Sunday, August 30, 2009

Vanaf Bathurst verby Mt Tomah en terug huis toe via Kurrajong

Met ons terugreis huis toe het ek besluit om die alternatiewe roete deur die Blue Mountains te neem. Normaalweg ry mens met die Great Western Highway via Lithgow en Katoomba, maar mens kan ook die "Bells Line Of Rd" roete neem. Die pad wyk dan uit vanaf Lithgow in 'n oostelike rigting en gaan dan onder andere verby die "Zig Zag Railway".

Hier onder kan julle die "Walls lookout" sien wat ons langs die pad teegekom het. Glo my, dit is baie hoër as wat dit lyk.

Vanaf Lithgow ry mens hoofsaaklik op die nek van die berge, tot by Mt Tomah, op 'n hoogte van 960 meter, vanwaar die pad geleidelik afdaal via vrugteboorde na die voet van die Blou Berge. Waar ons bly in Castle Hill is die hoogte bo seevlak sowat 140 meter.

Mens ry deur talle kleiner dorpies soos Berambing, Bilpin (sien ook hier),

Ons het langs die pad veral appel vrugteboorde teëgekom wat geheel en al onder seile toegespan was. In die volgende satelliet foto kan mens dit ook as sulke wit grys gedeeltes langs die pad herken.

By Kurrajong Heights begin die pad (amper soos by Kloofnek in die Kaap) met baie meer kronkels al hoe steiler langs die berge afbeweeg. Hierso begin mens dan nou al hoe meer woonhuise langs die pad sien en die plek laat my nogal aan Hartbeespoortdam dink, seker ook omdat mens so baie "bikeys" langs die pad op hul Harleys teekom. Hulle stop dan in groot groepe by die winkeltjies langs die pad.

Hieronder kan julle dieselfde pad sien soos gesien in 'n noordelike rigting.

Nadat mens uit die berge is, is die eerste groot "voorstad" van Sydney wat jy teëkom Richmond, waarna Windsor volg en dan is jy in die Hills waar ons bly. Ons is dus net 'n hanetreetjie van so 50 km vanaf die Blue Mountains. Vir my is hierdie roete baie mooier omdat daar baie meer groen velde en vrugteboorde is, wat dit baie minder vervelend as die alewig beboste omgewing via Katoomba maak.


Hierdie was dan nou die pad huistoe, maar laat ek julle nou eers bietjie wys hoe dit by die
Mt Tomah botaniese tuine aan die bopunt van hierdie pad lyk...

Ons probeer om altyd by die botaniese tuine 'n draai te maak. Die Mt Tomah botaniese tuine herinner so bietjie aan Kirstenbosch in die Kaap, met baie soortgelyke blomme. Hierdie word as die "koue klimaat" afdeling van die Sydney Royal Botanical Gardens gesien en bevat baie plante wat in sulke koeler mediterreense streke voorkom van regoor die Suidelike halfrond.

Hier is die posisie op die kaart.

Ek het so 'n paar baie mooi blomme, waaronder die Protea en die Aalwyn afgeneem.










Hier is nog 'n sonhorlosie - die tyd is nogal heel akkuraat.



Teen die berg af is daar 'n magdom paadjies wat deur die aangeplante woude, uitgelegde tuine en stroompies loop.




Ek het die volgende blom nogal uitsonderlik mooi gevind.


Daar is 'n hele paar bome in hierdie tuine wat hulle reken al meer as 200 jaar hier staan.








Ons het ook deur die reënwoud gaan stap wat na 'n ene Lady Fairfax vernoem is gaan stap.






Ek kon reg binne in hierdie boom gaan staan.


Hier is albei van ons binne in die boom.


So 'n paar bobejaantoue wat ou Tarzan sy moses sal laat teëkom - maar hier is geen teken van enige bobejane nie.


So 'n paar bome in 'n netjiese kring.





'n Paar kelkie blomme, lyk amper soos 'n bruid se versiering.


'n Werkerby besig om nektar te versamel.


Die uitsig vanaf die restaurant, waarvan die pryse so ietwat goedkoper is as by die Scenic Skyway in Katoomba. Kliek daarop om te vergroot.



Gaan kyk gerus na hierdie volle panorama foto deur na hierdie skakel te gaan.
Ek het 'n varsgebakte hoenderpastei met 'n Italiaanse brand-sous geëet, was regtig baie lekker gewees.



Dit was dan nou die tog oor die Blou Berge vanf Sydney via Katoomba, Lithgow tot by Bathurst en Orange en toe weer terug via Kurrajong, Richmond en Windsor.






Thursday, August 27, 2009

Oppad na die dorpie Orange

Ons het besluit om die omgewing vanaf Bathurst tot by die dorp Orange bietjie te besigtig. Langs die pad kom mens plek plek, soos in baie landbougemeenskappe, padstalletjies teë.
Een so 'n plek was die "Beekeeper's Inn". Een boerdery wat hier nogal goed doen is byeboerdery, of "Apiaries" soos dit ook bekend staan. Daar is 'n groot verskeidenheid soorte heuning on van te kies en te keur, verskillende kleure en geure. Sommige heuning is rooi, sommige geel, sommige oranje, sommige vorm sandsuiker ander nie, sommige soorte het 'n skerp smaak, an ander het 'n minder skerp smaak - alles hang af van die omgwing en die soorte bome en blomme.


Daar is ook binne in die winkeltjie 'n lewendige byekorf. Mens kan die bye sien wemel en werskaf.

Ek het vir ons die lekkerste heuning hier gekoop. Sulke dik, taai, toffierige heuning met die lekkerste smaak, sonder die effense skerp smaak wat heuning normaalweg het.

Binne in die winkeltjie is daar ook allerhande goeters uit die jare toet. Soos hierdie grammofoon...
Daar was ook oral fotos op van hoe die skape geskeer is en die goud gemyn is.

Hier is 'n outydse mikroskoop.

Dit is soort van 'n pioniersmuseum, hier is byvoorbeeld 'n ou baba-cot.


En natuurlik allerhande outydse botteltjies en goetertjies, wat my vrou se aandag getrek het.


Hiervandaan is ons deur die dorpie "LuckNow", wat ons amper mis sou gery het as dit nie was dat ek langs die pad wou stop om 'n foto te neem nie.





Gaan kyk gerus na hierdie panorama van naderby.

Dit gee julle meer van 'n idee hoe die wêreld hierlangs lyk.

Hierdie hele geweste was (soos Pelgrimsrus en Baberton in Suid Afrika) deel van die goudvelde in NSW. Baie van hierdie dorpe het oornag opgespring toe goud hier ontdek is en toe weer net so vinnig leeggeloop na verloop van hare toe al die erts uitgegrawe is. Lees bietjie die onderstaande storie.



Hierna het ons toe in Orange aangekom, wat amper meer van 'n stad as 'n dorpie is. Dit is 'n heelwat groter dorp as die ander dorpe wat ons teegekom het, met baie mooi moderne huise na die westelike deel van die dorp.


Hier is so 'n paar fotos geneem in Orange. Ons het sommer daar voor die stadsbiblioteek 'n lekker koffie en plaatkoekies/"crumpets" met plaas heuning gesit en eet.





Die biblioteek.




Daarna is ons na Orange se botaniese tuine.









Hier is 'n lewensgroot sonhorlosie...




Dit was toe so om en by 2 uur.

Soos wat die son na die noordelike halfrond beweeg in die winter en weer terug, moet 'n mens op verskillende plekke staan om die skaduwee op die regte plek te gooi.



Weer terug in Orange het ek gou by Harvey Norman vir my selfoon lugtyd gaan koop.




(Na al die gesukkel om my selfoonkontrakte gestop te kry in SA, kry hulle my nie sommer om weer myself vas te teken in selfoonkontrakte nie).



Hierna het ons besluit om weer plaas-waarts terug te keer om 'n vleisie te gaan braai. Ek dink hierdie omgewing is prentjie mooi in die somer...kyk net die natuurlike "arch" wat hierdie bome maak.

Natuurlik was daar nog baie skape langs die pad...




Die foto hieronder het nogal my aandag getrek met die ou geroeste plaashek.




Volgende keer vertel ek verder.



Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings