My gunsteling Podcasts/Potgooie


Een van die groot salighede wat my hier in Australië te beurt geval het is die feit dat ek nie meer soos in my geboorteland in die oggende in verseersknope hoef vas te sit nie.  Ek laat daardie las oor aan die busdrywers wat my in die oggende by die stadie moet aflewer.  As die busrit langer vat is dit alles vir my heel gewensd, want dit beteken eenvoudig dat daar meer tyd is om na my gunsteling potgooie (podcasts) te luister.  Hetsy op die bus of op die trein traak die tyd my nie meer soveel nie, want ek kan in elk geval nie meer daaraan verander nie.  

Ek het al heelwat oudioboeke en "podcasts" deurgeluister op die trein in die oggend en die middag.


Soos wat ek luister na allerlei temas oor tegnologie, wetenskap en geskiedenis leer ek op hierdie manier ontsettend baie van die wêreld rondom my.  Ek het heelwat gunsteling potgooie waarna ek luister en ek wil graag die RSS skakels met julle deel sodat julle ook daarna kan luister:

Die RSS feed skakels na my heel gunsteling podcasts is die volgende: (Julle behoort dit te kan gebruik om jul oudio spelers op te stel.)

Indien julle hul webtuistes wil deursoek:
Tweedens is ek baie lief vir Geskiedenis.  Hulle sê in Aardrykskunde en sterrekunde leer 'n mens oor waar jy is in ruimte, terwyl jy weer in Geskiedenis leer waar jy jou bevind in tyd.  Dit help jou om jouself te kan plaas in alle eeue.

Van my gunsteling Geskiedenis PodCasts wat ek al deurgeluister het is die volgende:

  • Die geskiedenis van Alexander die Grote - deur Jamie Redfern

    560 vC tot 276 vC

    Hierdie podcast handel oor die tyd voor, gedurende en na die lewe van Alexander van Macedonië (noord van Griekeland) wat in 356 vC gebore is en in 323 vC oorlede is en in sy kort lewe van net 33 jaar die eens magtige Persiese Ryk onder Darius II op hul neus laat kyk het.
    Daarword baie agtergrond gegee oor die Persiese ryk wat Alexander voorafgegaan het, tot so ver terug as 560 vC.  Dit dek selfs die oorlog in 480 vC  tussen die Grieke, Spartane en die Persiese koning Xerxes I in die oorlog van in die fliek 300 so goed uitgebeeld is, waar koning Leonidas van die Spartane gespeel is deur Gerhard Butler.
    Die storie van Alexander begin by die oorloë van sy pa, Philip II van Macedonië om en by 358 vC teen onder meer Bizantium (die oos Romeinse Ryk), die geboorte en lewe van Alexander totdat hy op die ouderdom van 16 jaar saam met sy pa in oorloë teen die Grieke in Athene en later saam met die Grieke teen die Persiese Koning Darius II.  Dit vertel die storie van hoe Alexander al op ouderdom 33 kort voor sy dood die hele mediterreense streek insluitende Egipte, Babilon tot sover as Indië onder sy beweind gehad het.  Daarna word daar ook verduidelik wat met die Grieks/Macedoniese ryk gebeur het tot en met 276 vC wanneer die Romeinse Ryk na vore begin tree het.  Dit is ook in die tyd dat die Gaulliers (soos in Asterix en Obelix) begin het.

    Dit is 'n uitstekende podcast deur Jamie Redfern en julle kan na sy blog gaan kyk by:
    thehistoryofpodcast.blogspot.com.au.
    Die RSS feed van die Alexander Podcast is:
    RSS FEED : Die Geskiedenis van Alexander van Macedonië : http://thehistoryofpodcast.weebly.com/uploads/1/3/4/7/13473658/alexander.xml

    Of as julle wil kan julle aanlyn daarna gaan luister by:
    www.learnoutloud.com : A-History-Of-Alexander-the-Great

  • Die Geskiedenis van Hannibal en die oorloë tussen die ryk in Carthage in noord Afrika (nou Tunisië) en die Romeinse Ryk - deur Jamie Redfern
    264 vC - 182 vC
    Dit handel onder andere oor hoe Hannibal 'n weermag met olifante deur die Alpe gelei het.
    RSS FEED : Die geskiedenis van Hannibal van Carthage
    www.learnoutloud.com : A-History-Of-Hannibal

    Dit is nog 'n podcast van Jamie Redfern (wat met sy Noord Engelse/ Ierse aksent en humorsin die geskiedenis besonder lewendig kan maak)

  • Die Geskiedenis van Rome - deur Mike Duncan800 vC - 480 nC
    Besoek Mike se blog by thehistoryofrome.typepad.com
    Luister dit aanlyn by
    www.learnoutloud.com : The-History-of-Rome
    Dit is 179 episodes wat handel oor die ontstaan van Rome (om en by die tyd van die Trojaanse Perd) tot en met die val van die Westelike Romeinse Ryk om en by 405 nC.  Die vaandel van die Romeinse Ryk is verder deur die Oosterse Romeinse ryk in Konstantinopel as die Bizantynse Ryk voortgedra to sover as 1453 nC waaroor julle kan leer in 'n podcast van Lars Brownworth.


  • Die Geskiedenis van die Bizantynse/Oostelike Romeinse Ryk aan die hand van 12 Bizantynse Regeerders - deur Lars Brownworth
    285 nC - 1453 nC

    Hierdie is 'n in diepte en baie insiggewende podcast wat handel oor die Oos Romeinse Ryk wat deur Keiser Konstantyn in Konstantinopel (nou Instanbul in Turkye) begin is. Dit dek ook die geskiedenis voor die vol van die Westelike Romeinse Ryk gesetel in Rome.
    RSS FEED : 12 Byzantine Rulers
    Luister dit aanlyn by Lars se webtuiste : 12 Byzantine Rulers : The History of The Byzantine Empire (By Lars Brownworth) : 12byzantinerulers.com
    Dit begin in 285 nC toe die Romeinse keiser Diocletian die Romeinse Ryk opgesplit het in die Westelike en Oostelike Romeinse Ryk, met Rome as die hoofstad van die Oostelike Ryk en Bizantium (Later Konstantinopel) as die beter hoofstad van die Oostelike Romeinse Ryk.  Dit was alles gedoen om die Ryk beter te kan regeer.  Dit dek  die lewens en tye van 12 van die Oos Romeinse Ryk se Keisers en eindig in 1453 nC met die val van Konstantinopel tydens die inval van die Turke en die dood van die keiser.   Die Byzantynse Ryk word gesien as die skans wat die kultuurskatte en westerse kultuur van die Romeinse Ryk vir eeue vir die latere nageslagte behoue laat bly het juis omdat dit vir 'n hele 1000 jaar na die val van Rome nog weerstand kon bied teen die inval van die oosterse plunderaars- met Konstantinopel 'n tipe van 'n Fort wat die insuipeling gekeer het.
    Baie geskiedenis oor die Gotiese volke soos die Vandale, die Lombarde, Franke en die Normanne word ook genoem, maar die meeste oor die Noormanne kan julle leer in Lars se ander podcast: Norman Centuries.

    Lars Brownworth is 'n uitstekende geskiedenis verteller en sy vertellings sal julle geboei hou.  Maak gerus 'n draai op sy blog : Finding History

  • Die Geskiedenis van die Noormanne / Vikings - deur Lars Brownworth
    793 nC - 1194 nC
    RSS FEED : Norman Centuries podcast
    Luister aanlyn na hierdie uitstekende podcast : Norman Centuries 
    Dit begin met die plundering van die Europese wêreld van Westelike Europa en Brittanje deur groepe van Skandinawiese Viking "avonturiers".  Dit vertel die storie van 'n Noorweegse Viking Rolf die Viking wat so groot was dat hy altyd net gestap het omdat hulle nie 'n perd kon kry wat hom kon dra nie.  Daar word vertel van hoe Karel die Grote (Charlemagne) se Frankiese koningkryk toenemend die prooi was van hierdie  Noormanne wat die kus van Noordelike Frankryk geplunder het.  Uiteindelik het die Franke in 911 nC  besluit om vir hulle 'n groot kusstreek te oorhandig wat ons nou ken as Normandië - in ruil daarvoor dat hulle die Christelike geloof aanneem en hulle "beserker" gode Odin opgee.  Op hierdie manier moes die Vikings hul eie grondgebied beskerm. Daar word breedvoerig ingegaan op die magtige Vikings wat eeue lank die beskaafde wêreld geterroriseer het. Vikings het ook Brittanje ingeval en selfs Dublin in Ierland gestig.  Hulle het Konstantinopel ingeval en selfs Rusland se naam is van hulle afkomstig.  Die lewens van baie van die Noormanne word behandel asook die inval van Brittanke deur William die Veroweraar.  Later was daar selfs 'n Noorweegse koning op die Britse kroon sodat daar tot vandag nog bande tussen die Britse en Noorwee is.

    Dit is 'n baie, baie interessante podcast en ek sal dit hoogs aanbeveel.



  • Die Geskiedenis van Engeland -
    deur David Crowther

    516 - 1901 nC
    RSS FEED : The History of England
    Luister dit aanlyn by The History Of England (historyofengland.typepad.com)
    Dit volg die geskiedenis van die vroegste settelaars die Wes Saxons in 516 nC aan die Suid Westelike kus van Engeland (onder die leiding van Cerdic), die Angols, die eindelose stryd met die Vikings vanaf 870 nC, die Deense invalle en uitendelike regering van Denemarke deur Cnut op die Engelse kroon, met die daaropvolgende verowering van Engeland deur die Noormanne onder die leiding van Willem die veroweraar...al die pad tot die dood van Koningin Victoria in 1901.



No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings