Wednesday, October 10, 2007

Soms is mens se verlange baie groot

Goeiedag vriende

Soms gaan daar dae verby dat mens baie dink, terugverlang en nie eens tyd kry om te blog nie.

'n Mens berei jouself voor in jou hart op die groot verandering, en verwydering van alles wat jy ken. Maar laat ek jou nou een ding vertel: Jy kan dit nie regtig vir jouself voorstel voor die tyd as jy dit nie self gedoen het nie. Dis nie maklik om dit te beskryf nie. Ek dink die gevoelens wat mens kry is deels afkomstig van die feit dat mens fisies in afstand en tyd so vêr is (vrek vêr) van al die bekende, en deels as gevolg van die besef in jou kop dat dit PERMANENT is. Hierdie besef werk soos 'n klankversterker en maak alles wat jy ervaar soveel meer intens.

Dis soos om met SCUBA (Self Contained Underwater Breathing Apparatus) toerusting diep onder die see rond te swem...jy kan dan nie sommer net wanneer jy lus is na die oppervlak gaan om gou asem te skep nie. Nee, as jy so 20-30 meter onder die massas en massas water is diep in die see, besef mens gou-gou dat jy moet klaarkom met net die lug wat jy op jou rug vasgegespe het. Dink bietjie mooi aan hierdie analogie... (selah) As jy sou toegee aan die instinktiewe (en baie menslike) drang om gou by die oppervlak uit te kom, gaan die lug in jou longe met 4 keer hul volume opblaas en dis klaarpraat met jou. Jy leer ook om ELKE asemteug te tel, nie meer lug as vanselfsprekend te aanvaar nie. As mens net begin SCUBA, dan kan jy met 'n groot silinder selfs nie eens 25 minute onder die water hou nie...jy is eenvoudig te gulsig vir lug! Maar soos wat jy meer ontspanne en gemaklik word onder die water. Soos wat jy leer om rustend met die seestrome saam te dryf, eerder as as om verwoed met jou eie krag van een plek na 'n ander te swem - leer jy om die kosbare lug te spaar. Jy leer om te luister na jou asemhaling en jy kry weer waardering vir die suurstof wat jy so as vanselfsprekend aanvaar het. Op hierdie manier kan jy later maklik 50 minute onder die water deurbring sodat dit eerder die risiko van stikstof wat oplos in jou bloed is wat jou beperk en nie meer die hoeveelheid lug in jou silinder nie.

Net so...so voel mens soms...hier in die vreemde. Jy is net 'n telefoonoproep vêr van jou mense in Suid Afrika (daardie naelstring wat jy so nodig het), maar jy kan nie sommer vinnig opgaan oppervlak toe vir lug nie! Want jy is 11000 kilometer vêr!!! Jy kan nie meer sommer gou vir 'n kuiertjie inval om hulle warmte te ervaar of om saam met hulle koffie te gaan drink nie. 'n Hele nuwe lewe het hier vir jou aangebreek: jou kinders gaan hier skool, jou werk is hier, alles wat jy besit is hier, maar soms voel dit nogsteeds soos 'n baba wat half gebore is...die kop is al uit, maar die lyf is nog binne. Jy en jou gesin geniet reeds die voordele van die nuwe land, maar die ander deel van jou familie is nog in Suid Afrika, wat maak dat jou lewe hier nie kompleet is nie! Die ravyn van afstand en tyd is so ontsaglik groot dat die gedagte wel soms deur jou kop gaan dat jy hulle dalk NOOIT weer gaan sien nie! Maar ons weet dit is nie so nie...danksy aan moderne tegnologie en beter lugvervoer....maar ai - dit kos baie geld. Moet dus nie dink dat as jy hierheen kom jy bly net in 'n ander dorp nie!

Indien jy baie geheg is aan jou familie moet julle baie oor die saak praat en 'n "lobster meeting" hou met hulle. Hoor hoe staan die saak...sou hulle dit ook wil doen? Kry dan voordat jy nog hiernatoe kom reeds 'n plan in plek om daardie persone wat bereid is ook hier te kry, want soos ek reeds gesê het: Lug word baie kosbaar as dit in "short supply" is. Mens waardeer dit wanneer dit skaars is.

As mens eers PR (Permanent Residence) het en 50% of meer van die kinders bly hier in Aus, dan is mens geregtig om aansoek te doen om jou ouers ook oor te bring. Dit is natuurlik 'n ander storie om te weet of hul hier sal kan aanpas...

Die vrae: "Of hierdie dan nou die toestand van jou hart gaan wees van die res van jou lewe...so sonder jou ma of pa ? Of jy haar ooit weer gaan sien? Of jy dit gaan maak sonder daai liefde? Gaan jy hulle ooit hier by jou hê?" Dis maar alles vrae wat by mens opkom. Dit kan wees soos 'n groot donker tonnel wat jy in die gesig staar. In SA was die "suurstof" volop...en jy het nie geweet wat jy het nie, maar hier is dit skaars....dus moet jy sorg dat jy planne het om daai mense "suurstof" hier te kry, of andersins moet jy seker maak dat jy planne maak om af en toe "op te gaan vir asem", al is dit duur en die afstand groot en diep. Maar soos wat die tyd aanstap leer 'n mens om te "cope" met die verlange en jy leer hoe om met minder "suurstof" klaar te kom en langer onder water te bly.

'n "Kop besluit" is nie noodwendig maklik nie. Selfs al sê jou hart ook vir jou dis die regte ding en al val alles in plek...al is jou paaie na Oz geplavei, weet mens een ding: "As iemand wat op jou gegroei het...weg moet gaan (of weg moet wees), dan kom daar 'n seerplek...wat net nie wil genees nie." Amper soos 'n seer knie wat sukkel om gesond te word omdat jy dit heeltyd moet gebruik en die inflammasie nie wil weggaan nie. Maar ek skat dis die lewe van 'n pionier...daardie mense wat die ongekaarte grondgebied vir hulle navolgers moet gaan ontdek, alhoewel die "gevare" hier meer te doen het met die seerkry van jou hart.

Ek kan eerlikwaar op hierdie stadium nog nie sê dat ek enigsins my lewe in SA mis nie, net die mense wat na aan my was. Hier is net soveel, indien nie meer, mooi plekke. Ek geniet 'n ongekende rustigheid in my hart oor die lewe en oor die toekoms, alhoewel die feit dat huispryse so hoog is hier wel 'n vlieg in my salf is. Mens bekommer jou nogsteeds oor jou mense in Gangster's Paradise. Hier is 'n liedjie van Richard van der Westhuyzen oor mens se gevoelens oor die land aan die suide van die donker kontinent....

Anthem

Woorde en musiek; Richard van der Westhuizen

Dis skemer oor ons land
Die vreemde gloed van 'n verre brand
Hang oor die newels van die rookmis en reën
Die kranse staan as skildwag
Voor die donker drom se hoonlag
Waar die slanggif in die koue aarde pols

Oor die witkant, oor die swartkant
Oor die skaakbord van die hartland
Kruip die groot kanonne al hoe nader
Ongehoord en ongesiene
In die drup-drup van morfiene
Loop die uurglas nou algaande leeg

Maar iewers is daar vrede
En 'n beter dag, en 'n nuwe hede
Iewers is daar vrede
En die weerklank van 'n suiwer rede
Iewers is daar vrede, wie weet waar?
Mag die gode ons bewaar
Mag die gode ons bewaar
Mag die gode ons almal bewaar

Waarheen daal die donker maan
Wat sal op sy sekel staan
Die land lê vol en ryp in vrug en blom
Voor die silwer, voor die rooi
Voor die mespunt en die prooi
Slaan die staalblou weerlig op die valbyl se lem

Nou weerklink die horinggeskal
En iewers moet die dolos val
In die droë stof wat oor die aarde lê
Oor die erwe van ons vaad're
Woed die wilde en makab're
Klink die somber klaaglied van die naderende dood


(Luister na so 'n uittreksel van hierdie liedjie by www.rhythmonline.co.za, waar mens ook aparte snitte van liedjies teen so R7.00 vanaf Suid Afrika kan aflaai in MP3 formaat. Ek het lank gesoek na 'n plek waar mens lekker Afrikaanse musiek binne 'n paar minute kan betaal, aflaai en luister.) Julle kan dit ook probber luister by Richard se eie Website : www.richardvdw.co.za, maar dit is aansienlik stadiger.

Mag God ons familie bewaar

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings