Tuesday, March 18, 2008

Vandag het dit maar sukkel sukkel gegaan om by die werk te kom

Moenie dink Sydney het nie probleme met verkeersknope nie. Vandag het die Paw-Paw lekker die fan getref vir die mense wat in die Noord-weste van Sydney bly. Soos die slagare van 'n kettingroker is die paaie in Sydney heeltemal te smal vir die hoeveelheid verkeer wat elke dag daardeur wil beur werk toe. Veral hier van die Hills se rigting af waar die naaste trein-stasie Pennant Hills is en die 2 bane in twee rigtings grootliks ontoereikend is vir die hoeveelheid motors wat in die oggende hier verby kom. Gelukkik ry ek bus en trein, so my eie bloeddruk word nie regstreeks daardeur opgestoot nie, maar dit is nogsteeds 'n feit soos 'n koei dat as ek 15 minute later by die huis loop busstop toe, dit my reisplanne met tot 45 minute kan omvergooi. Dit is asof almal wat leef en beef hier so net na 07h25 in die pad val. 'n Geringe "smash" soos hulle dit hier noem, is genoeg om mens se tydskedule lelik in die wiele te ry.

Soos vanoggend die geval was toe 'n busbestuurder van Epping mos soos elke dag besluit om gou 'n ou koffietjie te drink by 'n hoekkafeetjie daar in Epping. Sy het doodluiters haar bus daar staan gemaak voor haar skof en toe sy terugkom by haar bus...was die' hele 13 ton bus skoonveld, ja, jy het reg gehoor...dit het tussen neus en ore verdwyn...tussen vinger en duim weggeraak. Maar tot haar groot konsternasie lê die bus toe met sy agterstewe op die hoof spoorlyn waar daar elke 15 minute 'n trein verbykom. Soos ek kon aflei uit die nuusberigte was die tannie nogal ontsteld en het so 'n paar knope uit haar mond laat los. Nie koffie nie, maar suikerwater was wat sy toe nodig gehad het. Volgens beriggewing was dit die remme wat onklaar geraak het. Een ou het nog vertel hoe hy so teen 06h55 rustig aan sy ontbyt gesit en smul het toe hy hierdie bus met 'n wil van sy eie by hom verby sien kom het. Die bus het nogal om die "roundabout" gery en toe deur die heining in die dieptes na benede gestort het. Van die omstanders wou selfs gaan help, maar daar was geen insittendes in die bus te vinde nie...

Wat my natuurlik terugbring by my eie penarie. Soos gewoonlik sit ek so 7h25 toe al op die 631 Bus oppad Pennant Hills stasie toe. Ek sit gewoonlik voor in die bus naby die busbestuurder, wat my nou al ewe "buddy" noem, sodat ek die uitsendings oor sy radio beter kan beluister. Die verkeer was besonder bedruk vanoggend en ek hoor toe oor die tweerigting radio dat daar 'n bus op die spoorlyn lê en dat ALLE, ja ALLE treine tussen Hornsby en Eastwood opgeskort is totdat hulle die bus van die treinspore kan verwyder. So ry ek toe maar die 4.5 km tot by Pennant Hills stasie waar ek net weer in my spore omdraai en die eerste bus moet terugneem huistoe. By die huis gekom was my vrou reeds oppad om die kinders skool toe te neem. Die meeste paaie in Castle Hill het teen hierdie tyd al gelyk soos by die Kaapse Parade met karre wat lyk of hulle parkeerplek soek. Uiteindelik is ons toe van die skool af na my werk toe met die kar in die "verstopte" are van die voorstede tot by West Ryde...dankie tog ek werk nie in die stad nie, want die snelweg lyk soos een groot begrafnisstoet. Twee en 'n halwe ure na ek by die huis weg is kom ek toe uiteindelik by die werk aan - 'n rit wat my normaalweg net 40 minute neem.

Vannaand hoor ek ons kry hier (oor 9 jaar eers) ons eie "Gautrein" wat blykbaar elke 5 minute 'n rekenaar beheerde trein kapsule gaan hê wat die rit tussen die Hills en die stad met 45 minute gaan verkort...sal maar sien of die beloftes gaan realiseer en of dit soos vorige kere gaan "ontspoor".

No comments:

Post a Comment

Los vir my n boodskap...komaan wees n sport !
Ek lees alle kommentaar eers voor ek dit publiseer.

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Kontak my gerus...

Kontak my as julle wil deur 'n "Comment" by enige post te maak met julle email adres daarin. Ek kry alle "comments" as email voor dit gepubliseer word en sal nie enige telefoonnommers of email adresse op die blog laat kom nie maar dit slegs gebruik om julle te kontak. Groete.

Die mees populêre inskrywings