Sunday, August 26, 2007

Bondi Strand

Vandag was 'n wonderlike sonskyn dag na die afgelope week of twee se depressiewe reënweer. Ons het vandag bietjie die Sydney hoof-strand: Bondi Beach gaan verken.

Die strand is 'n hanetreetjie van die middestad af geleë, en die pad daarnatoe is maar redelik besig en vol verkeer. Dit is egter een van die mooiste strande wat ons nog gesien het....en wat meer is, daar is regte golwe, en heelwat branderplank ryers. Ek het so vermoede die strand is gewoonlik baie besiger as vandag, want die meeste mense het nog nie regtig besef dat die reën verby is nie.


Die diepblou hemel en die spierwit strand het dit inderdaad 'n baie mooi dag gemaak.







Bondi Strand (kan dit wees dat die bekende 'Bondi Blue' sonbrille na hierdie strand vernoem is?) is 'n heerlike diep sandstrand, waar die sand soos versiersuiker tussen jou tone deurkrul.

Die geboue rondom die strand is nou nie juis om oor huistoe te skryf nie, want meeste van die geboue lyk nogal verwaarloos.

Die water was nog LEKKER koud. Die seewater was so bietjie warmer as by "Camps Bay" of "Clifton", maar nog heeltemal te koud vir swem na my sin. Die enigste mense wat in die water was, was die "surfer dudes" en hier en daar 'n "lifesaver" wat af-show op die jet-ski.


Oral op die strand was Aussies wat in die son lê en bak, maar heelwat Chinese toeriste wat met netjiese pakke klere hulself voor alles en nog wat afneem.

Daar was baie "surfer dudes" en "surfer sheilas" wat hul ellelange branderplanke agter hulle aansleep oppad iewers heen.

Die kinders het heerlik in die seesand gesit en speel.

O ja...en hier kom hulle weer terug....

Miskien is dit deel van die "image"...om 'n branderplank saam te sleep??

Ek moet sê, ek was heel verbaas met die straatjies van waar ons geparkeer het ( na 'n lang gesoek), tot by die strand. Dit is nou straatjies, met huisies wat mens eerder laat dink aan die ou spoorweghuisies aan die verkeerde kant van die treinspoor (soos hulle sê).

Baie van die huisies is nogal verwaarloos....of is die woord "laid back"?
Voor die huis kan julle 'n ou stoof sien wat sommer op die sypaadjie gelos is...want dis mos weer daardie tyd van die maand wat die Sydney inwoners allerhande goed wat hulle nie meer soen nie sommer net op hul sypaadjie los...almal wat verbyry kan die goed dan oplaai as hulle lus het, want doe stadsraad kom laai dit op so dag of twee later. Gaan lees asseblief die brief van Kanniedood op die SAAustralia forum oor hierdie "vreemde" verskynsel om jou goed op die sypaadjie te los vir ander om op te tel as hulle dit nodig het.




Laat mens nogal dink aan Muizenberg in die Kaap...











1 comment:

  1. Lekker gelees en gekyk, lyk so rustig, nogal jaloers
    Groetnis

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings