Thursday, August 23, 2007

Die lewe van 'n skoenlapper

Dis vroeg Saterdagoggend. Ek sit hier voor my rekenaar en kyk uit by die venster. Daar is 'n digte mis oor die stad. Die afgelope week of twee reën dit amper onophoudelik. Hulle sê op die nuus dat daar al Dinsdag op een dag net soveel reën geval het as wat dit in 'n hele maand tydens normale tye val. Sydney se damme is blykbaar amper 60% vol (die hoogste vlak in 4 jaar) en hulle kan dalk begin kyk na waterbeperkings verminder.

Buite die venster hoor ek die voëls sing en sien uit na die naweek. Hoe langer mens hier is, hoe meer verdwyn daai gevoel van onvoorbereidheid, vreemdheid en onbekendheid wat jou soos 'n buitestaander kan laat voel. 'n Mens kan letterlik agterkom dat jy met een of ander aanpassingsproses en doelbewuste verandering besig is - amper soos wat 'n baksteen deur 'n messelaar met sy troffel reggekap word sodat dit netjies op die regte plek in 'n huis vasgemessel kan word. 'n Mens ondergaan ook 'n metamorfose, jy beweeg van een stadium van jou lewe na die volgende stadium.

As kind het ek allerhande troeteldiere gehad:
ganse, hoenders, muise, hamsters, marmotte, konyne, paddas, katte, budgies, kanaries, verkleurmannetjies, skilpaaie en honde...noem maar op.

Maar nog iets wat ek ook gehad het was sywurms. Ek het as kind baiemaal die sywurms (eintlik sy-ruspes) gevolg deur hul hele metamorfose van eiers tot ruspes, tot papies tot motte en weer terug na eiers. Een ding wat ek toe al geleer het was die feit dat 'n sy-ruspe se lewe bestaan het uit 'n opeenvolging van veranderings....want as daar 'n papie was wat 'n papie gebly het - kon jy verseker weet dat die stomme ding dood is, en as 'n ruspe nie vir hom 'n papie kon spin nie, dan kon ek maar weet dat hy nie een van die gelukkiges was wat eendag 'n mot sou word nie...hy sou as 'n ruspe sterf en uitdroog! Sonder 'n metamorfose of verandering was die ruspe gedoem, want die mot-lewe impliseer aanpassings maak. Waar die ruspe tevrede moet wees met sy omstandighede in die skoenboks, het die sy-mot uit sy omstandighede ontsnap een aand terwyl ek geslaap het en sou ek die volgende oggend motte oraloor my slaapkamer hê.

Ek lees nou die dag die volgende:

"Twee ruspes is een dag besig om met mekaar te gesels toe 'n mooi flinder verbyvlieg. Die een ruspe sê toe vir die ander een: 'Jy sal my nooit op een van daai skoenlapper gedoentes kry nie!'

  • Dis normaal vir ruspes om verandering te probeer vermy, want dit druis in teen hul ruspe gestel.
  • 'n Ruspe sien geen behoefte daaraan om te kan vlieg nie. Hy dink dis al wat daar aan die lewe is om te eet om te oorleef.
  • Selfs al maak ruspes nie 'n besluit om te verander nie...dit gaan gebeur.
  • 'n Ruspe hou op om 'n ruspe te wees voor hy 'n vlinder word.
  • Ruspes kan kies om aktief deel te neem aan die verandering en sodoende vir hulle die beste blare in die boom uitsoek om teen vas te spin, of hulle kan toelaat dat die wêreld (en seisoene) rondom hul verander tot hul nadeel.
  • Dis makliker vir vlinders om perspektief te kry oor hul omstandighede as wat dit vir ruspes is.
  • As ruspes verandering weerstaan bring dit stres en swaarkry vir hulle mee later.
  • Ruspes se hele lewe is gefokus op eet en eie oorlewing, terwyl vlinders se lewe handel oor die voortbestaan en verspreiding van hul nageslag.
  • Metamorfose/verandering vind vir die ruspe plaas in 'n donker, klam, benoude spasie van die toegespinde papie waar hy stadig maar seker die eienskappe van 'n mot/vlinder bekom na verloop van tyd en met baie geduld.
  • Wanneer 'n ruspe verander het in 'n volwaardige vlinder/mot, moet hy self die beklemming van die papie oopbreek en begin vlieg...al is dit iets wat hy nog nooit voorheen in sy lewe gedoen het (of selfs bewyse het dat hy selfs instaat is om te kan vlieg nie)."

Nou ja, weet nie of mens bogenoemde regtig op mense van toepassing kan maak nie, maar ek wil tog net iets kwytraak in verband met die pynlike (en soms minder pynlike proses) van veranderings en aanpassings wat ons besig is om deur te maak in ons eie lewens...

Dis nie maklik nie. As ek nou weer 'n groot internasionale vliegtuig oor my kop sien vlieg, dan sien ek nie net 'n klomp mense wat êrens heen oppad is op vakansie of op sakereise nie....nee, nou weet ek dat daar heelparty van hulle is, wat soos in 'n "papie" of "life capsule" oppad is na 'n nuwe toekoms. Hulle weet nie wat vir hulle voorlê nie! Dit is maar die eenvoudige eerste stappie na 'n onbekende, opwindende en soms "scary" reis na 'n ander stadium in hul lewens.

Ek probeer om my gevoelens tydens hierdie veranderingsproses te verstaan en dit hier neer te pen....sodat julle ook kan verstaan waardeur mens gaan as jy hierdie bal in jou lewe aan die rol gesit het.

As jy daai dag (in ons geval 24 Mei in die jaar 2007 AD) jou voet van die Qantas 747 sit, het jy in hierdie wêreld letterlik net die klere aan jou lyf en die klere en goed in jou tas by jou. Jy en jou familie moet dan alles wat gaan gebeur op hierdie nuwe kontinent, 11000km weg van wat jy as beskawing geken het, self laat gebeur. Daar is nog nie eers 'n "footprint"/voetspoor of selfs 'n fingerafdruk van jou of een van jou gesin op enige plek in Australië nie! Dan is dit net jy en jou gesinnetjie! Jy begin feitlik as 'n groentjie van voor af in jou lewe. Ek het al baiemaal gedink dis soos om eendag nog in Suid Afrika te wees en die volgende dag word jy wakker êrens in 'n ander tyd in die toekoms, op 'n ander plek. Amper soos om deur 'n tydmasjien te beweeg. Wat dit moeiliker maak is dat daar nie 'n geleidelike verandering plaasvind in jou kop nie...soos wanneer jy geblinddoek na 'n plek toe gelei word en die blinddoek dan afgehaal word.

Skielik is baie dinge anders, ander weer ietwat dieselfde. Jy is skielik bewus van nuwe reuke en geluide. Sommige dinge wat jy so aan gewoond was en wat jy as vanselfsprekend aanvaar het soos mielepap is ewe skielik net weg - asof dit net nooit bestaan het nie. Dit voel of jou ander familie almal op een slag van jou weggeruk is en van nou af ken jy hulle van nou af net as stemme...
As jy nou met mense praat verstaan hulle nie altyd jou uitspraak nie, hulle vang nie altyd jou grappe nie, jy verstaan nie altyd hul lyftaal nie en die onbewustelike lyftaal gebare waaraan jy gewoond geword het word dalk nie eers raakgesien nie. Die mense hier is regtig "nice" mense, maar daar is 'n ellelange toubrug wat jy nog sal moet oorsteek van jou agtergrond na hulle s'n om regtig soos hulle te wees. Aan die begin is hulle Aussie aksent so vreemd dat jy gedurig vir die mense moet vra om alles te herhaal, want jy kom as hardhorend voor....maar na verloop van 'n paar maande klink hul aksent so natuurlik dat jy eers agterkom dat dit van joune verskil wanneer jy jou eie mond oopmaak en jou lippe en tong lomp voortstrompel om al die ingerygde gedagtes in Engelse woorde te omskep.

Jy besef gou dat jou werkgewer hier (wanneer jy nog op 'n tydelike VISA is), jou enigste waarborg is dat jy hier mag wees. Amper soos om met permissie te lewe. Jy probeer alles wat jy doen by jou werk so goed as moontlik doen, nie net vir jou onthalwe nie, maar ook omdat jy nie wil hê hulle moet 'n slegte idee kry van mense van Suid Afrika nie...want jy is per slot van rekening nou 'n ambassadeur...nie vir die SA regering nie, maar vir al die hoopvolle Suid Afrikaanse mense wat ook graag hier wil kom bly en werksaanbiedinge wil bekom. Die publieke vervoer vat nogal 'n rukkie om gewoond aan te raak, want in SA was jy gewoond om jouself rond te karwei, maar nou impliseer "vervoer" dat jy op die regte plekke op die regte tyd moet wees en jy is van ander afhanklik om jou te kry waar jy wil wees....dis nou as jy kon
"uitfigure" waar jy moet wees en op watter trein en bus jy moet klim. Jy kom ook gou agter dat die mense op die treine en busse mekaar nie "al jare ken nie", want hulle is elke dag vreemdes vir mekaar en sit styf teen mekaar dog ligjare ver. Dis nogal 'n hoë skans om oor te kom om geselsies te kan aanknoop op die busse en treine....dit gebeur bitter min. Wat 'n pluimpie aan my Suid Afrikaanse afkoms! Ons is gasvrye mense.

Die geld wat jy oorgeplaas het is jou enigste lewenslyn vir die eerste rukkie wat jy hier is. Glo my...jy wil genoeg hier in 'n bankrekening hê. Dit bepaal hoe sag of hard jou landing is. Die eerste maand of twee leef jy letterlik nog uit jou tasse. Jy is 'n reisiger oppad na iewers. Jy kan nie besluit hoeveel jy wil uitpak in die kaste nie en hoeveel jy wil los in die tasse nie. Want jy is dan nog hard op soek na huur akkommodasie en hier moet mens soms besluit of jy gaan dit vat wat jy kry, en of jy gaan vir iets beters wag. Die eerste paar weke is dit 'n "flatspin" soos 'n klein maltese hondjie wat met sy pote se naels gly op 'n teëlvloer om blyplek te kry, en as jy dit eers het en daai huurkontrak geteken is, is jy oor die hond se stert. Dan begin jy sorg dat jy 'n Internet konneksie naelstring het na jou familie in SA toe en dat jou water, ligte en gas aangesluit is in die nuwe huis. En glo my...jy WIL dadelik 'n kar hê hier. Moenie sonder een probeer oor die weg kom nie, jy maak die lewe baie moelik vir jousself. So baie plekke om heen te gaan en so baie dinge om te reël...alhoewel baie hier oor die Internet gedoen kan word.

Dis maar beknop in hierdie "papie" waarin jy jouself toegespin het. As mens eers die besluit geneem het om te kom, dan moet jy deurdruk en die besluit deurvoer met elke nuwe spindraad wat jy om jou maak. Eers net paspoorte, en die "Skills assessment"...en kyk dan wat gebeur. Dan, as jy dit gekry het, begin jy al hoe meer glo dat hierdie droom dalk net moontlik is. Dan die PR VISA aansoek en kostes, allerhande sertifikate, die IELTS Engelse toetse...en dit begin stadig in jou kop 'n werklikheid word. Dan 'n werksaanbod, werkskontrak, VISA "sponsor", nominasie, VISA goedkeuring, vliegtuigkaartjie besprekings...en jy is al regtig vas. Dan plaas jy jou geld oor na 'n land waar jy nog nooit was nie, jy maak akkommodasie besprekings, jy betaal 'n kar deposito, jy reël en betaal die vraghouer...alles dinge wat jou vaster en vaster toesspin in die kokon wat jy en jou gesin gaan gebruik om 'n nuwe lewe in Australië te kan maak. En as die motte hier uit die kokon breek, dan moet hulle eiers lê vir 'n vale...want dinge gebeur nie vansself nie. Skole moet gereël word vir die kinders, bankrekenings moet geaktiveer word, belasting nommers is nodig, motorregistrasie moet gedoen word, kar moet gekoop word en reëlings moet gemaak word met jou werkgewer om die werkswiele aan die rol te kry.

Baie dinge is vreemd...as jy skielik in die aand van die eerste weke hier agterkom jy het kruideniersware soos skeerroom, toiletpapier, selfoon lugtyd en koffie nodig, dan het jy nie 'n "clue" waarheen om te ry nie. Jy skakel dan sommer net die GPS aan en vat koers in 'n rigting in die nag in. Jy ry sommer net agter jou neus aan om by 'n winkel uit te kom wat nog na-ure oop is. Want jy ken glad nie die plekke hier nie. Jy weet nie waar is die naaste apteek, poskantoor, KFC of Pizza plek nie. Dis n verkenningstog van die ergste graad. Want sien: vroulief het NOU 'n koppie kofffie nodig en sy verlang na haar Ma. As jy uiteindelik 12 km verder 'n plek opgespoor het wat oop is...dan merk jy dit op jou GPS.

Die verlange vang jou ook nogal. Dis soos 'n lae rugpyn waarmee jy kan saamleef, maar wat nooit regtig weggaan nie. Jy gaan voel of jy jou mense in die steek gelaat het, maar in dieselfde gedagtegang dink jy aan al die redes wat jou maak trek het, en die hoop wat jy vir jou kinders se toekoms gekry het, die vryheid en veiligheid wat jy nou geniet, die groot kontinent wat wag om verken te word en al die vriendelike Aussie mense wat jy tot dusver al ontmoet het.

Nog iets wat mens deeglik in ag moet neem...dan is dit die lewenskoste in Sydney...dit is redelik duur om 'n lewe te maak hier. Sorg dat jy 'n goeie salaris kry, want as jy eers hier is moet jy en jou gesin daarop leef, want dit is nie baie slim om hier in skuld te beland nie, daar is genoeg ander dinge om oor te stres. Want jy moet soos 'n skoenlapper vry wees en nie soos 'n mot wat te naby aan die vlam vlieg nie....

Op 'n ander noot...wat dink julle van hierdie mooi sonsondergang fotos wat ek nou net geneem het...


Genoeg nou van al my vergelykings... dis mos my blog, so verdra maar al my Afrikaanse woordspeletjies - soms doen ek dit sommer net om my te verlekker in my taal...so moet nie te veel daarin probeer lees nie...ek is nie 'n aartswysgeer nie...vat maar alles met 'n knippie sout, want hierdie is die plek waar ek al daai onuitgespreekte gedagtes wat elke dag in my kop opkom op my LCD monitor kom vaspen daar waar die gedagtes oop en bloot op hul eie bene moet staan of afgeskiet word...dit help my om hierdie veranderinge te verwerk.

Mooi ne?

3 comments:

  1. Dankie dat jy jou gedagtes so duidelik uitspreek. Ek weet nie wanneer dit my beurt gaan wees nie, en dit help bietjie om 'n ou voor te berei. Maar nog steeds is dit nie maklik nie, ne? En dit help nie om deur iemand anders te leef nie, op die ou end moet jy self die besluite neem.

    Groetnis uit Afrika. Ek het vanmiddag lekker gebraai met Mopanie hout, en die voordele van my Afrika-wees benut. Ek gaan dit mis as ek ooit weggaan. 'n Gasbraaiertjie op Perth se strand is net nie vir my dieselfde nie...

    ReplyDelete
  2. Hi, enige aanduiding van waar " 'n goeie salaris" sou begin? SOu $100k 'n goeie aanvanklike salaris wees, of is die $150k band (afgesien van die feit dat mens so veel wil verdien as wat jy moontlik kan) die begin van die goeie salaris-skaal, gereken teen 4 mense wat onderhou moet word?

    ReplyDelete
  3. My mening oor die saak is dat jy TEN MINSTE 25% kry in Aussie dollar wat jy in SA in rand gekry het. Met ander woorde, as jy byvoorbeeld sê maar op R300000 per jaar (met jou pensioen ingesluit) kon oorleef het in SA, dan het jy ten minste 0.25 x 300000 = $75000 per jaar nodig in Oz (ok met super ingesluit). Jy sal ONGELOOFLIK gelukkig wees as jy $150000 per jaar kon kry, want dan is jy waarskynlik so in aanvraag dat jy geen probleem sal hê om in Oz in te kom nie. Maar as jy soos die meeste van ons 'n "salaristrekker" salaris gekry het, dan sal jy eerder in die $60000-$100000 kategorie val. Waar $100000 gewoonlik net verdien word deur mense wat diep in die middestad vir een of ander baie groot maatskappy werk waar jy 'n team-leader of iets is en $170000 as jy die Finansiele Direkteur van 'n maatskappy is. Gaan kyk bietjie wat die tipiese salarisse is in verskillende velde in Oz : Salary Survey

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings