Saturday, August 18, 2007

Die basketbal wedstryd

Iets wat ek nogal regtig geniet hier in ons nuwe land is basketbal. Ek het my seun ingeskryf by die Hills Sports Stadium se basketbal program. Vandag was hy al die derde keer daar. Die kinders word ingedeel volgens hul ouderdomsgroepe en leer al die "basics" van basketbal. Dit is ook 'n baie lekker spel om saam met jou kinders te geniet. Ek en hy gaan Sondae middae bietjie oefen in Earlestoke Park waar daar 'n basketbal baan is.

Laas Saterdag aand het ek iets beleef wat ek nog nooit bygewoon het in my lewe nie. Ons heel eerste professionele basketbalwedstryd, en nogal tussen die West Sydney Razorbacks en 'n Amerikaanse span wat die "Athletes in Action" genoem word.

Toe ons daar kom was die saal omtrent gevul met 'n opgewonde atmosfeer. Die aand het 19h00 begin met die Amerkaanse en ook die Australiese volksliedere wat op 'n trompet gespeel is terwyl almal rondom trots geluister en saggies saam geneurie het.

Ek het die reëls bietjie gaan opswot en julle kan dit by die offisiele NBA website gaan beloer of by Wikipedia. Elk van die twee basketbal spanne bestaan uit 10-12 spelers waarvan daar 5 op enige tydstip mag speel. Hulle word deurentyd tydens die spel geroeteer. Die doel van die spel is om punte aan te teken deur die basketbal deur 'n 3 meter en 5cm hoë ring te gooi waaraan daar 'n tou mandjie met 'n gat aan geheg is om te verseker dat die bal reg onder die ring uitval.

Gedurende die spel kan die bal oor die baan (wat in die' geval van gepoleerde plankvloere gemaak was) beweeg deurdat 'n speler die bal aanhou hop sonder om dit vas te hou in sy hande (wat as "dribbling" bekend staan), of die bal kan vir een van sy spanlede gegooi (of selfs gerol) word, wat dit dan verder kan dribbel, of dit in die ring kan probeer kry. Anders as in netbal het die mandjies/ringe 'n agterste paneel waarteen die bal gegooi kan word sodat dit terugspring in die mandjie in. Die baan is sowat 29 meter lank en 15 meter breed.

Glo my, dit is 'n baie opwindende sport om te aanskou, en jy word sommer gougou, sonder dat jy regtig hard probeer, ingetrek in die atmosfeer van die spel, en voor jy jou kan kry raak jy sommer kinderlik gelukkig as jy sien hoe die spelers die bal oor die baan laat vlieg om dit moeiteloos deur die ring te laat gly - veral as dit die span van Sydney is...

Die spel word gespeel in 4 periodes van 12 minute elk - "four quarters". Daar is 15 minute rustyd gedurende die halftyd pouse, en 2 minute rustyd gedurende die kwart en driekwart pouses. Gedurende halftyd ruil die spanne mandjies om en speel weer in die teenoorgestelde rigting. Die horlosie wa hierdie "quarters" aftel, loop alleenlik wanneer die bal gespeel word en nie wanneer die spel stilstaan nie, wat beteken dat 'n basketbal spel amper 2 ure neem om klaar te maak....volop tyd om punte aan te teken. Roeterings van spelers uit die totaal van 12 (of 10) kan alleenlik plaasving wanneer die spel stilstaan, maar daar is geen beperkings op hoeveel keer dit kan plaasvind nie. In Saterdag se "game" was daar 2 "time-outs" (of rusperiodes) toegelaat per span - wat deur die spanne uitgeroep en gebruik word om gou 'n spanpraatjie te hou, en ook om die ander span se spoed te breek wanner hulle besig is om te veel punte na mekaar aan te teken.

Sodra een van die spanne besit van die bal gekry het, is hulle verplig om binne 8 sekondes oor die halfpad merk van die baan te beweeg in die aanvallende rigting, en mag ook nie die bal vir langer as 24 sekondes in hul besit hê voordat hulle 'n poging aanwend om die bal deur die ring te gooi nie. Hoog teen die puntebord is daar dus 'n teller wat begin tel sodra 'n span die balbesit verkry. Daardie span moet binne 24 sekondes 'n punt probeer aanteken, andersins gaan die bal na die ander span. 'n Speler mag ook nie vir langer as 5 sekondes styf vashou nie, en moet die bal vir 'n ander speler aangooi sodra hy met die bal gaan stilstaan het sonder om dit te dribbel of as hy met 2 hande gelyktydig aan die bal geraak het. Hy mag egter omdraai, maar hy moet een voet op dieselfde plek hou waar hy gaan staan het. As hy die bal weer begin dribbel nadat hy gaan stilstaan het, word daar 'n dubbel-dibbel-fout begaan en word die bal aan die ander span gegee om in te gooi vanaf die kant naaste aan die oortreding. Hierdie reëls is nodig om die spel meer aanvallend te maak en te verseker dat geen span die bal net aan hul eie kant probeer weghou van die ander span nie. Daar mag ook nie langer as 3 sekondes in die area reg onder die mandjie vertoef word sonder om die bal in te gooi nie.

Die span wat laaste aan die bal geraak het voor dit uit die baan beweeg het verloor balbesit. As daar 'n obstruksie / "foul" teen 'n span uitgeroep word, word daar vir die ander span een of meer "free"/ongeblokkeerde probeerslae gegee vanaf die 4.5 meter sirkel (sonder dat die ander span die bal mag blokkeer). 'n Span kry 2 vry gooie/probeerslae indien die ander span reeds 4 obstruksies teen hulle het.
Indien die bal ingegooi word kry die span wat dit regkry egter net 1 punt per keer. 'n Obstruksie kan teen die verdedigende span gegee word wanneer hulle die aanvallende span met fisiese kontak belemmer om vorentoe te beweeg, of teen die aanvallende span wanneer hulle die verdedigers met hul rug fisiek wegstoot terwyl hulle die bal dribbel. Enige obstruksie toegeken as gevolg van vuil spel word met 3 vry gooie beboet (en die ander span kan kies wie hulle wil hê moet vir hulle gooi), terwyl met normale obstruksies die vry gooi toegeken word aan die spanlid wat die "slagoffer" van die obstruksie was. Die aantal vry gooie wat hy kry word bepaal deur die aantal punte wat hy kon aanteken tydens die gooi wat hy probeer maak het, maar die vry gooie self (indien suksesvol) tel net 1 punt.

Wanneer die speler wat 'n doel gooi van buite die 7.6 meter sirkel die bal gegooi het, kry sy span 3 punte - hierdie sirkel word die 3-punt sirkel genoem. Vanaf binne hierdie sirkel tel 'n doel 2 punte. En wanneer 'n speler tydens 'n obstruksie met die vry gooi 'n doel aanteken tel die doel 1 punt.


Wel, dis my bydrae om die mis so bietjie te laat lig (rakende die basketbal reëls) vir al my mede volksgenote wat net so "clueless" was omtrent wat aangaan in basketbal.


Saterdag se "game" was baie opwindend tussen hierdie hemelbesems wat basketbal gespeel het, want meeste van hierdie ouens het soos reuse teen my gelyk - alhoewel daar 'n paar korterige outjies was, wat net soveel kon regkry deur eenvoudig nooit 'n doel te mis nie. Soms het hulle die bal sommer so van amper die helfte van die baan, moeiteloos en sonder om die kante van die ring te raak, deur te laat glip....ongelooflik.

Kyk bietjie na die lengtes van die ouens uit Amerika in die volgende lys:

Wel, uiteindelik was die eindtelling 128 - 93 in die guns van die West Sydney Razorbacks, wat beteken het dat daar so by beraming so tussen 110 en 147 doele aangeteken is deur beide spanne...gee jou 'n idee van hoe goed hierdie ouens is....
Ons het die seuns (ons seun en ons vriende se seun) saamgeneem - hulle het dit sommer baie geniet.

Nou ja, ek was vandag weer saam met my seun by sy basketbal oefening - hy sê vir my hy hou baie daarvan.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings