Thursday, July 12, 2007

Ons ruk toe mos soos een man op na die drie nasies rugby by die Sydney Telstra Stadium

Die kaartjies is lankal reeds gekoop en met groot afwagting het ons uitgesien na die kragmeting tussen die Springbokke en die Australiese Wallabies by die Telstra Stadium in Sydney. Ek het mos voorheen daaroor geskryf. Dit was ons eerste groot ervaring van die rugbygees in Aussie land. Australië was nog altyd een van Suid Afrika se groot teëstanders op die gebied van Rugby...en hier ssit ons nou aan die ander kant van die draad. Op die oomblik is dit nog nie 'n kwessie vir wie ons skreeu nie, want ons is nog Suid Afrikaners in murg en been, maar ek glo soos wat die tyd aanstap sal ons stelselmatig al hoe meer van die Australiese gewoontes aanneem...

Maar dit maak dit net soveel meer opwindend en "sports" om vir die springbokke te kon skreeu hier waar hulle soveel kilometers van hul tuiste teen hul teëstanders te staan gekom het. Soos ek reeds voorheen bepaal het sou ons 3 treine moes neem om by die Sydney Olympic Park uit te kom, en met die kar sou dit net soveel moeite wees. Ons vind toe mos uit dat die rugbykaartjies alreeds vervoer na en van die stadium ingesluit het. Daar loop toe al die tyd SPESIAAL busse van al die voorstede af om die Nasie "Daar Onder" (down under) na- en vanaf die groot rugbybyeenkomste aan te karwei. En daar is ons probleem opgelos!! Wat 'n plesier!

Met die Suid Afrikaanse vlag op gesigte geverf, ruk ons toe op na die Dural bus stop naby die Cherrybrook Village. 'n Hele 10 van ons! Busse het van regoor die stad gekom en ons het te lekker (ter aanskoue van die Aussies) die agterste sitplekke in 'n stampvol bus ingeneem.



Soos wafferse skotse krygers uit Braveheart het ons die Bundaberg Rum Drie Nasies sege met moed aangepak. Die Springbokke het dapper geveg en aan die begin het ons selfs gedink vandag wys ons die Wallabies 'n ding of twee, maar ons kon op die ou end nie die knoop deurgehaak (of is dit nou die bal uitgehaak) kry nie.

Ons is binne in die Olimpiese Park se gronde afgelaai deur die bus en het rustig aangestap na die stadium. Die Sydney Stadium ( 'n nalatenskap van die Olimpiese Spele in Sydney) is 'n baie mooi stadium wat argitektuur betref.

Oppad na die stadium loop ons toe verby 'n Humvee (Hummer) limousine...moet 'n fortuin kos..kan jy glo - sommige mense ken nie die einde van hul skatte nie:


Wanneer mens die stadium binnegaan word mens beindruk deur die ontsaglike hoeveelheid sitplekke (sowat 80000 as ek reg is) asook die spreiligte wat die nag skielik in dag verander.

Hier is 'n panorama foto wat ek geneem het: (kliek gerus op die fotos om dit te vergroot)


Ons het baie goeie sitplekke gehad naby hek O. Sommer van die staanspoor af het ons tuis gevoel, want daar was BAIE Suid Afrikaners oraloor die stadium, sommige het die Suid Afrikaanse vlag soos "Superman" se mantel aan hul skouers gedra. Ander weer het die landskleure in hul hoedens gehad. Kyk, 'n mens voel nogal trots as jy besef jy hoef nooit skaam te wees vir wie jy is nie. Ons is trots Suid Afrikaans! Die handtekening van Afrika is diep in ons harte ingeskryf, ons is almal die produk van generasies op die Afrika kontinent. Mens kan die lewe net werklik waardeer as jy weet hoe kosbaar sekere vryhede is...dinge wat baie mense hier vanselfsprekend aanvaar. Daar was 'n baie lekker gees in die stadium. Oraloor gesels mense vriendelik met mekaar. Sommer van die intrapslag al ontmoet ons oraloor Suid Afrikaners. Dit is 'n lekker gevoel... Gedurende die wedstryd spring die Suid Afrikaners soos een man op en waai verwoed hul vlae en juig om hul span aan te moedig.

'n Goeie oomblik was toe die spanne op die veld kom en die mense uit volle bors die lande se volksliede sing. "Nkosi Zikilela iAfrika" en "Die Stem van Suid Afrika" weergalm kliphard deur die stadium soos wat duisende mense uit volle bors luid saamsing. Kyk gerus na die volgende videos:


Dieselfde met Waltzing Matilda, die onoffisiële Aussie volksliedjie :


Die Springbok se embleem troon groot op die TV skerms bo die stadium:


Die manne op die veld:

Ons het die aand terdeë geniet. Al het ons (huidige) span nie gewen nie, tog was dit 'n moedige stryd wat hulle gevoer het.

Nadat die eindvluitjie geblaas het, het ons rustig na die busse aangekruie en in die ellelange rye (amper soos in Makro) gaan staan om op ons bus terug Dural en Cherrybrook toe te klim. Geen wonder die Aussies is sulke getroue rugbyondersteuners nie...hul word selfs aangery na die stadiums toe...amper soos die mense elke Desembervakansie in busse aangery word na die Suid Afrikaanse Suidkus toe.



Hier is so 'n kort video van die uitbundige mense by die busse:


By die huis gekom was my kar steeds in die pikdonkerte langs die pad geparkeer by die busstop...jou wraggieswaar!!! Ek lieg nie.

Na die tyd het ons lekker van ons vriendin se lekker koffie gedrink en seker eers eenuur die oggend huistoe gery.

Dit was 'n baie lekker belewenis...ten sterkste aan te bevele vir almal wat die "opwinding" langs die veld wil kan aanvoel.

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings