Friday, May 22, 2009

...en 'n ou koerant

Als het toe goed gegaan met die "lansering" en die produk is nou in die kuberruim.  Ek het die kans gehad om met van ons kliente te gesels.  Daar was selfs twee mense van Suid Afrika aan my tafel wat al meer as agt jaar hier is. 

Hier reën dit nog gedurig.  Ons word nooit juis ge-affekteer deur vloede en goed nie...een voordeel daarvan om in die "Sydney Hewels" te bly. 

Iets wat ek julle al van wou vertel het is die MX koerant.  Dis 'n gratis koerant, dit word nie deur nuusverkopers of winkels versprei nie. Nee, dit word op Sydney en Melbourne se treine versprei word deur al die mense wat treinry.  Seker amper soos wat 'n verkoue of griep van mens tot mens sou versprei, net so vind hierdie koerant sy weg vanaf Wynyard stasie om 3 uur die middag, wanneer hierdie koerantjie die drukpers van News Limited verlaat, selfs tot so ver as Newcastle.

Dit het al amper by die meeste mense wat elke dag treinry soos 'n ritueel geword...wel seker dan maar net by my.  Wanneer ek in die middae net voor 5 op die trein klim, dan soek my geoefende oog alreeds vir een van hierdie koerantjies wat erens langs die treinsitplekke ingedruk of op die sitplekke agtergelaat is deur 'n vorige medereisiger.  Mens voel amper afgehaal wanneer jy by die laaste ry sitplekke kom sonder om so 'n kopie op te kon raap.  Dan gaan sit jy maar so half bek-af en wonder hoe jy die koerant van die half aan die slaap ou in die ry voor jou kan afneem terwyl hy nie kyk nie, of jy loop ewe nonchalant verby die eerste asblik en raap die koerant op wat etlike millisekondes tevore deur iemand wat die trein verlaat het in die "BIN" gegooi is, en jy tree op asof dit die natuurlikste aksie in die wêreld is!  (Hier is Australië noem hulle mos asblikke 'n BEEN, (uitgespreek as BIEN).   Dan sit jy maar die brokkies absoluut onbelangrike informasie soos 'n boekwurm en verorber op die bus oppad huis toe....

Ek het al baie gewonder....hoe vêr (en deur hoeveel hande) kan elk van hierdie meer as 50000 eksemplare REIS van 3 uur die middag totdat dit lank na middernag dalk êrens deur iemand oppad Newcastle of blue mountains of selfs Richmond toe gesit en verorber word.  Die bybel sê hoeka: "Skinderstories is soos lekkernye....glip af na die kamers van die binneste".  Gestel een of ander Yuppie tel sy kopie by Wynyard op en sit vlugtig en blaai daardeur totdat hy dit vir die volgende leser agterlaat op sy sitplek wanneer hy by Noord Sydney (net oorkant die hawebrug) afklim om sy aandjie te sluit in sy duur "apartment" in Wollstonecraft.  Dan klim 'n uitgeputte padwerker in sy helder veiligheidsklere op die trein en vind die MX koerantjie tot sy verbasing.  Hy kyk vlugtug watse TV programme vannaand op is.  By Hornsby stasie klim hy af en gooi die koerant in die BIEN.  Net daar by Hornsby klim 'n skolier op wat die middag na skool in die klas moes bly om agterstallige werk in te haal.  Sy sien die koerantjie en red dit uit die kloue van die half-klaar-geëetde toebroodjie net langs dit in die asblik.  Op die trein terug na Pennant Hills sit sy en lek haar lippe af vir die nuutste "celebrity" skinderstories.  Daar gekom sit sy vir haar ma en wag op die bankie en los die koerant net daar op die platvorm.  'n Geselskap Duitse backpackers klim ook daar op die trein oppad na die Internasionale lughawe.  Een van hulle sien die koerant en tel dit op om te sien watse nuus hier in Sydney is.  'n hele ruk later op die Northern Line trein kom hulle by Central Stasie aan waar hulle oorklim op die trein na Botany Bay se kant toe.  Dink net hoe vêr kan hierdie koerant trek indien hulle dit onnadenkend in hulle rugsakke druk oppad terug Duitsland toe.  Maar nee, gelukkig bly dit op die trein agter om opgeraap te word deur iemand wat in die middestad werk en oppad na die Sirkelvormige Kaai (Circular Quay) is.  Hierdie ou neem elke dag die Ferry na Meadowbank vanaf die operahuis se omgewing.  Hy stel veral belang in die artikel oor die ruimtewandeling om die Hubble Space Teleskoop te herstel.  Na 'n rustige rit op die Parramatta rivier terug tot by Meadowbank, los hy die MX koerantjie net daar in die veerboot.  Oppad uit die Ferry word die koerant jou wragtig waar WEER OPGERAAP deur 'n boekhouer wat, nadat hy van die Ferry afgeklim het, die koerant sit en lees op 'n park bankie totdat sy vrou hom met die kar kom oplaai.  Hy los die koerant net daar wanneer hy loop.  Iemand wat nou net 'n koffie by die kafee gekoop het, gaan sit op dieselfde bankie en drink en ruik met diepe genot aan die suiwer Irish Nut Creme koffie totdat sy trein kom.  Hy neem die Sydney na Newcastle trein, want hy bly naby die Central coast.  Ja...hier kom sy trein...gaan hy die koerant saamvat? Jip.  Op die lekker gemaklike groen sitplekke van die Intercity trein sit hy heerlik en sif deur die nou al amper vervrommelde blaaie van hierdie klein koerantjie.  Hy lees oor die impak van die finansiële krisis op die werkloosheidsyfer in Sydney en wanneer die eerste minister se beloofde $900 pasella tjek nou weer in die belastingbetalers se posbusse gaan beland.  By Gosford stasie klim hy af, vanwaar dit nog 'n hele halfuur se ry tot by sy huis is.  Hy druk die koerantjie sommer langs sy sitplek in.  Teen hierdie tyd wys die "wear-and-tear" van die dag se lesers al op die koerantjie.  'n Ander leser grawe die half verfrommelde stukkie intelektuele stimulasie weer uit en sit en bestudeer dit weer tot in Newcastle, hierdie keer gooi sy weereens in die BIEN, maar hierdie keer is die koerantjie nie weer so gelukkig nie, want 'n ander een land bo-op hom en hy mis soos arme weggooibrak by die SPCA uit op 'n nuwe baas. 

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings