Monday, July 26, 2010

'n Fees van Aroma

(Skakel na die' blog inskrywing.)

Jong, mens kan nie glo daar is alweer 'n jaar verby nie. Dit voel soos nou die dag dat ons by laasjaar se aroma fees in die stad was. Sedert ek hier is, het ek in 'n hopelose koffieverslaafde ontaard. Hierdie jaar is ons weer soontoe om die kleure en geure van die land se beste koffiesmouse en sjokolateurs te gaan beproef. Ons het Sondag die trein saam met ons vriendin stad toe geneem en bietjie daar by die "Rocks" gaan kersopsteek. Sy het toe sommer van die fotos geneem. Dieselfde straat kunstenaars was weer daar, hierdie keer bietjie beter toegerus.


Ek het heerlike Baklava geproe, dan ook aarbye met sjokoladesous. Daar was "Belly Dancing" soos op Australia's got talent en heelwat Turkse en uitlandse kosstalletjies soos hier onder.



Ook kameelritte

Die strate het gegons van die geroesemoes van mense en die geur van varsgemaalde koffiebone het deur die neusgange na binne gevloei.

Ek het ook vir my 'n panfluit CD van 'n groep van Bolivie in Suid Amerika gekry. Hulle naam is FJF Cubas en werk nou as kustenaars hier in Australie. Ek het hulle eenmall lank gelede daar by Centurion Sentrum gesien. Ek het die een ou gevra of hulle al daar was en hy het dit bevestig. Besoek gerus hulle webtuiste en luister na uittreksels van hul liedjies deur op die prentjies van die CDs te kliek.

Hier is so 'n video uittreksel om 'n proeseltjie van die atmosfeer te kry.



Sunday, July 18, 2010

So 'n tikkie broodnodige Afrikaanse kultuur in Sydney

So 'n tikkie broodnodige Afrikaanse kultuur in Sydney (blog skakel)

Afrikaanse kultuur is nie in oorvloed in Australië nie.  Toe ons die besluit geneem het om hierheen te kom het ons dit so soort van geweet. Maar daar was verskeie redes waarom ons tog die besluit geneem het om te kom.  Ons lewe is nou hier, maar mens mis dit wat so in oorvloed in Suid Afrika is - daardie Afrikaanse kultuur en die gemeenskaplike deelwees van 'n groep mense wat dit sommer net vir die lekker doen.  Hier is dit maar in "short-supply".  Daar is 'n paar pynlike realiteite wat mens verder besef...dat jou kinders Afrikaans nooit so goed gaan ken en ten volle waardeer soos jy self wat die voorreg gehad het om dit as eerste taal op skool te kon leer nie. Ons doelwit met ons eie kinders is steeds om hulle (so ver as ons kan) ten volle tweetalig groot te maak.  Vir hulle sal Afrikaans altyd die taal bly wat hulle met hulle eie ouers van kleins af gepraat het.  Hulle leer egter Engels as die wêreldstaal wat vir hulle baie deure sal oopmaak in die toekoms.

'n Mens se taal is iets wat deel van jou is. Dit is soos 'n garedraad wat deur die tappisserie van jou lewe ingeweef is en die storie en ervarings van jou lewe met woorde vertel wat eie is aan wie jy in jou diepste wese is.  Dit is soos 'n vingerafdruk, dit definieer van waar jy kom, wie jou voorouers was, dit is die taal van jou verbeelding. Die duisende momente wat ek myself al in my eie taal uitgedruk het lê soos 'n laslappie kombers agter my, soos wat jy terugkyk vanaf die bergtoppe waar ek my al bevind het in my lewe.  Maar dis ook die taal waarin ek myself uitdruk as ek hartseer is of "down" voel.  Dis die taal waarin ek bid...mens, maar voel dit vir jou nou vreemd om dit in Engels te probeer doen, dit voel opsluit asof 'n mens 'n "speech" moet lewer.

Hier is ons maar net een val vele ander kulture.  Ek wonder soms of daar 'n kritieke massa van 'n taalgroep moet wees voordat daar noodwendig mense met goenoeg skeppende vaardighede is om in hul eie taal musiek in hul nuwe land te begin maak.  Daar is tog seker Griekse sangers in Sydney?  Iemand wat in Frans of Italiaans so 'n paar woorde kan gooi wat getoonset is?  'n Paar Indiese of Turkse sangers en dansers?  So hoekom nie ook 'n paar jong Afrikaanse musiekante, sangers of digters in Aussie land nie.  Al ons voorouers was tog Europees.  Ek is 'n potpourri van Skots en Portugees en Hollands, maar ek praat Afrikaans.  Ons voorsate het mos verseker hulle talente saamgebring na Suid Afrika toe.  Net so seker het hulle daardie selfde talente die binneland ingedra.  Hoe lank het dit geneem, en hoeveel "immigrante"/voortrekkers het dit geneem voordat daar byeenkomste gehou is in die binneland waar die Afrikaanse kultuur en musiek ge-vier (ge-celebrate) is?  Indien daar geen eerste-generasie musiekante ge-trek het nie...wat het hul kinders (die 2e generasie voortrekkers) aangespoor om in Afrikaans te begin sing?  Nou wonder ek maar net - gaan ons Afrikaanse musiek hier in Australië voortleef?  Hoekom nie?  Wat is dan nou anders?  Gaan daar Afrikaanse Aussie kinders wees wat oor 10 jaar 'n paar Afrikaanse CDs hier uitgee?  Dit is seker maar 'n vergesogte droom. Of nie.

Van wat ek nou al gesien het, het die Aussies nou nie juis 'n kultuur waarop jy jou vinger kan druk nie.  Hulle is eerder 'n mengelmoes van baie kulture wat almal te bang is om die hok te skud en met hart en siel of met woord en daad hulle eie kultuur uit te bou en te bevorder.  Maar tog is hier onbevange vryheid.  Die Aussies verwelkom nuwe kulture (mits dit hulle nie te veel an terroriste laat dink nie).  Want hierdie vryheid is een van die redes waarom so baie mense oor die jare hierheen gestroom het met sakke vol hoop en drome onder hulle arms.  Om hulle eie kultuur in vryheid te beoefen.

Ek beskou dit as 'n helse voorreg om my eie taal hier te kan praat.  Ek praat dit hard en ek praat dit suiwer ook in die winkelsentrums, dis vir my 'n mooi taal. Maar net so mooi is Engels - my ander (nie tweede, nie) taal (waarin ek net so goed wil kan praat om myself suiwer uit te kan druk, nie net met die volstrekte allernodigste minimum woordeskat om oor die weg te kom nie, maar as 'n alternatiewe taal wat ek soos 'n swaard reg en met presisie kan gebruik.  Hoekom moet ek my net tot Engels beperk?  Ek voel hier geensins in my Engelse woordgebruik gestrem nie.  Die Aussies mag dalk Engels praat, maar hulle kan dit verseker nie spel nie...ek is bereid om enige tyd die mense wat saam met my Engels Tweede taal in Matriek by Juffrou Buchner gehad het teen die deursnee Aussie in 'n opstel skryf kompetisie te plaas...en hulle sal met die meeste spelfoute wen!  Ons het ook "Merchant of Venice" en "Romeo and Juliet" van oom Wikkelspies gehad. Hulle spreek nie eens al die Engelse lettergrepe uit nie - hoe kan jy dan vir hulle sê daar pas ekstra letter in sommige woorde in.  Ons Afrikaanses kan trots wees op ons Engels.  Ek help gereel my baas reg as hy "Longtitude" of "Longitiude" spel in plaas van "Longitude" of "Maintance" in plaas van "Maintenance".  En hy is 'n gebore Aussie.

Nou hoekom dink en dan nou so oor al hierdie goeters?  Sommer.  Omdat ons Vrydagaand so 'n lekker tyd gehad het by Kurt Darren se optrede hier in Castle Hill se RSL klub.  Kurt en Arno Jordaan het vir ons klomp uitgewekenes kom kuier op besoek aan springhaasland.  Die byeenkoms het heel stemmig begin, met almal wat lyk of hulle 'n tipiese sangvertoning kom bywoon, maar op die ou einde was bykans die hele verhoog vol jongmense en ouer mense wat saam met Loslappie gedans het.  Sommige het selfs op die stoele gestaan en dans. Heelwat van ons het ons vrouens gegryp en agter en voor in die RSL se saal ge-sokkiejol en geskoffel.  Toe besef ek net.  Daar is seker baie mense van Suid Amerika en Spanje wat net so sou voel as daar 'n Spanjaard of Portugese sanger hier sa kom sing.  Hulle sal onbevange saam dans! Daar is net iets in die Afrikaanse kultuur wat ons anders maak.  Ons is 'n raserige spul, vol lewenslus.  Die Aussies het hier maar so 'n tweedehandse disco-kultuur wat van die weste oorgewaai het as hul idee van plesier aanvaar.  Hoeveel ryker is ons nie!

Kyk bietjie na hierdie (ek moet erken bra swak kwaliteit) video van Kurt Darren en die klomp op die verhoog.


Ek het ook so 'n uittreksel van Arno Jordaan se "Daar is Engele" liedjie afgeneem.



Nou wonder ek mos net hoekom kan ons nie ook Afrikaanse sangers hier voortbring nie....miskien omdat hulle nie gaan dink dat hulle beroemd kan word in Afrikaans in Australië nie.  Vir die res van die wêreld lyk Engelse Aussie kunstenaars maar net soos mini VSA "lookalikes" amper soos wat mens baie Elvis nabootsers kry. Die Aussies se kultuur lê nie in hul taal nie.  Maar ons (en baie ander nasionaliteite in Australië se kultuur wel).  Dit maak ons uniek.  Net soos wat die Franse baie romanties klink as hul Engels praat of die Italianers se taal die wese van Klassieke liedjies verteenwoordig, hoekom kan Afrikaans nie ook so iets aan die Engelssprekende mense bied nie. Net soos wat Spaanse danse, Italiaanse operasangers, Franse romantici, of selfs Turkse "belly dancing" iets geword het vir die wêreld om te waardeer en te bewonder, so is daar verseker iets van ons warmte wat ons aan hulle kan bied.

Iets soos Blackie Swart se musiek of die Klipwerf Orkes se boeremusiek.

Ons wonder soms of ons die regte besluit geneem het om alles so weg te gooi... Maar het die vele voorsate wat na Suid Afrika getrek het eeue gelede nie maar ook so gevoel nie?  Ek dink terug aan die dae wat ons altyd op staproetes saam met vriende om die kampvuur gesit het en dwarsdeur die nag Afrikaanse liedjies gesit en sing het nie. Jaco, IP, Brenlie en Hennie, Lizelle en die res...ons onthou daardie dae.
Maar 'n mens kan nie meel maal met water wat reeds onderdeur die brug is nie.





Onhou julle nog die liedjies wat ons gesing het...hierdie musiek van Jacques de Coning

Sunday, July 11, 2010

Ons vakansie aan die noordkus van NSW by Woolgoolga naby Coffs Harbour

Ons vakansie aan die noordkus van NSW by Woolgoolga naby Coffs Harbour (blog skakel)

Dit is die middel van die winter in Sydney.  Buite val die reën en mens kan nie juis baie doen in die buitelug nie.  Ons het nou net lekker kaneelpannekoek geëet met botterkaramelsous wat ek self aanmekaargeslaan het.  Net gisteraand het ons teruggekom van 'n heerlike week-lange vakansiebreuk aan die noordkus van New South Wales.  Loukie (ons hond) kon nie saamkom nie en het by vriende van ons gebly hierdie week. Ons het vanoggend bietjie by Fagan Park met hom gaan stap, maar dit het later sagkens begin reën en dit het my laat dink aan die lekker pannekoek (Crepe) met Butterscotch sous wat ek by die Butter Factory in Bellingen geëet het.

Op hierdie soet noot...ons het vir die middel winter vakansie afgesuiker na Woolgoolga.  Dit is 'n piepklein dorpie net noord van Coffs Harbour.  Ons het daar vakansie akkommodasie gehuur wat soos in REG op die see uitgekyk het. Woolgoolga het 'n pragtige strand met ongerepte natuurskoon langs die kus af.  Dolfyne en walvisse baljaar in die silwer see en die son glinster op die golwe tot in die verte.  Die melkweg skitter in die nag want mens is letterlik 'n halwe duisend kilometer weg van Sydney in die suide en amper net soveel vanaf Brisbane in die noorde.  Aan die oostekant strek die stille see so ver as wat jou oog kan sien met die Solitary Eilande op die horison.  Na die weste is lowergroen grasvelde, piesangplantasies en berge met subtropiese reënwoude.

Die see se temperatuur was 'n heel gemaklike 19 grade en ons het saam met die kinders (darem bygesê met 'n wetsuit) in die branders baljaar. Ons het hierdie week darem ook bietjie gesnorkel, maar as gevolg van die bewolkte weer en winderigheid langs die see was die water maar troebel.  Maar ons het nou nie juis toegelaat dat dit ons afskrik nie.  Ons het ook ons vier fietse op die fiets-rak saamgeneem.  Ons familie kuiergas het vir hom 'n bergfiets gehuur by Woodseys Wheels.   Daar is dwarsdeur die dorpie en langs die lagoon en die see 'n heerlike fietspaadjie wat oor die rivier met houtbruggies verbind is.  Dit is 'n heerlike aktiwiteit om saam met 'n mens se familie te doen op vakansie.  Ons het langs die kus ook by 'n hele paar strande ingeloer soos: by Emerald Beach, Moonie Beach, Port Macquarie, Anna Bay en Nelson Bay by Port Stephens naby Newcastle.  Heelwat van hierdie strande is binne in natuurreservate waar die kangaroes in hul natuurlike omgewing vry rondloop...ook sommer tussen die erwe.  Die Moonie Strand reservaat by Emerald Beach is so 'n voorbeeld.  Daar is pragtige kranse langs die see wat men nogal aan fotos van Skotland of Ierland laat dink.

Eendag het ons die binneland verken en toe met die pas teen die berge op gery tot by Dorrigo Nasionale park waar ons deur die reënwoude gestap het en die panoramiese uitsigte bewonder het vanaf die Skywalk by Dorrigo (wat so terloops, heeltemal gratis is).  By een van die klein dorpies, het ons ingeloer by die Old Butter Factory, waar ons oggend-tee (morning tea) genuttig het.  Daar is ook 'n kunsgalery en 'n plek wat allerhande snuisterye en gedoentes van leer verkwansel.  Ons ry baiemaal ver uit ons pad uit "op ekspedisie", sommer net om nuwe plekke te ontdek...want die eindpunt is nooit die bestemming nie: op vakansie is die reis na jou bestemming die belangrikste, en nie hoe gou jy daar kom nie. 

Elke aand by die woonstel het ons saam gekuier, op die strand gaan stap of sommer net saam met die kinders op die fietse gery.  My seun was veral in sy noppies omdat ons in die aande tot laat gesit en Monopoly speel het.  Nou wil hy het heeltyd Monopoly speel.

Ons het dit baie geniet.  Oppad terug het ons besluit om 'n draai te ry en Fisherman's Bay en Anna Bay net noord van Newcastle te gaan besoek.  Dis 'n pragtige omgewing...en ook so naby aan Sydney.  Ons het die sonsondergang daar bewonder en toe teruggekeer huis toe.   Daar was 'n walvis en 'n hele skool dolfyne wat daar in die branders baljaar het. 

Ek het vir julle ons fotos opgelaai.  Julle kan dit hieronder kyk of by die web albums.



By Emerald Beach het ek die volgende verliefde paartjie afgeneem.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings