Sunday, September 30, 2007

Geen nuus is goeie nuus

Goeiedag mense! Julle wonder seker al wat van ons geword het. Hier leef ons, werk ons en kuier ons, gaan sien plekke, doen dinge. In kort, ons raak nou lekker ingeburger hier. In so 'n mate dat ek nou begin vergeet wat is nuut in Oz en wat is dieselfde as in SA. Die somer is besig om stadig maar seker hier aan te breek. Die weer is wonderlik. Ons het die afgelope ruk omtrent net sonskyn dae gehad en nog baie lê blykbaar voor vir Oktobermaand.

Ek werk lekker, maar hard. Daar is genoeg werk by die firma waar ek is om my nog maklik 2 jaar besig te hou, want hulle kry meer werk in as wat ons kan doen. Oor die algemeen kom ek so 17h30 by die huis, maar so nou en dan, dan werk ek vrywilliglik so 2 ure later as ons mikpunte het om te bereik by die werk. Dan stap ek rustig stasie toe in die vars aandlug. Hier en daar stap mense nog met hul kind in die stootwaentjie na 'n straatkafee, daar stap twee jongmense in die straat en af en toe sien jy 'n ou Sjinese tannie of oom aansukkel na 'n restaurant. Dan kry ek stiptelik die trein so 19h22 soos wat dit op die rooster aangedui is en ek klim stiptelik 19h38 af by my stasie. Dit raak net te lekker hier in die aande.

My seun Markus was hierdie week op 'n uitstappie na Botany Bay, waar hy geleer het hoe Kaptein Cook hier aangeland het. Hy vertel my hoe hulle op die strand so 'n mini drama opgevoer het om die geskiedenis te leer ken. Sommige was die Britte en ander die "Aborigines". Hy vertel van Dirk Warthog en moes 'n prent teken van hoe die skepe hier in die baai aangekom het 200+ jaar gelede. Ek het die prent langs my bed...herinner my nogal aan die einste prente wat ons as kinders geteken het van hoe Jan van Riebeeck aan die Kaap aangekom het. Vandag was ons weer Watson's Bay toe. Soos wat ons in die kar ry vertel Markus ons al langs die pad dat hulle ook daar verbygery het met die bus... Hier "voluteer" die ouers om saam te ry op uitstappies en dan kies hulle elke keer een of twee ouers wat dan die uitstappie saam meemaak. Ek is tronts op Markus (wat voor middel hierdie jaar nog nie eens in 'n Engelse skool was nie): hy kry gedurig "Blue Awards" en ook "super speller" toekennings vir goeie spelling. In kort...hy pas ontsettend goed aan hier in die publieke skool.

Klein Naomi doen nou ballet en sy geniet dit baie. Sy is skoon uitgeknip daarvoor. Hulle het ook die week atletiek gehad vir die Kindergarten jaar en sy het blykbaar stof in die oë geskop van al die ander dogtertjie...eerste gekom in die naelope met haar klein maer beentjies. Vrydag het die skole ook gesluit hier in NSW, Oz. Nou lê daar so 2 weke vakansie vir die kinders voor.

Laas Sondag het ons te lekker gaan stap by Muogamarra natuur staproete by ( 33°33'11.69"S, 151°11'12.83"E sien kaart). Ons het saam met ons groter wordende Suid Afrikaanse vriendekring gaan stap...ons is nou al so 6 grootmense en 8 kinders...almal van Pretoria.



Te lekker. Ons het sommer net vir ontspanning gaan stap. As julle op die kaart kyk sal julle sien dat mens nie eens kan sien dat daar 'n staproete is nie. Hulle maak die plek blykbaar net 'n paar keer per jaar oop vir die publiek. Daar is baie mooi uitsigte, alhoewel die plantegroei maar meestal dieselfde lyk. Die kinders het (veral saam met die baie maatjies) dit sommer baie geniet. Om die waarheid te sê, ons kinders het omtrent nie eers in Suid Afrika soveel naby maatjies gehad nie (wel miskien maak ons nou net meer moeite om by mekaar uit te kom). Ons het voor die tyd bietjie piekniek gehou tussen die bome en na die tyd het ons sommer so rondom 'n kuierplek in die veld op boomstompe gesit en kuier. Die kinders het hulself besig gehou deur in die grond te speel, prentjies in die grond te maak en daarna 'n "SURVIVOR" skuiling van afgesnyde boomstompe, takke en blare te bou waarin hulle al te lekker gespeel het.

Vrydag het ons gaan Ten-pin bowling speel in Castle Hill (die plek is hier) saam met mense wat saam met hule 4 tiener kinders nou hier in Sydney bly. Alhoewel bietjie duur (ongeveer $20 per persoon), was dit baie lekker. Daar na het ons tot so 2 ure na twaalf in die nag voor ons "Firepit" gesit langs die "kampvuur". Te lekker gekuier. Ons probeer om ook saam met Aussies te kuier, maar hier aan die begin bou ons maar aan die ex-SA gemeenskap se welstand - die magdom Chinese kan dit doen, hoekom nie ons ook nie.

Vandag was ons na Watson's Bay en het lekker vis en tjips by die Doyles Fisherman's Wharf gekoop en op die gras van Robertson Park gesit en eet en gespeel met die kinders.


As mens so 'n entjie met 'n paadjie aanstap boontoe kan mens die "poort" wat die see volg verby die "North Head"tot by die Sydney Hawebrug duidelik sien.

In die verte sien mens vanaf die park hoe lê Sydney in die agtergrond.

Oral in die park lê mense of en sonbrand, of besig om 'n uiltjie te knip of hulle speel mey hul kinders op die speelparkie. Daar is ook oorgenoeg plek vir party kinders om met hul "skateboards" op die paadjies te ry.

Na die tyd is ons weer na 'n ander strand: Shark Bay. Dit is langs die mooiste park gelee en het 'n wonderlike strand waar die kinders rustig kan swem want daar is nette gespan vir veiligheid.


Groot skepe vaar in hierdie "poort" verby en mens kan te lekker lê en ontspan op hierdie strand. Daar is ook 'n klein restaurant. Al die strande is silwerskoon en daar is toiletgeriewe. Dit is sowat 37km van ons huis af in Cherrybrook en na my mening ry die pad daarnatoe (alhoewel deur die stad) vinniger as die pad van Manly strand af.

More het ons 'n publieke vakansiedag hier: "Labor day". Dus is dit 'n lekker laaang naweek.
Groete uit Aussie land


Saturday, September 22, 2007

Ons sien uit na ons kuier met familie

Nog 'n naweek is hier en dit is nog 'n week nader aan ons familie se kuier hier in Sydney. My skoonma en skoonsus het besluit om vir ons te kom kuier hier in Sydney vir 3 weke en ons kry hulle Saterdag 6 Oktober by die lughawe. Dit gaan so lekker wees om hulle weer te sien. Ons het baiemaal in Suid Afrika lekker langs die braaivleisvuurtjie gesit en kuier, waar my skoonma by ons gebly het.

Wel, ons het vandag vir ons 'n "Safety" Firepit gaan koop. Dit bestaan uit 'n dik gietyster skottel met 3 pote waarin jy lekker vuur kan maak en vleisbraai, en wat met 'n metaal sif bedek kan word om te keer dat kooltjies die hele wêreld vol skiet. Die rooster kan ongelukkig nie van hoogte verstel nie.

Toe ek hier aangekom het het ek eers gedink mens mag glad nie braaivleis vure maak nie, want wat anders sou dan verklaar dat mense hier tevrede is om hulle vleis so in die vet op 'n plaat of direk op die gasvlamme te braai?! Mettertyd het ek agtergekom dat dit nie is omdat hulle glad nie mag nie...hulle weet dalk nie van beter nie... Ons kry toe mos vandag 'n brandweerman in Bunnings (dis nou die local hardeware winkel soos Builders Warehouse) en vra toe vir hom of mens enigsins hier mag vure maak. Toe sê hy mens mag wel, maar dan moet mens net sorg dat jy ten minste 'n tuislang byderhand het vir ingeval...jy weet. Maar selfs in sommige parke (soos daar by Wisemans Ferry, word vure toegelaat, mits dit in "portable" BBQ's gemaak word. Mens mag natuurlik nie ten tye van die Fireban's in die droë maande nie.

Wel, ons het toe maar ons "Firepit" ingewy....en lekker tjoppies gebraai met "Steak & Chops" speserye op...lekker man!






Wat nuus betref hier by ons is daar nie veel nie. Met die kinders gaan dit BAIE goed. Hulle vaar uitstekend hier en beide van hulle kry al "Blue Awards". My seun spel volgens sy juffrou beter as meeste kinders in sy klas en van my klein popelopsie (dis nou Naomi) sê haar juffrou dat sy baie hard werk op skool en baie goed doen. Al wat ek vir almal wil sê: moenie oor jul kinders se aanpassing hier worry nie...maar eerder julle syne...die kinders het geen probleem met aanpassing nie.

In elk geval...ons sien baie uit na die 3 weke se kuier...hopelik sal meer van ons familie nog kom kuier. Kan nie wag om hulle al die dinge hier te wys nie. Sodat hulle saam met ons alles kan beleef en met hul oë SIEN ons is O.K. Ons verlang al baie, maar ek vang myself deesdae kort kort hoe ek by myself dink hoe ek van hierdie plek hou....mense gee Sydney 'n kans - dis baie rustiger as Gauteng.

Verder kuier ek elke Saterdag terwyl Markus basketbal oefen te lekker met 'n Libanees wat met 'n Aussie vrou getroud is en al 10 jaar hier bly. Snaaks hoe baie ons in gemeen het, want sy ouers en familie is ook nog almal in Libanon.

Ek het ok intussen die Webcam reggekry aan hierdie kant...sukkel nog net om dieselfde aan die SA kant van die verbinding aan die gang te kry. Hier kommunikeer ons al te lekker met Video oproepe en binnekort kry ek my 20 Mbps ADSL2 lyn. Optus het so 'n plan waar jy 20Gig teen tot 20 Mbps kry, met gratis lokale, nasionale oproepe en gratis oproepe na beide van ons se Optus selfone...alles vir $99. (Dis ekwivalent daaraan vir my om R400 per maand daarvoor te betaal). Daarbenewens bel ons teen 2.5c/minuut na Telkom fone in SA en 10c/min na selfone in SA.

Groete uit Kersiefontein (Cherrybrook)

Thursday, September 20, 2007

Opsomming van ons emigrasieproses tot op hede

Goeiedag mense...of soos ons hier sê "G'day mates". Siende dat ons emigrasie "Case Officer" nou aan ons toegedeel is, dink ek dis 'n goeie idee om terug te kyk en 'n bietjie van 'n opsomming te maak van die proses wat ons tot dusver gevolg het om hier te wees in ons nuwe land Australië.

Net so 'n klein brokkie inligting oor die naam Australië:
Die naam kom van die oorspronklike Latynse beskrywing van die kontinent: terra australis incognita, wat beteken "die onbekende suidland". Die ontdekker Matthew Flinders (1774 – 1814) het daarna verwys as "Terra Australis" (Die land in die suide) en die hollandse ontdekkers het dit "Australisch" genoem. Dit is dus heel gepas dat die Australiese vlag die Suiderkruis op het.


2006, Begin Augustus

2006, 26 Augustus
2006, September
  • ek is volstoom besig met my RPL (Recognition of Prior Learning) dokument om goedkeuring vir my graad by ACS te kry...ek werk tot na middernag in die aande om dit klaar te kry
2006, 4 Oktober
2006, 9 Oktober
2006, 16 Oktober
2006, 26 Oktober
2006, 13 November
2006, 1 Desember
2006, 5 Desember
2006, 15 Desember
2007, 13 Januarie
2007, 22 Januarie
2007, 24 Januarie
2007, 30 Januarie
2007, 1 Februarie
2007, 14 Februarie
2007, 1 Maart
2007, 8 Maart
2007, 12 Maart
2007, 15 Maart
2007, 19 Maart
2007, Einde Maart

2007, 5 April
2007, 14 April
2007, 19 April
2007, 23 April
2007, 2 Mei
2007, 4 Mei
2007, 5 Mei
2007, 9 Mei
2007, 15 Mei
2007, 17 Mei
2007, 18 Mei
2007, 24 Mei
2007, 28 Mei
2007, 4 Junie
2007, 13 Junie
2007, 9 Julie
2007, 19 September
As julle nog 'n opsomming soek van al die dokumente wat ek gekry het, kyk hier. Vir 'n opsomming van die kostes

So dis ons storie....

Wednesday, September 19, 2007

Ons het 'n PR/136 Case Officer!!!

Vannaand se blog is kort en kragtig....ons het vandag gehoor dat daar "iemand op ons case is"!!!

Ja, ons het 'n Case Officer!!!

Dit beteken iemand begin nou offisieel begin werk op ons Permanente Australiese VISA aansoek.

Dit het 11 Januarie 2007 aangekom by die Adelaide Skilled Visa Processing Centre en vandag is daar 'n CO ("Case officer") toegeken aan ons aansoek.

Dit beteken dat dit 250 dae (35 weke / 8 maande en 7 dae) geneem het om tot voor in die tou te kom. Ons is ook op die MODL lys, dus vind daar blykbaar prioriteits prosessering plaas....

Omdat die departement van immigrasie reeds al die nodige Polisie en Mediese dokumente het behoort dit hopelik nou vinnig te gaan.

Sunday, September 16, 2007

Dis lente in Sydney

Julle onthou seker nog my inskrywing oor die herfskleure in Sydney. Wel die seisoene draai en die lekker vars geurige voorsmakies van somer gooi 'n kleed van prag oor die stad Sydney. Sommige aande voel kompleet soos someraande, maar kort kort is daar nog so 'n sarsie koue wat ons weer na 'n trui of twee laat reik. Binnekort sal ons lekker in die vars aandlug kan gaan stap deur Cherrybrook se strate as die helder maanlig skyn. Vroegoggend as ek busstop toe stap word ek begroet deur die geur van soet blommegeure. Die geur van vars Jasmyn en die klank van voëls vul die helder oggendlug en mens is skoon lus vir die dag. Die lewe gaan aan soos gewoonlik en oral waar mens gaan voel mens by die dag minder vreemd en begin die plek al hoe meer soos huis voel.

Ons het die naweek die wonderlikste sonskyn dae gehad. Mens wil net uitkom en die mooi plekke gaan besoek. Gister was ons bietjie na Curl-Curl strand, net noord van Manly en het weer heerlik saam met die kinders baljaar op die strand.

Vandag het ons sommer net met ons kar na Cheltenham stasie gery, die kar daar gelos en die trein in stad toe geneem tot by Wynyard stasie, vanwaar ons sommer te voet gestap het tot by die "Royal" Botaniese Tuine aan die ooste van die stad. Omtrent laasjaar hierdie tyd het ons nog gedroom hoe ons Sondae daar saam met die kinders gaan piekniek hou nadat ek vir ons uit die Australië boeke van die tuine gelees het. Toe was dit nog net 'n amper onmoontlike droom...nou is dit ons werklikheid! Daar is talle mense wat sommer net daar op die gras saam met hul kinders, saam met hul bemindes, of alleen met 'n boek op die gras lê en ontspan. Alles gratis natuurlik... Die plek is natuurlik 'n fees vir die fotograaf. Die lenteblomme maak van die plek 'n lushof. Die plek wemel natuurlik van vrugtevlermuise en voëls en die geklank van die geveerde vriende kan oral gehoor word in die tuine. Daar is groot damme met fonteine en beeldhouwerke.

Ek het die afgelope ruk oral waar ek tekens van lente gesien het my kamera uitgehaal en vir julle 'n skuifievertoning van sowat 92 fotos met die allerpragtigste lentefotos bymekaar gesit. Oral waar jy kyk hier in Cherrybrook en ook in die Botaniese tuine is net blomme! Ongelooflik.

Julle kan die versameling lentefotos gaan kyk by die Web Album, die Skuifievertoning gaan kyk op vol resulosie, of sommer net op die volgende Shockwave objek kliek. Ek het al die fotos op die maksimum resolusie van 4 megapixel opgelaai vir julle genot...



Die geure en kleure is net so rojaal en mildelik tentoongestel in die natuur dat ek nie anders as om te dink aan die deel wat sê:
"En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?" Matt 6:28-30

1 KONINGS 10:14
Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop

1 KONINGS 10:16
Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram goud gebruik.


1 KONINGS 10:21
Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie.


1 KONINGS 10:23
Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid.


























Saturday, September 15, 2007

Iets interessants op Blogger

Die plek waarop ek hierdie blog van my huisves het met 'n baie interessante "skuifievertoning" vorendag gekom. Hulle wys die fotos wat van oraloor die wêreld elke sekonde op Blogger gelaai word as 'n lewendige "slideshow". Die fotos word natuurlik eers gefilter om eksplisiete fotos te verwyder. Mens kan dan op "Info" kliek en dan na daai ou se Blog gaan kyk.

Gaan kyk bietjie by http://play.blogger.com/

Sunday, September 09, 2007

Bietjie terugvoer oor ons naweek...Country Fees en Wisemans Ferry

Hello almal, soos gewoonlik is ons naweek gevul met kuier en verkenningstogte. Hier is so baie om te ontdek en naweke is maar kort. Toe ons Vrydag met die "Princes Highway" terugry vanaf Wollongong af, was ons begroet deur die mooiste reënboog - hier is 'n foto...

Gister was ons by 'n tipiese Afrikaanse braai saam met mede Suid Afrikaners. Het lekker mielies, wors en tjops gebraai en dit saam met pap en bredie geëet. Vir nagereg was daar lekker malvapoeding en roomys...

Vandag (Sondag) is ons toe na die 2007 Galston Country Fees by Fagan Park waaroor ek reeds geskryf het. Ons het eers gedink dit gaan heeldag reën, maar gelukkig het dit later die dag oopgetrek. Ons het ons lekker gemaklik gemaak met ons kampstoele tussen al die ander Aussies. Die kinders het maar so tussen die mense rondgespeel en ons het van vroeg af tot so drie uur die middag na die Aussie Country musiek gesit en luister. Ons het ook vir ons lekker Skaapvleis Kebabs gekry en die kinders het so bietjie op die stampkarretjies gery.

Ek het sommer maar 'n paar video uittreksels geneem, net om julle 'n idee te gee.

Die een groep Simply Bushed wat opgetree het, toer oral deur Australië en het een van "The Seekers" se liedjies gesing.


Dit het die volgende lirieke...


I am Australian

I came from the dreamtime

From the dusty red-soil plains
I am the ancient heart
The keeper of the flames
I Stood upon the rocky shore
I watched the tall ships come
For forty thousand years I've been the first Australian

I came upon the prison ships
Bound down by iron chains
I cured the land
Endured the lash
And waited for the rains
I'm a settler
I'm a farmers wife
On a dry and barron run
A convict and a free man
I became Australian

I'm a daughter of a digger
Who sought the mother load
The girl became a women
On the long and dusty road
I'm a child of the depression
I saw the good time come
I'm a bushy I'm a battler
I am Australian

Chourus:

we are one
but we are many
and from all the lands on earth we come
we'll share a dream
and sing with one voice
I am, you are, we are Australian

I'm a teller of stories
I'm a singer of songs
I am Albert Namatjira (Aboriginal painter)
and I paint the ghostly gums
I'm Clancy on his horse
I'm Ned Kelly on the run
I'm the one who waltzed Matilda
I am Australian

I'm the hot wind from the desert
I'm the black soil of the plain
I'm the mountains and the valleys
I'm the drowned and flooding rains
I am the rock
I am the sky
the rivers when they run
the spirit of this great land
I am Australian

Chorus x2

Hier is Simply Bushed se weergawe...


Hier is 'n video van die Liedjie Red River Valley (spesiaal vir my skoonma omdat sy so baie daarvan hou) uitgevoer deur Bob Howe.


Daar was ook 'n "Bush Poet" wat opgetree het...eintlik maar die Australiese weergawe van Jan Spies...iemand wat met rymelary grappies maak.
Hier is 'n video van Ray Essay waar hy 'n grap vertel...


Hir sit een ou op 'n drom op wiele waarin hulle hul bier verkoel hou...



Toe ons daar by die musiekfees klaar is vat ons sommer net die Old Northern pad en ry totdat ons by Wisemans Ferry kom. Daar is nie 'n brug oor die rivier nie en jou kar moet met 'n veerboot oor die Hawkesbury Rivier geneem. Die natuurskoon by die Portland Head Park is wondermooi en ons het 'n hele wyle daar vertoef en gekyk hoe die karre oor die rivier geneem word. Daar is hope grasperke waar die kinders kan speel en op die skoppelmaaie ry. Daar is ook 'n klein winkeltjie waar ons roomys kon koop.


Hier is 'n kort video wat wys hoe rustig dit daar is...luister net na die voelgeluide in die agtergrond.










In die park is daar plekke waar mens kan kampvure maak, maar ongelukkig is daar permanente staalplate waarop jy moet braai...jy kan dus nie op 'n rooster braai nie. Maar jy kan jou eie "partable" Weber saambring.





Die volgende foto is vir my die mooiste...





En toe...na nog 'n dag van verkenning is ons terug huistoe...


...en so is nog 'n naweek op sy einde.

Friday, September 07, 2007

Wollongong en die klank van die see




Ek sit nou hier voor die rekenaar en blog weer vir 'n slag. Dit gaan nog baie goed met ons hier en ons het 'n hele nuwe wêreld om te verken en te ontdek. Die fotos hierbo het ek by die Wollongong Waterfront geneem vandag. Daar is 2 ligtorings.

Stadig maar seker leer ons al hoe meer mense ken, beide van Oz en van Suid Afrika. Van Suid Afrikaners ken ons al so 8 families en van die Ozzies al heelwat. Laas Sondag was vadersdag hier, so ek is bietjie bederf deur my kinders en ons het bietjie by 'n Park gaan ontspan vir die dag. Hulle het daar snaaks genoeg plante van allerhande lande op aarde, insluitende Suid Afrika...hier is een van die proteas in die African garden:


Ek geniet my werk baie, doen baie wiskunde, meetkunde en aardrykskunde in die proses en programmeer dat die stof so staan. My werkgewer vertrou my met al hoe meer van hul stelsel en ek is besig om my volwaardige plek in die maatskappy in te neem. Ek is nou al gewoond aan die trein en bus elke dag. Ek kry op die oomblik die bus so 07h22, en dan die 7h43 trein sodat ek so 8h05 by die werk is, dan loop ek weer 16h45 by die werk en kry die 16h49 trein en ek is so 17h30 by die huis met die bus van die stasie af. Ek mis nie die sit in die verkeer nie...nie in die minste nie. Hierdie week kry ek nou al my 4de "paycheck" in Oz.

Dit was vandag 'n lekker vakansiedag hier in Sydney omdat die APEC 2007 konferensie hier in Sydney gehou word en hulle soveel moontlik mense uit die stad wou hou. Sommige mense noem dit "Bush day" omdat die VSA se president en sy gevolg van 700 mense wat 'n horde Intillegensie personeel insluit met groot "fanfare" hier is.

Ons besluit toe maar om bietjie die pad te vat en Wollongong toe te ry deur die Royal National Park. Die naam Wollongong kom van die inheemse inboorling taal en beteken die "klank van die see". Dit reën alweer onophoudelik hier en wat sal dit tog help om by die huis te sit. Alhoewel ons meeste van die tyd in die reën gery het, het ons mooi plekke gesien vandag. Ons het die Silverwater pad (Roete 6) gevat verby die stad en toe deur die Royal National Park gery oppad na die kus suid van Sydney. Ons het eerste aangedoen by Bundeena, 'n klein plekkie langs die see in die Park. Hier is 'n foto in Loftus straat.

Daar is 'n tent kampterrein direk langs die see, sowel as 'n staproete langs die strand af.

Ons is maar so stadig maar seker besig om al die moontlike kampplekke uit te kyk vir as die somer nou regtig hier is, dan wil ons 'n "luggage trailer" huur en bietjie gaan kamp, want ons het al ons kampgoed saamgebring van SA af (behalwe die gasbottels).

Langs die kus is daar ook 'n roete wat gestap kan word. Die volgende foto is op hierdie presiese plek geneem waar die roete begin. Dit is aangedui as "The squeeze way" op die google kaarte en kan gevolg word tot by een van die "Surf" strande wat per kar bereik kan word. Ek stel voor mens gaan saam met vriende, parkeer die een kar by die eindpunt en ry dan met die ander kar na die ander punt, en stap dan saam terug met die staproete.



Hier is 'n foto van die uitsig van daar af.


Ons is toe al langs die kus af tot by Wollongong waar ons lekker vis en chips by die Wollongong waterkant gesit en eet het. Hier is 'n foto van die plek se mooi groen gras met die kinders wat rondhol daarop.

Ek hou julle op hoogte...
Groete uit Australië

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings