompleet soos Will Smith en sy seun (in die fliek : "The Persuit of happiness") 'n splinternuwe lewe vir jou kom MAAK WERK in 'n nuwe wêreld wat jy self uitgekies het.


Hier is die mooiste bome met die mooiste vorms, en as die son op die stamme skyn lyk die bome se bas soos silwer of goud
Die bospaadjies herinner my baie aan die Tsitsikamma woude op die tuinroete in Suid Afrika.


Met tye vergeet jy heeltemal dat jy eintlik in 'n stad is waar daar meer as 4 miljoen mense woonagtig is.
Plek plek is daar leersame beskrywings oor hoe die boomgroei plaasvind en 'n nuwe bos ontstaan waar daar eers niks was nie.



Die Palm Gully roete:



Na die tyd het ons so 'n paar draaie geloop deur die groot inheemse woud kwekery, daar is 'n groot verskeidenheid inheemse Australiese plante.

Niks kom darem naby 'n lekker koppie koffie in die middel van 'n woud nie. Onder begeleiding van klassieke kitaar begeleiding kan jy rustig sit en drink aan jou koppie koffie (wat terloops hier 'n "flat white" genoem word....die cuppucinos hier is baie sterker as wat ek gewoond aan is...so nou vra ek eerder net vir 'n "flat white" met skuim).

Lyk lekker ne?

Terwyl ons gesit en koffie drink en eet het, het ons geluister na die rustige klassieke kitaarmusiek...
Oppad terug na ons huis wat net so 300m in die straat af is...(verskoon my ge-"brêg", maar ek kan dit nou nog nie glo nie)

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings