Monday, February 19, 2007

Wat dit behels om te emigreer na Australië

Siende dat ons al so vêr in die pad af is met ons emigrasie reëlings, en omdat ek weet dat daar baie IT mense daarbuite is wat ook hierdie lang proses wil aanpak om Suid Afrika te verlaat : het ek dit goedgedink om soveel as moontlik van die stappe wat ons sover moes deurgaan hier vir julle vas te pen...

Ek is in die IT sektor, so ek verduidelik sommer aan die hand van dit wat ek as Elektroniese Ingenieur moes doen om my graad en "skills" in Australië as 'n erkende kwalifikasie goedgekeur te kry.

  • Laat neem BAIE paspoort grootte fotos van jou hele familie (by Kodak in Centurion sentrum neem hulle kleur digitale fotos en jy kry iets soos 8 fotos vir R30 of so iets)
  • Kry vir jou hele familie paspoorte en "unabridged" geboorte sertifikate by binnelandse sake (ons was gelukkig...dit het net 30 dae geneem by binnelandse sake in Centurion)
  • Kry 'n "unabridged" huweliks sertifikaat vir jou en jou vrou se huwelik
  • Gaan of kontak al jou werkgewers vir ten minste die afgelope 6 jaar en kry volledige werksverwysings wat op die offisiële briefhhoofde van die maatskappye is en wat duidelik aandui: jou volle naam, ID. Nommer, wat jou werksbeskrying was (bv. Software Engineer), 'n kort werksbeskrywing en die presiese datums wat jy in hul diens was, of die werk voltyds (>38 uur per week) of deeltyds was, permanent of op kontrak, die vaardigheidsvlakke (competence levels) wat jy het in verskillende rekenaartale en hardeware of sagteware gehad het terwyl jy by hulle gewerk het, asook die mate van betrokkenheid wat jy gehad het in die verskillende projekte of produkte wat jy by die maatskappy aan gewerk het. Werkskontrakte of aanstellingsbriewe is blykbaar nie aanvaarbaar nie. Dit het ek by al die maatskappye gekry waar ek gewerk het. In sommige gevalle het my vorige werkgewer sommer gevra of ek die brief sou skryf en dan sal hy dit net korrigeer as daar foute is of "oordryf" word en dit uitdruk op die maatskappy briefhoof en dan kan ek dit net kom afhaal. Dit was vir hulle dus nie 'n probleem nie. Gelukkig het ek op baie goeie voet by al my vorige werkgewers weggegaan. Les een: moenie brue agter jou afbrand nie!!
  • Daarby moes ek na Tukkies se Merensky biblioteek in die Afrikana afdeling gaan om al die bladsye van die Elektroniese Ingenieurswese jaarboeke te gaan afrol wat die kursusopsommings bevat het vir die semester kursusse wat ek gedurende daardie jare geloop het. Ek het van 1991 tot 1997 se jaarboeke gekry tesame met al die vakkodes. Meeste was in Afrikaans, maar gelukkig kon ek in die 1997 jaarboek meeste van die vakke se Engelse beskrywings ook kry. Ek moes R50 betaal vir 'n dagbesoek een aand en die afdrukke het my R30 gekos. Ek het toe hierdie afdrukke na die Elektroniese departement na Izette Willemse geneem en sy het dit vir my met die departement se stempel bevestig dat dit uit die jaarboeke kom. (Ek dink die telefoonnommer van die biblioteek se ontvangs is: 012 420 3631)
  • Daarna het ek het met Mev. Nel (012 4205222) by die admin blok gepraat in verband met die aanvraag van my graadpapiere in Engels en sy het vir ons gesê dat dit R100 sal kos vir die print van die graad sertifikate en puntestate in Engels. Ek het die navraag ge-email vir die "Customer Care" van UP (csc(at)up.ac.za). Ek moes eers die R100 in hul bankrekening inbetaal en toe die email aanvraag:
    Hieraan aangeheg kan U dus die bewys van betaling sien.
    My studentenommer was 9******. My ID nommer is 7*************.
    Ek het die grade B.Ing (Elektronies) in 1995 afgelê.....

    Ek benodig die volgende sertifikate en rekords nou in Engels:
    Graad sertifikaat vir B.Eng (electronic) 1995
    .....
    Volledige akademiese rekords/puntestate vanaf 1991 tot ...


    ...en 'n week later kon ek dit gaan afhaal by Tukkies.
  • Nog iets wat jy egter by die departement (in my geval Elektronies) moet kry is 'n engelse brief op die universiteit se briefhoof wat aandui: jou volle naam, studente nommer, ID nommer, en dat jy as 'n voltydse student ingeskryf was vir die B.Eng (of watter een ook al) graadkursus, gedurende watter akademiese jare en dat jy die graad voltooi het en dat jou kursusse en eksamens in Afrikaans afgelê is (dat die "medium of instruction" Afrikaans was). Ek het toe 'n brief gekry wat met die dekaan se stempel bevestig is. Hierdie brief is nodig indien jy die 5 ektra bonus punte wil kry omdat Afrikaans een van Australië se "community languages" is.
  • Die volgende stap is om jou CV/"Resume" so volledig moontlik op te dateer met al jou kwalifikasies, werksondervinding en nuuste inligting.
  • Die volgende stap is om na die "Australian Computer Society" se webtuiste te gaan en om te gaan bepaal hoe jy jou "skills assessment" gaan doen. Al die inligting wat jy benodig kan afgelaai word by www.acs.org.au se Application Process link.
    Hul aansoekvorm kan hier afgelaai word (maar gebruik bogenoemde link as hierdie een nie werk nie). Aangesien ek nie 'n suiwer IT graad het nie, was ek verplig om die lang roete te volg deur 'n RPL (Recognition of Prior Learning) dokument met "Project Reports" in te handig. Julle kan die riglyne oor hoe om hierdie dokument te voltooi hier kry.
    Dit behels basies dat jy in 'n dokument (myne was so 80 folios) breedvoerig verduidelik wat jy geleer het in die "Core Body of Knowledge" (CBOK) afdelings van IT. Ek het aan die hand van my jaarboek vakbeskrywings, kursusinhoud van toepaslike vakke en my vakke se handboeke (waarvoor ek sommer al die ISBN nommers gelys het) beskryf wat ek onder elke afdeling in die CBOK geleer in my akademiese kwalifikasies asook enige ander boeke wat ek gelees het. In elke afdeling het ek ook verduidelik wat ek by elk van die maatskappye waarvoor ek gewerk het geleer het uit my werksondervinding.
    Die afdelings wat jy moet dek is:
    Computer Organisation and Architecture (Mikroproseseerder argitektuur ens.)
    Conceptual Modelling (voorstelling van probleme met bv. Object Georienteerde rekenaartale)
    Database Management (Databasisse soos SQL byvoorbeeld)
    Data Communications and Networks (TCP/IP byvoorbeeld)
    Data Structures and Algorithms (verskillende data strukture soos hash-tables en algoritmes wat op dit werk bv.)
    Discrete Mathematics (Boolean algebra, logiese hekke, getallestelsels, ens.)
    Ethical/Social Implications/Professional Practice
    Interpersonal Communications (Geskrewe dokumentasie, Tegniese spraak vaardighede, interpersoonlike vaardighede en groep/"team" ondervinding)
    Program Design and Implementation (Jou "Coding" skills)
    Project Management and Quality Assurance
    Security (Data sekuriteit)
    Software Engineering and Methodologies (Die sagteware ontwerp siklus, behoeftestelling, konsepsuele ontwerp, detail ontwerp, toets van sagteware)
    Systems Analysis and Design (Metodes om programme te ontwerp en te analiseer)
    Systems Software (Operating systems soos windows en hoe hul werk)

    Na elk van die afdeling moet jy ook nog 2 projek verslae van so paar bladsye elk (myne was so 4) maak wat vir sekere projekte uit jou ondervinding alles beskryf wat jy onder die CBOK afdelings geleer het.

    Ek het afskrifte van die volgende gewaarmerkte dokumente aan die ACS aansoek geheg:
    My Paspoort, My "unabridged" geboorte sertifikaat, engelse graad sertifikate, volledige akademiese rekords/puntestate, Gestempelde afskrifte van die universiteit jaarboeke, Werkgewer verwysings vir ten minste 6 jaar asook my volledige CV.

    Hierdie dokument het ons laat koerier na ACS, julle kan my ACS timeline hier sien.
  • Hierna het ons die Skilled Independent (136) VISA aansoek ingevul. Die VISA vorms kon hier afgelaai word by die Australiese immigrasie webtuiste. Ons moes die volgende vorms invul:
    Application For General Skilled Migration To Australia (47SK)
    Personal Particulars For Character Assessment (80) vir elk van die aansoekers bo 18 jaar
    Saam met al die nodige gewaarmerkte bewyse het ons dit toe na die Adelaide Skilled Processing Centre gestuur.
    Die gewaarmerkte afdrukke wat ons saamgestuur het ter stawing van die punte wat benodig word vir die VISA (sien my ander post oor VISA punte)
    - Paspoorte vir die hele familie
    - "Unabridged'/onverkorte geboortesertifikate vir die hele familie
    - "Unabridged'/onverkorte huweliksertifikaat
    - ACS Skills Assessment uitslag dokument (wat bewys dat my graad en skills voldoende is en dat my werk op die MODL (Migration on deman list is)
    - Werkgewer verwysingsbriewe vir die werkgewers 4 jaar voor hierdie aansoek
    - Die brief van die Universiteit wat bevestig dat my kursus in Afrikaans afgelê is
    - 'n bewys dat ek 'n IELTS toets bespreek het (waarvan ek die resultate later sou stuur)

  • Ek het dadelik 'n afspraak by die "British Council" in Johannesburg gemaak en 13 Januarie die General IELTS toets gaan skryf, waarvan ek die uitslae 3 weke later gekry het. Ons het die uitslae ingescan en gestuur nadat ons reeds die verwysings nommer vanaf Adelaide gekry het. (Dit was dus nadat die kredietkaart transaksie reeds deur was)
  • Nou sit ons en wag vir 'n "Case Officer" om aan die visa aansoek geallokeer te word. Die "case officer" sal dan vir ons sê wanneer ons vir die mediese ondersoeke en polisie sertifikate moet gaan.
  • Hier volg die belangrikste VISA kostes:
    2 x Paspoorte vir volwassenes (R165 elk) R330
    2 x Paspoorte vir kinders (R125 elk) R250
    4 x Geboorte Sertifikate (R50 elk) R200
    Paspoort fotos vir die hele familie R180
    Huwelik Sertifikaat R50
    Engelse graadpapiere by Tukkies R100
    Jaarboek afdrukke R80
    Werks Verwysings afdrukke vir ACS R70
    Werks Verwysings afdrukke vir VISA R45
    ACS Koerier met DHL R1222
    ACS Skills Assessment R2240 ($400)
    IELTS Toets British Council R2070 (met boekie)
    DIMIA VISA Betaling R11064 ($1990)
    Koerier van VISA via Postnet(R250)
    IELTS Toets British Council (sonder boekie vir my vrou) R1633

    Totaal tot dusver: R19784

Om af te sluit wil ek net sê: Ek respekteer elkeen van julle se waagmoed omdat ek weet dis 'n baie moeilike besluit wat julle neem, omdat jy jou emosioneel moet losskeur van so baie mense waarvoor jy baie lief is. Amper soos in die liedjie wat ons geliefde sangeres Laurika Rauch sing:

Die mense wat ek liefhet

Koor:
Die mense wat ek lief het
Kom groei op my soos mos
Daar laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
- beskut teen die koue -
Die snoesigheid self:
Ek met my moskombersie

En as daar 'n oorlog kom
Word die mense wat ek lief het
'n Ekstra liefdeslaag om my
So marsjeer ek deur die wêreld
Gepantser teen die vuur
Die onaantasbaarheid self:
Ek met my menskombersie

Brug:
Maar as iemand wat op my gegroei het
Weg moet gaan
Dan sit daar 'n seerplek
Dan sluip ek deur die wêreld
Die kwesbaarheid self:
Ek met my seerplek
Wat net nie wil genees nie

Woorde en musiek: Stephan bouwer/Anton goosen
Uitgewers: gallo music publishers/dalro

Daarbenewens moet 'n mens so baie defnitiewe finansiële voordele hier in Suid Afrika agterlaat.

Kyk mens kan dit nie ontken nie, geldgewys los mens:
- jou bank kredietrekord laat mens hier agter en begin van voor af (wat miskien goed is, want dit verhoed jou bietjie om te veel skuld te gaan maak en hou jou dus uit die moeilikheid uit)
- al die werkskontakte wat jy oor die jare hier opgebou het
- jou "posisie van gesag of werkskennis" by jou werk...ons besef maar alte goed dat mens 'n paar stappies terug sal moet neem, want die mense in Ozzie land weet nie veel van jou nie.
- in ons geval 'n baie lekker huis naby aan ons kinders se skole, met 'n lekker groot tuin en dinge soos 'n swembad en lapa waaraan ons so gewoond geraak het
- nou verkoop ons alles en vat ons ou randjies en ruil dit vir Aussie dollars...met die geld hier in SA kon ons 'n huis bekostig, daar kan ons skaars 'n (1/5) de van 'n heel doodgewone huis bekostig met presies dieselfde geld

Maar, as daar nou een ding is wat ek besef het met hierdie besluit om te gaan:
dan is dit dat ons prioriteite hier in Suid Afrika nie heeltemal lekker in die regte volgorde is nie. Dit het my gedwing om my eie prioriteite weer in heroorweging te neem...om te bepaal wat nou regtig die belangrikste is...
- en dit is die kosbaarheid van my en my familie se lewens, nie enige geld in die wêreld sal een van ons weer kan terugbring vir mekaar as iets met ons sou gebeur nie.
- die vryheid wat ek kan onthou wat ek as kind geniet het, die kleilat speel by die spruit, die slaap langs 'n kampvuur onder die oop sterrehemel in die veld saam met my skool maats nadat ons tot diep in die nag vir mekaar stories en grappe vertel het...die onbevange speel van toktokkie by die bure...
- die onskuld en vertroue in jou medemens : mens kon "actually" die beste van ander glo sonder dat jy hulle met agterdog moes bejeën ter wille van jou eie veiligheid
- die vrymoedigheid wat tussen bure bestaan het toe mense nog nie 7 voet hoë palisadeheinings en militêre standaard sekuriteitsmeganismes gehad het nie.
ag...en die lys gaan aan, maar ek praat myself maar net moed in:
"n mens se lewe bestaan nie uit die oorvloed van jou besittings nie"
"die lewe is meer as die voedsel en die liggaan meer as die klere"


Vir myself bemoedig ek net altyd met die' woorde uit die "Amplified" bybel: (Heb 13)

Let your character or moral disposition be free from love of money [including greed, avarice, lust, and craving for earthly possessions] and be satisfied with your present [circumstances and with what you have]; for He [God] Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. [I will] not, [I will] not, [I will] not in any degree leave you helpless nor forsake nor let [you] down (relax My hold on you)! [Assuredly not!]
So we take comfort and are encouraged and confidently and boldly say, The Lord is my Helper; I will not be seized with alarm [I will not fear or dread or be terrified]. What can man do to me?
Jesus Christ (the Messiah) is [always] the same, yesterday, today, [yes] and forever (to the ages).

2 comments:

  1. Swerwer
    baie dankie vir die waardevolle inligting. Ek is ook 'n elektroniese ingenieur in the IT bedryf en is ook besig om alle dokumentasie gereed te kry om aansoek te doen. Hierdie info help my baie.

    ReplyDelete
  2. Laurika Rauch..My hero! Is daar darem Afrikaans byeenkomste in Oz so elke nou en dan...of is daar nog nie genoeg van ons daar om 'n sokkie te reel nie?

    Baie groete, en dankie vir die blog - dit is baie interessant!
    May

    ReplyDelete

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings