Wednesday, August 12, 2009

Fair Dinkum

As 'n mens mos vars uit die oond hier in die land van die Dingos, Wallabies, Wallaroo en Kangeroes aanland, dan klink al die sêdinge van die Dundee mense nogal vreemd. Aan die begin kan jy jouself omtrent glad nie indink hoe jy dit nog gaan regkry om gemaklik met hulle woorde op jou tong te werk nie. Dit voel so dan so uitlands. Hoe kan mens dan nou vir iemand sê: "Good dy meid" ?! Die konnotasies en beelde wat by jou opkom as jy sekere woorde gebruik voel net nie lekker nie! Ek sukkel nou nog om nie soos 'n Duitser te klink met my ge-JA-JA nie... JAWOL - dink hulle seker ek gaan sê. Maar 'Ye-Ye' klink dan soveel na 'n SONG of selfs 'n BAND wat in 'n sjebien tuishoort. Hoe sal ek nou voel met 'n ge-ye-ye-ery heeldag... Maar dis hoe die mense hier praat wanneer hulle instemmig jou volg terwyl jy praat...ye...ye, en tog voel dit nie vreemd as ek steed JA-JA nie, ek sal dit seker nooit ophou doen nie, want dis die moeilikste.

My eerste tree om die land se spreekwoorde en sêdinge baas te raak het begin toe ek besluit het om my tong te waag aan die groetvorm G'DAY, nadat ek die eerste paar maande nie verder as Hi kon vorder nie. Aanvanklik het dit baie vreemd gevoel...mens voel amper asof jy oor jou woorde gaan struikel en wonder of iemand gaan agterkom dis die heel eerste keer in jou lewe wat jy iemand groet met G'Day Meid. My eerste slagoffer was die busbestuurder...hy het my net so een kyk gegee en ge-antwoord: "You are from South Africa!..en die volgende paar weke was Suid Afrika se krieket altyd op die spyskaart wanneer ek in die bus geklim het huistoe...

As die mense hier wil weet hoe dit gaan met jou, dan is dit: "How ya going?", waarop ek gewoonlik antwoord met "Good and you"...maar dit klink lomp asof ek bedoel "Goed en met jou", dalk moet ek eerder vra "Well and with you?". Hulle antwoord dan gewoonlik met "No worries!", maar dit klink eerder soos "Nou Wohrees" en hulle gebruik dit eerder wanneer mens verskoning gevra het oor iets en hulle eintlik bedoel: "Moenie worrie nie!" of "Dis OK".
Ek klink vir myself ook presies net soos 'n Suid Afrikaner wanneer ek totsiens sê met: "Have a nice evening / Hev a naais day..." Amper soos antie Stienie in Agter elke man! Nou besluit ek maar ek sê eerder "G'Day" as ek van die bus afklim, want hier kan mens dit ook vir totsiens gebruik. Ek onthou ek het in die begin eerder "Don't worry" gesê, maar net soos mens later amper soos 'n Kapenaar begin praat as jy baie tussen die Kaapse mense is, of soos 'n swart man begin praat as jy met jou tuinjong praat....net so voel dit later amper asof mens iemand anders se manier van praat aanneem...onbewustelik dink ek mens wil vir hulle wys mens identifiseer met hulle in jou praat. Nou voel dit nie meer vreemd om "Nouw wohrries" te sê nie. Dit kry nou amper die betekenis van "Dis my plesier!" en "Dit was nie moeite nie!"

Gister het ek myself nogal verbaas...toe een van ons kliente dit reggekry het om self die sagteware op sy rekenaar te "fix". Ek was so dankbaar ek haak sommer af met: "Good on Ya!" - dit is mos soos om te sê : "Mooiskoot! Wel gedaan! Knap gedaan!" Dit was my eerste keer - en dit het nie eens vreemd gevoel nie.

Ek vang myself nou die dag waar ek so entoesiasties praat oor die baie foute wat ek uitgesorteer het...en vertel my baas daar was "HEAPS of BUGS" wat ek moes regmaak. "HEAPS" is wat hulle hier gebruik om die konsep van "VREK BAIE" uit te druk. Dis soos as iemand vir jou vra: "Hoeveel mense was daar by die rugbywedstryd?" HIEPS man HIEPS.

Nog woorde waarvan mens gou die betekenisse hier leer is:
'n Weekly - die weeklikse treinkaartjie wat ek nou al vir 2 jaar getrou koop sonder dat iemand dit nog ooit nagenaan op opgecheck het.

Uni - wat hulle universiteit hier noem

TAFE - staan vir Training and Further Education = soos 'n tegniese kollege waar enigiemand enigiets van fotografie tot koffiemaak (om 'n BARISTA te wees) kan gaan leer na ure of voltyds

Postie - dis nou Nie POUSTOUSTIES nie! Dis wat hulle 'n posman hier noem

P-Plater - dis nou iemand wat sy bestuurderslisensie nog op "Probasie" het en tussen 4 en 7 punte het om te verloor voor sy lisensie vir 3 maande "Voertsek Goebaai is" (Met 'n vol lisensie het mens 12 punte)

RTA - The roads and traffic authority (dis nou die plek waar jy die bestuurderslisensie en motorregistrasie gaan doen)

'n Digger - wat hulle Aussie soldate noem

Boat people - die ekwivalent van onwettige Zimbabwiers wat oor die grens kom met 'n boot

Bushwalking - iemand wat voetslaan of stap in die veld

True blue - as iemand 'n True Blue Aussie is, dan is hy 'n baie patriotiese Aussie

Pub night - dis nou 'n ander naam vir Donderdae aande

Dunny - ek het agtergekom dis die Aussie naam vir 'n toilet

'n Chook - aanvanklik het ek gedink dis 'n trein, maar na 'n ruk het ek agtergekom dis 'n ander naam vir 'n hoender - die vergrotingstrap van 'n Chick

'n Clunker - is 'n ander naam vir 'n Skedonk van 'n kar

The baggy green - die pofferige groen pet van die Aussie krieketspelers (soos Sir Donald Bradmanvan ouds)

En laaste maar nie die minste nie is die gesegde "Fair Dinkum !"
As mens sou vra "Are you fair dinkum?" Vra jy eintlik: "Is jy nou ernstig? Is jy nou eerlik met my, praat jy die waarheid of trek jy my been?" Waarop jy kan antwoord:
"Fair dinkum!!" En dis net soos om te sê: "NJANNIES KGOPELA! TRUSE BOB! Dis nou die REINE waarheid! "
Die woorde kom waarskynlik van die ou Engelse woord 'dincum' wat harde werk beteken, wat die konnotasie het van jou geld op 'n eerlike manier verdien het...en nie op 'n maklike manier skelm in die hande gekry het nie.

Julle weet mos ek het al vertel van hoe hulle hier die treine met busse vervang as daar aan die spoorlyn gewerk word. Ek het dalk al ook genoem van hoe ek soms my busstop mis omdat ek ingedagte is, wel hier is nou 'n fair dinkum storie: 7 passasiers wat van Hornsby na Gosford (net so 'n paar stasies noord van Sydney) wou reis, moes juis as gevolg van 'n ongeluk met die spoor die bus haal, maar het te midde van die geharwar op die verkeerde bus geklim en een ou moes toe tot sy afgryse naby Newcastle uitvind dat daardie bus eers weer in Brisbane stop!!! Dit het regtig gister gebeur : Bus ride home ends in Brisbane
en But he insists he had no chance to get off at Gosford.
Truce bob!

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings