Friday, May 04, 2007

Ons vlug die 23ste Mei 2007...ek bedoel vlieg

Ons is nou reeds 9 maande "swanger" met ons Australiese droom sedert die saadjie in Augustus laasjaar in ons harte en koppe "bevrug" is. Terugdraai gaan ons nie....hierdie "baba" moet gebore word en dit is reeds in die geboortekanaal oppad om binnekort die nuwe lewenslig te aanskou.

Ons het vandag ons vliegkaartjies deur IOM bespreek deur vir Deeksha Bhoola van IOM te skakel by 012 342-2789. Ek het die paspoorte en VISA bewyse vir haar deurgefaks en die betaling kan mens met Internet bankdienste doen. R6000 per volwassene en R4500 per kind....en dit sluit alle lughawebelastings en fooie in...en daarby kry ons elk 'n 40kg bagasie toelaag.

Slotsom: ons vlieg op 23 Mei 2007 met 'n Quantas Boeing 747-400.
Gaan kyk gerus na meer fotos van hierdie massiewe ystervoël van die lugruim by Airliners.net.
Gaan lees ook hier.

Vir die wat nog nie weet nie, Qantas staan vir "Queensland and Northern Territory Aerial Services".

Die nuutste modelle 747-400ER is in November 2000 deur Qantas in gebruik geneem en heet die 747-400ER, waar die ER staan vir "Extended Range". Daar is reeds meer as 1315 Boeing 747-400's in die lug "vrygelaat".

Om julle 'n idee te gee van hoe groot hierdie vliegtuig is:
Dit is 70 meter lank, het 'n 64.4 meter vlerkspan, is 19.41 meter hoog en het 'n vlerkoppervlak van 541 vierkante meter. Dit het 'n "Maximum Take-Off Weight" van 412,770 kg en sonder enige vrag of passasiers weeg dit 180,000 kg.

Dit word aangedryf deur 4 "turbofan" enjins wat gesamentlik sowat 1040 Kilonewton oftewel 104000 kg stukrag (thrust) kan uitoefen... genoeg om 'n kwart van die vliegtuig se maksimum gewig vertikaal in die lug op te kan trek.

Hierdie geweldige 412 ton pelsrob van die lug word deur 2 vlieeniers beheer wat 'n hele 5300 keer kleiner en ligter is as dit. Dit kan tot 939 km/h bereik en vlieg gewoonlik teen 907 km/h.
Dit kan 416 passasiers dra waarvan 23 eersteklas, 78 besigheidsklas en 315 ekonomiese klas bedra, asook 140 kubieke meter bagasie.
Dit kan 'n maksimum afstand van 14205km aflê (voor dit natuurlik moet land om te hervul). Die standaard 747-400 se rykafstand is 13491 km.
Vir die van julle wat nou wonder hoe ver Johannesburg rêrig vanaf Sydney lê, gebruik gerus die volgende "great circle distance" (groot sirkel afstand) calculator, want die kortste pad tussen 2 punte op die aarde is NIE 'n reguit lyn nie, omdat jy dan deur die aardkors sal moet vlieg.
Johannesburg Internasionaal lê by 26° 8.3333' Suid, 28° 14.75' Oos en
Sydney Internasionaal lê by -33° 56.4333' Suid, 151° 10.45' Oos

Met berekening is die kortste afstand tussen Johannesburg en Sydney 11024 km, wat dan beteken dat die 747-400ER nog ten minste 3181 km verder kan vlieg (of 2467 km as dit 'n standaard 747-400 is)....so moenie worry nie...ons gaan eers ons scuba gear nodig hê as ons reeds in Sydney is.

Ons styg 23 Mei vanaf Jan Smuts/Johannesburg/(daai Dali Tambo se pa) Internasionale Lughawe op om 18h10-SA Tyd (24 Mei 2:10:00 Aussie tyd) en land dan weer by Sydney Kingsford Smith Internasionale Lughawe om 13h55-Australiese tyd (24 Mei 5:55:00 SA Tyd).
Gaan gerus julle Qantas vlugskedule na by Qantas se Flight Info.

Julle kan die tye omskakel tussen Johannesburg en Sydney deur gebruik te maak van hierdie: "Time Zone Calculator".

Hierdie gedierte is GROOT hoor, kyk bietjie na hierdie fotos...





Vir die wat belang stel om te weet hoe lyk die sitplekke op die 747-400, hier is 'n foto afkomstig vanaf SeatGuru-747-400, wat 'n interaktiewe voorsteling met terugvoer het oor waar die beste plekke is om te sit op die vliegtuig.

Ons vlieg natuurlik soos al die normale mense in die ekonomiese klas sitplekke....want ons is nie die adjunk staatspresident nie...ten minste is die ekonomiese klas aan die agterkant...het dus 'n groter buffer tussen die neus en ons...

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings