Wie hou van voetslaan? Noem dit stap, wandel wat ook al. Ek en my vrou hou sommer baie daarvan. Is ons veteraan stappers? Allermins!!
Ons gaan net vir die ervaring van die natuur:
die asemrowende panoramiese uitsigte wat jy sien as jy na 'n groot gesukkel hoog genoeg en ver genoeg gestap het om te kom waar min mense die voorreg het om te gaan. Om in die herfs te sien hoe die akkerbome geduldig jaar na jaar die berge met 'n palet van geel, oranje en rooi verander in 'n prentjie wat vasgebrand word in jou gedagtes, net soos die digter NP van Wyk Louw dit in Vroegherfs beskryf:
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Uit Vroegherfs, NP van Wyk Louw
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Uit Vroegherfs, NP van Wyk Louw
Om in die vroeë oggendlug 'n lekker koffietjie te drink en te sien hoe die son se glinstering deur die doudruppels op die nat gras, klein reënbogies maak. Om binne in 'n populierbos by Chatedral Peak Didima kampterrein in jou tent te lê en luister na die wind se geluid deur die bome se takke en saans as alles pikgietswartdonker word net die helder sterrehemel bo jou te sien oopvou. Of om by die Monks Cowl tentkamp, of by Injusuti na die veelkleurige grasvelde te sit en kyk wyl jy rustig sit en luister hoe die klokhelder vars bergwater ongestoord sy weg vind oor die ronde, deur eeue heen verweerde, rivierklippe.
Die foto heel bo aan het ek in vroegherfs vanaf die Monks Cowl kampterrein af geneem. Kliek gerus op die foto om na 'n groter weergawe daarvan te kyk. Die wêreld in die berge is net soveel mooier as wat mens op die foto sien. 'n Mens moet dit beleef om dit te waardeer. Mens moet DAAR wees om te weet hoe BETER dit regtig is.
Die bergpaadjies is normaalweg goed gemerk met klein voetspoortjies, die nalatenskap van die die mense wat die weg oor die berge reeds gebaan het. Daar word op die meeste bergpaadjies duidelik aangedui wanneer daar 'n draai in die pad is. Menigmaal het ek al so na bergbestemmings geloop wat ek nog nooit voorheen op geloop het nie, in die vertroue dat die rigtingwysers van my voorgangers korrek was. Dit is seker wat geloof ook is: Om die rigtingwysers te volg van die' wat reeds die roete voltooi het en hul voorbeeld agtergelaat het.
Baiemaal kry mens ook natuurlik nie 'n voetspoor om elke draai nie... Mens moet maar aanhou stap op 'n dikwels dowwe paadjie waarop leidrade gelos is so tussendeur die klippe wat uit die pad gerol is en die platgetrapte grashalmpies deur. Mens neem soms 'n besluit by 'n voetspoortjie op 'n vurk in die pad, in die vertroue dat dit die regte besluit was; maar dan moet jy deurdruk en daardie paadjie enduit volg. Soms wonder jy of jy die regte besluit geneem het...veral as die leidrade yl word en die paadjie steil teen 'n berghang begin uitkronkel. Jy word dikwels uitasem en jou lyf moeg, die gedagte om tou op te gooi maal in jou kop met die woorde: kannie meer nie korporaal!!
Maar dit help oneindig baie as jy iemand het om die paadjie saam met jou te stap. Iemand wat verstaan waardeur jy gaan omdat sy saam met jou daardeur gaan, iemand wat kan getuig dat jy ook daar is, dat die emosies wat jy ervaar nie net jou verbeelding is nie. As jy moeg word en moedeloos in die middel van die pad op 'n klip sit en jouself bejammer, en jy opkyk in 'n vriendelike gesig wat verstaan....dan staan jy sommer op en hardloop met nuwe moed teen die rante uit.
Die bewys dat die besluit by die vurk in die pad nie verkeerd was nie kom natuurlik eers aan die einde van die roete...as jy êrens hoog teen 'n berghang by die uitkykpunt uitkom en uit die hoogte terugkyk op die hele pad waarlangs jy geloop het, 'n gasstofie uithaal en vir jou en jou vrou lekker moerkoffie en beskuit saamflans terwyl jy uittuur oor die wolke....maar hierdie keer van die bokant af. Die wat voor jou daar die weg gebaan het, het toe die waarheid gepraat...jou op die regte spoor gelei. Kyk die pad is nie maklik nie, niks wat die moeite werd is val sommer in mens se skoot nie, maar mens wil ok nie verniet deur swaarkry gaan nie....mens is darem ook nie stupid nie.
Vir my is hierdie Australië planne nogal soos 'n voetpad in die Drakensberge: moeilik maar aan die einde hopelik die moeite werd. Net die tyd sal leer....as ons eendag terugkyk op die smal paadjie deur die berge, ver bokant die sub-gelukkige bestaan, die daaglikse noodgedwonge tronk lewe, die rondrol in die nag van bekommernis oor jou familie se veiligheid en die stelselmatige aanbreek van die winter soos wat alles wat vir jou lief en dierbaar was in jou land soos herfsblare van 'n akkerboom stadig maar verseker verkleur, verdroog en afval om uiteindelik vir altyd net in goeie herinneringe in jou hart te bestaan.....
jJulle is vir ons 'n inspirasie, en ons glo dat julle 'n sukses sal maak. Dis wonderlik hoe veilig mens in Australië voel. Ons was net 'n maand daar by ons kind en die rustigheid is ongeëewenaar. Wees gerus en bou aan jul nuwe toekoms en bly net glo, want hier by ons wil dinge nie regkom nie en die agteruitgang is merkbaar. bid net dat die 2010 Wêreld Sokker Beker 'n sukses sal wees, anders weet ek nie...
ReplyDelete