Monday, July 20, 2009

Aroma fees

Stadig stap die jaar aan. Dit is maar steeds koud in die oggende, maar gelukkig het die reën so 'n bietjie opgeklaar. Hierdie week is effens warmer - die warmste winterdag vir hierdie jaar. More is dit 'n hele 22 grade hier by ons. Die kinders is nog op vakansie. My seun het hierdie week 'n basketbal-kamp in die dag. Verder het ons hierdie naweek bietjie ons roosbome gesnoei. Ek het ook 'n paar moewiese dik boomwortels onder die huis se plaveisel uitgegrawe, dit het die opritte skoon begin omdolwe. As mens so werkkaf, dan vergeet jy vir 'n oomblik dat dit nie regtig jou eie huis is nie, maar wat ook al - ten minste geniet ONS die vrugte van die huis, of dit nou op ons naam is of nie. Ons droom ook om eendag te kan huis koop...nou voel net nog nie reg nie. Australië is nog nie heeltemal in ons bloed nie...20-30 jaar is 'n lang tyd om af te betaal. Wel, met al die gewerskaf voel my lyf vandag soos 'n stuk melksuur biltong. Weet julle hoe het ek gesukkel om vannaand die built van die busstom of op te kom?
Verder byt ons nog vas in die GFK. By my werk is daar heelwat nuwe dinge om te leer. Het nou onlangs 'n Vektor kaart enjin in Microsoft Silverlight geskryf. Maa mens voel ook maar nooit of jy besig is om aan jou eie besigheid te bou nie. Jy bly maar 'n besoldigde slaaf. Maar werk mens ooit vir jouself...as jy jou eie besigheid het werk jy ook maar tog net vir kliënte, en soms is hulle minder vergewingsgesind.

Ons het gisteroggend met die trein ingeskiet stad toe. Dit kos op Sondae net $10 vir 'n retoerkaartjie vir die hele familie stad toe en terug...minder as die prys van 2 koppies koffie. Ons het so na 11 uur se kant daar aangekom. En was daar nou vir jou mense. Dit waar die jaarlikse Aroma fees by die Rocks net langs Circular Quay (die kaai). Dis amper soos die Alfred Waterfront in Kaapstad. Daar is ook allerhande stalletjies, maar Sondag was ekstra spesiaal, want oraloor was daar stalletjies waar hulle koffies teen 'n appel en 'n ei verkoop of selfs verniet weggegee het. Die Brazilaanse koffie by Piazza d'Oro die meeste geniet. Dis nie so sterk soos die ander soorte nie. Ons geniet veral Lattes, dis nou koffies met melk in. Ek hou baie van Gloria Jeans se Irish Nut Creme. Buiten die baie verskillende soorte koffies en Chai Tee, was daar ook heelwat sjokolade om te kies en te keur. 'n Stokkie met 4 aarbeie in sjokolade gedoop het sowat $6.50 gekos. Daar was ook kunstenaars wat opgetree het wat agtergrond musiek veskaf het, soos hierdie ou en sy maat...





Ons het ook deur die ou straatjies van The Rocks gaan verken. By die "G'Day Cafe" het ons vir ons lekker middagete teen 'n baie billike prys gekoop. Die kos was heerlik! Ek het 'n Bief Kebab geëet, en Tania 'n geroosterde Ham & Cheese Foccacia broodjie en die kinders het 'n lekker groot hamburger en toasted broodjie geëet. Ons het eintlik per ongeluk op die plekkie afgekom, want net regs daarvan is daar 'n ondergrondse winkeltjie wat marionette verkoop. Net soos pinocchio aan toutjies, sommer baie van hulle. Die winkeltjie is in , wat lyk soos 'n eeue oue huis met 'n vuurhert die toetie.


View Larger Map

Daar is ook 'n winkel in hierdie straat met die pragtigste geraamde fotos van Australië! Gaan loer gerus bietjie in by die winkels in hierdie straatjie. Net so 'n entjie aan is daar ook baie vlooimark kuns stalletjies.

Daar was heelwat mense. Hulle het selfs van die strate rondom die Rocks afgesper van Saterdag af al.

Hier is so 'n uittreksel...


Ek neem nie meer so baie fotos soos vroeër nie, mens raak ook mos dik van selfs die gunsteling goed in jou lewe...hier is so 2 fototjies van die petalje:



Dit was baie heel lekker om so baie mense in ontspanne luim die aangename dinge in die lewe te sien geniet. Ons is seker so 3 uur se kant weer met die trein terug. Sommer tot by Wynyard stasie gestap om die ergste opeenhoping te mis en ons was so 16h00 se kant weer by Pennant Hills stasie.

Groete tot volgende keer.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings