Sunday, October 21, 2007

'n Tikkie Aussie gasvryheid in die blou berge

Ons het 'n baie avontuurgevulde naweek gehad. Ons het gekuier op die "Blue Mountains" plaas van mense wat baie oop te tafel (oftewel gasvry) is. Soos julle teen hierdie tyd seker al weet...ons familie kuier mos vir ons. Daarom het ons vir die afgelope twee naweke vir ons lekker wegbreek naweke bespreek weg van die huis af. Laas naweek was ons by Pearl beach, en hierdie naweek in die "Blue Mountains". Ek sal nog bietjie later fotos oplaai van ons verblyf daar by Pearl beach, maar ek gaan nou eers vir julle vertel van hierdie afgelope naweek. Ons het vir ons vir die naweek naby Kurrajong in die "Blue Mountains" 'n berghut/kothuis bespreek waar mens op bergstaproetes kan gaan, in kajakke op die "Creek" kan ry en die naweek as familie net rustig saam kan spandeer.

Hier in Australië mag mens mos nie karre oorlaai nie...en aangesien ons sulke wetsgehoorsame (lees "versigtige") voornemende landsburgers is, het ons toe maar besluit om in twee aparte vervoermiddels na die plek in die "Blou Berge" te ry (of ten minste vir die grootste deel van die pad)...my vrou, kinders, skoonma en skoonsus in die kar en ek in die trein. Ek het natuurlik eers op die 131500 website gaan kyk watter treine ek moet neem - die "Northern Line" tot by Strathfield en dan weer die "Western Line" al die pad via iets soos 15 stasies tot by Richmond, wat dan net 'n hanetreetjie van die plekkie is. Ek koop toe vroegoggend al 'n kaartjie. Die treinkaartjie kos net $6.50. Ek geniet die ritte nogal, want mens sien soveel nuwe en verskillende mense...leer ken die stad se mense op grondvlak en mens word stukkie vir stukkie 'n Sydney-sider. Van West Ryde af kom ek toe so 17h15 op Strathfield stasie aan. Vandaar kry ek toe 17h30 die trein Richmond toe. As julle op die kaart kyk sal julle sien dis ook hier waar die treinspoor eindig. Aanvanklik is die trein nogal vol. Moeë mense sit en staan die hele treinwa vol. Almal oppad iewers heen. Ek oppad na die blou berge. Ek en vroulief konfereer oor die foon waar ons nou trek. Sy ry nogal gou en hulle sit toe vir my en wag op Richmond. Die stasies flits verby: Strathfield, Lidcombe, Auburn, Clyde, Granville, Harris Park, Parramatta, Westmead, Wentworthville, Pendle Hill, Toongabbie, Seven Hills, Blacktown, Marayong, Quakers Hill, Schofields, Riverstone, Vineyard, Mulgrave, Windsor, Clarendon, East Richmond en uiteindelik...Richmond. Net voor Richmond klim drie van die treinpolisie op die trein, maar teen hierdie tyd is die treinwaens al bykans leeg. Hul vra my kaartjie, gaan sorgvuldig die gegewens na en stap verder. Mens sien hulle eintlik maar min op die treine, maar wanneer jy hulle sien...dan wil jy nie sonder kaartjie gevang word nie. Teen 18h36 kom die trein op Richmond aan, en teen hierdie tyd is ek alreeds in 'n lekker naweek "mood", want ek luister na Richard en Lochner se "Tussen Treine" en ek af en stap vrolik, want my familie wag en 'n lekker naweek lê voor ons.

Ons "squeeze" in die kar in. Net 'n kort entjie en ons bereik met behulp van die Navman GPS die Kirkwood afdraai uit Blaxlands Ridge pad. Die plekkie waarheen ons oppad is, is Kurrajong Trails & Cottages. Baiemaal het ons so in Suid Afrika saam as familie gaan stap...Naboomspruit, Warmbad, die Waterberge, Potgietersrus en Thaba Patswa. Wel, dit is nou weer sulke tyd. Alhoewel 11000 km weg, was ons oppad om dieselfde te doen. Kurrajong Trails & Cottages is geleë op die plaas van Steve en Lee Finnane wat hulle reeds 25 jaar gelede vir $30000 gekoop het...die plek moet nou 'n fortuin werd wees...maar hulle gee nie om nie, want hulle is nie van plan om dit ooit te verkoop nie.
Hier is 'n foto vanaf hulle website:


Hulle het eers hier op die plaas 'n perdeskool bedryf, maar omdat die versekeringspremies te hoog geraak het, het hulle besluit om verder net staproetes hier te bedryf. Die afdraaipad na Kurrajong Trails is hier. Mens kan die plek maklik sonder 'n 4x4 bereik. Ons het omtrent al die pad na die kothuise op 'n sagte sand pad gery onder bloekombome. Dit is by -33.4599° (Suid), 150.771° (Oos)
Hier is 'n kaart van die plek...

View Larger Map

Daar is vier volledig toegeruste kothuise (Cottages) met slaapplek vir 6-7 mense. 'n Stuk of 12 pragtige bruin maanhaar perde wei nou vryelik op hulle plaas. Die verblyf kos sowat $385 per naweek en ook $385 van Maandag tot Vrydag. Die kothuise het 'n volledig toegeruste kombuis, 'n badkamer, 'n groot dubbelbed en 4 ander beddens op die eerste vloer,'n kaggel, sagte rusbanke, muskietnette oral en 'n stoep waarop mens lekker kan sit en kuier. Daar is ook plek om 'n lekker kampvuur te maak en hout kan jy kry net soveel jy wil...bring net jou eie rooster saam - want hier is net 'n plaat om op vleis te braai. Daar is egter 'n gesamentlike BBQ area by die skuur (wat tafeltennis is) waar jy die gasbraaier kan gebruik.

Wel, om terug te kom by die naweek...ons kom toe reeds na donker daar aan. Kothuis nr. 4 was ons s'n. Nadat ons afgepak het gaan sit ons toe in die aandluggie en luister na die soete geluid van krieke in die berge. Af en toe verbreek die ge-hoe-hoe van 'n uil die naggeluide. Daar waai nie eens 'n windjie nie, maar dit is nie te koud of te warm nie. Dis perfek. Die helder maan bo ons koppe is feitlik die enigste lig rondom ons en dit verlig die omgewing net genoeg om te kan sien dat daar nie eens 'n geritsel in die blare van die hoë bloekombome oral rondom ons is nie. Die toneel is amper onwerklik...dis soos om in 'n foto rond te loop, want al wat beweeg is ons. Die maan en helder sterrehemel, asook die bloekomboomblare bokant ons koppe staan doodstil. Verder is daar niks ander geluide nie. Ons gesels en kuier tot laat in die nag. Toe ons gaan slaap los ons die kamervenster se blinders opgetrek sodat die helder maanlig in die kamer in kan val en ons vroegoggend deur die morestond begroet kan word in die bed. Hier word dit kort na 5 in die oggend lig en dan hang daar 'n mis uitgestrek oor die vallei soos watte. (Verskoon maar die fotos se kwaliteit...het my kamera by die huis vergeet en moes toe maar die Navman N40i s'n gebruik.)

Vroegoggend maak ons vir ons koffie en luister onder die bome na die magdom voëlgeluide. Daar is helder groen voëls met helderrooi koppe. Vir die eerste keer sien ons alles wat rondom ons lê. Reg voor ons is 3 ander kothuise. Twee kothuise staan leeg die naweek, en in die ander een is nog 'n gesin wat ook hou van braaivleis oor die vuur.

So entjie van ons kothuis is 'n sinkskuur met 'n regte werkende trekker en 'n magdom tierlantyntjies wat mens op 'n perdeplaas gebruik. Stiebeuels word oral vir handvatsels gebruik en in die kuierskuur is daar oral fotos teen die mure van Aussies van vergange se dae. Daar is fotos van skaapkrale waar daar duisende skape bymekaar is. Vriendelike Aussies op trapfietse en op ander fotos weer fotos van 'n "Rodeo" en manne wat soos lappe van die bulle afgegooi word. By die klein "kroegie" die tafel is 'n perdesaal met stiebeuels en teuels. Buite die skuur staan een goedversorgde perd en wei in 'n kampie by 'n baal hooi, en ver in die vallei kan mens 9 ander perde tel wat vry rondloop langs die rivier en wei op die vlakte groen groen gras.

Maar hier noem hulle die rivier 'n "Creek". Amper soos "Dawson's Creek" op die TV...maar in hierdie geval net "Steve en Lee" se "Creek". So na ontbyt besluit ons toe om die grondpad af te stap in die vallei. Die "Creek" loop deur 'n vloedvlakte wat geheel bedek is met groen gras. Die hoogte bo seespieël onder by die rivier is so 4 meter volgens my Garmin Foretrex 101 GPS, terwyl die kothuise op 'n hoogte van 140 meter lê. Daar is 'n kuier area reg langs Steve hulle se huis wat uitkyk oor die hele vallei en vanwaar mens die perde in die verte kan sien wei. Hulle hol regtig hier vry rond soos wat ek gehoor het by Kaapsehoop in SA gebeur. Teen laatmiddag, dan klap Steve net die sweep so paar keer en die perde kom self met die pad langs op vanaf die vallei terug boontoe...ongewoon, maar tog nie, want sien, dis alles mak perde. Onder in die vloedvlakte gee die gras mens die induk van 'n baie groot park in die middel van die berge, maar ek skat mens noem dit seker 'n "meadow" in Ingels. 'n Rivier loop al langs die kant van die klowe en in die water dryf ronde waterplante. Die water is suiwer en skoon. As mens na die perde aangestap kom, dan kom hulle spontaan aangegalop. Ek vryf oor hulle sagte neuse en hulle staan vriendelik stil. Hulle wei langs 'n enorme groen boom wat sy koelte oor 'n kol van seker so 15 meter in deursnee gooi. Die gras lyk koel en sag onder die bome en daar staan 'n suurlemoenboom so 'n entjie verder. Ek onthou goed dat ons net so 'n suurlemoenboom in Silverton gehad het as kinders. Dis daardie suurlemoene met die growwe skille en as jy hulle afdom kan jy die suurlemoenskydies soos naartjies eet - alhoewel ietwat suurder. Die kinders hardloop sommer sulke ente van 50 meter vooruit oor die natuurlike "grasperk". So 'n ent verder vernou die grasperk tossen die klowe en aan die punt van die rivier lê daar 3 kajakke waarmee mens 670 meter in die rivier af kan roei. Aan weerskante van die gras en die rivier is daar hoë sandsteen kranse waarteen daar oral groen bome gewortel staan. Hulle groei sommer so teen die rante en boomvarings hang teen die wande af. Daar is ook 'n hele klomp natuurlike "grotte" langs die kranse soos wat mens in die rivier afroei. Die water is suiwer en op die diepste seker so 2 meter diep. Op die bodem kan mens lang peulvormige bloekomblare gesink sien.

Die water is so stil soos 'n spieël en dit is net ons geroei wat rimpels in die die oppervlak veroorsaak. Die geklank van 'n magdom voëlgeluide laat jou soms vergeet dat jy nie in die paradys is nie. Ons het gedurende die naweek 'n paar keer die 2 km in die vallei afgestap en gaan kajak ry. Hier is die kinders op een saam met my. Steve is op die een in die agtergrond. Hy het sy bejaarde ma, wat by hulle kuier, vir 'n entjie op die "Creek" gaan roei...om vir haar en ons te wys waar die platypus (eendbekdier) soos 'n wewer nesmaak aan die kant van die rivier.



Daar is voëls wat klink of hulle vir mekaar sit en lag in die bome en so af en toe duik daar 'n ander een af en vang iets in die rivier. Ek het geskat dat sommige van die bome, waarvan sommiges sommer in die middel van die rivier staan, sowat 20-25 meter (amper 6 verdiepings) hoog is. Dit is 'n fantasties rustige ervaring om so in 'n "Creek" af te roei. Ek en my vrou het dit vanoggend alleen gaan doen en sowat 650 meter (het ge-check op my GPS) ver in die rivier af geroei onder bome. Daar is sulke stokkies-spinnekoppe in die takke wat oor die rivier hang. Mens voel of jy die plek vir jouself het. Steve hulle se een seun en sy maatjie het sommer in hulle se klere daar in die water gebaljaar en vir hulle boomhuise gebou in die dooie boomstompe wat omgeval het in die water. Toe ons gister saam met die kinders teruggestap het na ons kothuis, kies ons toe sommer kortpad teen die berg op...toemaar, daar is darem oral gemerkte "tracks" wat met gekleurde toutjies om die baie bome aangedui word. So het ons saam met die 2 kalante die 140 meter uitgeklim. Vir hulle was dit 'n groot avontuur. Ek moes my dogtertjie op plekke selfs optel by die kranse en rotskeure waarteen ons opgeklim het - maar nerens is dit lewensgevaarlik nie.

So 'n rukkie voor sononder kom Steve daar by ons kothuis verby en vra wie wil saamry met die 4x4 tot onder in die vallei. Ek en die kinders spring toe in, want hier kyk mens nie 'n gegewe perd in die bek nie...mens maak vriende met elke nuwe Aussie wat jou net 'n halwe pinkie gee. Toe ek my mond vir die eerste keer oopmaak...sê Steve: "Oh, you're from South Africa ! We've has some South Africans over here the other day..." En so sit ons en gesels oor SA en oor die tyd toe hy in 1969 as skoolseun in SA op 'n rugby toer was, en oor hoe dit nou in SA gaan en hy bewus is van wat Robert Mugabe in Zimbabwe aanvang. Hy vra my hoe dit nou daar gaan...en ek antwoord maar met min woorde, want wat kan mens nou sê...wat sal dit tog help...mens besef alte goed hoe totaal oningelig meeste mense hier oor SA is...hulle is salig onbewus van alles in SA...hulle hoor maar net as Suid Afrikaners vir hom sê hoe wonderlik dit is dat hul kinders hier so vry kan rondspeel. Terug by die kothuis nooi hy ons uit om die wereldbeker rugbywedstryd saam met sy familie te kom kyk, want, sê hy vir my, "sy hele familie skreeu moreoggend vir die Springbokke"...hulle kan mos nie toelaat dat die pommies wen nie - net so sê hy! Wel, ek aanvaar toe met graagte die uitnodiging en sê vir hom ons is daar! Anders sou ons die wedstryd gemis het...want in die kothuise is nie TVs wat opvang nie.

Later die aand, toe die son vreedsaam sak agter die blou berge, het ek gedink aan daai liedjie..."when the sun says g'day to the mountains", toe ek die son sien sak terwyl ek vir ons lekker skaaptjoppies op die gasbraaier BBQ maak met Suid Afrikaanse Steak en Tjops speserye... Hier praat die son seker Aussie as hy vir die berge "goodnight" sê.

(ja, reg geraai..die Navman se kamera het nie 'n zoom funksie nie)

Wel, vanoggend vroeg, 04h40 is ek, vroulief en skoonsus op in suiker ons toe af na Steve hulle se huis wat, heel nederig, van enkelmuur bakstene gebou is om te gaan kyk wat gebeur in die stryd.
Hulle het die mees asemrowendste uitsig oor die bloekomwoude en oor die "Creek" onder in die vallei.

12 Jaar gelede het die bokke mos laas die wêreldbeker gewen. Meeste van ons vriende was toe nog nie eens getroud nie, en ek het my vrou eers later daardie jaar ontmoet. Ek onthou nog goed...ek het saam met vriende by die "Robbers den" gastehuisie naby Pelgrims Rus in die laeveld gekamp. Ons het die wêreldbeker en Joel Stransky se geskiedkundige skop van daar op die TV dopgehou. Een van my vriende was so op sy senuwees oor die amperse verloor dat hy sommer in die kamer langsaan gaan staan het, en ons vir hom moes sê wat gebeur omdat hy nie meer die spanning kon vat nie. Ja...baie jare terug. Ek was toe nog op Tuks. En, nou sit ek hier in Oz met 'n liefling vrou en 2 kinders! Hoe loop die lewe nie jakkalsdraaie met 'n mens nie.

Wel, terug by die wêreldbeker wat ons saam met hierdie gasvrye Aussie familie gevier het. Toe ons daar by hulle kom was die huis reeds wakker. Ons word vroegoggend tee geskink en Steve haal grappendergewys sy beste Suid Afrikaanse aksent uit om ons welkom te laat voel. Hy sê: "Vanoggend skree ons saam met julle...en ons hoop ons span wen!"...nou net in Engels natuurlik.
En daar sit ons, soos medelandsgenote, met ons voete op dieselfde voetkussings en drink tee en skuif reg om die 2007 wêreldbeker eindstryd tussen die Engelse rose en die Springbokke te ondersteun. Dit was ons, Steve, sy gryse moeder en sy dogter se vriend Richard. Ons gesels oor Percy Montgomery se skoppe, oor Jake White en Os du Randt en ek verduidelik vir Steve dat "Os" dieselfde beteken as "Ox", nadat Steve die opmerking maak dat Os seker nie deur sy deurkoesyn sal kom so groot is hy nie. Ons gesels oor die baie skoppery in die game en Steve sê hy hoop Suid Afrika kan nou net 'n "try score", sodat daar darem bietjie opwinding in die game kan kom. Steve vra of Thabo Mbeki nou die president is, en ek wys vir hom wie dit is. Hy sê vir my, hy hoop net nie alles rafel uit as Mandela eendag doodgaan nie. En so sit ons en gesels en toe die Springbokke uiteindelik as die wenners uit die stryd tree wens ons mekaar geluk met "ons" span se oorwinning. Die bokke wen toe mos die pommies met 15-6, alles via van skoppe. Dit was 'n stryf van epidermiese proporsies sodat selfs die kaptein met bloedbelope oë van die veld af is op 'n stadium. Maar uiteindelik het beide van ons spanne nou gewen...die Blou Bulle die Super 14 en die Bokke die Wêreldbeker!! Selfs die ouens by my werk..almal Aussies het gesê hulle skreeu hierdie naweek vir die bokke!

Na ontbyt gaan stap ek en vroulief toe die Black Gully (Gully = deep ditch cut by running water) roete (die vorige dag het ons die Rock Wallaby gestap). Oral waar ons gaan stap "Peanuts" saam. Hy ken die staproetes al uit sy kop uit en hy wag geduldig dat ons opvang met hom. "Peanuts" is natuurlik die mak Dingo hond van Steve hulle. Dit is die slimste hond. En hy het verseker nie 'n hondelewe nie! Hieronder is hy in die foto.


Waar ons by die rivier kom, spring hy in die water en swem al voor ons kajak uit tot aan die ander kant. Hy klim oor die boomstompe wat oor die rivier lê en as ons weer by die wal kom, dan skud hy hom af sodat jy sommer papnat kan word. Hy is hier so vry soos 'n perd want hy het kilometers se groen gras waarop hy vryelik kan rondhardloop. Waar ons langs die rivier gesit en kuier het, kom skud hy die koel water sommer tussen ons af...asof hy die koel lafenis van die water met ons wil kom deel.

Vanmiddag is ons terug...almal in dieselfde kar..dit is so 50km van ons huis in Cherrybrook af. Mens ry oral deur groen landerye, met besproeiing, deur die historiese dorpie Windsor al langs Windsor road, tot waar mens uiteindelik links draai in Showground road in Castle Hill.

Dit was 'n lekker naweek...en ek dink aan die liedjie: "Once a jolly swagman camped by a billabong under the shade of a coolibah tree..."

Groete...van die Australiese korrespondent

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings