Sunday, July 29, 2007

'n Paar dinge wat anders is in Aussie land

Ek het bietjie gaan sit en dink, en het toe 'n lysie gemaak van al die dinge wat ek kon aan dink wat ooglopend anders is as in Suid Afrika. Die res is basies maar dieselfde. Een ding wat ek kan sê: Australië is 'n BAIE goeie keuse vir 'n bestemming, want so baie dinge is so bekend aan jou as jy van Suid Afrika af kom.

'n Paar verskille:

  • Hier is bitter min 4 rigting stopstrate, om die waarheid te sê: ek dink nie ek het al een raakgeloop nie, want oral is dit net "Roundabouts" of verkeers sirkels. Jy gee altyd net toe aan die mense wat reeds in die sirkel is of aan jou regterkant is. Op die' manier bly die verkeer vloei en is die kans vir 'n botsing ook baie klein.
  • Mens wag baie langer by verkeersligte, want sien: hier word niks aan kans oorgelaat nie. Hier mag jy NET ry as dit jou beurt is, en vir mense wat wil draai is daar 'n aparte beurt waartydens niemand anders mag ry nie. Daar is 'n duidelike groen pyltjie en rooi pyltjie wat sê of jy mag of nie mag draai nie. Jy mag dus nie soos wat ons in Suid Afrika gewoond is regs draai (oor die aankomende verkeer se baan) as die groen lig skyn vir die verkeer wat reguit ry nie. Jy moet wag totdat die draai pyltjie skyn : dit beteken dat daar dus nooit 'n moontlikheid is waar een kar voor 'n ander kan indraai nie, al is die lig vir reguit verkeer groen en die' vir dwars verkeer rooi. (Want mense se lewens is kosbaar)
  • Waar daar 'n voetganger oorgang (of spoedwal) is, is daar spesiale reëlings in die middel van die pad waaraan mense (veral ou mense) kan vashou in die middel van die pad, terwyl hul besig is om die pad oor te steek.
  • By ALLE verkeersligte is daar groot knoppies wat jy kan druk as jy wil oorstap. Sodra dit die voetganger se beurt is maak al die verkeersligte sulke klikkende klanke om vir blindes te laat weet dat dit nou OK is om te loop. Daar is ook nie die kans dat die karre wat draai voor jou kan inry nie, want die verkeersligte se siklusse maak daarvoor voorsiening. (Want mense se lewens is kosbaar)
  • Mens mag hier in die baan van verkeer parkeer (behalwe waar dit duidelik so gemerk is). Die ander karre op die pad moet dan van die ander bane gebruik maak. Dit het aanvanklik nogal vir my snaaks gelyk...want oral staan karre in die pad geparkeer. Dit maak outomaties die bestuurders meer versigtig en verhoed ook dat motors onverwags uit opritte voor die verkeer kan indraai - want hulle is baie meer opsigtelik. Hier is daar niks snaaks daaraan nie.
  • Die spoedbeperking op nasionale snelweë is 100 km/h, op meeste tolpaaie en snelweë in die stad is dit 80 km/h of 90 km/h. Meeste ander plekke is dit 60 km/h behalwe vir "school zones" waar dit op sekere tye van die dag 40 km/h is. Daar is BAIE "red light" spoedkameras. Snaaks genoeg - mens sien min mense wat die spoedbeperkings oortree. Daar is ook 'n spesiale spoedbeperking vir leerling bestuurders (P-Plate holders), wat dit duidelik moet aandui met 'n P langs hul nommerplaat.
  • Mense is verbasend geduldig op die paaie - met 'n klein groepie uitsonderings natuurlik.
  • Mens gooi hier self jou brandstof in, los dan jou kar waar dit is en gaan betaal in die petrol stasie se "shop".
  • Hier is spesiale pompe by vulstasies vir alle gewone karre wat omgeskakel is om op gas te loop. Dit staan bekend as LPG (Liquefied Petroleum Gas) en werk op karre wat spesiaal omgeskakel is daarvoor. By BP Australia kan mens sien dat die huidige prys vir die gas baie laer is as vir petrol. (Sowat $0.57 per liter in vergelyking met $1.22 vir Unleaded petrol) Hier is 'n website waar jy kan kyk watter Caltex Petrol stasies in Australië almal LPG Gas vir jou kar kan voorsien...en glo my - daar is baie. (Ek sien mens sal een van die dae dalk jou kar by die huis kan vol maak met jou natural gas wat jou stoof laat werk- dis al klaar in Amerika)
  • Mens mag hier glad nie meer mense in jou kar laai as waarvoor daar sitplekgordels is nie
  • Jy kan nie jou kar op die pad registreer of jou lisensie hernu sonder jou verpligte 3-e party versekering ("Green slip") nie.
  • Ek ry elke dag trein, en op geen oomblik gaan ek deur hekke of scanners om te check of ek "actually" 'n kaartjie gekoop het vir die trein nie. Daar word soms "spot checks" gedoen, maar andersins kan die mense op die treine VERTOU word om EERLIK te wees en hulle word nie soos skelms behandel nie.

  • Mens hoef glad nie 'n ekstra drom vir tuinafval te huur nie - jy kry 'n groen drom saam met jou munisipale dienste wat weekliks jou tuinafval drom kom leegmaak.
  • Vullisdromme word in die aande na 11 leeggemaak
  • Mense se honde is baie goed versorg, word gereëld vir stappies gevat en die eienaars tel self die hondedrolle op. Jy hoor feitlik nooit 'n hond in die nag blaf nie...hulle kry ook bitter min die verkeerde reuke om voor te blaf. En honde behandel mense nie as 'n bedreiging nie. Hier pas die base die honde op en nie die honde vir die base nie.
  • Daar is elektriese tiekie-braaie in die parke wat met $1 munte werk.
  • Oral is daar publieke parke met sokkerbane , basketbal bane, jungle gyms, bankies met afdakke en publieke toilette.
  • Woude met staproetes in die stad
  • Hier kan mens by ALLE winkels by die kaart betaalpunt ook geld trek ("Cash out") net soos wat Pick & Pay Go Banking in Suid Afrika doen - sonder dat jy by hul bank hoef aan te sluit.
  • Winkeltrollies se agterwiele kan ook draai - met die gevolg dat dit soos krappe na enige kant toe kan draai.
  • Mens kry "drive-through" drankwinkels op baie plekke
  • Daar is sulke "food-courts" waar jy jou kos sit en eet by winkelsentrums, met die restaurante al in die rondte - amper soos by Century City in die Kaap.
  • Daar is nêrens lemoenpampoentjies / skorsies in die winkels waar ons nou al was nie
  • Die mense by die "checkouts" gesels vriendelik met jou, en staar jou nie in die gesig met sulke wit oë of bespreek jou agteraf met die ander werkers in 'n vreemde taal nie.
  • Die geld is van plastiek gemaak met sulke deurskynende venstertjies in



  • Huise het meestal blinders voor die vensters en nie gordyne nie
  • Alle badkamers wat ek nog gesien het, het 'n aparte drein in die middel van die vloer vir ingeval die bad sou oorloop.
  • Badkamers het altyd "Extractor fans" vir reuke en om te keer dat vog die teëls laat wegtrek.
  • Toilette het altyd 2 knoppies - met een knoppie vir waterbesparing
  • Mense het skoenrakke naby die ingang sodat hulle hul skoene daarin kan sit om te verhoed dat die huise te vuil word
  • Jy sien nêrens diefwering voor die vensters nie, maar hier is omtrent oral "flysheets" voor die vensters om insekte uit te hou en vars lug in te laat.
  • Meeste huise het "dry walls" vir binnemure en buitemure is van regte bakstene gepleister - meestal so netjies dit lyk soos plakpapier - alhoewel dit vol bakstene is (het seker gemaak).
  • Kragproppe lyk anders, alhoewel die krag presies dieselfde is.


  • Daar is gaspunte in jou huis vir bv. gas verwarmers
  • Kamp gasbottels se konneksiepunte verskil en is sowat 12 mm groot in vergelyking met Suid Afrika se ongeveer 15 mm. Mens kan by Big W (in Winston Hills op die hoek van Langdon rd & caroline chrisholm) vir sowat $9 'n koppelpunt koop om van die Aussie gasbottels na die Cadac gastoestelle om te skakel. Dit lyk soos volg:


Die gasbottels kos sowat $35 vir 'n 4kg een:


  • Meeste huise word verhuur met skottelgoedwassers en selfs mikrogolf oonde.
  • Mense maak self huis skoon.
  • Mens sien bitter min ADT bordjies
  • Almal moet verpligte Pensioenaftrekkings hê, wat by deiselfde plek bly al verwissel jy van werk.
  • Mense hier is nie "Jack of all trades" soos in SA nie, maar daar is spesifieke werke soos Brickeys, Roofies, Sparkies, Truckys, ens.

  • Publieke skole (wat ek nou al gesien het) is op 'n hoë standaard. Leerlinge per klas is min (bv. 13 vir Kindergarten).
  • Daar word 2 keer per week vlaghuising gehou en die volkslied gesing by die skool.
  • Kinders kan al op 4 en 'n half in Kindergarten ingeskryf word (wat baie soos Graad R is) - maar is meestal 5. Dan 6 in Graad 1, 11 jaar in Graad 6. Gaan in Graad 7 hoërskool toe en is dan in Graad 12 sowat 17 jaar oud. Hulle kan ook kies om van Graad 9-12 'n tipe van 'n vakleerlingskap te doen in plaas van skool.
  • Kinders kan nie sommer in enige publieke skool ingeskryf word nie, maar moet in die dekkingsgebied van 'n spesifieke skool bly om daar te mak skoolgaan (of spesiale toestemming van die departement kry)
  • Daar word in Graad 3 en 5 'n "Basic Skills Test" geskryf wat bepaal hoeveel subsudie 'n skool van die staat kry. Kinders word ook op grond van hierdie toetse gekeur vir spesifieke hoërskole.
  • Ouers kan kan "Reader Groups" bywoon en die kinders help met lees in die skool.
  • Kinders leer van Kindergarten (soos Gr R) al van rekenaars
  • Kinders word in verskillende Math groups ingedeel op skool in dieselfde klas en word dan hanteer op verskillende tempos sodat hulle nie agter raak nie.
  • Geen kinders mag kaalvoet of sonder 'n hoed op die speelgrond speel nie.
  • Kinders moet elke dag in netjiese volle univorm geklee wees.
  • Daar mag niks neute of grondboontjie botter op die kinders se brood wees nie - net vir ingeval daar dalk kinders is wat alergies is.
Hier is 'n foto van die onlangse atletiek byeenkoms:

Wanneer daar snoepie / "Canteen" toe gestap word kry elke groep 'n aparte beurt en hulle moet in 2 netjiese rye staan om te koop.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings